DIE GELUK VAN JAHWEH
LOUISE SNYDER/CHRISTINE BADENHORST

Hoofstuk 5

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50.

Hoofstuk 5

16 April 2008  07:55

 

MY engeleskare staan gereed om elke wens van MY te volbring en hulle kan nie wag dat EK hulle iets van MY liefde moet gee nie. Dit is die diensbaarheid van hulle wat MY liefhet en wat alles vir MY sal doen omdat hulle MY liefhet. MY kinders, EK wil dit van julle ook hê omdat Ek wil hê dat julle alles in MY hande sal oorgee. EK wil hê dat julle alles uit die liefde van julle harte vir MY sal doen en nie omdat julle voel julle móét nie. MY engele kan nie wag om vir MY iets te doen nie en dit is net omdat hulle MY so baie liefhet dat hulle dit wil doen. As julle dieselfde sal doen en net so nederig soos die engele sal wees, sal julle baie vinnig krag van MY ontvang om dinge vir MY te doen. Wat sal daar wees om vir MY te doen? Enigiets wat goed is vir jou naaste. EK sal opdragte gee wat betrekking het op jou naaste omdat jou naaste deel van MY is. Omdat hulle MY deel is, sal dit wees asof jy vir MY iets doen as jy vir jou naaste iets doen. Daarom sê EK so baie dat julle vir mekaar dinge moet doen uit die liefde van julle harte omdat EK in elkeen is en wanneer jy dit dan vir hom of haar doen, doen jy dit eintlik vir MY. Dit moet julle nou vir eens en vir altyd leer sodat julle nie hoogmoedig kan word nie. Wanneer jy jouself verhef bo jou broer of suster, verhef jy jouself bo MY en dan sal dit nie lank vat nie of jy verloor al jou krag wat jy van MY ontvang het. Wanneer jy krag van MY ontvang beteken dit dan dat jy nederig was omdat EK andersins nie vir jou krag sou gegee het nie. Die mense wat voel dat hulle niks vir MY beteken nie is juis die wat deur MY gebruik kan word omdat hulle die ware nederigheid besit. Die ware nederigheid is vanuit MY en daarom sal jy krag van MY ontvang as jy werklik nederig is. EK sal die nederige van hart aansien en die wat nie nederig is nie sal EK nie gebruik nie en daarom moet julle altyd  sorg dat julle laag op die grond bly. Wanneer die hoogmoed intree, sal julle agterkom dat julle julle krag vanuit MY verloor en dit moet vir julle ‘n sekere teken wees van hoogmoed. Werp dit van julle af en kom vra MY om hulp sodat EK julle weer kan herstel. EK sal julle weer van voor af opbou in MY sodat julle weer vir MY bruikbaar kan wees. Wanneer die hoogmoed begin heers in julle, al kan niemand dit sien nie, sal julle liefde vir MY en julle naaste dan ook daaronder ly en dit sal vir jou siel baie skadelik wees. MY kinders, veral julle wat hier by MY herberg is, moet baie mooi daarna oplet dat julle nie hoogmoedig word nie omdat die hoogmoed julle dan nie in staat sal stel om julle broers en susters daar buite te help wanneer die ware tyd van vernietiging aangebreek het nie. Werp al julle sorge op MY en moenie vir iemand anders gaan vra om jou te help met jou probleme nie omdat dit net dalk die ander persoon hoogmoedig kan maak wanneer jy altyd na hom of haar gaan vir raad. EK wil hê dat julle MY self moet kom vra en deur MY skryfknegte of deur MY boeke aan julle sal EK vir julle ‘n antwoord gee. EK sal niemand se opregte vrae aan MY net ignoreer nie en die antwoord sal nie uitbly nie. Daarvan kan julle almal al van getuig. Stuur julle vrae direk na MY in ‘n opregte gebed en EK sal dan MY knegte opdrag gee om jou te antwoord. Wanneer die antwoord so direk vanuit MY knegte se monde kom, sal julle dan ook oortuig kan word van hulle opregtheid met MY en julle sal hulle dan glo wanneer EK deur hulle spreek. Maar onthou dat julle nie vrae aan hulle moet stel nie omdat EK alleen sal  weet wat in julle binneste aangaan. MY kinders, leef rein sodat julle woord van MY af kan ontvang en weet dat EK julle gebede sal beantwoord. Julle sal almal MY woord kan hoor in julle harte as julle aanhou om MY daar te soek en dit is ‘n belofte van MY aan julle almal wat na MY soek in die opregtheid en nederigheid van hart.

Amen.


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205