Oor die drumpel van die DOOD
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 7

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19.

 

`n Geleerde neem afskeid van hierdie wêreld

2 Augustus 1847

Laat ons na die siekbed van `n geleerde gaan, vir wie se behoud van die aardse lewe, soos mens sê, geen kruid meer opgewasse is nie, en laat ons ook by hierdie tweede beroemde man kyk hoe dit met hom in sy laaste ure aan hierdie kant gesteld is en hoe hy aan die ander kant ontwaak en watter rigting sy liefde hom laat inslaan.

Die man wat ons nou gaan sien, was op hierdie wêreld `n filosoof en terselfdertyd `n astronoom 'in optima forma'.

Hierdie man het, in sy groot ywer om die sterre te bekyk en te bereken, `n leeftyd van ruim sewentig jaar bereik. Maar by `n langdurige sterrekykery op `n erg koue winteraand het hy sodanig afgekoel dat mens hom byna heeltemal verstyf by sy teleskoop aangetref het. Vandaar is hy toe onmiddellik deur sy vriende na sy verwarmde woning gebring en oombliklik van die beste moontlike hulp voorsien, waardeur hy na enkele ure weer in soverre versterk is dat hy sy sogenaamde 'laaste wilsbeskikking' aan sy vriende kenbaar kon maak.

Dit lui so:

'In die naam van die ondeurgrondelike godheid! Omdat mens nie kan weet hoe lank die onpeilbare noodlot `n mens die ellendige lewe nog sal laat behou en mens ook nie weet wat mens in die plek daarvoor sal kry nie, is dit my wil dat julle, my beste vriende, eers my lyk, as ek sou moet sterwe, deur balseming teen ontbinding bewaar en dit in `n goed afgeslote koperkis in `n grafkelder lê, waar daar alreeds verskillende van my mees geagte kollegas rus en in `n sekere sin op my wag. Plaas egter my inwendige organe, wat die eerste tot ontbinding oorgaan, op spiritus in `n spesiale organe urn en plaas dit in my museum op `n plek wat vir elkeen dadelik in die oog spring, sodat ek tenminste in die herinnering van die mense sal voortleef, as daar nie aan `n ander voortlewe na die dood van die liggaam te dinke is nie.

Wat my vermoë betref, weet julle goed, my vriende, dat `n geleerde op hierdie wêreld selde meer besit as wat hy vir sy daaglikse geestelike en fisieke uitgawes nodig het, en so is dit dan nou ook by my, soos dit altyd was. Ek het nooit enige geldelike vermoë gehad nie en kan dus ook niks nalaat nie. Maar maak spoedig na my heengaan my nagelate effekte te gelde en delg daarmee alles wat ek julle direk aan die begin opgedra het.

Stel my drie kinders wat nog lewe, wat almal goed versorg is, op hoogte wanneer ek nie meer daar is nie. My oudste seun, my oogappel, wat my vak gekies het, moet al my boeke en geskrifte erf en so spoedig moontlik my manuskripte wat nog nie gepubliseer is nie, in druk laat verskyn.

Dit is my wil vir hierdie mooi sterrewêreld, wat ek voortaan nooit meer sal sien en bereken nie!

Ag, hoe is die mens tog nie `n ellendige wese nie! Vol verhewe idees, vol boaardse verwagtinge, solank hy nog gesond op aarde rondwandel, maar op die rand van die graf verdwyn hulle almal soos lugkastele van `n kind en in hul plek tree die treurige werklikheid in, die dood as laaste moment van ons bestaan en met haar die vernietiging, wat geen grense ken nie!

O vriende! Dit is `n swaar, verskriklike gedagte om van dié kant tot die 'nie wees' te gaan vir wie, soos ek nou, op die rand van die graf staan! My innerlike roep my toe: 'Jy sterf, jy sterf nou! Nog slegs enkele minute, dan het die swart nag van die ewige vernietiging oor jou hele wese gedaal!' O vriende, hierdie roep is verskriklik vir wie op die rand van die graf staan, en met die een oog nog na die vertroude mooi sterre kyk en met die ander die ewige, dooie nag sien, waar geen idee uit die vergane stof oprys, geen bewussyn, geen herinnering nie!

