Bybeltekste en hul verborge betekenis
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 34

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39.

“Wie in My glo, soos die Skrif sê, strome van lewende water sal uit sy binneste vloei.” (Johannes 7:38)

21 Februarie 1844 se aand

34 “Wie in My glo, soos die Skrif sê, strome van lewende water sal uit sy binneste vloei.”

2. Hierdie teks is soos `n muisval en soos `n kuil waarin mens leeus, luiperds en tiers vang; ook is hy dan `n hoeksteen, waaroor baie in die nag struikel en hulle ernstig beseer. Ek sê: Wie hulle daarteen stamp en val, sal baie moeite hê om weer op te staan.

3. Waarom? Baie het Ek tog die geloof gebied en orals predik Ek die liefde in woord en daad. Ek sê: “As julle geloof sou besit het, sou julle berge kon versit!”

4. Ek sê ook wat ons teks aangee; en tog sê Ek nogmaals: Ek sê nie wat ons teks aangee nie; want Ek sê: “Luister nie net na My Woord nie, maar onderhou dit ook!”

5. En Ek het ook gesê, dat diegene wat tot My “Heer, Heer!” sê, wat dus aan die Seun van God glo, nie die hemelryk sal binnegaan nie, maar slegs hulle wat die wil van My Vader doen!

6. Ook het Ek gesê: “Wie My woord onderhou, die het My lief en wie My liefhet, tot hom sal Ek in alle volheid kan kom en Myself aan hom openbaar.”

7. Ook het Ek gesê: “`n Nuwe gebod gee Ek julle, dat julle mekaar moet liefhê, soos Ek julle liefgehad het. Daaraan sal mens herken dat julle waaragtig My dissipels is.”

8. Nou vra Ek: Wat moet die mens doen? Moet hy aan die een kant net genoeë neem met die geloof, dit wat hom as sodanig aangeraai is, of moet hy hom net aan die liefde hou wat hy sy eie gemaak het, deur My woorde te onderhou en alleen dit te glo wat die liefde tot My hom ingee?

9. Want daadwerklike liefde het Ekself as enig geldende kriterium genoem, waarmee mens kan beoordeel of My leer menslik of goddelik is. Want Ek het immers gesê: “Wie volgens My woorde handel, hy sal besef of My leer van mense of van God is!”

10. Hoe is dit dan dat hier staan: “Wie in My glo, strome van lewende water sal uit sy binneste vloei!”? Die lewende water beteken immers ook die lewende wysheid uit die hemele, wat tog ook as `n seker kenmerk van die goddelikheid van My woorde moet geld.

11. So het ons hier twee grondslae wat getoets moet word, waarby die een steeds sy teenpool vind in die ander. Want onder die “Heer, Heer!” - sê word ook die vaste geloof in die Menseseun verstaan, - maar daar word gesê dat die geloof nie volstaan om die hemelryk te verwerf nie, - en in ons teks word, deur alleen maar te glo, strome van lewende water beloof.

12. Nou is die vraag: Het Ek `n teenstrydige leer verkondig? Of was Ek iemand wat by elke geleentheid sy seil na die wind gehang het en in gelowige geselskap oor die geloof as enigste waarde sou gespreek het, en in aktiewe geselskap sou gepredik het dat slegs die handeling waarde het? Op hierdie manier sou Ek Myself wel teengespreek het.

13. Die fariseërs het rotsvas in die voorskrifte van Moses uit wêreldse, en vroeër ook uit geestelike oorwegings geglo, en tog is hulle baie fel deur My bestry, weens hulle ongeloof.

14. Waarom was Ek hier nie tevrede met hulle eerste geloof nie, en waarom het Ek hulle aangeval omdat hulle nie aan My wou glo nie, en was hulle boosdoeners deur My genoem, omdat hulle letterlik volgens die wet geleef en hulleself nie volgens My leer wou rig nie?

15. Waarom laat Ek die fariseër, wat altyd die wet vervul het, ongeregverdig, en laat Ek die met sonde belaaide tollenaar, gereg­verdig die tempel verlaat?

