Die vroeë dood van `n bon-vivant (pierewaaier)
5 Augustus 1874
Nou volg die laaste uur en die vroeë dood van `n laventelhaan, wat behalwe rook, dobbel, lekker eet, hom bedrink, alle mooi vrouens die hof maak, voortreflik dans en die speel van walse op `n vleuelklavier – ter wille van hierdie mooi wêreld, nie baie anders kon doen nie, hoewel hy bykans sy hele tyd op kolleges en universiteite deurgebring het. Ons het hier `n getoonde eksemplaar van `n laventelhaan en hy was die seun van taamlik ryk ouers, wat hul veelbelowende, buitengewone vertroetelde seun natuurlik maar net laat studeer het, sodra hy die abc geleer het.
Maar sodat die teer knapie, wat met die swaar studie van die Latyn, dit tog maar nie te moeilik sou hê nie, was hy ten eerste in `n baie goeie koshuis onderdak gebring, sodat hy behoorlik te ete sou hê en in natuurlike opsig sou toeneem, natuurlik nie in wysheid en genade voor God en die mense nie, maar slegs wat sy liggaam betref. En om te voorkom dat die inspannende studies hom al te veel sou uitput, mog hy elke jaar doebleer, (verdubbel of herhaal) ingeval hy nie in staat sou wees, natuurlik met baie weinig inspanning, om `n leergang in één jaar te deurloop nie. Vir die doel word telkens ook die professore, by name op die laere skole, op passende wyse gepaai en was daar vir elke onderwerp `n sagmoedige huisleraar aangeneem.
Op hierdie manier pamperlang die mens ons student weliswaar maar net deur die laer skole heen; daar word by hom op die manier maar net weinig of niks in sy hoof tuis gebring nie. Die gevolg daarvan was, dat hy later op die hoëre skole bly vassteek het. En omdat hy gewoonlik `n hekel aan studeer gehad het, lê hy hom dan ook hoofsaaklik toe op die hierbo genoemde vrye kunste, by name op die rook, dobbel, buitensporige eet en drink, ens.
Nadat hy sy studies voltooi het en oral middelmatige eksamens afgelê het, beproef hy weliswaar sy geluk in die kanselary (ambassade), maar die lug van papier en ink staan hom nie aan nie; van sy moeder kry hy immers altyd soveel geld, dat hy ook sonder kanselary `n lewe as `n kavalier (metgesel van dames by danse) kon lei. Daarby maak hy alle edel meisies die hof en maak hy huweliksvoorstelle aan die een na die ander, waardeur dit dan ook gebeur, dat suiwer deur die opwek van verwagtinge op `n huwelik, baie van die deur hom aangebode liefdes inderdaad in verwagting, maar sonder huwelik raak.
Behalwe vir hierdie liefdes, wat met blinde hoop en daardeur, soos opgemerk, dikwels met `n weliswaar onaangename, maar daarenteen lewende verwagting bedeel word, lê ons 'staatsman' hom ook toe op ander vroulike wesens wat hy, sonder om eers met hulle oor trou te spreek en hoop te wek, altyd vir `n klein vergoeding kon kry en waarby hy nie bang hoef te gewees het dat hierdie skoonhede, deur hom, in `n ander staat van verwagting sou raak nie.
Maar daarby gebeur dit dan ook dikwels, dat hy met sifilis in alle grade te make kry en ten slotte so hewig, dat selfs die mees ervare artse op die terrein, hom geen advies of hulp meer kon bied nie. Algehele uitdroging van die natuurlike lewensappe was die gevolg van hierdie lughartige leefwyse, vir welke kwaad Ek, die Heer, by die skep van die wêreld helaas suiwer vergeet het om `n 'genesende kruidjie' te skep. Vandaar dat ons klein laventelhaan hom as ook ‘nolens volens’ gereed moes maak om te sterwe. Natuurlik wel `n baie onaangename verskynsel vir `n modieuse jongeling, wat die wêreld met haar soete venusvreugde so buitengewoon lief gekry het. Maar dit is nou eenmaal so, dat elkeen die weg van die vlees moet gaan. En so moes ten slotte ook hierdie laventelhaan, wat sy grootste saligheid in die vlees gevind het, des te meer die eintlike 'weg van die vlees' gaan.