Waarheen, waarheen sal die stof in duisend jaar verwaai wees? Welke orkaan sal dit uit die graf wegblaas, en watter seegolf sal dit dan weer verswelg, of welke ander graf?

O vriende! Gee my iets te drinke, want ek het verskriklik dors! Spreek woorde van troos om my groot angs te temper! Gee my die beste wyn, en baie, sodat ek my nog eenmaal kan verkwik en bedrink en so die verskriklike dood makliker afwag!

O vreeslike dood, grootste skande vir die verhewe menslike gees, wat sulke pragtige dinge geskape en ontdekkings gedoen het, wat hom tot groot eer strek! Hierdie gees moet nou sterwe, die grootste skande is sy loon; die dood, die ewige vernietiging!

O noodlot, o godheid, as u ewige sterre kon geskep het, waarom dan nie `n onsterflike mens nie? O, wat `n dwaasheid moet daar in `n godheid wees wat behae daarin skep om die mees verhewe te skep, om hom daarna weer vir ewig te vernietig, of uit mense skandelike wurms of infusiediertjies te vorm!

Moet ek dan sterwe? Waarom moet ek dan sterwe? Wat het ek gedoen, wat het miljoene mense gedoen, dat hulle moet sterwe? Werklik, in `n malhuis sou mens `n beter skeppingsnorm kon opgestel het as hierdie sterflike, wat ingestel is deur `n godheid, wat veronderstel is om uiters wys te wees!'

Op dié oomblik maan die aanwesige vriende en artse ons astronoom tot rus wat hy, as hy weer wil genees, dringend nodig het. Want dit staan immers nog gladnie vas dat hy nou, as gevolg van hierdie weliswaar forse afkoeling, moes sterwe nie, maar wel sou sulke heftige gemoedsaandoenings hom werklik sy dierbare lewe kan kos.

Hierdie vermaning het by ons astronoom egter baie min effek, want hy vaar daarna maar net des te heftiger uit en sê met opgewonde toon: 'Weg, weg met julle hulp! Weg met die ellendige, vervloekte lewe! As die mens nie ewig kan lewe nie, is die lewe die grootste en mees skandalige bedrieëry en is slegs die dood en is nie die waarheid nie! `n Wyse moet hom skaam vir so 'n afskuwelike lewe, wat slegs van vandag tot môre duur! Ek wil dus ook nie meer lewe nie! Ek het nou duisend keer meer `n hekel aan die miserabele lewe as aan die ellendigste dood; gee my dus gif, gee my `n sterk gif, sodat ek so vinnig moontlik van die afskuwelike lewe ontslae kan wees! Vervloek is so 'n lewe, so 'n muggielewe, en ewige skande aan die oerkrag of godheid of wat vir `n miserabele gees dit miskien ook is, wat die verhewe mens geen lewe kon of wou gee wat ook met die duur van die van die sterre gemeet kon word! Weg daarom met die lewe, weg met hierdie bedrieëry van `n godheid! As Hy die mens geen beter lewe kan gee nie, dan word Hy daarvoor bedank en mag Hy dit self hou! Dit gaan julle goed, my beste vriende, ek sterf, ek wil sterwe, ja, ek moet sterwe; want nou sou ek as verhewe mensegees nooit meer die skande van so 'n foplewe kan verdra nie!'

