Oor die drumpel van die DOOD
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 15

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19.

 

Die verlossing van `n arm man

16 Oktober 1848

Hier volg nou `n beskrywing van die sterwe, of beter gesê, van die uittrede uit die aardse proeflewe na die ware, ewige geestelike lewe van `n arm dagloner. Hierdie mense word meestal vol veragting deur die grotes van hierdie wêreld aangesien en 'gepeupel’ of 'skuim' genoem.

Gaan maar eers saam met My na `n armsalige kamertjie, wat meer soos `n beergrot lyk as na `n menslike bewoonbare vertrek. Van binne is die ruimte nouliks twee kubieke klafter*. (een klafter = 1,90 meter- m.a.w. die kamertjie is 3.80 vierkante meter groot) `n Afgeleefde deur gee toegang tot die krot, wat bokant die deur `n opening het van twee spanne* (van die punte van jou vingers tot by die elmboog - dit dien as die enigste venster) breed en één span hoog. Deur die opening val ietwat lig na binne, wat ewenwel gebroke en verswak word deur die stinkende stalmuur van `n ryk buurman; die inwendige ruimte van die krot word hierdeur so minimaal verlig, dat die sewe bewoners mekaar nouliks kan sien. Die ‘pragstuk’ van `n kamer het geen kaggel of enige verhitting nie; in die een hoek van die kamer dien `n vetterige, onbewerkte, nouliks een voet hoog stuk kalksteen as tafel, waarop die arme bewoners van die egte 'beregrot' hul karige maal berei, as hulle die geluk het om deur werk en bedel die daarvoor benodigde materiaal en eetbare voedsel te verskaf.

Let wel, vir hierdie pragtige woning moet hierdie armes aan `n ryk huisbaas elke maand 1 gulde en 30 kruisers aan huur betaal (wat vir die gesin amper onmoontlik was); daarmee is hulle selfs nog baie tevrede, omdat hul huisbaas tenminste nie teveel aandring as hulle die huur nie dadelik op die eerste van die maand kan betaal nie, maar hul dikwels selfs veertien dae tyd gee. Ja, hul huisbaas is selfs so goed, dat hy hulle, vanweë die siekte van hul arme, sewentig jaar oue vader vir 20 kruisers, 30 pond skimmelrige rogstrooi laat bring het en ook tien volle dae op die betaling daarvan gewag het! Werklik, so 'n goeie en geduldige huisbaas sal later tog ook by My, die Heer, op erbarming en geduld aanspraak kan maak!? 

Kyk nou, daar in die donkerste hoek lê ons arme dagloner op die 'vars' 20 kruisers strooi. Tydens swaar bouwerksaamhede het hy enkele jare gelede van `n sleg opgestelde steier geval en daarby twee ribbes en `n arm gebreek. Hy was wel na `n arm-siekehuis gebring, maar was daar medies `n half jaar lank getiranniseer en ten slotte, sleg genees, met mediese goedkeuring as genees ontslaan.

Omdat hy sedertdien sieklik en swak en dus tot geen swaar werk meer in staat was nie, moes hy, saam met sy eweneens sieklike en swak vrou en met vyf dogters, waarvan die oudste veertien jaar is, deur die lewe gaan deur allerlei klein werkies te verrig, waarvoor sy kragte nog toereikend was. Af en toe bring ook sy vrou of kinders, deur te bedel, `n milde gawe binne van `n enkeling met `n goeie hart. Ouderdom, swakte, koue, en slegte voeding, maar ook `n oorgeblewe kankeragtige wond aan sy ribbes, het hom nou op die ellendige siekbed gewerp, waarop ons as besoekers hom nou sien lê.

Vermaer soos `n Egiptiese mummie uit die tyd van die farao's, vol pyn in sy hele lyf, waarvan die heupe, sy stuitjie en sy na buite stekende ruggraat heeltemal stukkend gelê is deur die harde bed, bowendien nog met `n volkome leë maag, brandend van die honger, sê hy met gebroke stem vir sy vrou: 'Moedertjie, het jy heeltemal niks meer nie? Geen stukkie brood nie? Geen warm sop of miskien gekookte aartappels nie? O God, o God! Wat `n verskriklike honger het ek tog nie! Van die pyn kan ek my nie meer beweeg nie, en bowendien nog so 'n honger! O my God, my God! Verlos my tog eindelik net van hierdie kwelling!'

Die vrou, wat van uitputting en honger ook nouliks meer kan staan nie, sê: 'O my arme, liewe man! Al om sesuur vanoggend het die drie oudste kinders weggegaan om by goeie, medelydende mense iets te vra, en nou is dit al drieuur in die middag en nog het geeneen van hulle teruggekom nie! Ek tril oor my hele lyf van angs dat hul iets oorgekom het. O Jesus en Maria! Miskien het hulle selfs in die water geval, of in die onbarmhartige hande van die polisie? My hande en voete tril! Mag Jesus jou intussen versterk; ek sal met God se hulp al my kragte vergader en by die polisie navraag gaan doen, of hulle dalk weet waar ons arme kinders beland het!'

Die sieke sê: 'Ja, ja, liewe moeder, gaan maar gou, ek vrees ook die ergste! Maar bly nie te lank weg nie, en bring my iets te ete, anders sterf ek van die honger! Bedink dat ons almal al vir twee volle dae niks geëet het nie. As die drie arme meisies maar nie van uitputting êrens bly lê het nie! O my God, o my God, moet ook alle ellende dan oor my kom?'

Die vrou gaan weg, en nouliks is sy op straat of sy sien `n geregsdienaar, wat die drie kinders voor hom uitdryf. Sy slaak `n kreet van ontsetting en sê, terwyl sy haar hande bokant haar hoof hef: 'Regverdige God! O Jesus! Dit is my arme kinders!'

