Boek 1 - Wêreldgebeure
BERTHA DUDDE

Hoofstuk 9

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18.

GELOOFSTRYD - ANTICHRIS
8 Februarie 1957
Hoe nader die einde sal kom, des te heftiger sal die stryd tussen lig en duisternis ook ontbrand. Alle verskrikkinge van hierdie tyd sal u egter eers dan belewe, as die stryd homself rig teen My getroues. As die geloof in My as Jesus die Gesalfde(Christus) verdring word en die verlossingswerk die aanvalsdoelwit van My teenstander word. As `n openlike bekentenis van die mense van hulle geloof geëis sal word en `n afswering van hulle geloof met die brutaalste middele afgedwing sal word.
Eers dan breek die tyd van nood en ellende aan, die tyd wat EK aan MYNE beloof het om te verkort. Dan word die woede van My teenstander onmiskenbaar, want dan ken die mense geen remming meer nie. Hulle deins vir niks meer terug nie, want hulle word gedryf deur Satan aan wie se wil hulle heeltemal onderwerp sal wees.
Laat dit aan u gesê word dat daar nie meer veel tyd oor is voordat hierdie geloofstryd sal kom nie, wat egter voor die groot nood oor hierdie aarde sal kom oor die wat `n ander uitgangspunt sal hê. Dit sal wel die mense tref deur My wil, maar sal vir u `n middel wees om u geloof te versterk en te bewys. Tog sal baie mense hierdie nood, wat as `n natuurkatastrofe van die grootste omvang die mense sal tref, `n aanleiding wees om teen die geloof in te gaan. Want nou sal hulle verseker twyfel aan `n GOD en Skepper, wat Self verwoes wat HY geskape het.
Wie egter in die waarheid onderrig is, sal `n korrekte verklaring vir dit alles hê. En as hy hierdie waarheid oorgedra het aan sy medemense, dan sal ook vir hulle in die daaropvolgende geloofstryd eerder `n sterk geloof tevoorskyn kom wat sal standhou in die verdrukking wat die gelowiges aangedoen sal word. Dat die merendeel van die mense egter geen lewende geloof meer sal hê nie, sal die werk wees van My teenstander, wat nie sal ophou om teen My en die waarheid in te gaan nie. Hy sal meer sukses hê met die mense as die verteenwoordigers van die suiwere waarheid, die ware verkondigers van die leer van die Gesalfde(Christus). Hulle sal nog maar selde geglo word, terwyl die teenstander die mense sal kan voorspel wat hy wil en hulle sal dit aanvaar. Daarom moet daar al vooraf duidelikheid kom en elkeen moet homself openlik en vry uitspreek vir, - of teen My.
Maar elke mens moet hierdie beslissing self neem in die komende tyd van nood wat deur My wil oor die aarde sal kom. Want as EK spreek deur die kragte van die natuur, sal elke mens voor die beslissing kom om My aan te roep om hulp, of om homself geheel van My af te wend, d.w.s. homself na My teenstander te keer. Dan moet die beslissing egter nog eenmaal openlik geneem word, as in die geloofstryd van u, die mense gevra sal word om getuienis af te lê vir My in Jesus die Gesalfde(Christus) of om My te verloën. Dan weet u egter, wanneer u self deur My volgens waarheid onderrig sal word, dat die einde gekom het. Dan weet u ook dat EK die dae sal verkort terwille van hulle wat aan My toebehoort, dat EK self sal kom om hulle by te staan en hulle te verlos uit alle nood. Dat EK hulle sal wegneem van hierdie aarde af na `n oord van vrede voordat EK dan die werk van vernietiging sal begin, want dit sal die einde beteken van alles wat op hierdie aarde geskape was.
As u tog maar wou glo wat EK steeds weer vir u voorspel. Die toestand op aarde moes al aan u bewys het dat My teenstander in raserny woed omdat hy weet dat daar vir hom nie veel tyd meer oorbly nie. En dat die aarde met sy gelykes bevolk is, moet vir u almal goed sigbaar wees en u tot nadenke stem. Iedere dag is nog `n barmhartigheid vir u mense, want ook vir die diepste gesonke mens bestaan die moontlikheid nog om homself te verander en om voor die einde nog die geloof in My te verwerf. EK sal nog alles probeer om siele van My teenstander te ontruk voor die einde, en wie in My glo sal salig word. Maar die ongelowiges moet die lot deel van hulle wat hom vrywillig nagevolg het.
Maar u, My “kinders” vrees nie, want dit sal u in die komende tyd van nood aan niks ontbreek nie, selfs as dit wat u vir die aardse lewe nodig het van u weggeneem sal word. Sodra u glo dat EK u self sal bewaar omdat u terwille van My Naam vervolg word, hoef u die maatreëls van u teenstanders nie te vrees nie. Wat hy van u sal wegneem, sal u weer deur My terug ontvang, al is dit in `n ander vorm. U sal geen gebrek ly nie, omdat EK self u honger sal stil. Want, kyk na die voëls van die Hemel, hulle saai nie, hulle oes nie en versamel nie in skure nie en tog voed U Hemelse Vader hulle.
