Oor die drumpel van die DOOD
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 17

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19.

 

Aanhangsel

Oor die weersiens in die groot hiernamaals

 31 Mei 1848

By baie mense wat hul hoof en hart op die reguit pad het, bly, wanneer hulle nie al te vas in hul geloof staan nie, die beklemmende vraag bestaan, of daar na die kort aardse lewe nog `n verder lewe sal wees en hoe dit dan wel sal lyk. Sal die mens homself nog herken as die een wat hy hier op aarde was en sal hy sy bewussyn en die volledige herinnering aan al sy aardse toestande behou, of sal sy bewussyn en herinnering veeleer lyk soos die in `n droom? `n Droom, waarin die mens wel homself herken as die een wat hy in die werklike aardse lewe was en hy goed bewus is van sy persoonlikheid, wat hy onder steeds nuwe lewensomstandighede ervaar, maar waarin alle objektiewe lewensomstandighede van hierdie kant bykans alle realiteit verloor het, behalwe die enkele dinge wat diep in die gevoelswêreld van die mens verankerd lê, soos byvoorbeeld sy naaste verwante en die eie leef- en woon omgewing, maar selfs ook dit bykans altyd in vreemde omstandighede en vorme? En is daar in die groot hiernamaals onder sulke geestelike omstandighede wel `n weersien waarby mense mekaar oor en weer herken?

En Ek, die Heer, antwoord op hierdie veelomvattende vraag: Ja, dit hang van die omstandighede af, na gelang die mens die aardse proeflewe meer of minder in ooreenstemming met My geopenbaarde orde deurleef het.

As iemand reeds hier op aarde die ware, volledige wedergeboorte van sy gees bereik het, wat vir elkeen met enige inspanning moontlik is, en hy as `n volledig wedergebore mens hier sodanig leef dat hy die geesteswêreld en al haar omstandighede en ook haar daarmee ooreenstemmende invloed op die materiële wêreld, net soos die materiële wêreld self, volledig kan deursien - dan sal daar by hom, met die aflegging van die stoflike liggaam, onmoontlik `n verandering in sy denke, sy wil, sy herinneringe en sy lewende subjektiewe en objektiewe bewussyn teweeggebring word; die liggaam op sigself besit immers geen bewussyn nie en is ook nie in staat om iets vir homself te herinner nie.

Deur die bereiking van die wedergeboorte gaan die lewe met al sy in- en uitwerkinge reeds aan hierdie kant geheel oor in die gees, wat hom vir ewig in die hoogste en suiwerste selfbewussyn bevind en wat bo alle materie verhewe is. Die materie is slegs vir `n bepaalde tyd `n gefikseerde gedagte, `n vanghoue idee wat tydelik `n uiterlike sigbare vorm kry. As dit so is, dan sal dit, dink Ek, vir elkeen wat ietwat dieper daaroor nadink, wel volkome duidelik wees – temeer, omdat vir hom vir die insig, tallose bewyse ter beskikking staan uit die lewe van sieners, profete en mediamieke (mediums) mense - dat die suiwer geestelike lewe in die hierna­maals baie ligvoller moet wees en ook baie helderder bewus van homself en van alle orige subjektiewe en objektiewe prosesse, toestande en omstandighede van die lewe. En wel in die mate waarin die gees, wat self lig, lewe, krag en volledig bewussyn is, vir ewig staan bokant die materie, wat soos gesê, niks anders as `n gefikseerde uitdrukking van die gedagtes en idees van die gees is nie.