Heeltemal snikkend en buite asem sê die kinders: 'O moeder, moeder! Hierdie woeste man het ons aangevat toe ons iemand om `n aalmoes vir ons siek vader vra; hy het ons opgesluit in `n donker kamer, en omdat hy ons al dikwels gesien bedel het, kom hy met `n nog afskuweliker man, wat soos `n heer gelyk het. Hy laat ons toe, hoewel ons hom op ons knieë smeek, só hard met die tugroede slaan, dat ons heeltemal vol bloed is! Daarna vra hy ons baie bars waar ons woon, en toe ons hom nouliks van die pyn kon sê, beveel hy hierdie man wat ons so geslaan het om ons na die huis te bring. O moeder, moeder, ons het verskriklik pyn!'

Die moeder, nouliks in staat om `n woord uit te bring, slaak `n diep sug tot My en sê: 'O Heer, regverdige God! As U leef, hoe kan U dan sulke gruwels aansien en dit ongestraf laat gebeur? O my God, my God, hoe kan U so 'n ellende oor ons laat kom?' Daarop begin sy bitterlik te huil. Die polisieman verbied haar om op straat so 'n lawaai te maak en so die aandag van die verbygangers op hulle te vestig en hy gebied haar om haar onmiddellik in haar woning terug te trek.

Die moeder verontskuldig haar en sê huilend: 'O meneer, kan ek dalk iets anders doen as huil? My sewentigjarige, doodsieke man lê uitgehonger op die strooi; ons het almal twee dae lank niks geëet nie. Hierdie laat herfs is nat en al baie koud, en ons het geen stukkie hout om ons vogtige, koue woning te verwarm nie. Ek is self swak en siek. Hierdie drie meisies was ons enigste steun, en nou het u hulle kreupel geslaan! O God! Hoe sou ek daarby kan swyg? Hoe kan u my my regmatige trane verbied? Is u dan geen mens, geen Christen nie?'

Die polisieman wil haar nou agteruit dwing; maar van agter `n hoek spring `n onverskrokke man tevoorskyn en skreeu vir die polisie­man: 'Halt, vriend! Tot hier en geen millimeter verder nie! Hier, arme moeder, hier het jy 30 gulde; sorg daarmee vir eetgoed, so goed jy kan. En jy, gevoellose beulskneg, verdwyn onmiddellik, anders skiet ek `n paar koeëls deur jou tierskedel!'

Die polisieman wil die weldoener arresteer vir die dreigement; maar die vreemdeling trek onmiddellik `n gelaaide pistool uit sy borssak en rig dit op die geregsdienaar, wat dit nou natuurlik raadsamer ag om hom vinnig te verwyder, as om hom te laat skiet deur hierdie man, wat nou ontsettend ernstig lyk.

Toe die polisieman uit die gesig verdwyn het, gaan ook hierdie man baie stil en bedaard sy weg. Die moeder en die drie kinders kyk hom nog lank dankbaar agterna. Dan haas sy haar, ondersteun deur haar drie dogters, wat vinnig hul pyn deur hierdie weldoener vergeet het, onmiddellik na die nabygeleë herberg om brood, bietjie wyn en vleis te koop. Die bediende trek wel `n ietwat bedenklike gesig as hy van die arm gesin `n bankbiljet* (tjek) van 10 gulde te wissel kry. Maar hy dink by homself: Geld is geld, of dit nou gesteel of op `n eerlike manier verkry is, en hy wissel die bankbiljet van die armes en gee hulle wat hulle verlang.

Daarmee tuis gekom, tref hulle die arme man huilend van pyn en honger aan. Die moeder gee hom onmiddellik bietjie brood en wyn, en die oudste dogter hardloop na die naaste handelaar om `n paar hopies hout, aanmaakmateriaal* (meel om vetkoek mee te bak) en ook `n halwe pond kerse te koop.

Wanneer sy daarmee tuis kom, sien sy tot haar ontsetting twee polisiemanne voor die deur, wat haastig teruggekom het om die weldoener nog hier aan te tref of, in die ander geval, so moontlik by die arme vrou navraag te doen na hierdie man en na sy woonplek. En sou die vrou geen inligting wil gee nie, dan sal sy gearresteer word.

Met die 'loflike' voorneme, in opdrag van die polisieburo, gaan hulle saam met die arme meisie die donker kamer binne. Hulle eis dat daar onmiddellik lig gemaak word en beveel die vrou om alle inligting oor die weldoener te gee, anders sal hulle met hulle saam moet gaan na die polisieburo. Toe die arme vrou dit hoor, sak sy van angs inmekaar. Die oudste dogter, wat ook tril van angs, maak die gevraagde lig en die twee geregsdienare sien nou die halfnaakte siek man op die grond lê, slegs bedek met `n paar armsalige vodde. Hulle deins aanvanklik wel ietwat terug, maar vermaan hulleself gou en vra die geskokte vrou wie die sogenaamde man was en waar hy woon.

Die vrou tril en is nie in staat om `n antwoord te gee nie. Die twee geregsdienaars beskou hierdie toestand as `n listige streek, trek die vrou van die grond af op en wil haar dadelik saamneem. Die siek man en die vyf kinders smeek om genade en erbarming, maar die twee oefen hul amptelike amp uit sonder om iets te sê. Maar op daardie oomblik wat hulle die vrou al by die deur vashou, kom ons man daar aan met nog drie sterk helpers. Eers bevry hulle die van angs halfdooie vrou uit die hande van die twee geregsdienaars; daarna ransel hulle hulle so ernstig af dat hul skaars kan loop en bedreig hulle met die woorde: 'In die Naam van God! As julle, dieragtige mense, dit nog één keer waag om hierdie heilige plek te betree, waar God se engele woon, staan julle van ons die vreeslikste wraak te wagte! Ons is geen mense of wesens van hierdie wêreld nie, maar ons is beskermgeeste van hierdie engele, wat hier die beproewing van die vlees deurmaak!'

Dan verdwyn die vier helpers. Ook die twee geregsdienaars gaan weg, heeltemal ontnugter, om nie weer terug te kom nie.

