Boek 23 - Die Geregtigheid en Barmhartigheid van God
BERTHA DUDDE

Hoofstuk 15

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20.

SONDE IS `N VERGRYPING TEEN DIE LIEFDE
B.D. 6071 - 6 Oktober 1954
In `n wêreld van liefdeloosheid moet die sonde ook al meer toeneem, want sonde is alles wat in stryd handel met die liefde. Sonde is alles wat teen die goddelike ordening, wat gebaseer is op die liefde, ingaan. Hoe minder die mens nou in liefde lewe, des te duideliker tree hulle uit die goddelike ordening - hulle sondig en gee hulle in die hande oor van hom wat die sonde in die wêreld gebring het. Sonde is elke onreg wat sy oorsprong het in liefdeloosheid.
Elke sondaar staan op teen God, teen die ewige Liefde, want hy doen bewustelik iets waardeur hy hom verset teen God, en sy eieliefde (egoïsme) verlei hom daartoe. Hy hou meer van homself as van God - hy het ook wel `n liefde in hom, maar dit is verkeerd gerig, hy het dit van die teenstander van God oorgeneem, wat eweneens gesondig het teen God, omdat hy homself bo God wou stel en daarom geval het.
`n Mens wat in liefde leef, kan nie sondig nie. Hy kan wel val, dus in swakheid vir die versoekings van die teenstander swig; maar die liefde sal hom steeds weer laat opstaan, hy sal sy onreg wil goedmaak, hy sal sy misstap insien en daaroor berou hê, en hy sal vergifnis kry, omdat sy wese hom verset teen die sonde, teen `n bewustelike oortreding van die liefde. `n Sondaar is sonder liefde en hy sal eers dan sy sondes besef en daaroor berou hê, wanneer die liefde in hom ontsteek is. Dan eers wend hy hom af van die sonde, dan eers tree hy binne die wet van die ewige ordening.
Solank die mense deur liefdeloosheid beheer word, sal die onreg homself uitbrei, die mens sal sy eie voordeel soek ten koste van die medemens, die sterkere sal die swakkere in die noute dryf en uitbuit, die eiendom sal nie eerbiedig word nie; daar sal geen broederlikheid meer onder die mense bestaan nie, veeleer sal die een die ander as vyand beskou en openlik of in die geheim teen hom optree.
Die mense is knegte van die Satan, maar geen kinders van God meer nie, wat hulle is en moet word. En daarom neem die sonde hand oor hand toe, hoe nader dit na die einde kom, omdat die liefde afneem onder die mense en daarom trek hulle die sonde self op die dag van die oordeel na hulle toe. Want as alles uit die ordening getree het, moet daar ook ooreenkomstig die wet `n einde kom, sodat die ordening weer herstel kan word volgens die goddelike plan, sodat die liefde en die regverdigheid weer sal heers op die aarde.
Amen

 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205