Gawes uit die Hemel (Uittreksels)
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 24

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26.

Oorveeg en mantel
{mt.05,39} (GH3,347 - 21/3/1864 van 10:30 die oggend tot 1:00 die middag)
01] Wat die 5de hoofstuk en die 39ste vers (Matth.) betref, waarin gesê word, "dat hulle nie aan die euwel moet toegee nie, maar indien iemand iemand anders `n oorveeg gee, dan moet hy dit nie vergeld met `n teen-oorveeg nie" ens., vers 40, "indien iemand met jou wil stry oor jou kleed, gee hom dan eerder nog die mantel daarby", moet die volgende in aanmerking geneem word:
02] Indien iemand net `n bietjie helder kan dink, dan sal hy dit met die eerste oogopslag insien, dat dit wat Ek gesê het, nie eens van ver af in die materiële konteks `n aanwending moet vind en nie kan vind nie; want Ek het dit per geleentheid gesê, toe mense vir My gevra het of Moses se verordeninge deur My suiwer liefdespreek opgehef sou word. Maar Ek het gesê: "Ek hef nie `n enkele woord van die wet van Moses op nie, en vervul dit in soverre as wat dit die liefde inhou."
03] Dit is wel waar dat Moses vir die voorvaders gesê het: `n Oog vir `n oog, `n tand vir `n tand! En wie iemand doodslaan, moet ook weer deur die dood gestraf word; maar onder julle, My dissipels, moet dit anders wees." En juis daar het Ek die voorbeeld van die oorveeg en van die twis oor die regmatige besit van die kleed gegee, wat natuurlik nie heeltemal korrek neergeskryf is nie en daarby kom die onakkurate vertalings van die Hebreeuse taal na die Griekse taal ook nog by, van daar na die Romeinse taal, en lank daarna eers van die drie eersgenoemde tale na Duits, wat in die tyd van die vertaling nog baie woordarm was en vir sommige uitdrukkings in hierdie drie tale, nie een woord gehad het om dit reg weer te gee nie.
04] En die verse moet meer presies as volg lees: "Wanneer jy met `n broer of buurman oor `n klein saak in `n twis beland en hy vasberade teen jou optree, dan moet jy nie nog heftiger reageer nie, sodat die ou vriendskap tussen julle weer lewendig kan word!" {vgl. HaG1.174,14; Mt.05,39}
05] Daarin is daar dus geen sprake van `n oorveeg nie. Juis daardeur sou Ek vir die sterker een die reg bevestig om sy swakker broer of buurman, so dikwels as wat dit hom pas, nie net met een nie, maar ook met twee oorveë by te kom.
06] En dieselfde geld ook vir die saak aangaande die stryery oor die kleed. Maar om hierdie stryery oor `n kleed beter te verstaan, moet `n mens, betreffende die Judese huistradisies en gebruike, `n minstens halfpad voldoende kennis besit. {Mt.05,40} 
07] Dit was van ouds af `n gewoonte en gebruiksvorm onder hulle, indien iemand per geleentheid, wanneer hy gewoonlik geen geld gehad het en geen verkoopbare huisdiere nie, maar ten spyte daarvan nog steeds `n kleed of `n mantel of altwee kledingstukke terselfdertyd benodig het, dan het hy na die een of ander kleremaker van sy gemeente van die dorp gegaan, sy probleem aan hom gestel en het dan die betalingsdatum bepaal. Maar nou het dit dikwels gebeur, dat sommige nie by sy betaaldatum kon hou nie of dan ook nie wou nie, en die kleed- en mantelvervaardiger was dan verplig om vir nog `n volgende tweede, ja selfs tot `n derde en laaste datum - maar teen `n klein rente - te wag, totdat die derde en laaste datum uiteindelik verbygegaan het. Na die derde termyn het die kleed- en mantelmaker die reg gehad om die ooreengekome bedrag van hom te verlang, vir wie hy die mantel en kleed gemaak het, en daar het dit voor die regter nie selde `n baie warm debat afgegee. Die kleedmaker wou sy ooreengekome geld kry, terwyl die eienaar van die kleed en die mantel allerlei redes aangevoer het hoekom hy ook nie na afloop van die derde termyn sy skuldeiser kon bevredig nie. In so `n geval het daar `n wet by die Jode bestaan, dat in die geval waar iemand werklik nie kon betaal nie, die gemeente verplig was om die kleremaker te vergoed om hom daardeur in bedryf te hou. Die gemeente het dan die reg gehad om mettertyd by die gemeentelid, wat in gebreke gebly het om te betaal, te eis, indien hulle sou agterkom dat hy wel in staat was om te betaal. Maar