Die vrou herstel haar gou en sorg nou daarvoor, terwyl hulle My vir hierdie redding dank, dat die man, wie se einde baie naby is, warm sop kry. Die sop is vinnig klaar en word onder duisend seëninge aan die man gegee wat hom, terwyl hy vir My en hulle wat syne is bedank, met smaak verorber.

Daardeur ietwat versterk, sê hy vir sy vrou en sy kinders: ‘Jy, my dierbare vrou, en julle, my liewe kinders, het nou ter wille van my baie gely. Maar daarby het julle jul ook sigbaar oortuig dat die hand van die Heer vir julle gestry het en julle vyande soos `n onwerklike spookbeeld verjaag het. Vertrou dus voortaan op die Heer. Hy sal die naaste aan julle wees as die nood die hoogste is! Vergewe almal, wat teenoor ons en by name teenoor julle, hard was; hulle is masjienagtige instrumente van `n blinde, heerssugtige polisie apparaat en handel sonder om te ondersoek en te weet wat hulle doen. Slegs die Heer moet hul regter wees!

Dra julle kruis met geduld en soek nooit enige geluk van hierdie wêreld nie, want gelukskinders van hierdie wêreld is geen kinders van God nie. Wat in hierdie wêreld pragtig is, is in God se oë `n gruwel! Vrees niks soseer as wêreldse geluk nie, want dit is die grootste ongeluk vir die gees.

Kyk, wat sou dit my gebaat het, as ek één van die rykste burgers op aarde was? Nou, aan die einde van my aardse lewe, sou ek niks anders as die sekere, ewige dood voor my gehad het nie! Maar hoe heeltemal anders staan dit daar nou met my! Die dood het sy verskrikking volkome verloor; vir my bestaan daar geen dood meer nie! Ek is al verlos van my aardse lyding, en vóór my staan die heerlike poort na die ryk van God al wyd oop!

Sien, my liggaam, die afgeleefde saal van my siel om die kruis van God te dra, lê nou al koud en dood op die harde strooibed. Volgens siel en gees is ek, wat sewentig jaar lank in die nou dooie en van my afgevalle liggaam gewoon het, nou vry; ek leef reeds `n ewige lewe en het die dood van my liggaam nie gesien, of gevoel nie, want sonder dat ek daarvan bewus was, was ek in `n wonder­baarlike oomblik van my drukkende las bevry. Voel my liggaam en oortuig julle daarvan, dat dit volkome dood is (Die vrou en die kinders voel aan die liggaam en ontdek dat dit koud, hard en dood is). En kyk, tog leef ek, en spreek nou met julle en meer volkome as wat ek ooit gespreek het!

Die rede hiervoor is dat ek steeds in die Heer, die gekruisigde, geglo het, en soveel as wat ek kon, volgens Sy gebooie gehandel het. En wat Hy in die tempel onderrig het naamlik, dat hulle wat Sy Woord aanneem en daarvolgens lewe, die dood nie sal sien en smaak nie, is by my nou as `n ewige waarheid bevestig, want ek het my liggaam afgelê sonder om dit te voel hoe en wanneer, of om dit te sien.

Ek het julle geen vermoë nagelaat nie; my groot aardse armoede is julle aller erfdeel! Maar wees bly daarom; as die blinde ryke van hierdie aarde weet wat `n rykdom vir die gees die aardse armoede is, sou hulle hul geldbeursies vermy het soos die pes! Maar hul groot blindheid aanskou dit as wins, wat hulle vir ewig gaan dood. Laat hulle die weg van die verderf dan maar bewandel. Maar as julle aan die einde van jul aardse reis ewe gelukkig wil wees soos wat ek nou is, vermy dan die wêreldse geluk en soek dit nooit nie!

Glo my, wat nou reeds van die ander kant af met julle spreek; hoe groter iemand se kruis is en hoe swaarder dit is om te dra, des te makliker en minder voelbaar sal sy oorgang vanuit hierdie wêreld van die materie na die van die gees wees. Want elkeen wat Christus volg, moet die weg van die vlees gaan. Elkeen moet in Christus gekruisig word en in Hom sterwe, anders kan mens nooit in Hom en deur Hom tot die opwekking en opstanding kom nie!

Deur armoede, nood en ander ongemakke van die lewe word die vlees al in Christus gekruisig en gedood; daarom word elkeen wat so leef, soos wat ons gedoen het en julle nog doen, opgewek en sal hy op sy oënskynlike sterfbed reeds die volledige opstanding tot die ewige lewe oes terwyl die rykes aan die einde van hul aardse geluk in feite sterwe. Want `n arme wat hom aan die wil van die Heer oorgee, sterf konstant, en as sy doel bereik is, is hy ook al heeltemal klaar met die dood en kan hy dus nie meer sterwe nie, maar slegs opstaan in Christus. Baie anders is dit egter met die mens gesteld, wat voortdurend sy luste nagejaag het. So iemand sterf by die dood van sy vlees werklik en volledig, en kan aan die ander kant slegs met baie moeite, of ook wel gladnie, meer opgewek word nie.

Bewaar dit alles in julle hart en wees bly wanneer die wêreld julle verag, skeldname gee en met allerlei wapens van haar slegte, gevoellose hart vervolg. Want die Heer slaan die 'slegtes' altyd gade en ken hul planne! Ek sê vir julle; as julle opstaan, sal hulle ten gronde gaan. Soek dus bowenal die ryk van God en sy geregtigheid; al die nodige sal julle daarom bygegee word.

Verheug julle dus nooit oor die rykes van hierdie wêreld nie, maar bekla hulle liewer, want hulle is arm in gees. Verheug julle des te meer oor hulle, wat hul net soos julle, in allerlei beproewinge en nood bevind! Want hulle sterwe elke dag in Christus, om daarna aan die einde nie meer te sterwe nie, maar op te staan tot die ewige lewe in Christus.

