Bybeltekste en hul verborge betekenis
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 32

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39.

“Toe Jesus Sy moeder sien en die dissipel wie Hy liefgehad het by haar staan, sê Hy aan Sy moeder: “Vrou, kyk, u seun.” Daarna sê Hy aan die dissipel: “Kyk, u moeder.” En van daardie uur af het die dissipel haar by hom in die huis geneem.” (Johannes 19:26 27)

16 Februarie 1844 se aand

32 “Toe Jesus Sy moeder sien en die dissipel wie Hy liefgehad het by haar staan, sê Hy dan aan Sy moeder: “Vrou, kyk, u seun.” Daarna sê Hy aan die dissipel: “Kyk, u moeder.” En van daardie uur af het die dissipel haar by hom in die huis geneem.”

2. Dit is by julle in die wêreld ook gebruiklik dat as iemand sy dood voor oë sien, hy vir diegene wat agterbly `n laaste wilsbeskikking tref, wat deur julle “testament” genoem word. So was dit ook in My geval noodsaaklik dat Ek vir My naasbestaandes `n laaste skikking moes tref. Maria, die moeder van My liggaam, was so `n naas­bestaande en sy moes tog vir die res van haar lewensdae op aarde die nodige versorging hê.

3. Iemand sou wel kon vra of Josef dan glad niks nagelaat het nie? Hyself het tog ook kinders gehad, van homself en van vreemdes, wat hy opgeneem het; kon hulle dan nie vir Maria gesorg het nie?

4. Die antwoord daarop lui dat Josef in die eerste plek nooit eiendom besit het nie, dus kon hy ook niks nagelaat het nie. In die tweede plek was sy kinders self baie arm en het hulle My byna almal nagevolg; daarby was Johannes ook in die huis van Josef opgeneem, en het as te ware by die familie behoort. Sy vader was nog behoeftiger as Josef self. Hy het sy seun na Josef toe gestuur om die ambag van hom te leer. Dit het ook gebeur en hy het `n handige timmerman en meubelmaker geword, wat ook vaardige draaiwerk verrig het. Bowendien had hy vir Maria en My en die hele gesin van Josef baie liefgehad en Maria kon aan geen beter en meer vertroude hande toevertrou word as aan hierdie seun van Zebedeüs nie.

5. Kyk, dit is nou die vanselfsprekende testament en ook die hele letterlike betekenis van My woorde aan die kruis.

6. Omdat hierdie woorde nie slegs deur die mens Jesus nie, maar ook deur die Seun van God, of die ewige Wysheid van die Vader gespreek is, is daar sekerlik nog `n dieper, hoogs goddelik-gees­telik-hemelse betekenis daaragter verborge wat julle netso min in die volle omvang sal kan begryp as soveel ander beweegredes vir die dade van die Godmens.

7. Ek kan daarom slegs iets sê oor die gebied van die Wysheid. Maar soek nie te veel daaragter nie, want jy weet dat sake wat die wysheid betref, nie so maklik te begryp is as dinge wat uit suiwer liefde voortkom nie, soos die natuur julle al laat sien het.

8. Jy kan wel die verligte en glinsterende voorwerpe beetpak, orals neerplaas en van alle kante bekyk, maar kan jy dit ook doen met die vrye ligstrale wat van verligte voorwerpe uitgaan?

9. Die strale voer onvervalste afbeeldings van tallose dinge saam met hulle, soos wat die eers ontdekte ligbeelde voldoende bewys. Vra jouself nou net af of jy, ondanks alle moeite, sulke beelde met jou sintuie in die vrye ligstrale sal kan ontdek. Dit sal jy sekerlik ontkennend moet beantwoord.

10. Daarom geld ook die vorige wenk dat jy nie te veel oor wysheidsaangeleenthede moet spekuleer nie, want dit sal nog minder resultaat hê as die speur na afbeeldings in vrye ligstrale.

11. Jy kan weliswaar optiese instrumente maak waarmee die vrye ligstraal gedwing word om, die beeld wat hy dra, weer sigbaar te maak; maar is daar ook `n optiese instrument, wat daardie beeld wat gevorm was deur die strale, uit die diepte van die oerlig, af te druk?

12. Ja, julle het so `n geestelik-optiese apparaat in julle, maar dit begin eers te werk as julle heeltemal afstand gedoen het van die wêreldse lig. Die wêreld moet eers in volledige duisternis oorgaan, voordat die lig van die gees sy saamgedrae beeld duidelik in jou gees sigbaar maak. Jou eie droom is `n deugdelike bewys daarvan en die visioene van diegene wat deur hipnose in geestesvervoering raak, oftewel, soos julle sê, is heldersiendheid `n nog houbaarder en duideliker bewys.

13. Hierdie inleiding was noodsaaklik, voordat ons tot die desbetreffende uitleg oor die aan die kruis gesproke woorde kan oorgaan.

14. “Vrou, kyk u seun” en “Seun, kyk u moeder” beteken in diepere sin: “Jy wêreld, kyk na die seun van die mense, en u Menseseun, kyk na die wêreld en oordeel haar nie, maar bewys haar liefde!”

15. In nog diepere sin: “Jy, Goddelike Wysheid, neig u na U ewige oergrond en u, ewige oergrond, sien U stralende Seun en neem hom op om één daarmee te word.”

16. Verder: “Jy een, wie eens die Allerheiligste gedra het, aanskou die dood van u werke, en Jy gedode, as Jy opstaan, gedenk die vrou wie eens die Allerheiligste, naamlik die lig van die ewige liefde, gedra het!”

17. Kyk, in hierdie bewoordings lê `n oneindige diepsinnigheid wat geen geskape wese ooit sal kan begryp nie, omdat al net die inhoud daarvan, oneindig is en bowendien elke oomblik oneindiger word.

18. Ek het soveel daaroor gesê sodat julle daaruit sal kan aflei dat die Een wat die woorde vanaf die kruis gespreek het meer was as, soos wat baie dink, maar net `n Judese misdadiger wat aan die Romeinse gereg oorgelewer was, omdat Hy as volksopruier en rebel teen Rome aangekla was.

19. Dit is dus die diepere geestelike betekenis. Julle self moet julle egter hou by die oorspronklike testament. Want ook julle is My leerlinge en die armes van die wêreld is My moeder. Aan hierdie moeder sê Ek: “Kyk, u seuns”, en aan julle sê Ek “Kyk, u moeder!”

20. Waarlik, as julle doen soos Johannes, sal julle ook sy loon ewig ontvang! Amen.


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205