Maar omdat nie slegs één nie, maar alle mense wat volgens My orde lewe, na dieselfde volmaakte lewe oorgaan, is dit sinloos om te vra of daar ooit `n weersien sal wees. Want as die mense reeds in die onvolmaakte marionette lewe die vermoë het om mekaar te herken en in natuurlike gelyke weer te sien, wat hulle tog nie kan betwis of betwyfel nie, dan sal hulle die vermoë des te meer in die geheel volmaakte, suiwer geestelike lewe hê, waarin hul hele wese die onverganklike uitdrukking en die fundamentele beginsel van al die lewe en van alle omstandighede en gebeurtenisse daarvan ervaar! Op hierdie wêreld herken die siel deur die gees wat in haar woon, immers via die liggaam die bekende en verwante mense wat aan hom bekend is; hulle kan bevriend en volkome verwant raak met ander, wat hulle vervolgens as sodanig altyd herken aan hul gestalte en karakter. As die siel en die gees nou deur die kerkermure van die dooie liggaam heen kan beweeg, hoeveel te meer sal hulle dit dan nie kan doen in hul volledige vrye toestand nie! Dit is immers al baie dikwels waargeneem by baie mediamieke (mediums) persone, wat met geslote oë, nie net hul omgewing dikwels tot in alle besonderhede sien nie, maar ook mense wat hulle êrens in verre lande bevind en al hul toestande en omstandighede vinnig en presies herken! En tog is `n siel van so 'n medium, hoe helder ookal, nog lank nie in die vrye toestand, waarin selfs `n minder volmaakte siel haarself na die afval van haar liggaam bevind nie!

Dat onvolmaakte siele na die verlaat van hul liggaam, maar al te gou steeds duisterder word, gebeur as gevolg van hul kwaadwilligheid. Sulke siele sien dan natuurlik niks meer van die wêreld nie en dit is ook nodig, omdat hulle in `n siende toestand die wêreld, en by name diegene wat hulle tot hul vyande reken, baie skade sou toebring. Sulke siele en desbetreffende geeste sien slegs dit wat uit hul fantasie as `n lae droomwêreld ontwikkel. Hulle bly dikwels honderde jare in die fantasiewêreld, terwyl hulle die voortdurende nuwe aankomende siele aan die ander kant nie sien nie, ook al was dit hul naaste verwante op aarde en sien hulle hier wél dadelik. Gedurende lang tye neem hulle slegs hul eie fantasiewêreld waar en is hulle slegs toeganklik vir engele wat hulle onderrig, deur middel van suiwer ooreenstemmende beelde, wat in die fantasiewêreld van sulke blinde siele weet hoe om dit binne in te skuiwe.

As hulle die onderrig en sodoende `n verbetering van hul wil aanneem, verdwyn hul fantasiewêreld langsamerhand en kom hulle steeds meer tot die ware lig, tot aanskouing van al die bestaande en derhalwe tot `n weersien met hul verwante en vriende. Dan herken hulle hul ook as sodanig en belewe hulle groot vreugde daaraan.

Verbeter hy hom egter nie, dan bly hy vir `n ondenkbare lang tyd in sy steeds boosaardiger wordende droomwêreld. Dan is daar geen sprake van `n vreugdevolle weersiens en herkenning nie, net so min as wat iemand hom in `n droom, sy uiterlike omstandighede en lewenstoestande kan herinner, maar slegs sien wat sy fantasie hom in beelde voorhou. Net so min en eintlik nog veel minder kan `n duister siel hom aan die ander kant iets herinner of iets herken; want in haar droomwêreld is sy nooit aktief nie, maar altyd maar net passief, en daarom kan sy haar, volgens aardse begrippe, gedurende `n ewigdurende tyd, nie meer uit haarself bevry nie!

Wie hier nie ten minste halfpad in die gees wedergebore word nie, kom aan die ander kant min of meer in die hierbo beskrewe toestand aan, waarin hy homself ewemin kan help as `n embrio in die moederlligaam, wie se aktiwiteit en beweging afhang van die noodsaaklike uiterlike toestand van die moeder. Maar tog bestaan daar `n baie spesifieke gesteldheid by sulke siele, wat enigsins verskil van die toestand van die embrio in die moederliggaam. En die verskil is om vir die verstand van die mense begryplik te spreek dat die embrio, wat `n nuwe ontwikkelende skepsel is, in die moederliggaam volslae lydsaam is, terwyl `n duister siel geheel vanuit haarself tegelyk aktief en passief is en, omdat sy nie wil nie, nie inaktief kan word nie, omdat sy daardeur nie lydsaam sou word nie.

Maar hoe gebeur dit?

