Bybeltekste en hul verborge betekenis
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 28

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39.

 “Van toe af het baie van Sy dissipels teruggekeer en het nie meer langer met Hom saamgegaan nie.” (Johannes 6:66)

8 Februarie 1844 se aand

28 “Van toe af het baie van Sy dissipels teruggekeer en het nie meer langer met Hom saamgegaan nie.”

2. Hierdie teks verwys in elke opsig presies op ons onderwerp.

3. Waarom het baie van My dissipels hulleself teruggetrek en wou hulle nie meer saam met My gegaan het nie, terwyl Ek hulle tog die leer van die aanneem van My vlees en bloed gegee het? - Die oorsaak van dié verskynsel lê hoofsaaklik in die traagheid van gees van My dissipels, maar vervolgens tegelyk ook in hulle hoogmoed.

4. Hulle traagheid het bestaan uit die feit dat hulle hulleself nie die moeite wou getroos het om My tenminste te vra hoe mens die leer moet begryp nie, soos wat My broeders dit wel later gedoen het.

5. En die hoogmoed was dus die gevolg daarvan. Omdat hierdie dissipels, wat tog My leerlinge was, eers geen sin gehad het om meer kennis te verwerf nie, het hulle dit nou vervelend gevind dat Ek `n leer verkondig wat hulle begrip te bowe gegaan  het. Hulle het hulle teenoor die ander van die volk beskaamd gevoel, omdat hulle My ook nie begryp het nie. Hulle wou My nou egter ook nie, vanweë hulle hoogmoed, in teenwoordigheid van die volk vir `n uitleg vra nie, om nie bestempel te word dat hulle as My leerlinge, My nie begryp het nie. 

6. Want gewoonlik was dit so, na `n redevoering van My, dat die volk aan My dissipels gevra het hoe een en ander opgeneem moes word. My leerlinge het dit dan gewoonlik in talle aanvullende verklarings gegee en hulle eergevoel was gestreel deur die lof oor hulle verstandige uitleg van dit wat vir die volk ietwat moeilik te begryp was.

7. Ook by hierdie geleentheid kry die dissipels talle vrae oor die betekenis van hierdie leer, maar hulle kon hierdie keer geen verklaring gee nie, omdat hulle die leer self nie begryp het nie; daarom red hulle hulleself hierdie keer op `n ander manier uit die moeilikheid. Hulle beskuldig My van `n harde leer wat geen mens kan begryp nie, en omdat dit hulle nie tot eer strek teenoor die volk nie, spreek hulle liewer smadelik oor My en verklaar dat hulle al My vroeëre uitsprake netso onbegryplik gevind het; dat hulle nie meer in My glo nie en hulle verlaat My.

8. Uit hierdie noukeurige beskrywing van die toenmalige gebeur­tenisse, kan elkeen maklik begryp dat die oorsaak van dié slegte voorval niks anders was as traagheid van gees en vervol­gens hoogmoed van My dissipels nie. Traagheid, omdat hulle altyd om My heen was en gedink het dat hulle eweveel begryp het as Ek - waarom sou hulle dan moeite doen om dieper in die gees van My leer deur te dring? Die hoogmoed het egter ontstaan toe Ek hulle op die proef gestel het om uit te vind hoeveel hulle begryp en duidelik aan hulle getoon het dat die dissipel nie bo die Heer staan nie.

9. Kyk, hierdie twee hoofoorsake vorm ook die pilare onder die meeste verdorwenheid van die menslike geslag. Want die mens is in die eerste plek lui en doen graag die hele dag niks. As egter aan hom gevra word: “Waarom doen jy die hele dag niks?”, sal hy sê: “Niemand het my aangestel nie!”

10. En as Ek dan aan hom sê: “Gaan dan tenminste vanaand `n uurtjie werk, Ek sal jou goed beloon”, sal hy sê: “Heer, hoe kan U my die skande aandoen om my te laat uitlag deur diegene wat die hele dag gewerk het? As U my iets wil gee, skenk dit dan liewer aan my, maar stel my nie as `n luiaard aan die kaak voor die arbeiders nie.”

11. Kyk, die luie wou eers nie werk nie, en ten slotte skaam hy hom om te werk voor die oë van vlytige mense. Waarom? Omdat dit nie vleiend is vir sy verborge hoogmoed nie. Om sy hoogmoed te bevredig, wil hy wel graag dieselfde loon hê as vlytige mense, maar eers is hy te lui om te werk en vervolgens te hoogmoedig.

