Bybeltekste en hul verborge betekenis
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 31

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39.

“En hy (Saggèüs) loop vinnig vooruit en klim in `n wilde vyeboom om Hom te sien, want Hy sou daarlangs kom.” (Lukas 19:4)

14 Februarie 1844 se aand

31 “En hy (Saggèüs) loop vinnig vooruit en klim in `n wilde vyeboom om Hom te sien, want Hy sou daarlangs kom.”

2. Die vers maak slegs melding van `n feit en jy kan ooreenkomstig die voorgaande lering dink dat hierin ook `n nooit te begrype dieper betekenis verborge lê; maar dit is nie die geval hier nie, omdat hierdie daad nie deur die Heer nie, maar slegs deur `n mens verrig was. Tog het hierdie skynbare onbeduidende gebeurtenis innerlike geestelike waarde en word in die evangelie vermeld, omdat `n goeie les vir elkeen daarin beslote lê.

3. Menige filosoof sou sê: “Wat kan daar nou agter hierdie gewone alledaagse gebeurtenis steek? Wat wis Saggèüs meer van Christus as wat ons miskien teenswoordig van `n sogenaamde duisendkunstenaar weet?”

4. As ons egter vooraf hoor dat so `n wêreldberoemde duisend­kunstenaar deur ons woonplek sal kom, sal elkeen hulle op straat begewe en verlangend na die intog van hierdie wonderman uitsien. Staan daar nou toevallig bome langs die weg wat maklik geklim kan word, dan sal dit verseker deur jonges en ook dalk deur nuuskierige ouer mense in beslag geneem word.

5. Welke betekenis skuil daar in die verskynsel? Tog seker maar net die voor die hand liggende, naamlik dat baie nuuskierige mense die wonderman ook wou gesien het.

6. Die moraal wat mens hoogstens hieruit sou kon haal, lui: “Luister jonges en nuuskierige mense en ook julle wat klein van postuur is, sodat julle nie oor die grotes heen kan kyk nie! Sorg by sulke geleenthede dat julle `n boom betyds bemagtig, sodat julle dan julle kyklus kan bevredig, sonder om daarmee rekening te hou of daar ook bome deur so `n moraal beskadig word.”

7. Dit sou `n uitleg wees soos wat die wêreld dit gee. Ek gee hierdie hier vooraf om dit vir die wêreld makliker te maak om hulle later by die beoordeling van My, vir hulle onbegryplike verklarings, sonder moeite belaglik te kan maak.

8. Nou sal ons egter net kyk welke geheel ander betekenis en moraal daar agter hierdie eenvoudige teks kan lê. Ons sal die uitleg so sonderling moontlik begin. Ons begin met die praktiese deel, sodat die teorie daarna as`t ware vanself daaruit kan voortvloei.

9. En so sê Ek: Die hele wêreld is vol Saggèüsse en julle is dit nie minder nie! Doen daarom wat hy doen, en Ek sal dan aan julle sê en doen wat Ek aan Saggèüs gesê en later ook gedoen het. Die weg wat Ek gewoonlik met Myne gaan, is aan julle bekend; julle is, netsoos Saggèüs, sondige tollenaars van die wêreld.

10. Wat doen Saggèüs nou om My op die weg te sien? Hy was klein van postuur; hy loop vooruit en klim in `n wilde vyeboom, dit wil sê: Die sondige mens erken dat hy onwaardig teenoor My was, dus was hy vol deemoed en hy was oningelig of lyk soos die tollenaar in die tempel wat dit selfs nie gewaag het om sy oë na die hemel op te slaan nie.

11. Maar deemoed is die vernaamste voedsel van liefde. Daardeur word liefde magtiger en kragtiger vir Hom, teenoor wie sy haar groot onwaardigheid voel. En hoe onwaardiger sy voel, des te groter word die aantrekkingskrag tot Hom, omdat haar agting in dieselfde mate groei as waarmee sy in haar eiewaarde daal. Sulke liefde dink dan maar net aan die Een Wie sy as haar hoogste goed die hoogste ag.

