Gawes uit die Hemel (Uittreksels)
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 11

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26.

Die Evangelis Lukas
(GH3,376 - 7/4/1864)
01] Ek ken jou volgende vier punte waaroor jy meer wil weet, en dus sal Ek ook baie kortliks iets daaroor sê.
02] Wat die Evangelis Lukas betref, het Ek by verskeie geleenthede al dit en dat gesê.
03] Wat sy Evangelie betref, is dit `n versameling van dade van hom, wat deur sy navorsing in en om Jerusalem oor My en My dade en leerstellings deur verskillende mense aan hom oorgedra is. Hyself het dit daarna volgens sy manier georden en in hoofstukke en verse ingeklee, waarby hy hom natuurlik nie aan die getal hoofstukke en verse van `n ander evangelis kon bind nie; daarom dat sommiges by hom in `n heel ander hoofstuk en vers voorkom, as by `n ander evangelis, wat elkeen van julle maklik kan insien deur die aangewese parallelle plekke met mekaar te vergelyk. {lk.01,01-03; lk.01,03} 
04] Wat sy persoonlikheid betref, was hy `n grafiese kunstenaar en tekenaar (ontwerper), met welke produkte van sy hande hy die wewers, doek- en tapytmakers kon voorsien; ook die tekeninge van die Joodse serpe en gordyne was dikwels van sy hand afkomstig. Daarbenewens was hy ook `n skriftekenaar en ook skrywer (kalligraaf), spesifiek indien iemand iets volkome mooi en gelykmatig geskryf wou hê, het Grieks, Latyns en Hebreeus verstaan en gepraat en kon in nood ook in ander tale kommunikeer wat algemeen rondom Judea voorgekom het.
06] Boonop was hy, soos wat daar baie mense is en was, `n y werige nuusversamelaar en het dus alles besonders uitgevind wat in My tyd gebeur het en waarvan baie onder die mense gepraat en ophef gemaak is. Hy het sy vreugde daaraan beleef wanneer hy aan die baie nuuskierige mense, waarmee hy verkeer het, buitengewone nuus kon vertel, waarby hy deurgaans nie `n eklektikus was nie, maar vir hom was die naaste en beste reg, indien dit net die skyn van iets buitengewoon gehad het.
07] Aan die begin het by sy verhale ook baie dinge, veral waar werklike feite ontbreek het, op sy eie grond en bodem laat groei.  
08] Eers gedurende die tyd toe die Apostel Paulus My woord hier en daar in Griekeland gepreek het, is hy deur sy vriend Theohpilus, wat ook in Griekeland gewoon het, ernstig opdrag gegee, om betroubare inligting oor My bymekaar te maak, dit dan op te teken en vir hom te stuur. Hy, Theophilus, het oor die sekere Nasarener, van die kant van die Jode sowel van die Grieke, uiteenlopende dinge gehoor, waaroor hy nie duidelikheid kon kry nie, oor wat nou werklik besonder was aan hierdie mens. Die vraag was of hy `n boaardse wese of net `n ervare mens was wat veelvoudige wysheid uit boeke opgedoen het. {lk.01,03; han.01,01}
09] Toe Lukas hierdie brief in Jerusalem in sy hande gehou het, het hy die saak meer ernstiger opgeneem en het hy navraag gedoen oor alles, wat veral my persoon en My boodskap betref, maar het ook, wat hy opgeskryf het, nie maklik uit die mond van My werklike dissipels verneem nie, maar meestal van ander mense wat van My en My boodskap gehou het, wat My nog deels persoonlik geken het, maar wat grotendeels van My dissipels inligting oor My ontvang het. Want tussen My bestaan as mens op hierdie aarde en die voltooiing van die Lukas Evangelie het vyf-en-dertig jaar verloop (dus anno 68), na watter tyd hy dit eers vir sy vriend Theophilus in Griekeland kon stuur; watter Evangelie hierdie Theophilus dan met sy eie aantekeninge vergelyk het. {lk.01,03}
10] "Maar hoe dit met sy Evangelie gesteld was, was dit nog meer so met sy apostelgeskiedenis, wat hy ook op aandrang van sy vriend Theophilus op perkament gebring het, en dit eers aan die einde van sy leeftyd, dus gedurende `n tyd waar daar nie meer een enkele oorspronklike apostel of dissipel van My in Jerusalem teenwoordig was nie. {han.01,01-02}
11] Ook die apostelgeskiedenis het in die hande van sy vriend sommige veranderinge ondergaan, en selfs die data van hom wat in die Judea bymekaargemaak was, was dikwels versinsels van sulke dissipels en verspreiders van My woord, wat dikwels sonder innerlike beroep hulleself as sulke mense voorgestel het, en elkeen van hulle het alles beter geweet.