Mag hierdie laaste woorde van my op hierdie wêreld die groot rykdom vorm wat ek julle nalaat; oor dié erfdeel sal julle geen belasting hoef te betaal nie! Maar verwyder die liggaam van my spoedig uit hierdie kamer, want dit is volkome dood. Hou ook geen seremonie daarby nie, want al sodanige seremonies is vir God `n gruwel. Ook hoef julle geen mis te betaal nie, want God die Heer het `n hekel aan `n betaalde gebed. Laat egter alles wat julle doen `n lofprysing wees vir die Heer, omdat Hy my so 'n groot genade bewys het. Aan Hom slegs vir ewig alle eer, alle lof en al ons liefde. Amen'.

Met hierdie woorde kom hy vir hierdie wêreld tot swye en is hy, wat sy liggaam betref, volkome dood.

Onmiddellik sien hy langs hom drie vriendelike manne in wit geplooide kleding staan, wat hom liefdevol begroet en hom as broeder die hand reik. Salig, en al sy aardse lyding vergete, reik hy hulle ook die hand, terwyl hy hom nog regop sittend bokant sy aardse liggaam bevind, en sê: 'O beste, my nog volkome onbekende vriende van die Heer Jesus Christus, wat julle beslis is, in al die sewentig jare wat ek op die harde aarde deurgebring het, het ek van die menslike kant gesien, weinig goeie, maar des te meer kommervolle dae belewe, en die laaste was wel die bitterste. Want toe het die pyn en diep ellende op my arme sondige huid gereën. Maar aan die Heer alle lof geoffer en aan Hom al my liefde daarvoor! Want hoewel ek werklik baie gely het, het dit my tog nooit ontbreek aan tydelike vertroosting nie, wat my in my hart weer heeltemal opgerig het en my geleer het om alle liggaamlike uiters bittere, afskuwelike pyne en wonde van my liggaam, in die Naam van die Heer te verag. En nou het ek met die groot genade, hulp en erbarming van God, die Heer Jesus Christus, alles deurstaan en wag ek met dieselfde geduld, wat op aarde so dikwels my lyding versag het, op wat die heilige wil van die Heer oor my sal beskik. Aan Hom slegs al my liefde, al my lof en aanbidding. Slegs Sy heilige wil geskied!’

Een van die drie in wit geklede manne sê: ‘'Beste vriend, maar wat sou jy doen as die Heer jou vanweë Sy groot heiligheid en jou vergeeflike sonde en wel volgens jou eie geloofsbelydenis wel vir `n onbepaalde tyd na die vaevuur sou stuur, waar jy hewige pyne sou moet ly? Sou jy dan ook onder die hewigste pyne van die vuur die Heer nog kan loof en prys? En sou jy Hom nog kan liefhê?’

Die arme sê: ‘O beste vriend! Die eindelose heiligheid van die Heer vereis weliswaar die grootste moontlike suiwerheid van die siel, wat waardig moet word om Hom te aanskou, maar Sy ewe oneindige wysheid en goedheid weet tog ook hoeveel pyn `n arme siel kan verdra, en dus sal Hy haar nie oorbelas nie! Maar as Sy geregtig­heid dit ter wille van Sy oneindige heiligheid van my eis, laat dan ook Sy heilige wil geskied! Want ook daarin sien ek nog Sy groot liefde, wat `n siel maar net so 'n reiniging oplê, sodat sy waardig kan word om opgeneem te word en God te aanskou!

Die Heer is altyd die suiwerste liefde en dus eindeloos goed, en alles wat Hy doen is goed. Daarom geskied slegs Sy allerheiligste wil! Want ook al sou ek om verskoning en erbarming smeek, dan sou dit beslis nie so goed vir my wees as dit wat die hoogste wysheid en liefde van die Heer oor my beveel en bepaal nie. Daarom sê ek vir eens en vir altyd; glo die Heer Jesus Christus, wat as enige Heer en God saam met die Vader en die Heilige Gees heers en regeer van ewigheid tot ewigheid! Sy allerheiligste Naam word geprys en slegs Sy heilige wil geskied!'

Die een in wit geklee sê: ‘Dit het jy volkome korrek en waar gesê. Maar bedink dat jy sonder bieg en kommunie (sielsgemeenskap) gesterwe het. As jy nou voor die regterstoel van Christus te staan sou kom, sou daar dan nie maklik `n doodsonde by jou gevind kan word volgens die leer van jou kerk nie, en sou jy dan nie vir ewig in `n staat van ongenade na die hel moet gaan nie? Hoe sou jy die Heer dan loof en prys?’

Die arm man sê: ‘Vriende, wat ek kon doen, het ek beslis gedoen. Dat ek uiteindelik nie kon bieg nie, was seker nie my skuld nie. En drie weke gelede het ek tog wel gebieg, waarby die biegvader my verseker het dat ek nou vir `n lang tyd nie meer hoef te bieg nie. O vriende, as ek êrens tog nog `n doodsonde in my sou hê, wat vir my nog onbekend is, smeek julle dan die Heer vir my, die arme sondaar, of Hy my genadig en barmhartig sal wees! Want om in die hel te kom na `n aardse lewe vol lyding, dit sou wel die allerver­skriklikste wees! O Heer, laat U wil geskied, maar wees my, arme sondige siel, tog genadig en barmhartig!’

Dan sê die in wit geklede wese weer: ‘Ja, beste vriend, in die geval dat jy `n doodsonde in jou sou hê, sou dit met ons voorbede tog ook nie so maklik gaan nie. Want jy weet goed uit die leer van die kerk, dat daar na die dood by God geen genade kan wees vanweë Sy volmaakte streng en onveranderlike regverdigheid nie? Bowendien het jy al op die wêreld tog nooit waarde geheg aan die voorbede van die heiliges en aan die misoffer nie, maar altyd weinig en ten slotte heeltemal niks meer daaraan waarde geheg nie, waardeur jy jou teenoor die kerk onteenseglik as `n ketter gedra het en in haar oë `n baie groot sondaar geword het. As ons nou ook by God vir jou sou bid, dink jy dan dat ons voorbede enige nut sou kan hê? Waarom het jy dan geen waarde geheg aan die litanie (smeekgebede afgewissel deur koorsang) van die kerk en aan die sielemisse nie? Volgens jou eie laaste bekentenis het jy jou naasbestaandes geleer dat betaalde gebede vir God `n gruwel is, en dat hulle vir jou dus geen mis moes betaal nie!

