Boek 29 - God self openbaar die geheim van GOLGOTHA aan ons
BERTHA DUDDE

Hoofstuk 10

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28.

PASGA-SABBAT
B.D.6233 - 9 April 1955
My lyding en sterwe aan die kruis was nie te vermy nie. Ek moes die kelk drink tot die laaste druppel. Ek moes alles op My neem om die verlossingswerk vir die mense te volbring, wat hulle bevry het van alle skuld. Alleen net die besef van u beklaenswaardige toestand, het My aangespoor om hierdie offergang te gaan, want My hart was vol liefde vir u en hierdie liefde wou die ontsettende lot wat op u sou wag na u liggaamlike dood, van u af wegneem.
Omdat Ek die ondraaglike lot geken het, omdat Ek sowel die saligheid van die ligryk, asook die lyding en die kwellinge van die ryk van die duisternis voor My oë kon laat verbygaan, en omdat My liefde u beskou het as My gevalle broeders; het Ek na die enigste uitweg gesoek wat vir u die ontsettende lot kon afwend. Ek het al u skuld op My Self geneem en het daarmee die weg na die kruis gegaan.
Wat My aards aangedoen was, is as`t ware maar die simbool van wat die hele sondelas vir My beteken het: - `n Onmeetlike drukkende en na benede trekkende las wat My steeds weer op die grond gewerp het, en wat Ek tog gedra het uit oorgrote liefde. Wat My liggaam aan smarte kon verduur, het Ek op My geneem, want Ek het die sondelas vir u gedra. Ek wou so die versoening tot stand bring waaraan u onherroeplik sou moes voldoen het, maar waartoe u gedurende ewighede nie in staat sou gewees het om te doen nie.
Ek het gely en gestry, Ek het waarlik bloed gesweet. Ek het binne-in alle dieptes van die hel gekyk en angs en afgryse het My siel verskeur. Ek het alles verdra wat uself sou moes ly, en My liefde vir u het My die krag gegee om vol te hou tot aan die uur van die dood.
Niks is te vergelyk met My lyding nie, en geen mens sou hierdie maat kon verdra het nie. Ek het My vrywillig daarvoor aangebied, omdat Ek geweet het dat u alleen so verlos kon word uit die boeie van Satan. Ek het al vooraf geweet wat My te wagte gestaan het en het die las steeds met My saamgedra. Ek het die weg bewustelik gegaan, waarvan die einddoel die kruis was. Maar Ek het onbeskryflik gely deur dit te weet, en kon daarom nooit vrolik wees tussen Myne nie.
Ek het die onheil gesien wat bokant die siele gehang het en Ek het die nutteloosheid van hulle aardse lewenswandel gesien as Ek sou faal, en hulle nie die verlossing sou bring uit sonde en dood nie. En hierdie kennis het My Wil versterk, sodat Ek My sonder verset aan My lot oorgegee het, wat die doel en betekenis van My aardse lewe was.
Dog tot die laaste moes Ek worstel, tot die laaste het die las so ontsaglik hoog bokant My uitgetoring, dat Ek My krag voel verminder het en Ek as mens het tot God geroep - om die kelk vir My te laat verbygaan. Maar die krag van My liefde was sterker as My menslike swakheid, en die dag van My onuitspreeklike lyding en My sterwe aan die kruis het vir u mense die dag van verlossing van al u skuld geword.
En hierdie kennis het My alles geduldig op My laat neem, sodat Ek ten laaste kon uitroep: "Dit is volbring". My siel kon terugkeer vanwaar Sy gekom het, en juis deur My dood, vind die volkome vereniging plaas met die Vader van die Ewigheid.
AMEN

 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205