Oor die drumpel van die DOOD
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 14

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19.

 

Die oorgang van `n biskop

13 Augustus 1847

`n Biskop wat erg gesteld was op sy waardigheid en eweneens op sy leerstellinge, word uiteindelik vir die laaste maal siek.

Hy, - selfs toe hy nog maar priester was – wat die hemelse vreugde in die wonderlikste kleure afgeskilder het en hom uitgeput het in die beskrywing van die verrukking en geluksaligheid in die ryk van die engele, maar daarnaas natuurlik ook die hel en die onaangename vaevuur nie vergeet het nie, wil nou self, as byna tagtigjarige grysaard, nog steeds geen besit neem van sy veel geprese hemel nie. Nog duisend jaar lewe op aarde sou vir hom beter gewees het as `n toekomstige hemel met al sy verrukkinge en salighede.

Daarom stel ons siek biskop ook alles aan die werk om tog maar weer gesond te word. Die beste artse moes steeds in sy nabyheid wees; in alle kerke van sy bisdom moes siekemisse gelees word; al sy skape word opgeroep om vir sy behoud te bid en vroom geloftes voor hom af te lê en ook te hou, ter verkryging van `n volle aflaat. In sy siekekamer word `n altaar opgerig, waaraan in die voor­middag drie misse gelees moes word vir die herstel van sy gesondheid; smiddags moes tydens die uitstalling van die heilige sakrament, die drie vroomste monnike voortdurend uit die brevier (Latynse gebedeboek) bid.

Self roep hy meermale uit: ‘O Heer, ontferm U oor my! Heilige Maria, liewe Moeder, help my, erbarm U oor my aartsbiskoplike amp, wat ek dra tot eer van U en van U Seun; o verlaat U getroue dienaar nie, my enigste helpster in die nood, enige toeverlaat van alle lyding.'

Niks help egter nie; ons man val in `n diepe slaap, waaruit hy nie meer hier op aarde ontwaak nie.

Wat daar op aarde alles met die stoflike oorskot van `n biskop vir uitermatige belangrike seremonies plaasvind, dit weet U. Daarom staan ons nie langer daarby stil nie, maar gaan in die geesteswêreld kyk wat ons man daar sal doen.

Sien, ons is al daar en kyk, ons man lê nog op sy bed, want solank daar nog warmte in die hart is, skei die engel nie die siel van die liggaam nie. Hierdie warmte is die senuweegees, wat eers heeltemal deur die siel opgeneem moet word, voordat die algehele skeiding kan plaasvind.

Maar nou het die siel van hierdie man die senuweegees al volledig in haar opgeneem en die engel skei nou net die siel van die liggaam met die woorde: 'Ephata', dit beteken: 'siel open u, maar stof daal af in jou verganklikheid om ontbind te word deur die ryk van die wurms en die ontbinding. Amen'.

Kyk nou, ons biskop rig hom al op, presies soos hy geleef het in vol biskopsornaat en open sy oë. Hy kyk verbaas om hom heen en sien niemand, behalwe homself nie, ook nie die engel wat hom gewek het nie. Die omgewing is slegs swak verlig, te vergeleke met `n vrye laat aandskemering. Die grond lyk soos dor alpemos.

Ons man is nie weinig verbaas oor hierdie wonderlike gebeurtenis nie en sê vir homself: 'Wat sal ons nou hê? Waar is ek? Leef ek nog, of het ek gesterwe? Want ek was erg siek en dit kan moontlik wees dat ek my al onder die oorledenes bevind! Ja, ja, om Gods wil, dit sal wel so wees! O, heilige Maria, heilige Josef en heilige Anna, my drie grootste toeverlate, kom en help my na die ryk van die hemele!' Hy wag `n tydjie, sorglik om hom heen spiedend van watter kant die drie sal kom, maar hulle kom nie.

Hy herhaal sy oproep luider en wag, maar daar kom nog niemand nie. Nog kragtiger word dieselfde roep vir die derde maal herhaal, maar ook nou tevergeefs!

