Boek 43 - God en die Kerke – Deel 2
BERTHA DUDDE

Hoofstuk 21

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25.

GEMEENSKAP VAN DIE HEILIGES – VOORSPRAAK
B.D.4328 - 10 Junie 1948
U mense het buitengewoon baie hulp nodig van die kant van die geestelike wêreld, as u die laaste stryd op aarde wil deurstaan. Maar hierdie hulp staan altyd in oorvloed tot u beskikking as u maar net daarom wil vra. Daarom sal aan u uitgelê word op watter wyse daar aan u hulp gegee kan word, en hoe u daarvoor kan bid.
Daar is wat u mense noem die “gemeenskap van die heiliges” wat u helpend tersyde staan. Maar die begrip “heilige” moet eers uitgelê word, as u in die waarheid onderrig en vry van verkeerde denkbeelde wil wees. Die ligwesens is die getrouste leiers en helpers van die mens, hulle is altyd bereid wanneer hulle maar geroep word. Maar hoe hulle aan die mens toegewys is, dit bepaal slegs God in Sy Wysheid. Net soos Hy ook die geestelike wesens volgens die graad van hulle volmaaktheid met lig en krag vervul. Mense kan die mate van rypheid van `n medemens egter nie beoordeel nie, om watter rede hulle daarom ook nie die reg het, óf nog die bekwaamheid besit – om hom tot heilige te verhef nie, want alleen God weet hoe die aard van die siel van iemand is as hy deur die liggaamlike dood vry geword het, en die geestelike Ryk ingaan. God alleen weet in watter verhouding die mens op aarde tot Hom gestaan het, en in hoeverre hy in die liefde werksaam was. Want die werke in liefde is deurslaggewend, en dit kan reeds op aarde aan hom lig en krag in alle volheid oplewer, sodat hy al besonderse werk kon verrig het, as hy wou. Maar God behou Hom die reg voor om vir sulke ryp siele hulle werkkring in die hiernamaals toe te wys, wat ooreenkom met hulle graad van rypheid. Hy wys vir hulle hulle werksaamhede toe in die geestelike Ryk, soos Hy ook die aard van die hulp bepaal wat aan die mense op aarde verleen moet word.
Die ligwesens is vol van krag. Vir hulle is alles moontlik, omdat hulle met God en in Sy Wil werk en omdat hulle voortdurend met Sy krag deurstroom word. Elke ligwese bevind hom egter ook volkome in God se Wil, dit wil sê, hy kan self nie anders wil as wat God se Wil is nie, omdat hy al die verbinding met Hom tot stand gebring het en daarom volkome in Sy Wil opgaan.
Hulle besef egter ook - aangesien hulle met Wysheid vervul is - die dwaasheid van baie versoeke van die kant van die mense af en moet daarom die inwilliging van sulke bedes weier, omdat `n verhoring skadelik sou wees vir die siel van die vraende.
Vir die ligwesens is die hulp wat hulle aan die mense verleen, `n toestand van diepe vreugde, om watter rede dit ook deur God toegestaan is dat die mense die ligwesens om bystand aanroep. Dit is egter nooit Sy Wil om bepaalde “heiliges” aan te roep nie, omdat hulle werksaamheid en bestemming in geheel anders kan wees as wat verwag word. En vanuit hierdie onwetendheid kan die mense ook wel `n wese aanroep wat nog ver weg is van die volmaaktheid, aan wie hulle hulleself nou egter deur die aanroeping uitlewer en kan nou ook erg ongunstig deur hulle beïnvloed word. Want die geroepene verskyn en dring hom dadelik in die nabyheid van die roepende en probeer om sy gedagtes op te dring, wat egter nie ooreenkomstig met die waarheid hoef te wees nie.
Bowendien is die “heiligverklaring” vanaf die kant van die mense in die eerste plek afhanklik van `n lewenswandel wat ooreenstem met `n “kerklike gemeenskap”. Daar word dus iets tot voorwaarde gemaak wat nooit deur God nie, maar slegs deur die kerk verlang word - en daaraan beantwoordend volg die heiligverklaring - wat egter nooit God se Wil kan wees nie. Dus hoef nie elkeen wat op so `n manier heilig verklaar is, `n ligwese te wees nie, terwyl daar andersyds baie ligwesens in die geestelike Ryk is wie se lewenswandel wel voldoen aan die Wil van God - maar nie aan die eise wat deur die kerklike gemeenskap gestel word nie.
In alle ligwesens is die krag uit God aanwesig, wat hulle graag wil gebruik, en daarom is hulle aan mense vir versorging toevertrou, wie se volmaaktheid hulle wil en ook kan bevorder, as die menslike wil nie daarteen gerig is nie. Die aanroeping van hierdie wesens – deur God aangestel as hulp vir die mense - sal nooit sonder sukses bly nie. Terwyl die aanroeping van bepaalde wesens ook net so goed skadelik kan wees, as daar hulp van hulle verwag word, wat hulle egter nie kan gee as hulle nog nie met God verbonde is nie.
Die gedagte dat `n voorspraak van die ligwesens verkry kan word, is egter ook onwaar, want die gebed is `n smeekbede tot God– waardeur die verbinding met Hom tot stand gebring word, en God verlang dat hierdie bede regstreeks tot Hom gerig word - omdat hierdie smeekbede blyke gee dat die wil van die mens op God gerig is.
Volgens menslike opvatting moet die ligwesens, wat hulle al ten sterkste met God verenig het, nou hierdie verbinding met Hom tot stand bring: In die geval sou die mens hulle nie self met God hoef te verbind nie, terwyl dit tog die doel en die betekenis van die aardse lewe is. Want eers deur die verbinding met God is die toevoer van krag moontlik, waarsonder `n uitryping van die siel nie kan plaasvind nie.
Die krag kan egter nie sonder God se Wil deur die ligwesens aan die mens deurgegee word nie, omdat daar ook in die geestelike Ryk wette bestaan waaraan sy bewoners hulle onderwerp in die besef, dat hulle deur die Liefde en Wysheid van God gegee word.
Die ligwesens is in elke geval tot hulp bereid, maar hulle voeg hulle egter volgens die Wil van God. Dus moet die mens hom eers oopstel vir God se Wil, om dan deur Hom voorsien te word, óf regstreeks óf deur die ligwesens, wat waarlik geen mens sonder hulp laat wanneer die Wil van God dit goedkeur nie.
Dus sal die aanroeping van die ligwesens om hulp, nooit tevergeefs wees nie. Maar die vra om `n voorspraak is nutteloos, omdat die kind in volle vertroue self na die Vader moet gaan, sodat die Liefde van die Vader Haarself heeltemal vir hom kan oopstel. Maar hierdie vertroulike verhouding word nooit tot stand gebring as die mens glo dat die doel eweneens deur voorbedes bereik kan word nie. God is `n God van liefde en Hy wil nie dat die mense in vrees na Hom toe kom nie. Hy wil die Vader van Sy kinders wees, maar nie `n streng Regter en Maghebber nie. Daarom probeer mense om Hom deur voorspraak, goedgunstiglik vir hulleself te wen, maar `n Vader gaan mense vertroulik tegemoet. En hierdie vertroulikheid verlang God van Sy skepsels, omdat Hy hulle oneindig liefhet en Hy ook daarom elke bede van hulle sal vervul.
AMEN

 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205