As dit nou alles by jou so is, hoe moet ons dan vir jou by God bid? Hoe dink jy nou daaroor? Sal of kan dit vir jou van enig nut wees by God?’

Vervul van die gees en met diepe gemoedsrus sê die arme: ‘Vriende, wie julle is, is vir my om`t ewe; meer as God se skepsele is julle nie en God, die Heer sy ewige dank en liefde! Ek glo dan ook dat ek met julle ewe vrymoedig kan spreek soos wat julle dit met my doen.

Op die wêreld was ek weliswaar arm en ellendig, maar ek kon lees, `n bietjie skryf en behoorlik goed reken. Die son en feesdae het ek meestal deurgebring met die aandagtige lees van die Heilige Skrif. Hoe meer ek daarin tuis geraak het, des te duideliker het dit vir my geword dat die Rooms-Katolieke kerk presies die teenoorgestelde doen en gedoen wil hê van wat Christus en die apostels volgens die vier evangelies en die briewe van die apostels geleer het en self gedoen het. In `n brief van die apostel Paulus tref ek selfs die dreigende teks aan: 'En as daar `n engel uit die hemele sou kom, wat julle `n ander evangelie leer as wat ek julle verkondig het, naamlik oor Jesus die gekruisigde, laat hom vervloek wees!'

Hierdie kernagtige uitspraak het soos `n bliksem deur my hele siel geskiet en ek het my die vraag gestel: As die apostel sulke woorde gebruik het, hoe is dit nou met die leer van Rome, wat nie net die Woord van God nie leer en alle leke verbied om dit te lees nie, maar baie ander dinge leer, wat baie soos die uiterste duistere heidendom lyk, wie moet ek nou glo?

`n Innerlike stem sê byna hardop vir my: 'Glo die woord van God!' En ek het gedoen soos wat die innerlike stem gespreek het.

Dit het vir my van dag tot dag duideliker geword dat ek goed daaraan gedoen het. Want ek het dit in my hart begryp en was in gees en waarheid oortuig van alles wat ek trou geglo en gedoen het, naamlik dat die leer van Christus die suiwer en enige ware Woord van God is, waarin dan die enigste en alle heil en die ewige lewe gesoek en gevind kan word!

God is onveranderlik. Soos Hy was, so sal Hy ook bly; die een, eindelose volmaakte, ewige Gees van suiwer liefde. Hoe sou Hy die kerk van Rome kon gestig het, wat niks anders as haat en vervolging, verderf, dood en hel verkondig nie? 'Nee, ewig nee', klink dit in my, 'wie sy broeders oordeel en verdoem, is self geoordeel en verdoem! Maar oordeel en verdoem ook jy niemand in jou hart nie, dan sal jy ook nie geoordeel word nie' So hoor ek dit, en so het ek ook gehandel. Ek het wel steeds duideliker gesien hoe mens in Rome in die gees nog duisend keer erger met die Heer omgaan as hulle wat vroeër Sy liggaam gekruisig het. Tog het ek hulle nooit geoordeel nie, maar altyd in my hart gesê: Heer, vergewe hulle, want hulle is almal steekblind en weet nie wat hulle doen nie!

Ek het die eindelose liefde van die Heer steeds meer gesien en begryp. Daardeur het my liefde vir Hom in my ook so sterk toegeneem, dat al my aardse lyding dit nie meer kon verminder nie, maar slegs steeds meer versterk het! En so sê ek ook nou vir julle, vryuit en onomwonde: Christus is my liefde en my lewe, ook in die hel, as ek deur julle daarheen verdoem sou word; ook die hel sal Hom nooit meer van my afneem nie.

Ek weet goed dat ek `n sondaar teenoor God is, en nie waardig om my oë op te slaan na die plek waar Hy, die Allerheiligste, woon nie! Maar sê my, waar in Gods uitgestrekte oneindigheid is daar `n engel of `n mens, wat net soos die Heer sou kon sê: 'Wie van julle kan My van `n sonde betig? 'Werklik, dit is vir my saliger om te sê: 'Heer, ek is die alleronwaardigste!' as: 'Ek is die een wat U genade die meeste waardig is!' En ook al sou ons alles gedoen het wat Hy ons gebied het om te doen, dan sou ek, en sekerlik julle ook, maar net kan sê: 'Heer, ons was almal U onverdienstelike diensknegte gewees en het ons deur niks U genade waardig gemaak. O Heer, o Vader! Wees ons ter wille van U eindelose verdienste vir ons, onwaardiges, genadig en barmhartig!'

Slegs om dit te sê en te vra het ons die reg; al die ander beskou ek feitlik as sonde! Nou sal julle hopelik begryp waarom ek geen waarde heg aan litanieë en betaalde gebede nie. Maar `n opregte voorbede uit die liefde van die hart van die een broeder vir die ander het ek altyd baie gewaardeer en om die rede vra ek dit ook van julle. Maar julle kan doen wat julle wil. In alles geskied ewig die allerheiligste wil van die Heer!’

Innerlik baie verblyd oor hierdie nuwe voortreflike broeder, sê die in wit geklede weer: ‘Beste broeder, ons sien jou ware erns, moed en ywer ter wille van die Heer, wat werklik so vas staan soos `n rots. Maar vra jou hart net of jy ook voor die aangesig van die Heer so sou durf spreek?’

Die arme sê: ‘Dan sou slegs my oorgrote liefde vir Hom, miskien wel my tong, maar nooit my moed kan verlam nie. En werklik, daar is nie veel moed voor nodig om teenoor God te beken dat die mens homself teenoor Hom opreg soos `n nuttelose kneg voel, wat daarom Sy genade en erbarming nodig het.