Dink steeds aan hierdie woorde, dink daaraan dat HY, wat alles geskape het, waarlik ook kan onderhou wat HY geskape het en dit sekerlik ook sal doen as SYNE in nood sal verkeer. Maar daar sal `n tyd kom waarin mense u deur brutale middele sal dwing om van die geloof af te val, en wie `n swak geloof het, sal geen stand kan hou teen hierdie sware geloofsbeproewinge wat u opgelê sal word nie. Maar juis vir hierdie tyd wil EK u voorberei, sodat u dan `n helder voorbeeld kan wees vir u medemense en aan hulle sal kan bewys waartoe `n sterk geloof in staat is. Dat u selfs sal kan lewe ofskoon die nodige vir u lewe van u onthou word. Soek daarom in die eerste plek die ryk van GOD en Sy geregtigheid, en al die andere sal u toegevoeg word. Hierdie belofte sal vervul word aan die van MYNE wat van My en My Naam getuig in die wêreld, wat geen aardse geweld vrees nie, omdat hy homself onder My beskerming geplaas het. Eers dan sal dit blyk wie `n lewende geloof sal hê, en van hulle sal daar maar weinig wees.
Dan sal die geboue ook ineenstort wat op sand gebou is. (verstandelike geloofsleringe = opm. v.d.uitg.) - Wie nie staan op die ware rots van die geloof waarop EK My “kerk” gebou het nie. (kir-ka d.w.s. die geesteskrag van die hart = opm.v.d.uitg) Dit sal `n sware tyd wees wat geen mens sou kon deurstaan as EK nie reeds vooraf die Waarheid na die aarde gestuur het nie. Die Waarheid verklaar alles en kan dan ook slegs `n sterk geloof rypmaak. Die dwaling kan geen mens die krag gee om stand te hou nie, slegs waar die liefde is, is daar ook die krag van die geloof te vinde.
`n Buitengewone mens sal My teenstander sy liggaam aanbied, en die mens sal die laaste stryd op hierdie aarde ontketen. Slaan ag op hierdie gebeure en u sal weet dat die uur van die einde naby is. Maar slaan ook ag op My afgesante van Bo wat terselfdertyd sal optree, hulle sal u mense voorgaan met `n lig wat u sal moet volg. Slaan ag op hulle wat My suiwer woord verkondig en sluit uself by hulle aan sodat die kleine kudde kan saamkom, sodat sy die lig kan ontvang en haar geloof kan groei, want aan die “skape van hierdie klein kudde" beloof EK My beskerming, My vaderlike sorg en My seën. Sy hoef ook nie te vrees om `n offer te word van die brutale geweld nie, want EK sal Self kom en haar wegneem sodra die maat van My teenstander vol is - van die ergste gevaar wat MYNE sal bedreig. Daarom sal EK die dae verkort, sodat MYNE kan standhou en nie verswak in die aangesig van die vervolgingsmaatreëls nie.
Omdat EK egter nog `n laaste reddingsmoontlikheid sien vir enkele siele, hou EK My hande beskermend oor hulle, wat My verteenwoordig in die wêreld. Aan hulle sterk geloof kan enkele hulleself nog oprig en `n Mag erken wat sterker is as alle wêreldse mag. Daarom sal EK vir MYNE op `n besondere wyse sorg, en hulle sal liggaamlik en geestelik stand kan hou ondanks die vyandige maatreëls.
Dit alles sal homself in `n kort tyd afspeel, en wat u nou nog nie vermoed nie, sal dan gebeur. EK maak u nou al daarop opmerksaam, en die wat deur My onderwys sal word, sal ook weet waarom dit alles geskied. Vir u is die geestelike nood op aarde heel duidelik te sien en u kan aan die tekens van die tyd ook die uur op die "Wêreldklok” herken. Wanneer die geloofstryd egter sal ontbrand, hoef u nog slegs met `n baie kort tyd te reken, want alles sal homself met besondere snelheid afspeel.
Die mens wat My teenstander sal kies as `n sigbare vorm sal nie lank bestaan nie, want sy heerskappy sal nie van lange duur op die aarde wees nie. Hy sal herken kan word aan sy bonatuurlike gawes, want hy word buitengewoon deur My teenstander bedeel en daarom werk hy vir hom en sy planne. Maar ofskoon die hele wêreld hom sal huldig, sal u hom tog herken en deursien. Maar u moet dan `n groot versigtigheid in ag neem en u nie deur `n te groot ywer moedswillig in gevaar bring nie. Dan moet u "listig soos die slange en sagmoedig soos die duiwe" wees, maar as die beslissing van u verlang word, moet u standhou en vas op My en My hulp vertrou. Want hoe sterk die mense ookal mag wees, teen My mag kan hulle nie gaan nie en `n sug van My is genoeg om hulle te vernietig. Derhalwe sal EK ook halt gebied wanneer die uur gekom het, EK sal hulle na My toe bring wie hulleself in groot aardse verdrukking bevind en die verdrukkers self ketting. Dan is hierdie fase afgeloop en `n verlossingsperiode loop ten einde, en dan begin `n nuwe tydperk sodat die verlossing van al die geestelike kan voortgaan.

 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205