12. Die Heer sal egter nie so dom wees om traagheid en hoogmoed aan vlyt gelyk te stel en beide gelyk beloon nie.

13. Dat dit alles volkome waar is, sal Ek julle nog aan die hand van `n paar klein voorbeelde laat sien.

14. Laat ons byvoorbeeld twee studente neem: Die een is vanaf die begin vlytig en die ander lui. Die vlytige sal ten slotte die vrugte van sy ywer oes; maar welke voorwendsel sal die luie hê en met welke redenering sal hy sy luiheid wil goedpraat? Hy sal sê:

15. “Die vlytige was `n dom vent, want hy het nie ingesien dat hy maar net onsin in sy harsings prop nie; ek het egter die ontsettende domheid van die leerstof deursien en het dit vanaf die eerste oomblik onwaardig gevind om my hoogstaande brein met sulke onsin vol te stop. En omdat hulle niks anders aan te bied het nie, vind ek my aanvanklike kennis baie meer hoogstaande en beter as al die waardelose onsin wat ek sou moes gaan leer het!”

16. Kyk, hier kom die hoogmoed duidelik voort uit luiheid! Wie hulle daadwerklik daarvan wil oortuig, moet maar net vertroulik met dergelike individue praat; dan sal hy dit alles van a tot z bevestig sien.

17. Laat ons nou net twee musici neem. Die een het dit deur sy ywer tot groot kunsvaardigheid gebring, op praktiese sowel as op teoretiese gebied. Die ander egter, `n seun van die traagheid, bly as gevolg van die geringe moeite wat hy hom getroos het by die onderste sukkelaars se middelmaat vassteek. Vra mens hom waarom hy dit ook nie so ver gebring het soos sy medestudent nie, dan sal hy sê:

18. “Omdat ek nie, soos die straatarm drommel, daarop aangewese was nie, want ek is tog ryk. Waarom sou ek myself dan pla? Net sulke arme drommels hoef maar so ywerig te wees en waarom is dit eintlik so belangrik of jy die moeilike musiekstukke self kan speel of nie, as `n mens hulle maar begryp, wat heeltemal nie so moeilik is nie. Die arme drommels moet dit maar speel, want dan kan hulle ook bietjie brood daarmee verdien. Bowendien is die moeilike musiek geskryf deur arme drommels, en dit sou vir `n ryk mens `n skande wees om hom met sulke armsalige produkte besig te hou.

19. Kyk, dit is weer so `n, uit die lewe gegrypte voorbeeld, en jy kan weer daaruit aflei om welke redes My dissipels My verlaat het. Laat ons verder gaan!

20. So spreek iemand aan wie gevra word waarom hy hom nie meer besig hou met die suiwer Christelike grondslae van die godsdiens nie: “Ek begryp hierdie dinge nie en het my ook nooit daarin verdiep nie, omdat ek dit in die eerste plek as niksseggende kinderpraatjies beskou en in die tweede plek mens deur daardie religieuse gepieker ten slotte hoogstens `n dwaas sou kon word.”

21. Sien, by hierdie mens was eers luiheid en vervolgens is die daaruit voortkomende hoogmoed die redes dat hy netsoos die dissipels sê: “Wie kan so `n leer as waar aanneem en hulle daaraan hou? Daarom is dit beter om, netsoos hierdie dissipels, die Heer in die steek te laat.”

22. So sê `n arme rondloper as aan hom gevra word: “Waardeur het jy in sulke armoedige omstandighede geraak? Jy het tog nog meer as `n ander die geleentheid om baie te spaar.” En sy verweer lui: “Ek het daardie spaar te bedelagtig vir My fyngevoelige natuur gevind en nou is dit `n eer vir my, dat ek in behoeftige omstandig­hede verkeer.”

23. Kyk, ook dit is `n voorbeeld waarby `n mens eers lui is en hom nie sodanig kan verloën dat hy aan sy aard afbreuk doen om hom daardeur `n vermoë te verskaf nie; as dit ten slotte vir hom duidelik word dat hy niks besit nie, word hy hoogmoedig en tob bowendien nog oor sy armsalige toestand.

24. Ek glo dat ons voorbeeld genoeg het om duidelik daaraan te sien hoe Ek by baie geleenthede deur My dissipels verlaat word wanneer daar staan: “Van nou af word die koninkryk van die hemele met geweld ingeneem!”

25. So gaan ook baie wandelaars die berge in. Solank dit maklik gaan, loop elkeen flink saam; as die steil hellings van die hooggebergte egter kom, geld: “Van hier af kos dit inspanning en krag om bo te kom!”; dan keer hulle om en maar weinig slaag daarin om die top van die hooggebergte te bereik.

26. Dieselfde geld ook vir die volgende: Solank die mens My ryk by sy skryftafel soek, gaan alles goed; maar as gesê word: “Lees is nie voldoende nie, slegs dade word beloon. Want die vlees is van geen enkele nut nie. Die letter dood; slegs die gees maak lewend!”, word die Heer ook meestal deur Sy dissipels verlaat soos wat uit die teks blyk.

27. Neem hierdie toeligting ernstig ter harte, dan sal julle nie, soos die dissipels, julle Heer verlaat nie! Amen.


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205