“Wees nie bevrees nie Paulus, want u moet voor die keiser staan; en kyk, almal wat met u vaar, het God aan u geskenk.” (Handelinge 27:24)
10 Januarie 1844 se aand
12 Skryf maar op wat jy het!
2. En (die engel van God) spreek: “Wees nie bevrees nie Paulus, want u moet voor die keiser staan; en kyk, almal wat met u vaar, het God u geskenk.”
3. Jy het die teks gekies: Hierdie keer wel geen sentraalson nie, maar `n byson; want sentraalsonne vind mens slegs by die profete en die vier evangeliste, vir sover dit die vier evangelies betref. Wat daarbuite val, het meer betrekking op bepaalde historiese gebeurtenisse en is minder algemeen, maar betref veeleer die beperkte sfeer waarin die stuk geskiedenis hom afspeel.
4. En daarom is die gekose teks, ofskoon deur `n engel gespreek, `n boodskap aan Paulus, waarby hy dan ook in sy betekenis volledig op homself staan en daarom is dit, soos wat jy sal begryp, geen sentraalson nie, maar slegs `n by- of planetêre son.
5. Maar nietemin is hy tog van geestelike aard en versprei sy lig ver om hom heen; want dit maak `n groot verskil of daar `n engel namens die Heer spreek of handel, of dat die Heer Self uit Homself spreek of handel.
6. Dit was hier noodsaaklik om jou vooraf daarop te wys, sodat jy weet om die woorde en werke van die Heer op waarde te skat, en hulle duidelik te kan onderskei van die woorde en handelinge van engele en apostels. Noudat jy dit weet, sal ons net sien wat, en hoeveel van die algemene lig in die gekose teks vir ons doel aanwesig is.
7. “Wees nie bevrees nie Paulus”, spreek die engel, “want jy moet voor die keiser staan.” Dit wil soveel sê as: “Jy, wat die woorde van die Heer onderhou, wees nie bang nie, want die Heer wil dat die wêreld jou aan jou dade herken. En as die wêreld jou sal herken, dan sal hulle jou navolg! En uit die navolging bestaan die beloofde geskenk van die manne wat met Paulus op die skip is. Want die geskenk hou ook in dat die manne, netsoos Paulus self, nie maar net sal luister na God se woord nie, maar dat hulle ook daarvolgens sal handel.
8. Uit hierdie kort uiteensetting volg dan ook duidelik, dat die Heer nie daarmee vir Paulus wou sê dat hy aan die keiser voorgestel sou word om voor hom as `n beroemde redenaar of as toneelspeler op te tree nie, of dat die Heer hom die manne van die skip gegee het om daaruit `n geselskap van redenaars en toneelspelers saam te stel en hulle onder sy leiding voor die keiser van Rome te laat optree nie.
9. Die Heer het dus die skeepsgenote nie terwille van skitterende wêreldse doeleindes aan Paulus geskenk en het hulle ook sekerlik nie tot `n soort lyfeienes van Paulus gemaak nie, maar die geskenk bestaan uit die feit dat die Heer die harte van die skeepsgenote van Paulus verwarm het deur `n opnuut aangewakkerde vuur van liefde, waardeur hulle die beknopte leer van Paulus begryp en spoedig daarvolgens begin handel het.
10. Die geskenk van die Heer aan Paulus bestaan dus uit die lewende navolging van die voorbeeld van Paulus deur sy skeepsgenote. Daarom moes Paulus ook nie as `n geleerde filosoof of as begaafde redenaar aan die keiser voorgestel word nie, maar as `n mens wat goeie dade verrig, en wel onder getuienis van die hele skeepsbemanning, wat deur die daadkragtige wysheid van Paulus, tot welsyn van sowel Rome as van die keiser, vir die ondergang bewaar was.
11. Hieruit kan jy nog duideliker sien dat dit by My nie op baie woorde nie, nóg op allerlei onbelangrike seremoniële spektakel neerkom om tot die ware lig te kom nie, maar alleen op die handeling volgens My woord. Want as dit op baie woorde sou neergekom het, kon die engel wat na Paulus gestuur was, wel drie dae gepraat het; maar hy praat slegs weinig en Paulus doen daarna baie. Dit was beter as wanneer die engel baie aan Paulus gesê, maar Paulus daarna heel weinig gedoen het.