As `n mens op hierdie wêreld maar baie weinig of dikwels ook heeltemal niks gedoen het om dit wat sy siel in haar hart verborge saamdra, tot lewe te wek en te ontwikkel nie, maar alles slegs aan die ontwikkeling van sy uiterlike verstand bestee het en wat dit benut het om sorgvuldig die weë te kies waarop hy vir hom wêreldse skatte kon verskaf, van watter aard dit ookal mag wees en watter naam dit ookal mag dra, om daarmee vir homself die mees verfynde en in elke opsig mees aangename genietinge en bekoringe te verkry, dan is, as die siel van so 'n mens aan die ander kant aankom, haar goddelike ligkamer stewig versper en afgesluit. Die lig van die aardse verstand is egter eintlik maar net `n kombinasie van uiterlike, materiële ligbeelde, wat op die baie miljoene ligvlakkies van die harsingsplaatjies vir die siel sigbaar is. Aan die hand daarvan maak die suiwer materiële ingestelde siel altyd, op die manier van die dom astroloë, haar materiële bereke­ninge en voel haar dan as`t ware deur die mag van die bygeloof gedwing om daarvolgens te handel. Die verstandslig bly natuurlik in die wêreld agter, net soos `n beeldegalery agterbly wanneer die beeldliefhebber sterf. Die gevolg is dat so 'n siel dan noodsaak­likerwys totaal duister in die geesteswêreld aankom en niks anders oorhou as net die bewussyn, oftewel die uitdrukking van lewe, en slegs enige herinneringe aan haar aardse toestande en omstandig­hede vir sover dit in die ooreenkomstige harsings­kamer van die siel in ooreenstemmende simbole opgeteken is en dat die nog altyd uiters gevoelige siel voel en gewaar word, ook al kan sy die beelde, as gevolg van haar duisternis, nie helder bekyk nie.

Dat `n sodanige toestand maar al te gou ondraaglik word vir `n siel wat aan alle bekoringe van die lewe gewoond is, is maklik te begryp en aan te voel. So 'n siel word weldra baie vreesagtig en angstig en ten slotte vererg en kwaad, waardeur sy in haar `n soort gloeiende skynsel ontwikkel.

Reeds in die geoordeelde materiële wêreld kom dit voor dat wanneer iemand êrens `n sterk aktiwiteit sien ontstaan, soos byvoorbeeld by `n hewige storm, by `n sterk branding van die see of `n sterk wrywing tussen twee gelyksoortige of ongelyksoortige voorwerpe of by `n geweldige druk wat twee harde voorwerpe op mekaar uitoefen en sodanige dinge meer - hy dan ook, veral snags, sien dat daar `n vuur en lig of tenminste `n skynsel ontwikkel wat deur die natuurgeleerdes met die algemene, maar nie altyd passende naam 'elektrisiteit' aangedui word. In feite is dit in werklikheid egter niks anders as die aktivering van die natuurgeeste wat in alle materie meer of minder streng gevange sit en hulle dus eerder en makliker geprikkel kan word, namate hulle strenger gevange vasgehou word. As hulle egter minder streng vasgehou word, soos byvoorbeeld in die lug, in die water, in leem en allerlei ander soorte vloeibare en sagte liggame, is daar na verhouding ook `n kragtiger beweging nodig om die natuurgeeste, wat die beweging nie so vinnig kan ontwyk nie, te aktiveer, waardeur hulle deur hul uiterste vinnige vibrerende beweging binne die ligte en deursigtige omhulsels wat hulle gevange hou, as `n skynsel of `n gloed sigbaar word.

Dat hierdie aktivering van die natuurgeeste uit vibrasies bestaan, kan elke mens, wat ook maar enige waarnemingsvermoë besit, maklik sien en herken aan duisenderlei verskynsels in die natuurlike wêreld. As `n mens, of selfs ook `n dier deur, wat dan ook, in sy gemoed sterk geprikkel word, begin hy merkbaar te tril, wat veroorsaak word deur die aktivering van die natuurgeeste wat in sy vlees en bloed aanwesig is. `n Snaar op `n musiekinstrument vibreer, as daarteen gepluk of geslaan word, omdat die geeste wat in die materie van die snaar gevange sit, deur die slag of die pluk geaktiveer word. Die vlam van elke lig, wat niks anders is as `n gebeure waarby die natuurgeeste wat in die materie opgesluit is, vrykom, bestaan uit `n voortdurende sigbare vibrasie, wat deur die aktiwiteit van die vrykomende natuurgeeste ontstaan. So is daar nog duisende en nogeens duisende sulke verskynsels waarby dieselfde gebeure waargeneem kan word.