12] So het dit dan ook gebeur, dat daar in die Evangelie van Lukas, en nog meer in sy daaropvolgende apostelgeskiedenis, versinsels en oordrywings voorgekom het, waarvan My werklike apostels en dissipels min of niks geweet het nie; want hulle was nie baie in Jerusalem tuis nie en was meer in Galilea, Samaria en in die ander verder afgeleë streke van Jerusalem werksaam.
13] Indien julle dit nou weet, dan sal julle ook insien dat die bepaalde aardbewing en die duisternis tydens My dood aan die kruis, die oopgaande grafte in die vallei Josefat, My Hemelvaart op twee teenstrydige berge, so ook die bepaalde stuur van die heilige gees, grotendeels die resultaat van die fantasie van My verskillende destydse luisteraars en aanhangers was en selfs moet wees, aangesien die mees betroubare van alle Evangeliste (Johannes), wat nog by elke belangrike geleentheid teenwoordig was, geen melding daarvan gemaak het nie. Ook sê Lukas nie of hy self by die uitstorting van die Heilige Gees teenwoordig was of nie! {mt.27,52; mt.27,45; mk.15,33; lk.23,44-45; mt.27,52-53; mt.28,16; mk.16,19; lk.24,50-51; han.01,09-10; han.02,04}
14] Sy Evangelie en sy Apostelgeskiedenis was by die groot kerkvergadering in Nicea ook naby daaraan om as apokrief verklaar te word. Maar die Westerse biskoppe was daarteen gekant, en sodoende was ook alles wat deur Lukas geskryf was, as outentiek verklaar, en hierdie Lukas bestaan dus vandag nog onder die getal van die mees geloofwaardige Evangeliste, en daar word tot op hierdie uur meer ophef van hom gemaak as van Johannes.
15] Maar alles wat onwaar is sal mettertyd self verdwyn, en as dit nie sal gebeur nie, dan sal daar beswaarlik ooit `n tyd kom waarvan Johannes gesê het dat daar een herder en een trop sal wees. {joh.10,16}
16] Trouens lê daar ook in hierdie episodes, soos wat Ek reeds gesê het, iets wat geestelik goed en waar is. Maar in die natuurlike werklikheidsfeer is dit natuurlik niks beter as die beelde van die hoë lied van Salomo nie, waarvolgens die Dogter van Sion `n vorm sou hê, waaraan `n mens net die geringste welgevalle sal vind, maar inwendig sien dit dan in die gees heel anders daar uit."
17] "Waarom moes Ek dan tydens My dood die son heeltemal duister maak, en dit vir volle drie ure? En as dit die geval sou gewees het, dan moes die son ook in Indië, Sjina, Japan, Amerika ens. nie lig gegee het nie, wat die skrifkundiges van daardie volkere sekerlik sou opgeteken het. So weet ook selfs die Romeinse geskiedenisskrywers niks van so `n gebeurtenis nie. Die saak moes dus net vir Jerusalem gegeld het, dat alle aanwesige mense deur My toelating vir drie ure lank blind geword het, en slegs Johannes moes sy sig behou het, omdat hy geen melding van so `n sonsverduistering maak nie." {mt.27,45; mk.15,33; lk.23,44}
18] "Maar soos wat dit met die sonsverduistering gesteld is, so is dit ook met My sigbare Hemelvaart vanaf hierdie wêreld; want waar sou so `n hemel moet wees waarheen Ek opgevaar het?! Of waarheen moes die Alomteenwoordige vaar, om vir die mense daardeur aan te toon waar hy nou eintlik tuis is?! Ek dink tog dat Ek orals in die hele oneindigheid gemaklik tuis sal wees, aangesien Ek in alles en iets die oerlewende en behoudende beginsel is, en sonder My nêrens iets is en bestaan nie! Sodoende is die hemel orals waar My liefde en wysheid heers, en in die starre materie bestaan dit wat deur die mag van die oordeel van My wil uitgaan en die skynbare ewige dood; en daarom sê dit ook, die hemel is My troon, en die aarde, deur die totale materie daargestel, die bankie onder my voete. Nou sal niemand tog vir hom wil voorstel dat die ruimtelike eindelose hemel niks anders voorstel as My sittroon nie, en sodat Ek tydens die sit nie moet moeg word nie, die aarde as bankie onder My voete geplaas het!" {mt.27,45; lk.23,44; mk.15,33 mt.28,16; mk.16,19; lk.24,50-51; han.01,09-10b; mt.05,35; han.07,49}
19] Ja, daar bestaan wel in die ryk van die suiwer geeste `n geestelike son, waarin Ek saam met die wat Myne is persoonlik woon; hierdie son is ruimtelik orals vir al daardie engele en geeste sigbaar wat My deur die liefde in hulle harte besit. Vir die ander is sy egter ook nêrens sigbaar nie en kan nie gevind word nie, al sou hulle haar ook in die hele oneindige ruimte probeer soek en probeer vind; want by hulle waarvan die hart blind is, is hulle geestelike sig ook blind, en hulle sien van die geestelike son nog minder as wat `n stokblinde mens op hierdie aarde niks van die natuurlike son kan sien nie. 
