Oor die drumpel van die DOOD
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 11

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19.

 

Die oorgang van `n veldheer

10 Augustus 1847

Kyk, ons bevind onsself in `n koninklike praalvertrek. Hier skitter alles van goud, silwer en kosbare edelstene en van die kosbaarste skilderye in die wêreld. Op die vloer van die vertrek lê die fynste Asiatiese tapyte, en voor die groot vensterrame met spieëlglas, hang gordyne, waarvan één soveel kos, dat duisend armes `n maand lank daarvan sou kon eet. Kaste, tafels, sofas, stoele en nog `n groot aantal koninklike inrigtingstukke van groot waarde versier die vertrek. Allerlei welriekende geure dryf deur die sieke­kamer en die beroemdste artse staan rondom die ryklik met goud versierde bed, waarin die op aarde hooggeplaaste sieke tevergeefs op sy genesing wag.

Die een kollegiale oorleg na die ander word gehou, en elke uur word die medisyne gewysig. In die aangrensende vertrek bid by toerbeurt voortdurend twee monnike uit Latynse, in rooi en swart gedrukte boeke. Oral waar `n gebedshuis of `n kapel staan, word `n plegtige mis vir die herstel van ons groot veldheer gehou. Maar dit baat alles niks. Want vir hierdie veldheersiekte bestaan daar nóg in die apteek, nóg in die gebedeboek en ewemin in die misboek meer enige hulp nie, maar daar is die sinspreuk: 'Kom, en kyk hoe jou werke lyk!'.

Kyk nou net na die sieke, hoe dapper hy hom hou! Maar hierdie dapperheid is maar skyn, want inwendig sou ons held wel kan vergaan van angs en vertwyfeling, en daarby vervloek hy die baie pynlike siekte soos `n Husaar (Indiese soldaat) sy perd as hy hom nie wil gehoorsaam nie. Dit is tog `n wonderlike toestand: Daar bid monnike, weliswaar met `n godsvrug wat ver te soek is, en waar heimlik ook nog `n heeltemal teenoorgestelde wens mee verbonde is ‘propter certum quoniam’, maar dit bly tog vreemd dat hy, vir wie tenminste nog 'vir die oog' gebid word, vloek dat dit `n skande is!

Sy pyn word egter steeds erger, ja byna ondraaglik, en ons pasiënt, wat rasend word daardeur, bars nou tot verbasing van sy omgewing in woede uit en skreeu so hard as wat hy kan: 'O, vervloekte hoerelewe! kan jy, Skepper, as jy êrens is, dit my dan nie op `n minder pynlike manier afneem nie? Op so 'n hoerelewe moet alle duiwels, as hulle êrens is, wel spuug; en ek sou dit self wil doen, as ek dit maar kon! Haai, julle dokters, dom osse, julle is almal saam nog geen skoot kruit werd nie, gee my `n skerp gelaaide pistool, sodat ek myself daarmee vir die honde- en hoerelewe `n medisyne deur die harsings voorskryf wat my met één knal van elke verdere marteling sal bevry!'

`n Nabystaande arts gaan na die siekbed toe; hy wil die pols voel en vra die pasiënt om kalm te wees. Maar die vername pasiënt rig hom op en sê: 'Kom maar net hier, slegte hond van `n arts, dan kan ek my woede op jou afkoel! Loop na alle duiwels! Wil jy my miskien weer met opium martel? Kyk net hoe slim die skelms is. As hulle niks meer weet nie, kom hulle dadelik met opium, sodat jy inslaap en hulle sodoende `n paar uur lank geregverdigde verwyte ontloop wat hulle baie goed verdien, terwyl hulle braaf in hul vuiste lag en al uitreken hoeveel elkeen van hulle na my dood sal kan vra! Hahaha, nie waar nie? Ek deursien julle planne! Weg dus met julle, slegte honde, anders bring ek julle nog met my laaste kragte om – julle met julle afskuwelike muishondlewens! Haai, wat sien ek daar in die syvertrek wat lyk soos twee swartrokke? Wat doen hulle daar? Ek glo selfs dat hulle vir my siel bid! Wie het hulle daarvoor geroep? Uit daar met hulle, anders staan ek op en skiet hulle soos honde neer!' 

Kyk, na hierdie geweldige uitbarsting van ons opperveldheer maak die twee monnike hulle vinnig uit die voete; die artse haal steeds heftiger hul skouers op en die pasiënt bly stil en begin te roggel, terwyl hy sy gesig afgryslik vertrek. Omdat hier by die pasiënt niks meer waar te neem is nie, begewe ons onsself dadelik na die geesteswêreld en sal daar baie kort gadeslaan, hoe ons held die geesteswêreld binnetree.

Kyk, ons is al daar, en daar op dieselfde bed lê die pasiënt in `n vertrek wat presies dieselfde lyk. Soos julle maklik kan vasstel, roggel hy nog steeds, terwyl hy swaar asemhaal en sy tong stukkend byt uit heimlike woede van sy vertoornde siel.

