Inleiding deur die Heer
27 Julie 1847
Mense vra My hoe die oorgang van die materiële na die geestelike lewe - die sogenaamde hiernamaals - plaasvind, veral by die grotes van die aarde.
Hierdie oorgang kan baie maklik en baie natuurlik beskrywe word.
Kyk, wat se onderskeid maak die water, as `n groot, of `n arm en onaansienlike mens daarin val? Luister, beide verdrink op presies dieselfde manier! Of welke onderskeid maak die vuur? Wel, dit verteer `n keiser net so goed as `n bedelaar!
As `n bedelaar en `n minister of keiser tegelykertyd van `n toring sou val, sal die een sowel as die ander, die dood deur die diep val vind.
Welke onderskeid maak die graf tussen groot en klein, tussen ryk en arm, mooi en lelik, of jonk en oud? Geen! Alles vergaan en word deur die wurms verteer en word uiteindelik tot nietige stof.
Soos dit met die liggaam gaan in die ryk van die sogenaamde natuurkragte, so gaan dit ook met die siel in die ryk van die geeste. Of sy nou op aarde `n bedelaar, of `n keiser was, dit maak in die geestesryk geen verskil nie. Daar kry niemand `n voorkeurbehandeling nie, sodat niemand se eiedunk gevoed word en die grotes nie langer verblind word deur hulle grootheid nie, die arme nie deur sy aanspraak op die hemelryk, omdat hy baie armoede op die wêreld gely het, en die vrome nie deur sy 'verdienste vir die hemelryk’ nie! Maar soos wat al dikwels gesê is, geld daar - begryp dit goed - niks anders as slegs die suiwer liefde nie.
Al die res is dan soos klippe wat in die see gegooi word, waarby die diamant presies soos `n gewone stuk sandsteen in die ewige, stinkende modder wegsak. Op sigself geneem bly hulle weliswaar wel wat hulle is en wat hulle was toe hulle nog nie in die see gegooi was nie, maar die lot van beide is dieselfde, hoogstens met die verskil dat die sandsteen vroeër opgelos word as `n diamant.
So is dit in die hiernamaals ook gestel met die aardse adel en met die geringes van hierdie wêreld. Hulle sal hulleself in die slik van die see van die onverbiddelike ewigheid, nog `n lang tyd beskou as dit wat hulle op die wêreld was. Die keiser sal nog dink dat hy keiser is en die bedelaar - met sy aanspraak op vergelding - dat hy `n bedelaar is. Maar desondanks sal beide in die groot werklikheid dieselfde lot deel in die slik van die ewigheid. Die arme sou miskien ietwat vroeër as die keiser of `n ander grote van die aarde tot gisting kan kom en sou sy wese dus ook vroeër gevul kan word met die ware, innerlike blasies van deemoed, wat hom vervolgens uit die slik omhoog sal trek en ophef in die ewige lig en lewe.
Aan die hand van dié voorbeeld of hierdie hoofreël kan julle die oorgang van elke mens noukeurig beoordeel. Hou julle daarom aan die liefde, sodat julle nie later die algemene lot ondergaan nie! Amen. Amen. Amen.