Daarop word ons man baie angstig. Hy begin wanhopig te word en sê: 'O, om godswil, Heer staan my by! (Dit is egter slegs `n uitdruk­king uit gewoonte van hom.) Wat is dit nou? Drie maal het ek geroep en - tevergeefs! Is ek dan verdoem? Nee, dit kan nie, want ek sien geen vuur en ook geen - 'God staan ons by' (die woord duiwel durf hy nie uit te spreek nie). O, o, dit is regtig verskriklik! Heeltemal alleen! O God, wanneer daar nou so 'n 'God staan ons by' sou kom en ek geen driemaal geseënde wywater het en ook geen kruisbeeld nie, wat kan ek dan doen? En vir `n biskop sal die 'God staan ons by' wel `n besondere hartstog hê. O, o (bewend van angs), dit is wel `n baie wanhopige gebeurtenis. Ek glo dat die geween en kners van die tande al by my begin het. Ek sal my biskopsgewaad uittrek, dan sal 'God staan ons by' my nie herken nie! Maar daardeur het hy miskien nog meer mag oor mense soos ek. O wee, o wee, hoe verskriklik is die dood tog nie. 

Ja, as ek maar heeltemal dood was, dan het ek ook geen angs gehad nie, maar juis die lewende is na die dood, dit is dit. O God, staan my by! Wat sou daar gebeur as ek verder gaan? Nee, nee, ek bly hier! Want wat hier is, weet ek nou uit ervaring. Maar watter gevolge `n stap in die onwetendheid voor- of agterwaarts sal hê, kan slegs God weet. Daarom sal ek, in God se naam en in die naam van die heilige maagd, liewer hier tot die Laaste Oordeel wag, as om ook maar één tree voor- of agteruit te maak!'

Die verdere gebeurtenisse en die leiding van hierdie op sy manier erg vrome man sal verder beskrywe word. -

Die nou net beskrewe sterwenstafereel is die eerste hoofstuk van die boek: Biskop Martinus’, wat `n beeld gee van die leiding in die hiernamaals van `n biskop, vanaf sy oorgang na die wêreld aan die ander kant tot by sy hemelse voleinding.

Wat gebeur daar nou met die biskop na hierdie eerste ervaringe in die wêreld aan die ander kant? Hy begin hom steeds meer te verveel. Dit lyk vir hom asof daar intussen al `n hele ewigheid verstreke was en hy was bly toe hy eindelik geselskap kry van Petrus, wat sy geestelike leidsman word, en wat hy aanvanklik as `n kollega beskou. Petrus onderrig hom, gee hom goeie raad uit die evangelie en spoor hom aan om te dien, waarby elke diens van die aard was dat Martinus sy swakhede, wat uit die ou die aardse lewe saamgeneem is, moes oorwin. Toe verlaat die leidsman hom, sodat Martinus nie beïnvloed sou word by die neem van sy beslissing nie.

Na verloop van tyd voel Martinus egter verskriklik in die steek gelaat deur sy leidsman en word daarom steeds boser. In plaas van om deemoedig die weg ‘in die Naam van die Heer’ te bewandel, wat aan hom deur sy leidsman getoon is, slaan hy eiewillig `n ander rigting in en beland hy in `n dieper wordende nag en duisternis. Sy gemoedstoestand maak dat hy deur `n moerasagtige streek begin te dwaal, totdat hy ten slotte met `n gevoel van diepe verlatenheid by `n see aankom, waar hy nie meer voor- of agteruit kon gaan nie. In hierdie uitsiglose situasie kom die Heer hom, in die gedaante van `n vriendelike skipper, Self te hulp en neem hom in Sy reddende skippie op. Martinus herken nie die Heer nie.

Daar kom `n gesprek aan die gang, wat Martinus' se innerlike sieletoestand onthul, en dit lei tot berouvolle self insig en bekering.

Onderstaande volg `n verkorte weergawe van die dialoog (hfst. 13-17, par.3):

(Die Heer, in die gedaante van die skipper, antwoord vir Martinus, wat hom bitter oor sy lot en sy leidsman bekla:)

‘Dit mag dan wel baie vervelend wees om langdurig alleen te wees; maar so 'n langdurige alleen wees het tog ook baie goed in. `n Mens het dan tyd om oor allerlei dwaashede na te dink, dit te verafsku en af te lê en uit homself te ban. (...)