Maar kyk, daar staan die wurgengel dan al gereed om die vertoornde siel van ons held van haar baie trotse en hoogmoedige aristokratiese vlees los te maak. Die engel is gewapen met `n vlammende swaard, as teken van sy groot krag, wat aan hom deur My verleen is en as teken van sy moed en totale onbevreesdheid vir sulke groot helde van die aarde, sowel as vir die hele hel.

Kyk, nou het die laaste korreltjie van die sandloper vir hierdie held geval en die engel raak hom met sy vlammende swaard aan en sê: 'Staan op, kragtelose siel, en jy, trotse stof, val terug in die see van jou bodemlose nietigheid!'

Kyk, nou verdwyn die liggaam en die bed en die kamer vol aardse prag is nie meer te sien nie. In plaas daarvan verhef hom, soos wat julle maklik kan sien, `n baie donker, asgrou en jammerlike verskrompelde siel, staande op los sand, wat dreig om haar te verswelg. Boos, verward en skrikkerig kyk sy om haar heen en sien niks anders nie as net haarself. Maar sy sien haarself baie anders as wat ons haar sien. Sy sien haarself nog as `n veldheer met al haar ordes en versier met `n offisier swaard.

'Waar is ek tog?', sê die held. 'Welke duiwel het my hierheen gebring? Niks en nog eens niks! Waar ek ook kyk, oral is niks. Kyk, ook hier onder my is niks!

Is ek dalk `n slaapwandelaar? Droom ek miskien, of sou ek dalk regtig gesterwe het? Ag, dit is tog `n vervloekte dom toestand! Weliswaar is ek nou baie gesond en voel geen pyn nie, en ek herinner my elke kleinigheid van my lewe. Ek was tog baie erg siek; ek het die dom artse die waarheid gesê en die twee huige­laars na die duiwel gejaag en het in my opwinding ook, natuurlik deur die al te hewige pyn, die Skepper `n paar fikse grofhede voor die voete gegooi - dit herinner ek my alles baie goed! Ook weet ek, dat ek baie kwaad was en iedereen van woede kon verskeur het. Maar nou het alles verdwyn. Dit sou wel in orde wees, as ek maar net kan weet waar ek nou eintlik is en wat daar met my gebeur het.

Dit is wel `n bietjie lig om my heen; maar hoe verder weg ek kyk, des te donkerder word dit, en ek sien niks, niks, niks en nogeens niks! Dit is tog vervloek! Werklik, wie nie die duiwel in daarvan word nie, word dit in ewigheid nooit!

Eienaardig, eienaardig, ek raak steeds opgewekter, steeds lewendiger, maar ook word dit steeds leër om my heen. Ek moet my wel in `n soort slaapsug bevind. Maar mense wat daardeur oorval word, hoor en sien alles wat daar om hulle heen gebeur en ek hoor en sien niks behalwe myself, dus kan dit geen slaapsug wees nie.

Dit is hier nóg koud, nóg warm, nóg volledig donker, hoewel die lig my bepaald nie verblind nie! Wat ek nie kan begryp nie, is dat ek in hierdie solotoestand nog so bly en opgeruimd is, dat ek daardeur nog die nar sou kan uithang en tog, soos uit die voorbeeld blyk, was ek in die liggaam van my moeder beslis nie eensamer gewees as hier nie! Ag, as ek hier nou so 'n... jy weet wel, so 'n ....ja dit bedoel ek, as ek hier nou so 'n 'vroumens' by my sou kon gehad het, werklik, dan sou ek selfs kan vergeet dat ek... maar dank die koekoek, die veldheer met sy vyf dosyn groot voorouers! Werklik, vir so 'n 'vroumens' van die laagste stand sou ek nou wel alles voor gee!

As ek nou maar te wete kon kom waar ek eintlik is?! As dit nog lank moet duur, sal hierdie toestand wel net erg vervelend kan word! Ek het wel eens iets oor `n God gehoor – ek sal my tog net ernstig tot hom wend. Ek het my natuurlik nou net wel ietwat bars teenoor hom gedra; maar hy sal my dit, as hy êrens is, tog nie so swaar aanreken nie. Haai daar, my god, my heer! As jy êrens is, help my dan uit hierdie wonderlike fatale toestand!'

Kyk, nou kom daar onmiddellik `n engel na hom toe die sê: 'Vriend, in hierdie toestand sal jy net vir solank bly, tot die laatste druppel van jou hoogmoed uit jouself verwyder sal wees en jy daardeur die laaste bloeddruppel betaal het van die bloed, wat jy by baie duisende van jou broeders vergiet het! Gooi al jou veldheertekens van jou af, dan sal jy vaste grond, meer lig en ook geselskap kry, maar behoed jou teen mense van jou soort, anders is jy verlore! Wend jou veral tot die Heer, dan sal jou weg kort en maklik wees, amen'.

Kyk, ons held volg hierdie raad egter nog nie op nie. Daarom verlaat die engel hom, en sal hy hom nog enkele honderde jare in `n onbesliste toestand bly bevind.

Daaruit kan julle wel konstateer wat sy 'water' is; daarom nou niks meer oor hom nie.


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205