Die skielike einde van `n wulpse meisie
6 Augustus 1847
Hier volg nog `n vroegtydige dood, en wel van `n jong meisie wat `n erge modesot was en haar op `n bal teveel aan dans oorgegee het om daarmee `n jong, ryk bruidegom in te palm. Maar in plaas daarvan het sy haar in `n vroeë dood ingedans.
`n Jong, buitengewone bevallige meisie, met `n pragtige liggaam van negentien jaar, word uitgenooi na `n vername geselskapsbal, wat die uitnodiging, natuurlik met die toestemming van haar ouers, baie bereidwillig aanneem. Onmiddellik word die modewinkels grondig deursoek, waar daar onder duisend artikels, tog nog gelukkig één artikel te vinde was, wat ons uitgenooide skone sou beval. Nou gaan sy na die belangrikste mode kleremaker met die bedoeling om die jurk, nie net volgens die laatste Paryse of Londense nie, maar as dit moontlik was, volgens die laatste Mediterreense of New Yorkse mode te laat maak. Want op so 'n stralende bal moes mens tog met iets buitengewoons verskyn, om groot opsien daarmee te baar en moet as `n uitsonderlike verskyning beskou word!
Die kleremaker sien die opdrag met angs en bewing tegemoet, want hy ken sy kliënte goed en weet hoe puntenerig sy by sulke geleenthede is. Hy doen dus sy uiterste bes en maak werklik `n meesterstuk van `n baljurk, tot volle tevredenheid van sy klant. Die jurk kon sonder korset gedra word en tog met baie fyn elastiese bande die liggaam so strak saamtrek, dat ons heldin rondom haar middel dunner was as om haar slanke hals.
Hierdie New Yorkse modieuse japon was egter die oorsaak van haar vroeë en bykans skielike dood; want toe sy die koningin van skoonheid en grasie op die bal was, dans sy soveel met `n jong, ryk aap, wat buitengewoon in haar smaak val, dat daar `n groot bloedvat in haar te styf saamgeperste longe bars en sy as gevolg van die hewige bloedverlies wat daardeur ontstaan het, binne enkele minute `n lyk was.
Toe sy op die dansvloer inmekaar sak en daar `n stroom bloed uit haar roosrooi mond golf, tot ontsetting van die talryke, ook nie so lossies ingesnoerde meisies en dames nie, haas haar ouers, verwante en artse natuurlik na haar toe, ruk die klere van haar lyf af, giet yskoue water oor haar heen en gee haar medisyne, wat sy egter, aangesien sy volkome dood was, natuurlik nie meer kon inneem nie.
Almal huil en weeklaag luid. Die ouers en die ridderlike aap van `n aanbidder trek van wanhoop hulle hare uit hulle hoof. Ander vervloek so 'n noodlot en ander beklaag weer die ongelukkige. Baie verlaat die danssaal en neem `n heilsame skrik saam huistoe, wat natuurlik niks meer uitwerking het, as by muise wat deur `n geweerskoot van die dak af gejaag word.
Hier in die geval sal ons in die geesteswêreld nie veel van belang te siene kry nie; maar desondanks moet julle sien hoe sulke oorgange na die geesteswêreld lyk.
Kyk, daar lê ons heldin nog inmekaar getrek op die met bloed besmeerde grond, en op `n afstand sien julle `n engelgees staan, wat die arms voor sy bors gekruis het. Sy gelaat verraai droefheid, d.w.s. `n soort weemoed, wat so 'n beskermgees voel by sulke gevalle van opperste dwaasheid van die mense, wanneer hy, met al sy sorg, hulle nie kan help nie.
Maar wat sal hierdie treurende engel nou hier doen? Kyk, hy gaan na die meisie toe, wat ook in die geesteswêreld as `n lyk sigbaar is. Nou is hy by haar en sê: 'O, jou dwase wese! Wat moet ek nou by jou opwek, aangesien alles aan jou dood is, waar ek ookal kyk! O Heer, sien genadig op haar neer! Hier is die krag wat U my verleen het nie toereikend nie; strek daarom U almagtige hand uit en doen met hierdie dwase vrou na U welbehae!'
Kyk, daar kom al `n ander, baie vurige engel! Nou is hy daar, en kyk, sy vuur gryp die dooie aan en verteer haar in `n oogwenk tot as (in die natuurlike wêreld kan dit nie opgemerk word nie, omdat hierdie handeling slegs die sieleliggaam betref). Nou begin daar in die as iets te beweeg. Die engel bid bokant hierdie as. Die laaste woorde van sy gebed is: 'Heer, laat U wil geskied!'
Daarna verlaat die tweede engel die as, wat steeds sterker beweeg; maar die eerste engel bly. Die beweging is niks anders as die opnuut rangskikking van die geheel verwoeste, verstrooide en volslae ontredderde sieledeeltjies, wat nou regstreeks deur My krag gebeur. Nou sal ook dadelik blyk, hoeveel en wat daar nog van die siel van die meisie oorgebly het!
Kyk, nou styg daar `n donkergrys wolkie op! Die wolkie kry steeds meer vorm. En kyk, daar sien ons al `n gedaante, wat julle stellig met niks soortgelyks op aarde kan vergelyk nie. Die hoof lyk soos die van `n vlermuis, die liggaam lyk soos die van `n reusagtige sprinkaan, die hande is soos gansvoete, en die voete lyk soos die van `n ooievaar! Hoe beval hierdie mode julle nou, as vrug van die wêreldse mode? Die mode pla egter nie so erg nie; maar dat hierdie dwase vrou, byna soos `n selfmoordenares, miskien nooit die liggebiede van die hemel sal betree nie, dit is iets anders!
Daar sal waarskynlik enkele honderde jare verloop, voordat sy weer `n menslike gedaante sal kry, en wel slegs op `n baie pynlike manier! Daarna sal sy in die geestesryk wees wat albino's by julle is, naamlik ligsku.
Verder is hier niks meer te sien en te leer nie, daarom die volgende keer `n ander voorbeeld.