DIE GELUK VAN JAHWEH
LOUISE SNYDER/CHRISTINE BADENHORST

Hoofstuk 16

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50.

Hoofstuk 16

29 April 2008 07:09

In MY skeppingswêreld is daar nog so baie dinge waarvan julle nog nie bewus is nie en EK is tans besig om dit aan julle te openbaar. Een daarvan is dit waaroor julle gister gepraat het en dit is omdat die tyd nou reg is om dit aan julle te openbaar. EK is van ewigheid af en daarom sal daar dinge wees wat ewighede gelede al bestaan het. Soos MY stad met sy kinders wat ook aan julle geopenbaar is. Dit was ‘n stad soos geen gelyke op aarde nie. daar was dinge in wat julle skaars sal verstaan omdat die mense van daardie tyd dan ook met MY GEES geheers het tot op ‘n punt. Net soos julle vandag, het daar van hulle na MY gesoek en daarom het EK hulle begenadig en was daar selfs van hulle wat heeltemal Een met MY was. Maar ook net soos in vandag se tyd onder julle was daar die wat die aardse dinge begin najaag het en dit was waar die verkeerde dinge begin posvat het en net die wat MY gedien het, het uit die stad getrek na ‘n plek waar hulle MY ongestoord kon dien en soek. EK was hulle dan ook genadig en het daardie mense dan ook gered van ‘n gewisse dood net sowat EK julle vandag gaan red van ‘n gewisse dood wat op julle sou gewag het as julle MY nie geken en gedien het nie. In daardie dae het die opregtes van hart dan na die buitewyke van die stad gegaan en daar het EK hulle kom haal voordat EK die stad met sy bedorwe inwoners verwoes het. Dit moet vir julle ‘n voorbeeld wees omdat dit net so gaan wees in vandag se tyd. Julle het ook uit die stad gevlug en julle eenkant op MY berg kom vestig, waar EK in julle midde kan wees en net soos in daardie tyd sal EK weer na julle kom en EK sal julle almal te hulp snel sodat net die opregtes van hart sal oorbly. EK sal met julle almal Een word en daardeur sal julle gered word op die tyd wat bestem is vir MY om na julle te kom. In die uur van nood sal julle dan nie meer op julleself aangewese wees, soos die wêreldling nie, maar julle sal deur MY GEES beskerm word en dit oorleef. Selfs as die wêreld om julle sou vergaan, soos wat die die geval was met die stad Atlantis, sal julle nie vergaan nie, net soos die opregtes van Atlantis wat in daardie uur deur MY gered is en na MY Wysheidshemele gebring is sodat hulle weer na die aarde kon keer om die onverloste, vasgevangde siele te kom red. Ja, dit is wie julle is. Daardie verlostes wat deur MY weggevoer is en opgelei is sodat julle weer en weer na die aarde kon kom vir julle broers en susters wat nog in die verderf sit. Die lig het van julle uitgegaan na julle naaste en vandaar het dit uitgesprei tot daar baie ander ontwaak het. In vorige lewens het julle dieselfde werk gedoen en dit het baie ander gered en dit is dan nou ook weer julle werk vir hierdie tyd. MY Kinders, julle het mekaar al by vorige lewens geken en het saam met mekaar, net soos vandag, gesit en praat en “nuwe” dinge ontdek, wat julle wel al by ‘n vorige geleentheid bespreek en beleef het. Daarom kan julle met reg sê dat julle mekaar al baie langer ken as waarvan julle bewus is. MY skepping en verlossingsplan het dit so gewerk en , met julle toestemming, het julle weer na die aarde toe gekom vir die hoeveelste keer al. EK sê “met julle toestemming” omdat EK weet dat julle sal verstaan wat EK bedoel en omdat julle weet dat EK niemand dwing nie. EK het julle almal al weer uitverkies om MY werk te kom doen omdat julle elke keer die is wat julleself aan MY kom oorgee vir die werk op aarde. Wees nou nie meer verbaas oor die dinge nie want julle het dit al honderde kere beleef en elke keer is dit vir julle iets nuuts en ook dien dit om julle naasteliefde weer ‘n hupstoot te gee. EK weet ook dat die mens elke keer na iets nuuts smag en elke openbaring van MY kant af is vir julle soos kos en daarom gee Ek so af en toe vir julle ‘n openbaring soos hierdie. Maar weet dat die wete van jou vorige lewe alleen, jou nie sterk genoeg maak om ander te help nie, maar die Eenwording met MY. Die kennis van jou vorige lewe kan jou help om die Eenwording met MY te verkry omdat dit julle moed gee omdat julle besef dat julle alreeds die dinge deurgemaak het en ook omdat julle dan weet dat julle dit weer sal maak. EK gee julle die versekering dat julle dit wel sal maak, maar wees ernstig en nie vol grappies nie. Luister net na MY en doen soos wat EK sê en jy sal dit weer en weer maak tot die Eenwording met MY. Na die Eenwording met MY sal niks meer vir julle duister en geheimsinnig wees nie. EK gee net soveel vir julle as wat julle kan dra en daarom moet julle nie na meer soek en smag nie. Onthou, die Eenwording met MY moet nog steeds die belangrikste en eerste wees vir julle en soos wat EK sien julle gereed is daarvoor, sal EK vir julle nuwe dinge leer. Maar vir eers is dit genoeg hieroor.

Amen


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205