Daar is gesê dat die siel deur die verlies van haar wêreldse lig en van alle uit die wêreld voortvloeiende genoegdoenings in die eerste plek baie vreesagtig en angstig en ten slotte kwaad en toornig word, waardeur daar in haar `n soort gloeiende skynsel tevoorskyn geroep word. Die gloeiende skynsel ontstaan in die wese van die siel op heeltemal analoë wyse as in die natuurlike wêreld.

Vrees is die eerste aktivering van die eindeloos baie geestelike potensies, wat in elke individuele siel aanwesig is. Wanneer alle potensies steeds sterker begin vibreer, word hul gegewe ruimte baie gou te knap. En omdat die uiterlike vorm, waarbinne die tallose potensies tot `n lewe verenig is, baie gou te knap word, omdat die vorm nie so maklik vergroot kan en mag word nie, is die noodsaaklike gevolg daarvan, `n steeds hewiger verdringing en gedu na alle kante toe, waardeur, in die konkrete saamgestelde lewe, die gevoel van angs opkom.

As die gedring en gedu voortduur en steeds hewiger word, ontstaan daaruit `n geestelike gisting, wat mens woede noem. En soos reeds in die natuur die gevolg van `n steeds hewiger wordende gisting `n volledige ontbranding is, so is dit ook die geval by die sterk gisting van die spesifieke sielepotensies, en dit word toorn genoem. En van die toorn is dan ook die gloeiende skynsel afkomstig wat, as dit steeds maar hewiger word, ten slotte in `n volledige brand oorgaan, wat die slegste uitdrukkingsvorm van die lewe is, en wat raserny en in die eintlike betekenis ‘hel’ genoem word en dan ook is.

As in `n oorlede siel, nou op die manier, die nou net beskrewe gloeiende skynsel haarself ontwikkel, begin sy daardeur die geestelike indrukke wat in haar harsings aanwesig is, baie swak te sien en herken dit weldra die baie bose en weinig goed in haar wese. In die skemerlig sien sy ook dikwels `n muggie vir `n olifant aan, en omgekeerd `n olifant vir `n muggie. Uit sulke waarnemings ontwikkel daar in die siel vervolgens allerlei lugtige en deursigtige, jy sou kan sê 'vormlose' vorme, wat lyk soos die lugkastele van `n verliefde jongman in die wêreld, wat by `n baie lewendige fantasie dikwels gedurende enkele oomblikke tot `n werklik sigbare realiteit word, maar by die minste versteuring van die gemoed in die niet verdwyn.

Omdat die siel op die genoemde manier egter niks tot `n blywende realiteit kan maak en deur die vlugtig opduikende beelde, wat eerder vervormde, as goed geordende beelde is, steeds hewiger geprikkel en opgewonde raak, begin hulle ten slotte selfs aan die mees innerlike wese van die siel te torring, waardeur die innerlike (die oergees uit God) ook tot aksie kom, maar dit is dan wel `n baie ander, volkome teenoorgestelde aktiwiteit.

Hierdie aktiwiteit (van die oergees uit God) bring die woeste aktiwiteit van die siel tot bedaring, sodat die siel ten slotte in haarself gewoonweg aan die slaap val en dus rus. Tydens hierdie rus is sy meer verenig met haar oergees uit My en kom sy tot `n egte droom, waarin sy ook bly, omdat sy haar in die toestand baie behaaglik voel; hierdie toestand noem die ouer siele en lewensondersoekers die 'sieleslaap'.

Die oergees werk nou in die hart van die siel teen die begeertes van die siel en skep nou steeds meer beelde vir haar, wat enersyds dit bevat wat die egoïstiese, heerssugtige en genotsugtige ingesteldheid van die siel aanspreek. Maar sodra sy die dinge in haar droom, wat sy natuurlik as die werklikheid beskou, vol begeerte wil gryp, word dit tot niet gedoen of wyk hulle terug en vlug weg. Andersyds word vir die siel ook beelde geproduseer, wat nuttig vir haar is en, as sy dit aangryp en tot haar beswil aanwend, bly bestaan en dan begin daar `n hegte en blywende wêreld vir haar uit die droom te ontwikkel.