O, eintlik het ek Christus nooit gevrees nie, want ek het Hom te veel liefgehad om Hom te kan vrees. Maar sê my, of ek nog lank hier sal bly of nie. Ek sou wel graag duidelik wil weet waarheen ek moet gaan!’

Die in wit geklede sê: ‘Wees nog maar bietjie geduldig, ons moet ter wille van jou nog op iemand wag. Sodra hy kom en jou die oordeel van die Heer meedeel, sal jy onmiddellik hierdie plek kan verlaat en sal jy daarheen gaan, waarheen die wil van God jou sal wys. Kyk, daar uit die oostelike rigting kom hy al; hy sal gou hier wees! Het jy geen vrees vir hom, wat kom in die Naam van die Heer nie?'

Die arme sê: ‘O nee, as ek die Heer Self bokant alles liefhet, hoe sou ek dan hom vrees wat Hy na my toe stuur?’

Die in wit geklede sê: ‘Maar weet, beste broeder, dat selfs die mees regverdige sewe maal per dag sondig, sonder om dit te weet! As jy nou alle dae bymekaar optel, vanaf jou toerekenbare jare, en dit met sewe vermenigvuldig, sou dit tog `n aansienlike aantal doodsondes oplewer, veral as jy in aanmerking neem, dat volgens Ignatius van Loyola vier kleintjies saam ook één grootte maak! En as hy met so 'n rekening sou aankom, sou jy dan ook nie die boodskapper van die Heer vrees nie?’

Die arm man sê: ‘Nee, en nog eens nee! Ek moet aan julle, my beste vriende, openlik beken dat dit my bly sou maak om as `n groot sondaar bevind te word! Want die sonde verhef nie, maar maak deemoedig, en dit is goed en regverdig. Ek het dit op aarde dikwels gevoel as ek my weliswaar `n kort tydjie soms van geen sonde bewus was, wat by my veral na `n bieg die geval was. In so 'n toestand was ek baie hoogmoedig vanuit `n vermeende, suiwer sedelike onberispelikheid, en dan sê ek ook heimlik vir myself as ek `n liederlike mens teenkom: Goddank dat ek nie so is soos hierdie kêrel, wat God en elke menslike reg verontagsaam!

Maar as ek dan weer self in een of ander kwaad verval, dink ek met wroeging in die hart, wanneer ek `n ander sondaar teëkom: Kyk, hierdie man, wat jy as `n slegte kêrel aanskou, is in God se oë miskien wel veel beter as jy. Wees, o God, my arme sondaar genadig en barmhartig, want ek voel my nou nie eens waardig om my oë na U hemele op te slaan nie! En dit, vriende, was beslis beter gedink en meer passend as om te dink en by jouself te sê: Heer, ek is `n suiwer mens en het sedert my kinderjare alle wette in ag geneem, en daarom verwag ek nou ook met die volste reg die beloning wat U in die vooruitsig gestel het!

Vriende, ek weet dat ek in God se oë `n sondige mens is, en daarom verwag ek dan ook niks van Hom op grond van enige verdienste nie, maar alles slegs van Sy genade en erbarming.

Ek weet ook werklik nie wat ons as skepsele teenoor die almagtige God vir verdienste sou kan hê wat die beloning werd sou wees nie. Het God ons hulp ooit nodig gehad? Het ons God, die Heer, dalk gehelp om die hemele en die aardes (planete) te skep of die verlossing help volbring? Of was iemand God, wat alleen heilig is, dalk van diens gewees deur vir sy beswil gegewe wette in meerdere of mindere mate in ag te neem? Ek dink dat God ook sonder ons ewe volmaak God sou wees as wat Hy nou is, aangesien ons tog maar net die bestemming het om Sy eindelose genade, erbarming en liefde in ons op te neem, en nie om Hom hierdie of daardie ewig onnodige dienste te verleen nie.

Kyk, so het ek altyd gedink en sal ek ook ewig dink, vooropgestel dat ek `n ewige voortbestaan sal hê! Om hierdie rede sien ek dan ook nie in waarom ek vir die boodskapper van die Heer bang sou moet wees nie, omdat ek immers geen rede kan vind om vir die Heer Self bang te wees nie. Ja, ek vrees die Heer ook wel, maar nie as `n misdadiger nie, maar as `n liefhebbende mens, wat hom veels te sondig en onwaardig voel om die Heer met sy onrein hart uit al sy krag lief te hê! Wat dink julle, beste vriende, het ek gelyk of nie?'

Die in wit geklede sê: 'Ons sien nou wel baie duidelik in dat jy jou nooit deur ons sal laat bekeer nie; daarom sal ons jou ook nie langer lastig val nie, maar alles oorlaat aan hom wat nou daar aankom. Kyk, hy is al hier!'

Die boodskapper gaan dadelik met `n vriendelike gesig op die arm man af, reik hom die hand en sê: 'Verhef jou bokant jou sterflike reste, broeder, en staan op tot die ewige lewe in jou God en Heer, wat jy in Jesus Christus steeds so innig liefgehad het!'

Die arme staan nou onmiddellik op en voel hom heeltemal vry en sterk en vol krag. Hy sê vir die boodskapper, wat daar baie eenvoudig en sober uitsien: 'Verhewe afgesant van die almagtige God, `n onbegryplike gevoel van geluk het deur my hele wese getrek toe jy my die hand gegee het. En dit is die sekerste bewys vir my dat jy werklik as boodskapper van die Allerhoogste na my as arme sondaar gestuur is. Nie slegs omdat hierdie drie broeders dit gesê het nie, wat vir my `n groot angs en vrees vir Hom wou aanjaag nie, maar omdat my eie onbedrieglike gevoel vir my sê dat dit so is. O, wees dan so goed en sê my wat ek van die uiters regverdige regterstoel van God te verwag het? Verdienste het ek nie en sal ek ook nooit hê nie, maar sê my of ek op genade en erbarming mag hoop, want ek voel dat ek in God se oë `n growwe en groot sondaar is; sê my of ek op genade en erbarming mag hoop?'