16. Waarom respekteer Ek eintlik nie die voorskrifte van Moses nie, en neem Ek die Sabbat nie in ag nie? Waarom vererg Ek die fariseërs daardeur en predik tog: “Wee diegene wie sy naaste vererg!?”

17. Ja, Ek verkondig selfs dat `n mens hom moes ontdoen van `n liggaamsdeel waaraan hy hom vererg, want hy kan eerder vermink die hemelryk binnegaan as reg van lyf en ledemate, die hel in. Hoe moet ons dit opvat? Dit is tog alles teenstrydighede; hoe kan jy al die teenstrydighede met mekaar in ooreenstemming bring?

18. Uit jouself sal jy sekerlik geen uitweg uit dié labirint (doolhof) vind nie; Ek sal egter, netsoos die Macedoniese held (Alexander die Grote) doen, en die (Gordiaanse) knoop deurhak. Luister dus!

19. Daar is `n verskil tussen wat Ek maar net sê en dit wat Ek aanbeveel het. Daar bestaan egter ook onderskeid tussen sê en sê: Die een sê kan `n ontkenning wees en die ander `n bevestiging. `n Ontkenning kom ooreen met die vanselfsprekende, `n bevestiging met die geestelike. In die vanselfsprekende lê geen gebod nie, maar in die geestelike wel.

20. Daarom, as daar gesê word “Ek sê nie”, dan beteken dit: “Ek het dit nie gebied nie”; en as daar gesê word: “Ek sê dit”, dan beteken dit: “Ek het dit gebied.”

21. As Ek oor geloof praat, dan verstaan Ek daaronder altyd die lewende, met liefde gepaardgaande geloof; maar `n op sigself staande geloof verwerp Ek altyd.

22. Daarom sê Ek ook hiervoor: “Ek sê nie: Wie glo aan die Menseseun, uit sy lendene sal strome van lewende water vloei!” Dit beteken soveel as: “Niemand sal deur die geloof alleen tot die lig kom nie, maar alleen deur die onderhouding van My woord!”

23. As Ek hier egter sê: “Wie in My glo, strome van lewende water sal uit sy binneste vloei!”, dan sê Ek soveel as: “Wie `n lewende, met liefde gepaardgaande geloof het, die sal in die wysheid van die hemel ingewy word”; en soos wat julle wel vir julleself kan indink, is daarmee alleen die laagste hemel toegesê.

24. Dat maar net op basis van geloof geen enkele hemelse graad beloof word nie, leer die eie ervaring jou. Want jy het immers van kindsbeen af aan in My geglo; vra jouself egter net af, hoeveel druppels lewende water daardeur uit jou binneste gevloei het. Het jy dit deur jou veertig jaar oue geloof al so ver gebring, dat jy in jouself, as gevolg van een of ander druppel lewende water, die onsterflikheid van jou innerlike wese duidelik gekonstateer het?

25. Ek het julle al soveel egte lewende water laat toekom, en tog het julle in menige opsig nog nie in die reine gekom met julle innerlike voortbestaan na die dood van die liggaam nie. Maar Ek is tog geen leuenaar nie; Ek het oor die geloof, strome van lewende water beloof. Waar is dit dan by julle, gelowiges?

26. Uit eie ervaring kon julle tog genoegsaam aflei dat Ek, as die ewige waarheid en wysheid Self, in hierdie teks onmoontlik die, op sigself staande geloof kon bedoel het nie, maar alleen die, aan al My leerlinge bekende geloof, wat met die liefde tot God en die naaste gepaard gaan.

27. Want die geloof alleen kan ewe min iets vrugbaar vir die ewige lewe bewerk, as wat `n eggenoot met en uit homself kinders kan verwek. Hy moet `n verbintenis aangaan met `n eggenote en eers in die vuur van die liefde kan hy kinders met haar verwek.

28. Die kinders kon in die natuurlike betekenis vergelyk word met die strome lewende water uit die lendene van die liggaam. Daarby beteken die “liggaam” of die “lendene” in hierdie teks die materiële beeld van die liefdedaad self en die hele teks lui in onthulde toestand aldus: “Wie hom in sy hart aan My hou, sy werke sal bevorderlik wees tot die ewige lewe!”