Daarom het die toestand waarin jy verkeer het, wel baie onplesierig vir jou gevoel, maar was in geen geval sleg vir jou innerlike wese nie. Want die Heer het tog vir jou gesorg, namate jy dit nodig gehad het en Hy het baie geduld met jou gehad. Jy was `n biskop op die wêreld en het jou amp weliswaar baie streng volgens die letter verrig, maar innerlik het dit niks aan jou gedoen nie. Maar so iets kan tog volgens jou eie beoordeling by God, wat slegs na die hart en die werke daarvan kyk, onmoontlik van waarde wees! Bowendien was jy baie trots en heerssugtig en het jy, ondanks jou geswore selibaatskap, bomatig van die vroue gehou. Dink jy dat dit welgevallige werke voor God sou wees? (...)

Het jy ooit in jou hart gesê: 'Laat die kleinste na my toe kom'? - O, nee, slegs die grotes het vir jou waarde gehad. Of het jy ooit `n arm kind in My Naam opgeneem, geklee, gevoed en gelawe? Hoeveel naaktes het jy wel geklee, hoeveel hongeriges versadig, hoeveel gevangenes bevry? - Wel, aan My is niks daarvan bekend nie; maar wel het jy duisende in hul gees tot gevangenes gemaak, en dikwels deur te vervloek en te verdoem, diep wonde geslaan in die siel van baie armes, terwyl jy die grotes en die rykes die een dispensasie na die ander gegun het, natuurlik vir betaling. `n Enkele keer ook verniet by baie groot here, om hulle te imponeer met `n soort wêreldse vriendskap. Dink jy nou werklik dat sodanige werke met welgevalle deur God gesien word en jy daarom dadelik na jou afsterwe, in die hemel opgeneem moet word?

Ek, jou redder, sê dit nie om jou te veroordeel nie, maar slegs om jou te toon dat die Heer jou geen onreg aangedoen het toe Hy jou hier skynbaar `n bietjie in die steek gelaat het nie; en dat hy jou baie genadig was, om nie toe te laat dat jy dadelik na die afsterwe na die hel sou gaan nie!

Dink net hieroor na en verag nie langer jou leidsman nie, maar bedink in alle deemoed dat jy vanuit God, nie die minste genade werd is nie, want dan kan jy dit weer vind!’

(Die biskop antwoord hierop:) ‘... Dit is alles letterlik waar. Maar wat moet ek doen? Ek voel nou `n diep berou oor alles wat ek gedoen het; maar met al my berou laat die gebeure hom nie meer ongedaan maak nie en dus bly ook die skuld en die sonde onveranderlik bestaan. Hoe kan `n mens, as jy gesondig het, genade van die Heer verkry? Dit lyk vir my om `n volkome onmoontlike saak te wees.

Daarom meen ek, omdat ek nou volkome insien dat ek as sodanig heeltemal ryp is vir die hel, dat die saak op geen enkele wyse te verander is nie, tensy ek deur `n almagtige toelating van God met my huidige insig nogmaals op die aarde geplaas sou word om daar my foute weer soveel moontlik goed te maak. Of, omdat ek so ontsettend bang vir die hel is, dat die Heer my moontlik vir alle ewigheid as `n heeltemal onbeduidende wese êrens in `n uithoekie sou kon plaas, waar ek dan as `n baie eenvoudige boer my op die skraal grond die allernoodsaaklikste met my hande kan verwerf. Ek sal dan van ganser harte van `n hoër saligheid afsien, omdat ek myself beslis te onwaardig vir die onderste trap van die hemel ag. 

Ek het die gevoel dat dit nou die enigste is, waarop ek innerlik vir my lewe durf aanspraak maak. Daar is op die volslae bedorwe wêreld ook niks meer te verander nie, want die algemene gang van sake is nou deur en deur sleg daar, sodat dit byna onmoontlik word om goed te wees en teen die stroom in te swem. (...)

Ek bedoel nie dat die Almagtige my my groot skuld daarom minder sou moet aanreken as wat dit in werklikheid is nie; ek sou net graag wou gehad het dat daar rekening mee gehou word, omdat die wêreld werklik wêreld is, waarmee selfs met die beste wil niks mee uit te rig is nie.

My geliefde redder, wees daarom nie kwaad vir my nie, want ek spreek nou soos ek dit tot nou toe begryp en ingesien het. Jy sal dit sekerlik beter weet, want ek het uit jou woorde begryp dat jy vol ware goddelike wysheid is en my die korrekte aanwysinge sal gee wat ek moet doen om tenminste die hel te ontkom.