Die boodskapper sê: 'Beste broeder, hoe kan jy daarna vra? Jou hart is vol liefde vir die Heer, dan is die Heer Jesus, wat God is van die ewigheid, tog al in jou! Wie Jesus in sy hart het, moet nie nog vra of hy genade en erbarming van Hom mag verwag nie? Ek sê vir jou: Jy is nou al salig en sal nooit iets merk van `n oordeel nie! Kom nou met my saam na jou God, jou liefdevolle heilige Vader, en ontvang daar wat in oorvloed berei is vir al diegene wat Hom, soos jy, in alle waarheid bo alles liefhet!'

Die arme sê: 'O, verhewe boodskapper van God, vergewe my, daarheen kan ek jou nie volg nie, want so 'n genade is ek nie werd nie! Bring my na `n rustige plekkie waar mense ewe gering soos ek en sonder enige verdienste kan woon en hoop om die Heer Jesus eens vanuit die verte te mag sien; dan sal ek daar ewe salig wees as die mees volmaakte engel! Ek sou dit immers nie kan verdra dat die Heer Jesus te naby my sou kom nie; want my te groot en magtige liefde vir Hom sou my heeltemal verteer! Doen dus vir my, wat ek jou in alle ootmoed gevra het’.

Die boodskapper sê: 'My dierbare broeder, dit kan ek nie doen nie; kyk, die Heer wíl dit so hê! Maar as ek dit kan uithou om steeds naby Hom te wees, sal jy dit ook wel kan doen. Kom daarom maar saam met my en vrees niks nie! Ek sê vir jou dat ons beide dit goed by die Heer sal uithou!

Die arme sê: 'Nou ja, in Gods naam, as jy dit dink, sal ek dit maar waag! Maar sê vir my, waarom kyk hierdie drie in wit geklede broeders ons beide nou so aan, asof hulle in hul innerlike ontroer en erg verblyd is? Sien hulle die Heer al êrens?'

Die boodskapper sê: 'Dit kan wel wees, maar hulle is ook heimlik baie verheug oor jou, soos oor iedereen wat hierheen kom met soveel liefde soos jy. Sien daar in `n oostelike rigting, waar `n gloeiende gebergte homself verhef, waarbo `n pragtige môrerooi straal, daar loop ons weg oorheen en dit sal ons baie maklik en vinnig aflê! Vanaf die hoogte sal jy dan die nuwe, heilige Jerusalem voor jou sien, die ewige stad van God, en daar sal jy vir ewig woon!'

Die arme sê: 'Ag broeder, watter heerlike, watter suiwer goddelikheid straal tog die pragtige môrelig, watter mooi wolke! En die heerlike bergweiding en boompies! O, onbegryplike mooi hemelse wêreld! Wat is alle heerlikhede van die aarde vergeleke daarby? Maar ek sien nou ook groot skares, wat ons tegemoet kom, en ek hoor ook heerlike hemelse liedere! O, wat `n harmonie! Wie kan die ongekende welluidendheid daarvan begryp? Hoe straal hulle tog, hulle wat ons tegemoet kom! Wat se indruk sal ek nie op hulle maak in my nog baie aards lykende klere nie?

O God, o God! Dit is nouliks meer uit te hou! Kyk, hulle kom al baie naby ons, en nou, wat is dit nou? Hulle val voor ons op hul knieë en op hul aangesig en skyn erg berouvol te wees. Miskien kom die Heer Self wel êrens van agter ons na hierdie skare toe? O, sê my tog wat dit beteken!'

Die boodskapper sê: 'So-iets sal dit wel wees. Ons sal dadelik goed sien wat daar is. Nog `n bietjie geduld, nog `n paar treë en ons is bo en sal sien wat daar gaande is'.

Die arme sê: 'O, my verhewe vriend, nou word dit vir my baie vreemd te moede! Dink jou maar net in hoe dit met iemand soos ek gaan en hoe dit moet wees om die Heer van hemel en aarde, die Heer oor lewe en dood, vir die eerste keer te sien! O vriend, ek bewe van vrees en verlange en van blye en bang afwagting van die dinge, wat nou op ons afkom. Werklik, nog maar `n paar tree en dan is die top bereik! Ag, ag, wat sal ek alles te siene kry!

O vriend, het jy dan geen vrees vir God as Hy jou miskien wel dikwels by sodanige geleenthede so tegemoet kom nie? Het dit dalk al so gewoond vir jou geword, dat jy jou nie bedruk daaroor maak as jy sulke dinge oorkom nie? Tog merk ek aan hierdie skare en ook aan die drie broeders wat ons volg, dat hulle nie minder aangedaan is as ek nie. Slegs jy bly geheel onverskillig en trek `n gesig asof alles wat hier gebeur totaal onbelangrik is. Sê my tog, hoe moet ek dit begryp en opvat? Moet ek my dalk net soos jy gedra, hoewel dit vir my volslae onmoontlik sou wees?'

Die boodskapper sê: 'My beste broeder, jy sal weldra begryp waarom ek nie bang is vir God en waarom ek nie doen soos ons drie begeleiers, soos jy en hierdie skare nie. Maar dit is ook beter as jy jou nou net so gedra soos ek, want jy sal weldra begryp dat jou vrees totaal sinloos is. Want ek sê vir jou: Die Heer verlang dit alles nie, maar as die kinders hul liefde en deemoed op hierdie manier aan die Vader betoon, dan doen hulle natuurlik ook nie verkeerd nie.

Maar ek weet dat jy netnou teenoor die drie manne wat jou eerste begroet het, baie onbevrees en onverskrokke was, wat my baie geval, hoewel hulle hul bes probeer het om jou vrees in te jaag. Hoe is dit dan dat jy nou so angstig word?'