29. Uit hierdie baie duidelike verklaring blyk egter ook onmiskenbaar, dat Ek oor die op sigself staande geloof altyd ontkennend, maar nooit bevestigend gespreek het nie; want anders sou Ek Myself ten aanskoue van die hele wêreld skandelik teengespreek het.

30. As daar dus êrens in My woord sprake is van geloof, moet jy dit op dieselfde manier opneem as wanneer jy oor `n beursie praat. Wie sê: “Ek het hom My beursie gegee”, bedoel daarmee vanselfsprekend dat dit gevul was; want met `n leë beurs is niemand gedien nie. So is dit, van My uit beskou, ook met geloof die geval. Ek bedoel daarmee nie die leë nie, maar altyd die met liefde gevulde geloof.

31. Daarom sê Ek nogmaals: Ek sê nie: “Wie in My glo, strome van lewende water sal uit sy binneste of lendene vloei nie!” - maar Ek sê: “Wie in My GLO, strome van lewende water sal uit sy binneste of lendene vloei!”

32. Onder die eerste ontkennende geval word slegs die leë geloof verstaan, wat selfs nie die kleinste druppeltjie lewende water oplewer nie; onder die tweede geval word egter die gevulde geloof verstaan, waarop dan verseker die strome lewende water sal volg, en daarop sê Ek bevestigend: “Wie die wil van My Vader doen, hy sal insien waar die leer vandaan kom!”

33. Die Vader is egter die Liefde en die neem geen genoeë met lugtige skyn nie, alleen maar met die werklike wese. Welke nut het `n flou lanternskynsel van leë geloof in die oneindige skeppingsruimte? Jy kan rondom jou heen tas en orals heen kyk: Slegs flou strale kom jou tegemoet en die dinge waarvan jy die flou strale ontvang, is ver weg. Want die slaper het genoeg aan die droom. Solank hy slaap beskou hy dit as werklikheid; maar as hy ontwaak, soek hy orals werklikheid en sekerheid.

34. Wat gebeur egter wanneer die mens sy hele aardse lewe slaap en die droombeelde vir werklikheid aansien? Hoe sal dit wees as hy, nadat hy sy liggaam afgelê het, uit so `n aardse droomlewe wakker word? Waarna sal hy gryp? Waaraan sal hy vashou? Van alle kante sal hy deur die nag omgeef wees; waar sal hy die lig vandaan kry om die verwarrende nag om hom heen te verlig?

35. Daarom sê Ek: Diegene wat deur allerlei vertwyfelinge gepla word, is beter daaraan toe as diegene wat van homself sê dat hy `n wakker gees het, maar hom eintlik nog in die nag bevind. Hy het betyds ingesien dat die droombeelde slegs drogbeelde is; verlangend sien hy uit na die dag.

36. Maar die dromer weet niks van sy eie nag nie; hy is die baas en doen wat hy wil, eet en drink en dink dat alles werklikheid is. As hy egter ontwaak, sal hy eers die groot leegte in homself bespeur, maar helaas wel te laat. Want as die, uiteraard gevulde, geloof tydens die aardse lewe geen strome lewende water uit die lendene laat vloei nie, hoe sal dit later dan kan, wanneer die lendene afgeval het?

37. Of as iemand geen geld in die daartoe bestemde beurs kan bewaar nie, hoe sal hy dit dan verkry, as hy geen beurs en geen geld het nie? Of as iemand die lewe nie kan behou as hy dit het nie, saam met die benodigde liggaamlike omhulling, hoe sal hy dit dan verkry as hy beide verloor?

38. Wie nie kan wees soos hy is nie - hoe sal hy dan wees as hy nie is nie? Want aan elkeen wat het, sal gegee word; en wie nie het nie, van hom sal geneem word, ook wat hy het.

39. Ek dink dat hierdie oop omstandige verklaring wel duidelik genoeg sal wees. Streef daarom ook na die gevulde geloof; want die leë is maar net `n droom. Wil jy strome lewende water uit jou lendene sien vloei, dan moet jou geloof deur dade van liefde lewend word. Amen.


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205