Daarby verseker ek jou ook dat ek, soos jy wens, my vroeëre leidsman van harte vergewe! Ek was immers maar net kwaad vir hom, omdat ek nie begryp het wat hy eintlik van plan was om met my te doen nie. Hy het weliswaar laat deurskemer wat hy met my wil doen, maar dat hy my so lank laat wag het, moes wel daartoe gelei het dat ek kwaad vir hom geword het. Maar nou is alles verby en indien hy nou terugkom, sou ek hom ter wille van jou, dadelik om die hals val en kus, soos `n seun sy vader wat hy in `n lang tyd nie gesien het nie!’ 

(Hierop sê die Heer as skipper:) ‘Luister nou goed en onthou wat Ek vir jou sal sê! Ek weet baie goed hoe dit met die wêreld staan, omdat Ek weet hoe dit te alle tye met haar gesteld was. Want sou die wêreld nie sleg gewees het nie, of altans slegs `n enkele keer ietwat beter was as ander kere, dan het hulle die Heer van die Heerlikheid nie gekruisig nie. Aangesien haar groot kwaadwilligheid die groen hout reeds so iets aangedoen het, des te minder sal hulle dan die dor hout spaar. Daarom geld vir die wêreld vir eens en altyd dit wat uit die mond van die Heer in die evangelie geskrywe staan en dit lui as volg:

'In die dae - dit wil sê ten tye van die wêreld - moet die hemelryk geweld aangedoen word; slegs hulle sal dit besit wat dit met geweld na hulle toe trek!' Maar sulke morele geweld vriend, het jy die hemelryk nog nooit aangedoen nie. Daarom mag jy die wêreld ook nie al te veel aankla nie, want soos Ek baie goed weet, het jy jou altyd eerder met die wêreld besig gehou as met die gees. Want op die punt was jy selfs een van die vernaamste teenstanders van alle geestelike ontwikkeling, `n vyand van die Protestante, wat jy weens hul vermeende kettery met haat en die bitterste gramskap vervolg het! (...)

Jy sal nou hopelik insien dat hier, waar niks anders geld as slegs die suiwer waarheid, verenig met die ewige liefde, met al jou verontskuldiginge niks bereik kan word nie, behalwe met die 'Mea quam maxima culpa!' Net dit is reg; al die ander het geen waarde vir die Heer nie. Jy sal wel moet toegee dat God die wêreld tot in haar fynste vesels, sedert alle ewigheid, beter ken as wat jy haar ooit sal ken. Daarom sou dit ook die grootste onsin wees as jy tot jou verontskuldiging, aan die Heer sou wil beskrywe hoe die wêreld is; ofskoon jy sê dat jy dit nie ter verontskuldiging aanvoer nie, maar slegs sodat die Heer oorweging sal skenk aan jou, sonder om ook maar enigsins te bedink dat jyself een van diegene was wat `n belangrike rol gespeel het by die slegter maak van die wêreld!

Vir sover jy as gevangene van die wêreld oorweging verdien, word dit sekerlik nie van jou weerhou nie, maar vanweë al die sake waarvan jy die wêreld nou beskuldig, het jy geen reg daarop nie. (...) Wel het jy `n groot angs vir die hel, omdat jou gewete jou sê dat jy haar verdien en dink dat God jou daarin sal werp soos `n klip in die afgrond. Jy besef egter nie dat jy slegs jou ingebeelde hel vrees nie, maar na regte vind jy `n groot welbehae daarin en jy wil glad nie daaruit nie!

Sien alles wat jy tot nou toe gedink het, was min of meer hel in die eintlike sin. Want waar nog `n vonkie selfsug en eiedunk aanwesig is en beskuldiging van ander, daar is die hel. Aan jou kleef dit alles nog, en sodoende is jy nog sterk in die hel. Waar die vleeslike lus nog nie vrywillig verban is nie, daar is die hel nog steeds! Sien jy daarom hoe ydel jou angs is! Maar die Heer, wat hom oor alle wesens ontferm, wil jou daaruit red en jou nie volgens jou roomse maxime (grondstellings) nog dieper daarin verdoem nie. Beweer dan voortaan ook nie meer van die Heer dat Hy, aan diegene wat met alle geweld na die hel toe wil gaan, sê: 'As jy dit so graag wil hê, gaan dan!' 