20] Maar Ek is deur hierdie (geestelike) son orals teenwoordig en kan ook My verskyning maak en (persoonlik) werksaam wees, wanneer en waar Ek wil, en hoef My met niemand vooraf te beraadslaag nie, hetsy in die wêreld van die geeste en nog minder in die wêreld van die materie; - alle salige engele en geeste vra egter by My raad, indien hulle `n groot daad in My Naam wil volbring.
21] Wat hulle gewone werksaamhede in My ryk aanbetref, vind hulle die instruksies voortdurend in hulle hemelse wonings. Maar hoe dit kyk, daaroor het julle al `n boodskap in die ‘Geestelike Son' ontvang.
22] Wat die geestelike sy van ons Evangelis Lukas betref, was hy vol ywer vir My saak, en dit sou goed gewees het indien hy met sy ywerigheid `n paar kerwe dieper op die saak ingegaan het. Hy was, is en bly egter `n flukse werktuig van My liefde- en genadebetoning tydens sy lewe sowel as vir die huidige tyd, want hy was beter vertroud met die geskrifte van die vorige verbond as enige hoogdrawende skrifgeleerde uit die Tempel wat met die neus in die lug geloop het en kon daarom ook maklik My dade, waaroor hy inligting ontvang het, as waar beoordeel en kon hy dit ook vir die ander, wat hom daaroor gevra het, verduidelik.
23] Moet julle dus nie kwel oor hierdie man as gevolg van sommige van die foute wat in sy geskrifte voorkom nie; want eerstens was nie hy die eintlike skepper daarvan nie, maar dit was eerder sy opvolger proeflesers, waarvan Ek vir julle `n hele dosyn kon opnoem. En tweedens was hy, veral in sy later jare, vol van `n goeie wil en erns om vir die nageslag die meeste suiwerheid in sy geskrifte agter te laat. Hy kan egter nie daarvoor instaan wat die latere gemeentevoorsitters van hom gemaak het nie. Hulle het onkruid onder sy koring gesaai, wat met die koring grootgeword het. Hulle het baie goed geweet hoe om die koring vir hulle skure te versamel, maar die onkruid het hulle benut as voer vir hulle volgelinge en hulle gebruik dit nog. Hierdie volgelinge bestaan nou nie uit My lammers en skape nie, maar uit esels, osse, varke en ander dom diere, wat met sydissels en dorings tevrede is. Kom ons laat hulle vir eers by daardie kos; wanneer dit op `n tyd vir hulle ernstig walglik word, dan sal hulle self na ander kos kom soek, waarmee hulle verander sal word, en waar hulle ook met wol van opregte skape in My skaapkraal opgeneem kan word, waar daar dan net een ware herder en een regte trop - met die regte kos voorsien - sal wees.
24] Met nou weet julle vooraf wat julle van Lukas moet behou, alles verder sal nog by die beloofde geleentheid aan julle meegedeel word. Amen."
25] "Ja, My liewe Kneg, die op die een oor dowe beer het jou na `n indrukwekkende evangeliese teenstrydigheid gelei, waarop jy vroeër vanaf jou kinderdae, ten spyte daarvan dat jy die Nuwe Testament herhaaldelik deurgelees het, nie afgekom het nie. Ek self sou vir jou in die vervolg daarop gewys het. Maar beter is dit vir jou en ook vir baie ander, dat hierdie saak reeds nou aan die daglig gekom het, dat elkeen kan erken en insien, dat Ek nou in die gees ten volle waarneembaar op hierdie aarde gekom het, om die laaste werkers vir My wingerd te werf en op te neem. En hierdie arbeiders is juis daardie wêreldverstandige en wêreldwyse filosowe, wat so pas in hierdie tyd vol erns die moeite doen om vir My, soos wat Ek tans onder die sogenaamde Christelike sektes bestaan, heeltemal uit te roei en te verdelg tesame met daardie evangeliste, wat dit eers twee- tot driehonderd jaar na My geword het deur die heidense en Joodse intriges, wat hulle nou nog is. 
