Oor die drumpel van die DOOD
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 13

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19.

 

Die sterwe van `n minister

12 Augustus 1847

Omdat die groot here van die wêreld ook moet sterwe, `n uiters noodlottige eienaardigheid van die lewe - en hulle nog altyd geen versekering daarteen kon uitneem nie, omdat hulle dit met al hul politiek en diplomasie nog nie sover gebring het nie, moes ons minister hom ten slotte ook gereedmaak om die tydelike met die ewige te verwissel.

Sterwe is vir sulke mense ewenwel die mees onaangename verskynsel ter wêreld, maar daaroor bekommer die wurgengel hom maar weinig. Die een by wie hy die geykte maat vol aantref, neem hy sonder genade of verskoning saam!

Ons minister, `n man wat deur almal hoog gewaardeer was vanweë sy wêreldse wysheid, word op taamlike hoë leeftyd op die siekbed gewerp deur `n jigkoors, wat hom `n halwe maand folter, en wel des te erger namate hy meer medisyne inneem om `n einde aan hierdie kwaal te maak. Teen die einde begin hy erg misnoeg te word en dreig hy die artse met arrestasie, as hulle hom nie spoedig wil of kon genees nie.

Maar in plaas daarvan om sy dreiging uit te voer, sak hy op die sestiende dag van sy siekte weg in `n bewusteloosheid, waaruit hy op hierdie wêreld nie meer sou ontwaak nie, afgesien van `n uur vlak voor sy einde. In die uur maak hy nog `n kort testament op om te reël wat daar met sy enorme besit moes gebeur, waarby die armes, soos meestal by sulke mense, egter maar baie karig bedeel word; want wat is `n paar duisend gulde in vergelyking met verskeie miljoene?!

So word daar ook vir die vorm `n skenking gedoen aan die kerk, maar nie uit een of ander blinde geloof nie - want geloof het so iemand maar selde of gladnie, en alles wat hy doen is suiwer politiek, maar slegs, soos gesê, omdat die politieke gebruik so-iets vereis.

Na hierdie laaste wilsbeskikking sink hy terug op sy bed en was dood sonder om eers te gebieg of gekommunikeer het, waaraan hy vir homself tog geen waarde geheg het nie. Daarmee was dit met hom vir hierdie wêreld dan ook vir ewig afgeloop; daarom sal ons ook nie langer by sy lyk stilstaan nie, maar ons dadelik na die ander kant begewe en kyk hoe hierdie buitengewone trotse, aristokratiese man daar `n gesig opsit.

Kyk, hier is ons al, en ons man staan al in sy volledige staatsieklede voor ons en voor vier engelgeeste; maar hy sien slegs die laastes. Die plek lyk presies soos sy ministerskamer, waar hy van plan is om nog baie belangrike dinge te reël en in orde te bring.

Hy sien nou die vier persone in sy geheime werkkamer en kan hom nouliks van ergernis beheers, vanweë die verskriklike brutaliteit van hierdie vier indringers, soos hy dink. Hy spring op en gryp die klok en wil dit lui, maar die klok gee geen geluid nie.

'Verraad! Hoogverraad!', roep hy luidkeels. Hoe kom julle, ellendige booswigte, in hierdie kamer wat slegs vir my toeganklik is, waar die grootste staatsgeheime behandel en bewaar word? Weet julle dat die doodstraf vir so 'n hoogverraad staan? Wie van julle het die klok onklaar gemaak, sodat dit nou op die beslissende oomblik geen geluid gee nie? Beken dit, booswigte, wie van julle was die belhamel?!

Die eerste engel sê: 'Luister geduldig en baie aandagtig na wat ek jou nou sal meedeel! Ek ken die voorskrifte waarvolgens niemand, behalwe die koning, hierdie kamer mag betree nie. As jy nog op die wêreld sou gewees het, sou jy ons ook nie op hierdie plek gesien het nie. Maar kyk, jy het nou, wat jou liggaam aanbetref, gesterwe en is nou in die geesteswêreld, waar maar één Heer is, terwyl alle ander geeste broeders is, goeie en slegte, na gelang hulle goed of wel sleg op aarde gehandel het. Derhalwe het ons ook van die Heer die reg om elkeen uit liefde te besoek om ons dienste aan hom te bied, as hy, soos jy, nog toeganklik is vir ons. 

Daaruit bestaan dan ook die opdrag wat ons namens die enige Heer, ten behoewe van jou uitvoer, dat ons dit aan jou moet meedeel en jou tewens onthul dat hier in hierdie ewige wêreld, aan elke wêreldse eer en posisie `n einde vir jou gekom het en eweneens aan alle politiek. Die vertrek, jou kleding en al hierdie vermeende belangrike staatspapiere is slegs bedrog en `n produk van jou fantasie, wat nog uiters sterk op die wêreld gerig is. Dit sal verdwyn sodra jy ons volg. As jy ons volg, sal jy `n maklike weg na die ware, ewige lewensryk hê, waar ongekende salighede bestaan; as jy ons egter nie volg nie, sal jy dit baie moeilik hê om die lewensryk van God te bereik! Want kyk, op die wêreld was jy weliswaar deur God se toelating `n groot man en het jy groot mag verkry, maar deur hierdie mag is die heerssug baie sterk in jou gewek, en dit het jou tot baie dinge gebring wat nie in die goddelike orde gewortel is nie. Tewens het die wêreldse mag as heerssug jou ook die geloof in die Heer ontneem en veelvuldig ook die liefde tot jou naaste en het jou so volledig ongeskik gemaak vir die ryk van God.