Kyk, dit is `n verwerplike bewering van jou! Jy is iemand wat die hel al baie lank nie wil loslaat nie; maar wanneer het jy so 'n oordeel oor jou, van die kant van die Heer, verneem? Oordink hierdie woorde van My goed en handel daarvolgens, dan sal Ek die skippie so stuur dat dit jou vanuit jou hel na die ryk van die lewe sal voer. Laat dit so wees!’

(Die biskop:) 'O liewe vriend, ek moet helaas eerlik aan jou beken dat dit presies so met my gesteld is soos wat jy gesê het. En ek sien in dat ek ook nie die geringste verontskuldiging daarteen kan aanvoer nie; want alles raak maar net myself. Ek wil net graag weet waarheen jy my nou sal bring en wat my ewige lot sal wees?' 

(Die skipper sê:) 'Vra dit aan jou hart, aan jou liefde! Wat sê sy? Het sy jou vanuit haar lewe duidelik geantwoord, dan het jy reeds self jou lot bepaal; want elkeen word deur sy eie liefde geoordeel!'

(Die biskop sê:) 'O vriend, wanneer my lot volgens my liefde bepaal sou word, dan beland ek God weet waar. Want in my gaan dit nog presies so soos in die gemoed van `n modebeluste vrou, wat honderd stowwe in `n modemagasyn bekyk en uiteindelik nie weet wat sy moet kies nie.

Volgens my innerlike gevoel wil ek graag by God, my Skepper wees. Maar dan is my baie sonde `n ‘staan-in-die-weg’ en dan beskou ek die verwesenliking van die wens as heeltemal onmoontlik! Dan kom die gedagte weer in my op, om êrens in `n hoek van hierdie ewige geesteswêreld as `n doodeenvoudige boer te lewe en tenminste eenmaal die genade te verkry om die Heer te sien, al is dit maar vir enkele oomblikke. Maar dan vermaan my gewete my weer en sê: 'Dit is jy nooit werd nie', en dan val ek weer terug in my met alle sonde belaaide nietigheid voor Hom, die Allerheiligste! Slegs een gedagte kom my die minste moeilik en onwaarskynlik voor om te verwesenlik, en ek moet beken dat dit nou my lieflings-idee is, naamlik om by jou, waar jy ookal is, die hele ewigheid te wees en deur te bring. Ofskoon ek hulle, wat dit gewaag het om my die waarheid trompop te sê, die minste op die wêreld kon verdra, het ek jou daardeur tog bo alles liefgekry, omdat jy my die waarheid soos `n uiterste wyse, maar ook soos `n hoogs sagmoedige regter, openlik in my gesig gesê het. Die idee is vir my die beste en daarby sal ek nou altyd bly!'

Ek (die skipper) sê: 'Nou goed, wanneer dit jou grootste liefde is, waarvan jy jou in die vervolg nog dieper moet oortuig, kan jou wens dadelik uitgevoer word. Kyk, ons is nou nie ver meer van `n oewer af nie en ook naby my woonhut. My werk ken jy reeds, naamlik dat Ek `n gids is in die ruimste sin van die woord. Jy sal nou die werk met My deel; die loon vir ons inspanning sal ons `n stukkie grond opbring, wat ons in ons vrye oomblikke so vlytig moontlik sal bewerk. En kyk net om, naas jou sal jy nog iemand vind wat ons trou sal bystaan.'

Die biskop draai hom nou vir die eerste keer om en herken dadelik die engel Petrus (sy verdwene leidsman), val hom om die hals en vra hom om vergewing vir die belediginge wat hy hom aangedoen het. Petrus antwoord met dieselfde liefde en prys die biskop blymoedig dat sy hart hierdie keuse gemaak het. Die skippie stoot nou teen die oewer, waar dit aan `n boomtak bevestig word en al drie gaan nou die hut binne!

Tot nou toe was dit nog steeds meer donker as lig. In die hut begin die duisternis egter minder te word en `n weldadige skemering verjaag die vroeëre nag - natuurlik maar net vir die oë van die biskop, want vir die van My en die engel Petrus was dit steeds die allerhelderste, onverganklike en onveranderlike dag!

Dat dit nou ook vir die oë van die biskop ligter begin te word, gebeur deurdat daar `n groot hoeveelheid aardse onreinheid, vrywillig van hom afgewerp is en dat hy nog verder afwerp. -

 

Die vervolg hiervan kan u lees in die boek ’Biskop Martinus, die ontwikkeling van `n siel aan die ander kant’


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205