“Maar u oë is salig, omdat hulle sien, en u ore, omdat hulle hoor!” (Mattheüs 13:16)
24 Januarie 1844 se aand
21 “Maar u oë is salig, omdat hulle sien, en u ore, omdat hulle hoor!”
2. Wat dink julle wat hierdie teks wil sê? Julle sê dadelik: “Dit weet ons nie!”
3. Want as julle sou sê: “Ons weet dit!”, dan sou julle duidelik lieg. Want julle moet die teks eers goed in die letterlike betekenis bekyk. As julle vind dat die teks volgens julle eie opvatting verstandig is, is julle nog ver verwyder van die waarheid en van die lig wat die teks bevat. As julle egter dink dat hierdie teks volgens julle gesonde verstand onsin is, is julle baie nader aan die waarheid en die lig daarvan.
4. Menige grapmaker sou ongetwyfeld sê: “Daarmee is ek dit eens; en wie die hele Bybel onsin vind, is reeds die lig en die waarheid self.” Maar as `n dusdanige wêreldse grap bedoel Ek dit nie wanneer Ek sê: “As julle nader aan sy lig wil kom, moet julle hierdie teks eers met julle wêreldse verstand as onsin beskou.”
5. Waarom sê Ek dit? Omdat hierdie teks `n suiwer hemelse betekenis het, wat lynreg teen elke wêreldse verstand ingaan.
6. In welke opsig is hierdie teks volgens wêreldse verstand onsin? - Luister, Ek sal dit vir julle verklaar.
7. Julle weet dat slegs die hart, of die liefde in julle, tot `n gevoel van verrukking of saligheid in staat is, omdat slegs die liefde, of die gees in die mens, die lewe is en daardeur alleen maar tot `n dergelike gevoel in staat is. Derhalwe is die oog en die oor dan ook nie tot saligheid in staat nie; want die oog en die oor is slegs sintuie wat slegs daarvoor dien om die gees sy lewebringende werk te laat verrig, en nóg die oog, nóg die oor kan op sigself ooit tot saligheid in staat wees; maar die gees kan dit wel via die oog en die oor, netsoos deur die ander sintuie, doen.
8. As die teks sê: “Salig die oë wat dit sien en salig die ore wat dit hoor”, dan is daarmee volgens wêreldse begrippe kennelik iets onsinnig gesê. Nou sal ons net sien of dit ook inderdaad die geval is.
9. Die gewone, ietwat beter Christene op aarde lê dit so uit, asof slegs die oë en ore salig sou wees wat My tydens My aardse lewe gesien en gehoor het, en mens sê dan dat dit eintlik `n fraai sinspeling is waarby mens die simbool die plek van die werklikheid laat inneem, `n deel in plaas van die geheel, of, soos redenaars wat geleer het om dit so uit te druk: “signum pro re; pars pro toto”. In die grond van die saak beteken dit egter soveel as: Salig is die mense wie My self gesien en gehoor het!
10. Is dit die korrekte verklaring, nota bene, uit die mond van beter Christene? Sekerlik; maar Ek moet wel dadelik daarby sê dat nóg Ek, nóg die evangelis van ons teks ooit retoriek gestudeer het, en ons nooit besig gehou het met sinekdogee (noem van `n deel in plaas van die geheel) en ook nie met sillogismes (redenering met eindgevolgtrekking) nie.
11. Ons stylfiguur heet maar net: Innerlike goddelike geestelike waarheid. En volgens hierdie stylfiguur, wat in My retoriek voorkom, is bostaande teks nóg `n sinekdogee nóg `n sillogisme; dit is ook geen parafrase en ook geen pro- of epiloog nie, maar, soos gesê, die suiwer allerinnerlikste goddelike-geestelike waarheid!
12. En dit bestaan hieruit: Alle mense op aarde is gewoonlik baie bang vir die dood van die liggaam, omdat hulle wêrelds gerig is, en daarom niks kan waarneem van dit wat van die gees is nie, en hulle is ook nie in staat om dit alles in hulle op te neem wat `n lewegewende leer vir hulle gees sou wees nie.
13. In hierdie teks skuil egter `n hemelse lofsang vir diegene wie, deur waaragtig in liefde te lewe, dit sover gebring het dat die wêreldse nag soos `n swaar deken van hulle oë val, en dat hulle oor vir die gees geopen word om My Vaderstem te hoor. Hierdie teks beteken: “Gelukkig is die wedergeborenes!” Hierdie sin het in die geheel geen betrekking op die mense wat My land- en tydgenote was nie, maar op alle mense wat ooit op aarde geleef het, of nog sal lewe, asook op die bewoners van alle ander wêrelde.
14. Want alles moet geestelik hernu word, voordat dit in die geestelike en dus ewige lewende, waarlik saligmakende, sal binnegaan. Daarom word hier onder “oë” die herken van die goddelike ware en onder “ore” die in hulle opneem daarvan en die daarvolgens handel verstaan en beteken eintlik: “Salig is die mens in sy geestelike begrip” as hy die goddelike ware geheel herken; en werklik salig is hy, as hy die goddelike ware in sy lewe opneem en uitsluitlik daarvolgens handel. Want eers daardeur sal die wedergeboorte van die gees hom ten deel val, sodat hy ewig geen dood meer sal sien, voel of smaak nie.
15. Dit dus is die werklike betekenis van hierdie teks! Maar dit sou verkeerd wees om die teks toe te pas op diegene wat met hulle oë talle boeke deurblaai en lees om op hierdie manier die lig te soek of op mense wat, as hulle nie kan lees nie, maar baie preke, Christelike lerings en biegverhale aanhoor, want hulle verlaat die kerk net soos hulle daarin gekom het.
16. Baie weet op die drumpel van die kerk al geen woord meer van wat daar gepreek was nie en by baie preke is die ore van die toehoorders ver van salig, veral as `n, nie met soveel broederliefde geseënde predikant, sy toehoorders die hel so hittig moontlik en die weg na die hemel as buitengewoon smal, steil en doringagtig afskilder, sodat sy toehoorders ten slotte die byna moeilike keuse het welke weg hulle sal inslaan en dan dink: “Die hel is weliswaar hittig, maar die weg daarheen is baie maklik begaanbaar. Die hemel bied wel die hoogste saligheid, maar wie kan hom eintlik bereik as daar slegs `n nouliks begaanbare weg daarheen lei?”
17. Sulke ore sal wel nie die saligste wees nie, ewe min as die oë van die geleerdes, wat weliswaar baie sien, maar dit alles wat hulle die beste sou wou sien, nooit te siene kan kry nie. Daarom is slegs hulle salig wie volhardend na die wedergeboorte van die gees streef en dan ook altyd maar naderby kom.
18. Niemand word egter skielik wedergebore nie, maar slegs geleidelik, stap vir stap; maar ook by niemand begin die proses van die wedergeboorte, voordat hy begin het om die goddelike waarheid te herken, en niemand kan vooraf geheel wedergebore word en tot `n volkome innerlike aanskouing en innerlike hoor van die lewende woord raak, voordat hy nie die wêreld, wat tog eintlik die sonde is, vrywillig uit hom geban het nie. Dan eers kry die aangehaalde teks, in suiwer hemelse lig, sy troosryke toepassing en dan eers is ook die oë wat dit sien en die ore wat dit hoor, salig.
19. Ek glo dat ook hierdie teks weer duidelik genoeg uitgelê is. Probeer dit dan ook innerlik te verwesenlik! Amen.