Hoe meer die siel dit aanneem wat aan haar deur haar oergees aangebied word, des te meer verenig sy haar met hom en gaan hulle so ongemerk in haar oergees op en daarmee in die oerlig en alle daaruit voortvloeiende waarheid. Dan herken sy weldra haarself weer heeltemal en al haar bekendes en verwante, deur wie sy dan gewoonlik na My toe gelei word, en tydens die ontwikkeling word vir haar, volgens die mate van haar voleinding en eenwording met haar gees, steeds meer lig en wysheid gegee, asook die vermoë om volledig in die natuurlike wêrelde te kan sien en daar op vrugbare wyse aktief te kan word. Dat in die geval, `n weersien met baie, die volkome natuurlike gevolg is van haar geestelike voleinding, hoef verder eintlik geen betoog te verg nie.

Maar wat gebeur daar met die siele, by wie dit in die droomlewe aan die ander kant nie moontlik is om die voorgespieëlde beelde en verskynings, waarna hul egoïsme en hul genotsug `n groot begeerte na het, deur die goeie droomgesigte uit hul sinlike aard te verdrywe nie? Wat gebeur daar, so vra Ek, met `n siel wat steeds woedender word, omdat sy die voorwerpe van haar lus, wat vir haar voorgetower word, nie kan bereik en vashou nie? Is daar in die geval ook `n weersiens? Nee, sê Ek, dan is daar geen weersiens nie!

Vir so 'n siel word haar eie gees dan tot `n onverbiddelike regter. Hy laat haar uiteindelik die voorgespieëlde dinge en objekte bereik en staan haar toe om haar te verlustig daaraan, soos haar onsuiwer aard dit wil; maar die verlustiging besorg die siel altyd `n hewige en brandende pyn en maak haar vir `n lang tyd weer heeltemal duister.

Vervolgens laat die gees toe dat die aldus duister geworde siel in haar groot woede wat haar deurgloei en haar `n boosaardig lig gee, waardeur sy soortgelyke siele om haar heen begin waar te neem, nou werklik siele van haar soort ontmoet.

Dan ontstaan daar onmiddellik kontakte en sameskoling van sulke siele, wat vir mekaar hul woede kenbaar begin te maak. Hulle verskans hul teen die vyande, met wie hulle in hul droomlewe, wat sulke siele egter as die werklikheid beskou, op `n weersin­wekkende manier in aanraking kom en neem die wraaksugtige besluit om tog eerder hulself, hoe dan ook, te dood as om die goddelike ordening ook maar die allerminste vir hulle te laat welgeval.

In die verskansing, waarvoor hulle die materiaal uit hul inbeelding haal, vir sover hulle in die lig van hul laaiende woede tot enige inbeelding in staat is, bly hulle dikwels geruime tyd afwagtend. Daardeur word hulle opnuut woedend, toornig en rasend en breek vervolgens self deur hul verskansings heen om die vyand saam met hordes te gaan soek, omdat daar niemand is wat na hulle kom op wie hulle hul wraak kan afkoel nie. Maar hul soeke is tevergeefs. Hulle ontmoet maar net hordes van hul soort, wat eweneens die vyand soek, en sluit baie gou `n verbond met hulle, waarna hulle saam ylings die vyand begin soek, maar natuurlik nooit een vind nie.

As sulke ongelukkige siele eenmaal met verskeie duisende bymekaar is, waarby die massas daar in die geesteswêreld vir die oog van suiwer geeste ongeveer lyk soos die gloeiing van die lug op aarde, wanneer daar êrens `n huis aan die brand is, kies hulle diegene onder hulle wat die felste gloei en wat hulle as die moedigste en wysste beskou, tot aanvoerder. Hy lei hulle dan oor `n bodem wat gewoonlik ooreenstem met die fantasie van sulke siele en wat yk soos `n duister sandvlakte of `n onafsienbare vlakte, waarop niks anders groei nie as ietwat droë mos. Op so 'n bodem ontdek hulle na lang omswerwinge, en deur hewige honger en dors gekwel, gewoonlik niks anders nie as nóg `n soortgelyke, rondtrekkende horde met `n fel gloeiende aanvoerder. Wat daar dan gebeur is dat hulle oftewel mekaar uit te groot wraaksug aanval, verskeur en vermink, of hulle verenig hulleself onder twee aanvoerders. Dit gee egter voortdurend aanleiding tot wrywing, omdat elkeen van die twee aanvoerders die belangrikste wil wees, wat na `n kort tydjie tog `n oorlog tussen die twee hordes teweegbring.