Kyk net na die bed, hoe hy homself kromtrek en ineenkrimp en na lug en water snak; maar hy kry niks meer na binne nie, omdat al sy slukspiere uitgedroog is en nie meer in staat is om ook maar één druppel water na sy maag te bring nie. Sy asem is kort en baie pynlik, omdat die longe al bykans heeltemal verdroog het. Ook sy stem is heeltemal gebars; slegs kort, kragtelose halwe woorde kan hy nog onder groot pyn uitstoot, en daarby klink die klank soos die van `n slegte fagot in die hande van `n leerling. Hy sou nog wel soos `n laventelhaan wil vloek en ten slotte ook nog wel enkele geleerde frases uit Voltaire of Sir Walter Scott wil stamel; maar die algehele uitdroging staan dit nie toe nie, en die hewige pyne in alle verborge lewenshoekies gee hom ook nie tyd om sy gedagtes nog een keer vir die doel op één punt te konsentreer nie. Vandaar dat hy daar stom en roggelend lê, slegs af en toe stoot hy `n skril, krakende fagotklank uit sy volkome uitgedroogde keel.
Kyk, so verloop die einde van sulke woestelinge op aarde dikwels. En omdat ons aan hierdie kant ook niks meer te bekyk het nie, omdat die dood enige oomblik kan intree, sal ons onsself dadelik na die ander kant wend en kyk hoe ons 'man' daar sal binnekom.
kyk, daar is sy bed, net soos op die wêreld! Nog steeds lê hy op dieselfde manier daarin. Maar tegelykertyd sien julle by sy bed `n engel staan met `n brandende fakkel in sy hand, om met die geestelike vlam daarvan die laatste druppels lewensap van die laventelhaan te vernietig!
By sulke mense verskyn daar maar een engel, omdat die siel en die gees by hulle so goed as dood is. Slegs die wurgengel, wat oor die vlees en die senuweegees aangestel is, het hier iets te doen, naamlik dat hy die vlees en die senuweegees so hewig moontlik pynig en brand, om daardeur die uiteengerafelde sielereste en hierin die eweneens verbryselde gees in die senuweegees terug te drywe, en op die manier die aldus sterwende mens teen die ewige dood bewaar!
Hy (die engel) sal by hierdie mens ook niks sê nie, maar hom slegs met sy fakkel vanuit die natuurlike wêreld na die geestelike wêreld oorbrand; dit is wat daar gewoonlik met hierdie mense gebeur en ook moet gebeur, omdat hulle sonder die laaste genadige ingryp, hul hele bestaan sou verloor.
Hierdie handeling is dieselfde as die in die aangetekende heidense sage van Prometheus. Want die meer geestelik ingestelde oermense het sodanige verrigtinge in die geesteswêreld gesien, wat destyds ewenwel baie meer sporadies voorgekom het, as in hierdie tyd, wat baie sinliker is as Sodom en Gomorra. Daarvan het dan ook nog sages bewaar gebly, wat egter na enkele duisende jare uiters misvormd geraak het.
Hier dien hom ook weer dieselfde Prometheus aan in sy eintlike, nie misvormde werk. Maar kyk, nou het die eensame engel sy werk voltooi en die vlees van ons bon-vivant (pierewaaier) blyk geheel en al tot as te verbrand het. Kyk nou, uit die as verrys baie langsaam en traag, geen pragtige, verjongde voël Phoenix nie, o nee, maar `n dom aap, wat lyk soos `n ou, afgeleefde bobbejaan! Hy is heeltemal stom, hy kan slegs ietwat sien.
Die dierlike uiterlike vind sy oorsaak in die feit dat sulke mense gedurende hul woeste lewe die fynere spesifieke menslike sielsdeeltjies volkome deur hul wellus verspil het en slegs die growwer dierlike deeltjies oorhou. By hierdie man het die apesiel tenminste nog oorgebly. Maar daar is ander, wat hulleself tot die afskuwelikste amfibieë verwerk!
By hierdie mens is die 'water van sy lewe' ook nog nie vas te stel nie; want nou moet hy, soos julle gewoonlik sê, 'die weiding in' en word hy oorgedra aan geeste wat oor sulke ontaarde dieresiele gestel is. Miskien speel hulle met baie vlyt in honderd jaar klaar om hierdie siel weer `n menslike gedaante te laat aanneem.
Meer kan daar nie oor hierdie siel beskryf word nie; daarom die volgende keer `n ander voorbeeld.