Die arme sê: 'Ja toe het ek nog geen besef gehad van die eindelose verhewenheid van God en Sy heilige hemele nie; maar nou sien ek voor my, waar ek voor die tyd nouliks aan durf gedink het nie. Dit is dus heelwat anders! Hoe moet God dan wel lyk, as hierdie mense vol huiwering voor Hom neerkniel, wat hulle beslis doen uit groot en heilige ontsag vir God, die Oneindige, die Almagtige! Sal my baie naïewe oë, wat nie aan die lig gewoond is nie, God se aangesig wel kan sien?'

Die boodskapper sê: 'Nou, nou, beste broeder, dit sal wel wees. As jy tot nou toe nog nie blind geword het nie, sal dit verder ook wel slaag. Wees maar kalm; kyk, ons is al op die top en daar aan die horison, waarbo jy die son van God sien, wat alle hemele en die harte van alle mense en engele verlig, sien jy ook al die heilige stad van God. Daar sal jy vir ewig by My woon! Laat ons nou maar vinnig daarheen gaan, dan sal ons gou daar wees!'

Die arm man rek nou groot oë en weet van suiwer verbasing nie wat hy moet doen nie; hy begryp net nie waarom die skare nou so deemoedig opstaan en ons en die drie manne volg en voortdurend die pragtigste psalms ter ere van God sing nie.

Nadat hy die hemelse gebied, wat met niks op aarde vergelyk kan word nie, `n rukkie stilswyend en sielsgelukkig bekyk het, vra hy weer: 'O beste vriend en broeder! Sê my tog waar diegene wat ons volg God sien, want hulle sing asof Hy in hul midde is? Ek kyk na links en regs, na vore en na agtertoe, maar ek kan niks ontdek wat my aan God laat dink nie. Is my blik nog te naïef of nog te onwaardig om die heilige gelaat van God te aanskou? Waarskynlik sal dit wel die geval wees. En eerlik gesê is dit vir my ook beter; want ek voel, en God sal dit ook die beste weet en sien dat ek Sy heilige aangesig nie sou verdra nie. O, ek is al oorgelukkig dat ek al die hemelse nou aan jou sy aanskou, en dat God my sien. Weet jy, ek sou Hom tog net één keer wil sien, Hom, wat ek so liefhet, maar eerlik gesê in die persoon van die Heer Jesus Christus.

Ja, as ek maar één keer die goeie, ja die mees geliefde Heer Jesus sou kon sien, sou ek die allersaligste en allergelukkigste mens van alle hemele wees!'

Die boodskapper sê: 'Wees maar kalm, jy kan seker daarvan wees dat jy Jesus gouer sal sien as wat jy dink. Ja, Ek sê vir jou: Jy sien Hom eintlik al, maar jy herken Hom nog nie! Wees dus maar rustig!'

Die arm man kyk nou weer intens na alle kante waar hy Jesus dan wel sou moet sien; maar hy sien niemand wat hy as Jesus sou herken nie. Dit is tog vreemd! Jy sê dat ek Hom al sien, maar Hom net nog nie herken nie. Nou het ek almal wat ons volg, tog noukeurig bekyk, maar onder hulle kan Hy nie wees nie, want almal lyk diep geroer te wees en vol ontsag, en almal loof en prys Jesus soos uit één mond, die Heer van die ewigheid. Die drie in wit geklede manne doen dit ook, en dus is dit nouliks aan te neem dat die Heer Jesus hom onder hulle sal bevind. En tog sê jy, dat ek hom sien! O, ek smeek jou, sê my tog hoe en waar ek Hom dan sien?'

Die boodskapper sê: 'Kyk na die stad van God, waaraan ons nou al baie naby is; daar sal alles vir jou duidelik word. Ons loop nou al in die rigting van die buitenste stadsmure en sal weldra in die heilige stad self wees; daar binne sal jou oë eers heeltemal oopgaan en wel net soos by die twee leerlinge wat na Emhaus gegaan het. Wees dus maar gerus, want dit moet alles so wees en so gebeur, sodat niemand se heil, lewe en vryheid enige skade ondervind nie. Hoe geval hierdie stad jou, wat ons nou binnegaan?'Die arme sê: 'O vriend, waar sou ek die woorde vandaan moet kry om die prag en majesteit van hierdie stad te beskrywe! Ontelbaar is die aantal groot en pragtige paleise, en hulle skyn almal bewoon te wees! O God, hierdie glans, hierdie prag en hierdie oneindige majesteit! Die skoonheid daarvan is onbeskryflik en vir geen mens te begryp nie! Maar noudat ons eenmaal in die stad is, vra ek jou: Waar is Emhaus nou, en waar is die Heer Jesus, wat hom nog altyd nie aan my oë wil vertoon nie?'

Die boodskapper sê: 'Kyk na die groot huis waarvoor ons nou staan en sien hoe tallose broeders en susters ons vanuit die stralende vensters en galerye aan die buitekant begroet - dit is die egte, ewige Emhaus! Hier sal jy voortaan tot in ewigheid woon! En aangesien jy nou al voor Emhaus staan, wat jy nou duidelik kan sien, keer jou nou dan ook na My toe en bekyk My, dan sal jy ook Hom herken na wie jy so 'n groot verlange en liefde in jou hart dra!'

Die arme kyk nou na die boodskapper, wat Ekself is, reg in die oë en herken My nou oombliklik. Ylings val hy voor My op sy knieë en sê: 'My Heer en my God! U was dus Self die boodskapper! O, eindelose, ewige liefde! Hoe, hoe kon U Uself so verneder om my, `n arme sondaar, so 'n genade te bewys?!'

Na hierdie woord word hy stil van salige verrukking en word hy in die woning van My huis binnegelei.

Die verdere salige omstandighede van hierdie man kan julle vir julleself goed voorstel, net soos sy ewige bestemming om in liefde werksaam te wees. Daarom sal ons hiermee die tafereel ook beëindig en na `n ander oorgaan. Amen.


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205