As die hoogs ongelukkige siele mekaar by sulke oorloë bykans geheel in stukke geskeur het, natuurlik alles slegs skynbaar, kom hulle weer ietwat tot rus. Dan toon hul gees hul weer in `n helder droom hoe onbeduidend, vrugteloos en sinloos hul dwase en blinde inspanning was, en toon hy hul die beter weg tot ommekeer.

Soms neem enkeles so 'n aanwysing ter harte en bekeer hulleself. Maar meestal word hulle na so 'n droomgesig eers heeltemal dol en val hulle terug in hul geeslose, suiwer sielestaat, wat dan nog veel slegter word as die eerste. En sulke toestande is dan reeds die hel, waaruit dit baie moeilik is om `n uitweg te vind! Wie dan nie die smal pad deur sy eie hart gaan nie, kom nie gou meer goed tereg nie en kan triljoene en desiljoene aardse jare in so `n hel bly sit.

Daar is nou dus getoon, hoe die sielelewe in die hiernamaals twee presies teenoorgestelde hoofrigtings en gesteldhede ken; na bo of na benede. Met dit alles is alle bestaansvorme ewenwel nog nie in die geesteswêreld beskrywe nie, maar slegs soos gesê die twee algemene hoofrigtings, dus die mees uitgesproke pro en kontra.

Tussen hierdie twee hooftoestande is daar nog tallose bestaans­vorme, wat nie hier beskrywe hoef te word nie omdat dit in die boek 'Die geestelike son', 'Aarde en maan', 'Biskop Martinus' en 'Van die Hel tot die Hemel' meer as voldoende geskets is, net soos in diverse ander mededelinge. Alle daarin beskrewe bestaansvorme, van watter aard dan ook, is gebaseer op die nou getoonde hoofreël en die fundamentele weë na bo of na benede, is op sigself beskou dieselfde.

Die eintlike ware weersiens kom eers in die ryk van God, dit is die hemel, wat die hele oneindige ruimte vul en derhalwe oral aanwesig is, maar wat elke mens slegs via sy hart kan bereik. Maar omdat daar teenswoordig soveel mense op aarde so materieel ingestel is dat hulle van die geestelike toedrag van dié dinge geen idee het nie, en hier oor 'natuurgeeste' lees en nie begryp wat dit is en waaruit hulle bestaan nie, dien nog `n kort nadere toeligting hieroor te volg.

Die hele materiële skepping is net soos die geestelike skepping, deur die almagtige wil van die Godheid, `n vasgehoue idee uit die hart oftewel die lewe van die Godheid Self, en is - omdat dit uit God is, in haar diepste grondslag geestelik. As die hele sogenaamde materiële skepping nou nie langer deur God vasgehou sou word nie, wat vir God baie maklik moontlik sou wees, dan sou dit weer geheel geestelik, as slegs vir die Godheid `n sigbare groot gedagte, in die gemoed van God terugkeer, en dan sou dit met die realisering van die vrye selfstandigheid van tallose wesens afgeloop wees!

Maar dit is God se ewige onveranderlike wil dat Sy groot gedagtes en idees ewigdurend tot die mees vrye selfstandigheid gerealiseer sal word. En daarom gebruik God dan enige moontlike manier om dit te realiseer - waarvoor alle goddelike gedagtes en idees onwrikbaar vas moet staan ter wille van Sy planne en doeleindes - wat die weg is wat gevolg moet word as die enigste wat na die doel lei:

Die tallose gedagtes en idees moet in `n sekere sin in allerlei soorte baie klein geestelike deeltjies, geleidelik aan steeds vryer gemaak word, maar daarby tog `n lang tyd deur `n hoofidee van God, wat soos `n vaste hemelliggaam in die eindelose ruimte van gedagtes en idees sweef - aangetrek en vasgehou word, totdat hulle hul langsamerhand, op grond van hul gelyksoortigheid, aaneensluit en so oorgaan in `n steeds groter wese, tot by die mens.