onder tien sulke skuldenaars was daar skaars een wat gewillig was om te betaal en het die ander dit verstaan om allerhande redes aan die gemeente voor te lê vir hulle permanente onvermoë om te betaal. Daardeur het dit dikwels tot `n jarelange stryery in so `n gemeente gelei, en Ek was op `n keer daaroor gevra, wat daar na regte gedoen moet word, om so `n euwel teë te werk. En juis daar het Ek gesê: Die beste en mees doeltreffende middel bestaan daarin: Om eerstens volgens die wet van Moses volkome redelik en eerlik te wees, waarvolgens iemand nie iets moet begeer of verlang wat aan sy naaste behoort nie. Maar aangesien dit oor `n twis van `n kleed gaan, dan moet die volgende vir die skuldenaar en skuldeiser geld: Ten minste een- tot twee maal eerder die kleed en ten slotte ook nog die mantel ter syde te stel, as om die hele gemeente in baie onnodige stryery en twissake te verlei. 
08] Nou, hy wat dit weet, sal My onmoontlik van ongeregtigheid kan beskuldig dat Ek sulke raad uitgedeel het, sodat vrede en enigheid in die vervolg onder hulle sou heers.  
09] Maar die Evangelis wou dit, aangesien die skrywery vir hom `n bietjie lastig geword het, met so min as moontlik woorde weergee, om tyd en moeite te spaar; want die skrywery het in daardie tyd nie so vinnig verloop nie, maar baie moeisaam en stadig. Vir `n bladsy, wat vandag deur enige effens geoefende skrywer binne `n tyd van twintig tot dertig minute neergeskryf kan word, het l'Rabbas uit Sidon, of Lukas in Jerusalem of Theophilus in Atene, Korinth of Syrakus, waar hy dikwels woonagtig was, met alle fluksheid ongeveer agt dae geneem; ‘of hy moes sy letters met `n staalgriffel in spesifiek daarvoor voorbereide klipplate inkerf, of hy moes hulle met `n fyn kunstenaarskwas op perkament feitlik inteken. Vir die geoefende tekenaar of skrywer met `n kwas het die teken van die letters natuurlik aansienlik vinniger verloop, maar ook nie baie vinniger as die ou griffel nie. En dit was dan ook die rede waarom die skrywers in My tyd net die nodigste neergeskryf het, en l'Rabbas, tot hy sy laaste, d.i. is die vyftiende Evangelie op perkament voor hom gehad het, het vir sodanige werk naby aan vyf-en-twintig jaar benodig, ten spyte daarvan dat hy baie fluks en ywerig was. Dat dan sulke skrywers net die nodigste geskryf het, net die belangrikste woorde so te sê aangeraak het en die bykomstige sake ter verduideliking van die hoofbegrippe uitgelaat het, sal vir julle nou verstaanbaar wees.  
10] Maar, sal iemand maklik vra: "Moses en ook ander profete uit die voortyd het tog ook uitgebreide boeke geskryf; hoe lank het Moses dan geneem om net die bekende vyf boeke te skryf, met die weglating van die sesde en sewende boek, tesame met `n beduidende profetiese aanhangsel?"
11] Daarop sê Ek vir julle, dat volgens sy destydse skrif, alle boeke van hom geskrewe in terme van alle volumes nie langer was as een Evangelie van Johannes nie. Moses het nog in die aan hom goed bekende Egiptiese hiëroglieweskrif geskryf. Eers in die tyd van die Rigters, wat nog goed met daardie skrif bekend was, sowel as met die ooreenkomstige betekenis daarvan, is die boeke van Moses met ou Hebreeuse letters op perkament gebring, wat mense in die ou stad Pergamus goed verstaan het om te vervaardig. Maar selfs daardie skrif was vir die meeste Jode wat in My tyd geleef het, nie verstaanbaar nie, omdat die vokale tussen die konsonante nie voorgekom het nie. Hulle was genoodsaak, om `n nuwe afskrif te maak, waaraan die sogenaamde ou skrifgeleerdes meer as tweehonderd jaar deelgeneem het, en die naam skrifgeleerde het ook daarvan sy oorsprong, nie dat hulle die regte betekenis van die skrif sou verstaan nie, waarin die meeste skrifgeleerdes tesame met die fariseërs suiwer skaapkoppe was, maar omdat hulle die ou vokaallose skrif uit die tyd van die Rigters kon lees. Daarom moet julle julle nie verwonder dat daar tussen My en sulke skrifgeleerdes dikwels `n woordgeveg ontstaan het, waaraan hulle op grond van hulle bewese blindheid, geen plesier gehad het nie. Hiermee sal die twee twyfelagtige skrifgedeeltes duidelikheid kry.

 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205