12. In die besig wees met die hooggeagte voorwerp van sy liefde, ontstaan `n steeds sterker wordende lig waarin die mens voortdurend dink en soek hoe hy nader aan die vereerde voorwerp van sy beskouing kan kom. Die voortdurende dink en soek is te vergelyk met die voorthardloop van Saggèüs.

13. Hy is op die korrekte weg; maar hy weet ook dat die Heer die mees innerlike van alle dinge is en in die groot gedrang op hierdie weliswaar regte weg tog nie te ontdek sal wees nie. Maar die begeerte om die Heer te sien is magtiger as die teenwerping en magtiger as die hinderlike gedrang, en die mens mobiliseer al sy kragte om hom so hoog moontlik te verhef, en so `n plek te bereik, waarvandaan hy te midde van die gedrang, tog die Heer oor die gedrang heen kan sien.

14. `n Boom word uitgekies en geklim: `n Wilde vyeboom of wel moerbeiboom, gelyk aan die boom van kennis, in welke se blare die sag glansende stof vir koningsklere verborge is. Dus deur hoër kennis en die lig van die geloof wil die mens die Heer sien; daarom hardloop hy ylings voort en klim in die simboliese boom van die kennis, wat weliswaar `n soet vrug het, maar desondanks niemand versadig nie. Dit lyk of hy versadig word, maar na die skynbare versadiging het mens gewoonlik meer honger as tevore.

15. So is dit ook gestel met die hoër kennisvermoëns verstandelike ondersoek. Hierdie kennis skyn in die begin die gees ook verrassend te versadig, maar baie gou sê sy hongerige maag: “Die paar soet trossies het my maar net slaperig gemaak, maar nie versadig nie; ek het wel netso die gevoel om versadig te wees, maar was dit tog nie.”

16. Kyk, dit is duidelik die betekenis van die wilde vyeboom waarmee Saggèüs met die beste bedoelings inklim; dit sou vir al sulke geleerde tollenaars en sondaars goed wees, as hulle met dieselfde bedoeling as Saggèüs, in die boom van die kennis na die weg van die Heer sou klim. Hulle sou dieselfde bereik wat ook Saggèüs bereik het.

17. Maar helaas word die boom van die kennis maar hoogs selde geklim op die manier waarop Saggèüs dit gedoen het en baie Saggèüsse klim selfs met `n ietwat beter bedoeling in die boom van die kennis, maar gewoonlik in één wat nie langs die weg van die Heer staan nie.

18. Tot hier toe was alles duidelik; maar nou is die vraag of dit vir die ewige lewe voldoende is as mens met die beste bedoelings dieselfde doen as Saggèüs.

19. Hierdie vraag word beantwoord op die plek in die evangelie waar die Heer aan die in die boom uitkykende Saggèüs sê: “Kom na benede, want vandag moet Ek in jou huis oorbly!”

20. Dit wil ongeveer sê: “Saggèüs! Bevry jou van jou hoë bespiegelings oor My en daal af in die kamer van jou liefde vir My; in die huis van jou is kos vir My, daar sal Ek oorbly en Ek sal in jou huis eet!”

21. Nog duideliker gespreek wil dit sê: “Saggèüs, daal af in jou aanvanklike deemoed en liefde, dan sal Ek My intrek by jou neem en My verkwik aan die vrug van jou hart.”

22. Kyk, dit is die prakties-teoretiese sin van hierdie teks en die moraal daarvan is: “Kyk na jou broeder Saggèüs en volg sy voorbeeld; dan sal dit met jou gaan soos dit ook met Saggèüs gegaan het!”

23. Ek dink dat alle verdere teorie oorbodig sal wees, want alles wat gesê is, is volkome duidelik. Wie dit sal lees en dit in ag sal neem, sal dieselfde ten dele val as Saggèüs, en Ek sal aan hom dieselfde sê wat Ek aan Saggèüs gesê het.

24. Julle moet dit alles baie goed ter harte neem! Amen.


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205