Nou maan die artse ons astronoom weer tot kalmte. Maar hy raak stil en gee geen antwoord meer nie. Die artse gee hom muskus, maar die gooi hy van hom af weg. Hulle vra hom om tog die medisyne te neem, maar hy sê niks meer nie en begin te roggel. Hulle begin hom te vrywe om hom uit hierdie letargie (slaapsug) te red, maar dit is tevergeefs. Na enkele ure hou die roggel weliswaar op, maar in plaas daarvan tree `n heftige delirium (waansin) op – so lyk dit vir die wêreld - waarin die astronoom met `n hoë, skel stem die volgende sê:

'Waar is julle tog, julle mooi sterre, waarvan ek soveel hou? Skaam julle jul dalk vir my, dat julle jul lieflike aangesig vir my verberg? O, skaam julle nie vir my nie! Op julle wag immers dieselfde lot, wat my nou getref het. Ook julle sal sterwe, soos ek nou gesterwe het! Maar koester daarom geen wrok teenoor die swak Skepper, soos ek gedoen het nie. Want kyk, hy was beslis van goeie wil, maar het te weinig wysheid en krag, en daarom is al sy werke so broos en verganklik. Hy sou weliswaar beter daaraan gedoen het as hy nooit iets geskape het, waarvoor hy hom teenoor ons, sy wyse skepsele, maar net moet skaam; want in `n onvolmaakte werk sien jy nie die hand van `n volmaakte meester nie! Laat ons dus geen wrok meer koester teen die arme drommel van `n Skepper nie, wat op die lange duur nog moeite daarmee sal hê om, met die totale vergank­likheid van al sy werke, nog homself ook in stand te hou.

O, arme Skepper! Nou sien ek eers in dat jy wel `n baie goeie wese is en self die grootste vreugde sou gehad het as jou skepping beter geslaag het, maar: 'Ultra posse nemo tenetur’. `n Skelm, wat iets beter wil doen as wat hy kan. Maar jy het nie bokant jou kragte beter gedoen nie, dus is jy ook geen skelm nie! - - -

O, arme, goeie mens Jesus, wat aan die wêreld wel die mees wyse moraal gegee het, begelei deur verskillende skyn wondere! Jy het jou ook te veel op jou vermeende God-Vader verlaat, wat jou vanweë sy inherente swakheid juis toe in die steek gelaat het, toe dit die mees nodigste was om jou so kragtig moontlik te onder­steun, met `n almag waarmee jy jou vyande soos kaf kon verstrooi het! Toe jy aan die skandpaal gehang het, was dit natuurlik te laat om uit te roep: 'My God, my God, waarom het jy my verlaat!?' Want kyk, jou God het jou lankal verlaat, omdat sy krag nóg vir jou, nóg vir my behoud toereikend was! Hy het weliswaar gedoen wat hy kon en sou ook graag meer wou gedoen het, maar kyk, daarby geld altyd die 'ultra posse nemo tenetur!'

Ag, hoe belaglik is dit tog nie! Nou het ek gesterwe en tog leef ek nog, soos `n gefopte esel! Die raarste van die hele saak is, dat dit nou vir my voorkom asof dit volstrek onmoontlik is om ooit te kan sterwe! Maar waar het die aarde nou tog heen geglip - en my goeie vriende? Ek sien weliswaar niks en hoor ook niks, behalwe net myself, maar ek is ondertussen by die volste bewussyn, en my herinnering is baie helder en reik tot ver verby my verblyf in die moederskoot. Dit is werklik eienaardig! Sou die godheid my dalk wil toon dat Hy tot meer in staat is as wat ek in my laaste ure van Hom verwag het? Of leef my liggaam nog op die allerlaaste oomblik van sy vernietiging en lyk my lewe nou soos die nagloei van die sonne, wat triljoene jare gelede uitgedoof is en slegs nog voortlewe in die uitstraling van hul lig deur die oneindige ruimte?

Maar vir so 'n skynlewe, wat wiskundig korrek, ook wel ewig moet voortduur, omdat die uitgaande ligstraal nooit op `n eindige grens kan stuit en daarom nooit volledig kan ophou nie, is ek my nou te helder van myself bewus, ja duisendmaal helderder as ooit in my hele aardse lewe. Soos gesê, ek hoor en sien niks behalwe net myself nie. Aha, aha, stil nou! Ek het die indruk dat ek `n sagte gemompel hoor, `n gefluister! En ook wil `n sagte, baie soet slaap hom as`t ware van my meester maak. En tog is dit geen slaap nie - nee, nee, maar dit is, asof ek uit `n slaap moet wakker word. Maar nou stil, stil; ek hoor stemme uit die verte, bekende stemme, baie bekende stemme! Stil, hulle kom nader!'

