Boek 30 - Liggaam – Siel – Gees
BERTHA DUDDE

Hoofstuk 24

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29.

`N VONKIE VAN GOD SE GEES IN DIE MENS
B.D.7726 - 15 Oktober 1960
En My Naam moet in die openbaar verheerlik word, want u sal insien Wie Homself aan u openbaar. U sal dit in u hart voel as u deur My aangespreek word en u moet My dan bewustelik loof en dan ken omdat u My herken het. Die mate van My Liefde is onbegrens en sal nooit verminder nie. Steeds weer sal die Bron van Liefde en Krag homself open en oor u uitstroom. En steeds weer sal u die nabyheid van die Vader kan bespeur en dit is My Barmhartigheid wat Ek oor u uitstort, omdat u as `n klein kindjie nog swak is en My hulp nodig het.
En as Ek u te kenne gee dat Ek in u midde is, bly dan in stille aandag en gee u harte aan My. Ek sal hulle almal aanneem en met liefdevolle sorg tot voltooiing bring. U sal begin te lewe in die innigste gemeenskap met My. Stralend helder sal u geestelike oog wees. Die lig van die insig sal u verlig, want u het die weg tot die Vader, wat in u gevind is, omdat uself vir Hom 'n woning voorberei het, omdat u vir My die deur van u hart geopen het, toe Ek aangeklop en verlang het om binne te gaan.
Toe u hierdie aarde betree het as mens, het Ek reeds na u toe gekom. Ek het `n klein vonkie van My goddelike Gees in u gelê. `n Klein liefdesvonkie wat in u moet uitgroei tot `n vlam wat homself weer met die Vuur van My ewige Liefde moet verenig.
`n Klein Deeltjie van Myself is dus in u wanneer u uself as mens op aarde beliggaam en gevolglik is daar `n verbinding met My tot stand gebring, waarvan u egter eers bewus moet word, deurdat u uit vrye wil `n verbinding moet soek met u God en Skepper en wat dan ook al daar is, as u die wil het om met u God en Skepper verbonde te wees.
Die Goddelike vonkie is in u wat u as `n goddelike skepsel bestempel, as u dit laat deurbreek. En dit kan in u tot deurbraak kom wanneer u u wese verander tot liefde. Want u laat u wese, wat eens suiwer liefde was, in die teendeel verkeer. U het die wese van My teenstander aangeneem, wat heeltemal sonder liefde is, en u het uself daardeur van My verwyder. Maar u was kinders van My Liefde, u het uit My Liefde voortgekom en Ek sal u ewiglik nie prysgee of aan My teenstander oorlaat nie, omdat My Liefde vir u oorgroot is.
U sou egter nooit die weg tot My teruggevind het as Ek u nie vir die lewe op aarde `n vonkie van My goddelike Gees - My Ewige Liefde - saam sou gegee het nie. Want die geestesvonkie moet u weer tot My terugvoer. Dit moet u aanspoor om na My toe te kom. Dit moet oor die liggaam seëvier en die siel - u eintlike Ek - na haarself trek, sodat die siel haarself kan verenig met die gees en sodat die eenwording met My, met die Vadergees van die Ewigheid kan plaasvind.
Hierdie geestesvonk leef in u, maar hou homself stil totdat u hom self deur u wil die vryheid gee dat hy homself kan uiter. En dan openbaar Ek Myself in u. Dan is u aardse lewensdoel bereik en dan is u lewe alleen maar net één enkele dankgebed en lofprysing. Want dan het u wese homself ook weer verander tot liefde omdat My geestesvonk nie sonder liefde tot lewe sou kon kom nie.
As My Gees Hom egter in u kan uiter, dan blyk dit ook dat Ekself in u teenwoordig is; en die bewys is gelewer dat die kind die weg teruggevind het na die Vader, dat hy die wye kloof oorwin het wat hom ewighede lank van die Vader geskei gehou het; dat hy nou weer deur My liefdeskrag deurstraal word soos dit was in die allereerste begin.
AMEN

 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205