Sulke vryer gelate deeltjies, wat steeds deur die totale hoofidee, asook die nog nie vryglate, maar nog vasgehoue deeltjies in die hoofidee, heet tot op die mens, 'natuurgeeste'. Hierdie vryer natuurgeeste of natuurkragte, soos die wêreldse geleerdes hulle noem, is al selfstandig aktief, hetsy in die lug, in die water of in die sagter aardbodem, en lok daar die nog gevange sittende geeste na buite, na die vryheid. Hulle verenig hulle dan met hulle en vorm, deurdat hulle hul met die nog minder vryer geeste omhul, allerlei lewensvorme; eers plante, hieruit diertjies en vervolgens diere in steeds groter soorte tot by die mens. Op die punt word hulle dan die siel van die mens, en ook, wat die onvrye, nog growwe dele betref, as sy liggaam, weer deur God se oerwese Self gegryp, aangesien hulle nou al voldoende ryp is om volledig vry en selfstandig te word. Daarna word hulle, maar aanvanklik nog steeds as`t ware van buite af, vir die volgende, suiwer geestelike en ewigdurende toestand grondig geskool en geoefen.Diegene wat hom so 'n grondige skoling laat welgeval en dus die orde vrywillig binnegaan - en wel die enigste waarbinne vir hulle `n ewig selfstandige, geheel vrye lewenstoestand moontlik is - kom dan ook tot die groot weersien met Hom, uit wie hulle voortgekom het. Hulle sal sien hoe, waarom en deur Wie se mag en wysheid en volgehoue volharding, hulle van die eintlike ‘nie wees’ tot die volste, mees vrye en selfstandige ‘wees en ken’ gekom het.

Maar omdat hulle met hul oergrond een en dieselfde wese vorm, sal hulle, wat hulle steeds saliger sal maak, op dieselfde wyse vanuit hul wysheid, wat nou geheel van hulself is, maar tog volledig gelyk is aan die goddelike, ook self nuwe skeppinge aan die gang sit en dus geheel binne My orde skeppers van hul eie hemele wees; daardeur sal hulle dan tot die gerealiseerde weersien van al hul gedagtes en idees kom.

En dit alles sal dan `n groot, ewigdurende gerealiseerde weersien wees in die eindelose volheid van al dit wat `n goddelike gees ewig onuitputlik in homself dra. En dit is dan eers die volmaakte, groot weersien!

Ek dink nou dat hy wat oë het om te sien en ore om te hoor, hieruit onbeskryflik baie tot sy ewige voordeel kan put om die geestelike lewe ten volle te leer ken.

Maar vir diegene wat dit maar net lees uit `n soort nuuskierigheid en daarby sy wêreldse verstand as maatstaf gebruik, sal dit nie eers presies so ver gaan as wat in hierdie beskrywing gelees staan nie. Want My erbarming kan en mag hom nooit as te nimmer uitstrek tot buite die grense van My onveranderlike orde, waarvan Ek nou die grondslag laat sien het. Want hierdie orde is op sigself al My ewige erbarming.

Wie egter buite die grense van hierdie orde tree, sal `n buitengewone lang, ongelukkige toestand in die hiernamaals slegs aan homself te danke hê. Want iedereen moet homself vorm, as hy wil wees wat hy moet wees. As iemand nie die moeite wil doen nie, moet hy dan ook net vir solank in die ewige noodsaaklike oordeel bly, totdat hy homself begin omvorm, wat die siel egter `n swaar stryd sal kos!

Laat elkeen van julle hom dus behoed teen die selfsugtige strewe na aardse goedere, rykdom, glans en aansien, maar soveel moontlik milddadig wees teenoor sy armer broeders en susters; dan sal die stryd met die duisternis ook maklik wees. Amen.

Dit sê die Heer van alle lewe tot julle almal. Amen. Amen. Amen.

 


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205