Nou verstom ons astronoom heeltemal en beweeg ook nie sy lippe meer nie, waaruit die rondom hom staande artse en vriende die gevolgtrekking maak dat dit nou volledig met hom afgeloop was; temeer omdat die helfte van die woorde wat hier weergegee is, deur die omstanders, meer as `n roggelende gekraai verneem was as die geartikuleerde uitdrukking van die vermeende innerlike fantasie van die verstywende organisme.

Die artse grype nog wel na die mees ekstreme middele om hom weer tot lewe te wek, maar dit was vrugteloos. Toe laat hulle die astronoom, wat volgens hul mening in `n diep letargie (slaap) was, met rus en wag die natuurlike loop van die gebeurtenis af. Hulle wag egter tevergeefs, want die natuur gee niks verder te sien as die werklike liggaamlike dood nie.

Waar vir die artse egter die 'ultima linea rerum' bereik is, neem hulle afskeid. En ons neem ook afskeid, maar nie soos die artse nie, maar as geeste, wat die aarde gestorwe man ook in die hiernamaals kan volg en kan gadeslaan wat hy daar sal doen en waarheen hy hom sal wend.

Kyk, daar lê hy nog presies soos op die wêreld op sy bed, en verder is daar niemand, behalwe die drie engele wat julle al ken. En daar agter die drie boodskappers nog iemand!

Luister, hy spreek nog en sê: 'Kyk, nou hoor ek weer niks. Wat was dit dan so ewe vir akoestiese bedrog? Hm, nou is alles weer muisstil. Is ek eintlik nog daar, of is dit afgeloop met my? O, afgeloop is dit in geen geval nie, want ek voel myself immers, ek is baie helder van myself bewus, ek dink, ek herinner my haarfyn aan alles wat ek ooit gedoen het; slegs die nag, die godvergete nag, die wil nie wyk nie! Ek sal vir die wis en die onwis tog net gaan roep, en wel so hard as moontlik. Miskien sal iemand my tog toevallig hoor. Hallo! Is daar iemand in my omgewing, wat my uit hierdie nag kan help? Help my, as daar toevallig iemand in my omgewing is!'

Nou meld boodskapper A hom aan en sê vir boodskapper B: 'Broeder, tel hom uit sy graf!' Boodskapper B buig hom nou oor die astronoom en sê: 'Aan jou geskied soos die Heer van alle lewe en Sy ewig onveranderlike wil! Staan op uit die aardse graf van jou stoflike liggaam, aardse broeder!'

Kyk, nou staan die astronoom op dieselfde oomblik op en sy liggaam val soos `n opgeloste newel terug! Maar die astronoom roep: 'Broeder, noudat jy my uit die graf gehaal het, haal my dan ook uit my nag!' En boodskapper C sê: 'Aldus is dit van die ewigheid die wil van die Heer, wat al Sy skepsele, en veral Sy kinders lig gee en met geopende oë in die lig sal wandel. Open dus jou onsterflike oë en sien en aanskou wat jou behaag. Laat dit so wees!'

Nou open die astronoom vir die eerste keer sy oë in die geestelike wêreld en sien baie duidelik sy omgewing. Hy is opreg bly, omdat hy volgens wat hy dink, nou weer mense sien asook die bodem waarop hy staan. Maar nou vra hy: 'Beste vriende, wie is julle eintlik? En waar is ek? Want dit kom my hier vir `n deel baie vertroud en vir `n deel tog ook weer baie vreemd voor. Ook is ek so lig en ongewoon gesond, en ek begryp nie goed hoe ek hier gekom het nie en hoe die krag van julle woorde my siende gemaak het nie. Want ek was werklik heeltemal blind.