Maar kyk, die Heer weet wat se swaar las jy gedra het en Hy het groot erbarming met jou. Daarom het Hy ons na jou toe gestuur, sodat jy gered sal word en nie ten gronde sal gaan deur die groot wêreldse las wat jy nog met jou saamgebring het nie. Dink hierby nie aan `n oordeel nie; want in die ryk van vryheid van die gees bestaan daar geen oordeel en geen regter nie, behalwe die eie vrye wil van elke mens! Dink ook nie aan die hel nie. Dit is nêrens, behalwe in elke mens self, as hy dit in homself, deur die kwaad wat in hom is, self skep. Dink egter ook nie aan `n hemel as beloning wat in die vooruitsig gestel is vir goeie werke nie; maar laat die Woord van die Heer jou wil wees, soek slegs vir Hom! As jy Hom het, het jy alle hemele en jou mag is dan uit die liefde en dit is `n baie ander mag as wat jy gehad het op die wêreld, op grond van jou wêreldse wysheid en hoë posisie. Nou weet jy alles; doen wat jou vrye wil toelaat in die Naam van die Heer. Amen'.

Die minister sê: 'Werklik, julle woorde is wys en waarborg my, dat dit alles is soos wat julle my nou meegedeel het. Ook is dit nou heeltemal duidelik dat ek liggaamlik gesterwe het. Maar die een sekere Joodse leraar, wat die enige God en Heer sou wees, die begryp ek nie! Wat is dan die 'Vader' en die 'Heilige Gees'? Sien, dit klop nie met die eie leer van Jesus, wat tog die eerste was wat oral die een goddelike drie-eenheid geleer het! Vergewe my dus dat ek julle nie so vinnig kan volg as wat julle wens nie, tensy julle my vinnig daarvan kan oortuig!'

Die engel sê: 'Broeder, dit gaan nie so vinnig as wat jy dink nie. Trek eers jou staatsieklede uit en trek ander klere van deemoed en volledige selfverloëning aan, dan sal jy baie vinnig volkome oortuig raak van wat jou nou nog onbevatlik toeskyn'.

Die minister antwoord: 'Goed dan, neem my saam en bring my onder, en skaaf sorgvuldig al die wêreldse van my siel af, dan sal wel blyk hoeveel julle uitsprake werd is'.

Nou kom die drie ander engele nader, trek die man sy staatsieklede uit en trek hom, in plaas daarvan, asgrys, erg verslete en taamlike grillerige klere aan. En die tweede engel sê vir hom; 'nou het jy die kleed van deemoed aangetrek. Dit is egter slegs nog nie voldoende nie, jy moet ook metterdaad deemoedig wees. Daarom volg ons!'

Die man volg hulle en kyk, hulle kom by `n boerdery aan en daar sê hulle vir hom: 'Kyk, hier woon `n bars man, wat groot kuddes varke het. By hom moet jy in diens tree en met alles tevrede wees, wat hy jou ookal as beloning sal gee; en as hy hard en onregverdig teenoor jou is, verdra dan alles met geduld en verskaf jou slegs reg in die genade en erbarming van die Heer.

As hy jou slaan, slaan dan nie terug nie; maar keer soos `n slaaf jou rug na hom toe, soos wat jy dikwels op aarde gesien het, hoe op grond van militêre ondergeskiktheid `n arme soldaat geheel willoos op die bank moes gaan lê en die harde, dikwels baie onregverdige straf moes deurstaan! As jy dit alles met die korrekte geduld verdra het, sal `n beter lot jou ten deel val!'

Daarop sê die man: 'Ek dank jou hartlik vir hierdie leiding! Gee my maar my staatsie-uniform terug, bedrieërs; ek sal wel `n weg vir myself baan! Kyk net na die vodde wat ek aanhet! Van iemand soos ek, uit `n geslag van minstens twintig adellike voorouers, wil julle somaar `n varkoppasser maak! O, as ek nog op aarde was, sou ek julle so laat boet het daarvoor, dat dit julle nog lank sou bybly! Hierdie vabonde gee hulle ook nog uit as boodskappers van God! Nee, wag, hierdie optrede as boodskappers van God sal julle nog duur te staan kom!'

Kyk, die engele gee hom weer sy kleding terug en sê: 'Soos jy wil. Daar is jou aardse kleding! As jy nie die weg van die lewe wil gaan nie, gaan dan jou eie weg; ons diens by jou is nou ten einde'.

Kyk nou in watter 'water' hierdie man hom begewe; daarin sal hy lank moet swem, voordat hy die weg van die verlore seun, terug na die Vader sal bereik.

Laat elkeen hom dus behoed teen die heerssug; want dit het steeds dieselfde gevolge. Die volgende keer `n ander voorbeeld.


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205