12. By My gaan dit nie soos by julle advokate in die wêreld nie, wat baie skryf en ook baie praat en as daar uiteindelik baie geskryf en gepraat is, lewer dit uiteindelik vir die kliënt bespotlik weinig op.
13. En by My gaan dit ook nie soos by julle predikante in die wêreld, wat dikwels vanaf die kansel `n uur lank oor alles verkondig; maar as die preek klaar is en hulle van die kansel af is, bring hulle self niks van wat hulle gepredik het in praktyk nie. Negetiendes van die toehoorders verlaat die bedehuis sonder om ook maar drie woorde van die hele preek te onthou, en een tiende van die toehoorders, wat wel iets van die preek onthou het, sê na afloop net dit: “Vandag het hy weer mooi gepreek!”
14. As daar egter vlak buite die kerk `n arm, behoeftige mens hom om `n aalmoes vra, kry hy, as resultaat van so `n mooi preek, in die beste geval, miskien wel `n koper geldstuk, wat die gewer dikwels, geïrriteerd en met baie moeite uit `n hele beurs vol beter munte te voorskyn bring, of die aangesprokene sal aan die arme bedelaar sê: “God sal jou help! `n Ander keer; vandag het ek geen kleingeld by my nie!”
15. Kyk, uit hierdie uit die lewe gegrypte voorbeelde sal tog wel duidelik genoeg blyk hoe skandelik, weinig tasbare resultaat die verbasende lang preek gehad het. Sou dit nie beter gewees het as die preek maar uit weinig woorde bestaan het, en dat na die woorde die predikant self sy gehoor tot `n goeie voorbeeld sou wees, netsoos Paulus, sodat `n groot aantal van hulle daardie voorbeeld sou volg, omdat Ek dan ook aan die predikant sou kon sê: “Kyk, almal wat in die huis is, het Ek jou geskenk, omdat jy hulle deur jou voorbeeld tot navolgers van My woord gemaak het.”
16. Daar staan wel geskryf dat mens weldade in stilte moet bewys. Dit is ook goed en waar. As dit maar net oor ondersteuning gaan, moet die daad verborge bly; maar as die daad tot lering moet strek, dan mag die lig nie onder `n maatemmer gesit word nie, want dan is dit nodig dat Paulus aan die keiser voorgestel word. En aan hom, wat onderrig deur die daad, sal ook diegene gegee word wie hy deur sy daad opgewek het!
17. As iemand egter ander net tot `n goeie daad beweeg het deur hulle om te praat, bly dit gewoonlik ook maar net by die een daad; en as daar `n tweede daad uitgevoer moet word, dan is daar ook weer `n ellelange redevoering daarvoor nodig, waarvan jy in die veelvuldige oproepe tot weldadigheid die mees sprekende voorbeelde vind.
18. As `n bekende persoonlikheid, meestal op versoek van die owerheid, in een of ander koerant `n oproep doen tot vrygewigheid vir `n bepaalde doel, sal vele gevolg daaraan gee, omdat hulle naam uiteindelik ook in die koerant bekend gemaak sal word, en die plaaslike outoriteite moontlik goeie kennis sal neem van sulke weldoeners, maar werklik uit liefde doen niemand iets nie. En as die aksie eenmaal verby is, kraai daar geen haan meer na die behoeftiges vir wie die oproep gegeld het nie.
19. Sal sulke weldoeners dan ook tot `n geskenk word vir diegene wat die oproep gedoen het? O nee! Dit gaan hom netso min aan as wat die middelpunt van `n verre son, wat al sou vergaan het, voordat haar lig op julle aarde sal aankom, julle aangaan.
20. Ek dink dat die lig van hierdie “byson” ook helder genoeg sal wees; wie dit sal benut, sal met `n sentraalson beloon word. Ons sal egter, ongeag haar helderheid, tog weer verder gaan na `n ander sentraalson!