Engel A sê: 'Jy het vir die wêreld, wat jou liggaam betref, gesterwe en is nou vir ewig lewendig, wat jou siel en jou gees betref - hier in die eintlike, ware wêreld van die lewe van die geeste. Ons drie is engele van die Heer, en is na jou toe gestuur om jou te wek en op die korrekte weg te lei na die Heer, jou God en ons God, na jou Vader vol liefde, geduld en erbarming, wat ook ons Vader is en heilig, meer as heilig en wat jy in jou laaste uur op aarde `n 'swak godheid' genoem het, omdat jy blind was, maar wat jou alles vergewe is, omdat jy blind en swak was! Nou weet jy alles; handel daarvolgens, dan sal jy, net soos ons, vir ewig meer as salig wees!'

Die astronoom sê: 'Broeders, vriende van God, lei my waarheen julle wil, ek volg julle! Maar as ek ooit die eindelose genade deelagtig sou word om God te mag aanskou, versterk my dan geweldig! Want ek voel my vir ewig te ellendig en met smaad oorlaai en onwaardig om die allerheiligste aanblik te verdra! Maar daar sien ek nog iemand wat baie vriendelik na ons kyk! Wie is hierdie voortreflike man? Seker ook `n boodskapper van die hemele?'

A sê: 'Ja, meer `n boodskapper van alle hemele. Gaan na Hom toe, die weg na Hom is kort. Hy sal dit self aan jou openbaar'.

Die astronoom gaan na Hom toe, en die betrokke Man kom hom tegemoet en sê: 'Broeder, ken jy My dan nie?' En die astronoom antwoord: Hoe sou ek jou moet ken, ek sien jou tog vir die eerste keer. Wie is jy dan, liefdevolle, voortreflike broeder?'

Die vriendelike Man sê: 'Kyk na My wondtekens! Sien, Ek is jou swak Jesus en kom jou tegemoet om jou swakheid met My swakheid te ondersteun, want as Ek jou met My krag tegemoet sou kom, sou jy geen lewe hê nie! Want weet, elke beginnende lewe is `n teer plant, wat nie sonder lug gedy nie, maar `n orkaan dood die lewe van die plant. Daarom is Ek nou ook `n suggie wind wat jou tegemoet kom om jou tot lewe te wek, en geen orkaan om jou te vernietig nie. Wees lief vir My, soos wat Ek jou van die ewigheid af liefhet, dan sal jy die ware ewige lewe hê!' 

Die astronoom sê; 'O, my mees geliefde Jesus! U is dus Hy, wat die bewoners van die aarde die voortreflikste leer gegee het, terwyl hulle U daarvoor gekruisig het? Leer my die korrekte weg wat na God lei en wat U onderrig het; deur my sal U nooit gekruisig word daarvoor nie! Maar, as dit moontlik is, laat my daarby, tewens die groot skepping, waarmee ek my hele lewe lank soseer besig mee was, in alle klaarheid waarneem.'

Jesus sê: 'Jou weg na God sal nie lank wees nie, as jy hom dadelik wil betree; maar as jy eers jou sterre grondig wil ondersoek, sal jy `n lang weg te gaan hê. Kies nou, wat jy die eerste wil hê!'

Die astronoom sê: 'My geliefde Jesus, kyk, vir God is ek nog lank nie ryp nie. Help my dus, as U kan, om in die sterre ryp te word'.

Die Heer sê: 'Dit geskied volgens jou liefde! Kies één van hierdie drie engele, wat jou sal lei en jou aan die einde van die reis sal toon Wie jou vermeende Jesus is, wat jy ken as `n mens wat gekruisig was!'

Sien nou opnuut hoe hierdie astronoom sy 'water' soek en slegs daarin na My toe wil swem, sonder om te bedink dat Ek al by hom en hy by My was! Behoed julle dus teen die geleerde water van die sterrekundiges en geoloë, want die drywende krag daarvan is nie na My gerig nie, maar na die liefde vir die vakgebied van die geleerdes! Vir die doel dien die taamlike lang voorbeeld. Amen.


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205