Bybeltekste en hul verborge betekenis
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 33

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39.

 “Kyk, die uur kom en het gekom, dat u verstrooi sal word, `n elk na syne, en u My alleen sal laat. En tog is Ek nie alleen nie, want die Vader is met My.” (Johannes 16:32)

19 Februarie 1844 se aand

33 “Kyk, die uur kom en het gekom, dat u verstrooi sal word, `n elk na syne, en u My alleen sal laat. En tog is Ek nie alleen nie, want die Vader is met My.”

2. Hierdie teks vermeld iets wat oral algemeen bekend is en reeds na My hemelvaart gebeur het. Hierdie teks is dan ook een van die maklikste, omdat die betekenis daarvan nogal voor die hand liggend is.

3. Hier moet net opgemerk word dat daar `n groot verskil bestaan tussen wat soms gesê word: “Die tyd kom...” of “Die uur kom...” Onder “die tyd” word `n onbepaalde tydperk verstaan wat op `n onbekende tydstip sal aanbreek. Met die uur word `n dadelik na die uitspraak intredende periode aangegee.

4. Soms kan mens in hierdie teks “tyd” in plaas van “uur” aantref. Dan is dit ook verkeerd, want dit moet wees “Die uur gaan kom...” - omdat dit dadelik na die profetiese woord bewaarheid word.

5. Wat moet ons dan onder verstrooi verstaan? Miskien die persoonlik uiteengaan van My leerlinge en apostels, elkeen na `n ander streek? Nee! Dit was immers hulle opdrag en daartoe het Ek hulle ook geroep, sodat hulle sou uitgaan na alle lande om die evangelie daar vir alle skepsele te predik. 

6. Sou dit nie dwaas van My gewees het om `n slegte voorspelling oor hulle roeping te gemaak het nie? Dan sou hulle wat geroepe was om My woord uit te dra, voortdurend in `n groep moes saam­gebly het, soos wat so baie ordes dit in julle tyd doen, wat in hulle bestaan netso min nuttig tot stand bring, as `n hoop meteoorstene op die bodem van die see; diegene wat hulle in die see sien val, vermoed dat hulle `n geweldige uitwerking sal hê, maar as hulle eenmaal die rustige seebodem bereik het, bly hulle daar sonder enige uitwerking lê en dien hoogstens tot steunpunt vir enkele vraatsugtige poliepe.

7. Dus van `n persoonlike en plaaslike verstrooiing is in hierdie voorspelling geen sprake nie, wat mens al uit die teks self kan aflei, want daar staan: “As julle My alleen laat, is Ek tog nie alleen nie, want die Vader is met My.”

8. Oordeel nou self: Kan iemand My persoonlik en plaaslik verlaat? Waarheen sou hy moet gaan om meer naby My of verder van My af te wees? Waar sal hy verder van My verwyder wees, in Suid-Amerika of Noord-Asië? Ek glo dat dit vir My, Wie alomteenwoordig is, niks saak sal maak nie. Dus van persoonlike en plaaslike verstrooiing is hier, soos gesê, geen sprake nie.

9. Watter verstrooiing word dan wel hier bedoel? Kyk net na die sektes wat huidiglik orals bestaan en ook reeds tydens My lewe onder die apostels op geringe skaal bestaan het - daarom het Ek hierdie voorspelling gedoen. Gelet op die gesprekke tussen My twee eerste apostels, moet dit des te duideliker word welke verstrooiing Ek My apostels en leerlinge voorspel het en waarvan, soos wat Ek al in die begin gesê het, die verklaring voor die hand liggend is.

10. Enkele eeue na My hemelvaart was die verstrooiing al so groot, dat niemand meer presies geweet het wie wie was nie. Die mense moes uitgebreide konsilies belê, maar na die konsilie het die mense netso verstrooi gebly as voorheen.

11. Hoe dit nou lyk hoef Ek jou nie te vertel nie; want jy kan die verstrooiing orals om jou heen ontdek.

12. Die mense sê: Elkeen op sy plek. Dit wil sê: Elke sekte beskou hulle as die beste en die suiwerste. Is Ek daarom egter alleen? Nee! Die Vader, of die eerste liefde is immers in My.

13. Aan die liefde herken Ek Myne, maar nie aan die sekte nie! Wie My liefhet en My woord onderhou, het die liefde van die Vader in hulle, soos die Vader in My is en die is één met My, soos Ek één is met die Vader! Daarom is Ek nie alleen nie, want soos wat die Vader in My is, so is Ek in `n elke en elk wat My liefhet en volg, en is hulle ook in My.

14. Dan maak die sekte geen verskil nie en vervloek is diegene wat uit wêreldse oorwegings die voorkeur gee aan die een sekte bo die ander! Want in geen enkele sekte is waarheid en lewe nie; alles berus op geloofsdwang en op oorredingskrag, wat geen haar beter is nie. Vraag: Waar bly die vrye mens dan? 

15. Wanneer het Ek ooit iemand tot geloof gedwing? Ek het elkeen vrygelaat. Wie nie genoeg het aan My werke en aan sy eie innerlike oortuiging nie, word nie met ander middele gedwing nie. Want Ek het My leer nie vir die geloof nie, maar slegs vir die daad gegee.

16. Ek het nie gesê: “Wie My sal glo, uit sy lendene sal strome lewende water vloei!” nie, maar Ek het gesê: “Wie My woord sal onderhou, die sal ervaar of My leer van God of van die mense is!”

17. Waarvoor sou `n oproep tot geloof ook nut voor gehad het? Want soveel moes Ek tog vooruit kon sien dat één en dieselfde lig die voorwerpe waarop dit val, net so verskillend belig soos wat die voorwerpe self verskil.

18. So is dit ook met die lig van die geloof! Na gelang dit op `n verskillend gekleurde menslike gemoed val, sal dit daardie gemoed ook verlig. Die eis dat dieselfde lig deur al die duisendkleurige gemoedere alleen dan volkome wit weerkaats sal word, is die grootste dwaasheid.

19. Die uitwerking van die lig moet wel verskillend wees; maar die werking van die liefde bly dieselfde, netsoos wat warmte slegs één werking het: Sy verwarm die rooi op dieselfde manier as die blou en alles kan gloeiend gemaak word en die kleur van die ware lewende liefdesgloed is ewig één en dieselfde, en `n gloeiende stuk goud onderskei hom nie van `n gloeiende stuk yster nie.

20. Kyk, dit is die betekenis van hierdie teks! Verstrooi jou daarom nie, maar bly in die liefde, dan sal jy lewe! Amen.


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205