26] Die blinde mensdom, wat niks beproef en nog nooit iets beproef het nie, glo gedeeltelik nou nog aan sodanige grotendeels heillose konkelwerk in My Naam." (d.i. as die suiwer Woord van God)
27] "Ek wil daarom nie vir Lukas, Markus of Matthéüs oordeel nie; want hulle het ten minste in hulle tyd die moeite gedoen - uit die leerstellings van My wat reeds baie vervorminge ondergaan het, - om die suiwerste en beste uit te soek. Maar wat die materiële feite betref, het hulle dit gedeeltelik self uitgedink, en grotendeels moes hulle dan nog ten slotte iets daaruit neem, wat hulle by monde van sulke mense verneem het, wat sonder om te skroom, voorbarig voorgegee het dat hulle oog- en oorgetuies van dit en dat was. Daarop het hulle dit met plekke uit die ou profete wat aan hulle bekend was, vergelyk en het die ooreenstemming gekry met wat hulle geskryf het, en dit was sodoende die kriteria vir die waarheid wat hulle neergeskryf het, en dit was daarom afgehandel en geldig.
28] Indien die Evangelies so sou gebly het, sou dit stukke beter gewees het as wat dit nou is; want in hierdie Evangelies het veels te min wonderbaarlikhede, grusaamhede en skrikwekkende vir die mensdom gestaan, waarom mense dit later noodsaaklik geag het, veral onder die Jodechristene, Grieke en Romeine, reeds `n honderd jaar voor die groot kerkvergadering in Nicea (325, die uitg.), baie byvoegings te maak vir al daardie dinge wat sterk na wonderbaarlikheid geruik het, en wat `n ongelooflike sterk strafregtelike aansig gehad het, om van My die Saligmaker van die mensdom, wat vir die mens met niks so na aan die hart gelê het as die liefde en waarheid nie, presies die teenoorgestelde te maak.
29] Ek het nog nooit teen die regte wetenskap van die mense geywer nie, maar het by baie geleenthede die mense oor baie dinge Self onderrig, waarin hulle vroeër in volle onwetendheid en blindheid gestaan het, daarom dat die bedrieglike fariseërs My ook die meeste gehaat het, omdat Ek die volk in alles onderrig het, waarin die fariseërs vroeër die grootste moeite gedoen het om die volk, waar moontlik, dom te maak, om hulle duistere doelwitte te behaal. En hulle het dit ook werklik sover gebring, dat, toe `n hoëpriester Annas of ook Kajafas, die volk tot groter offerbereidwilligheid wou beweeg het, in die Tempel met grimmige stem uitgeroep het dat daar in die spruit Kidron vir drie dae niks anders as bloed sal vloei nie en dat die son vir `n hele dag nie sal skyn nie, die volk sulke onsin geglo het, en uit vrees vir so `n straf in hulle kamers weggekruip het, en wanneer die straftyd verby was, vol vrees, angs en bewerasie die Kidron gaan besigtig het of daar nog bloed was wat gevloei het; en as die Kidron sy natuurlike water gehad het, dan het die volk niks meer ywerig te doen gehad as om swaar offers na die Tempel te bring en het dit voor die Priesters se voete gelê.
30] Die son het natuurlik ook op so `n dag geskyn, en in die spruit Kidron het geen druppel bloed gevloei nie, waarvan die verstandige Jode hulleself oortuig het en wou ook die armsalige en te bygelowige Jode onderrig, maar in die meeste gevalle sonder sukses; want hulle het in hulle verbeelding en vrees bloed sien vloei en ook die son nie sien skyn vir `n hele dag lank nie.
31] En soos wat die volk hulleself gedurende alle tye in die blindste bygelowigheid bevind het, so is dit ook vandag nog. Julle kan vir sulke mense die mees absurde sprokiesverhale vertel, en hulle sal dit glo, en wanneer hulle dit aan hulle bure oorvertel, dan sal hulle nog baie daarby aanlas, en dit ook in wonderbaarlikhede omskep, indien hulle meen dat daar te min wonderbaarlikhede van die kant van die eerste storieverteller voorgekom het. Maar met enige waarheid kan daar niks met hulle uitgerig word nie. 
32] Daarom was dit ook in My tyd uiters moeilik om die eintlik verstokte Jode tot erkenning van die waarheid te bring; daar moes eers `n wonderwerk plaasvind om hulle uit hul slaap wakker te skud, sodat hulle dan self begin het om `n bietjie na te dink, wat Ek tog met dit of dat sou gesê het. 
33] Maar Ek het al verskeie kere in My tyd vir die Apostels gesê, dat hulle met die verspreiding van My boodskap, minder van My wonderwerke en baie meer van die innerlike waarheidsdiepte van My boodskap moet spreek en preek.
34] Net die enigste, Johannes, het getrou by hierdie riglyn gebly, al die ander baie minder. Hulle het baie eerder met die wonderwerke begin en dan eers van die ryk van God en die innerlike waarheid gepraat, wanneer die luisteraars al vooraf deur die wonderwerke vasgevang was.
35] Die verslawing om wonderwerke te vertel, het dan sodanig van een desennium tot die ander toegeneem, dat `n groot aantal van deels geskrewe en nog meer tradisionele evangelies sodanig vermeerder het, dat geen mens meer daaruit kon wys word nie. 
36] "Lukas, so ook pseudo-evangelis Matthéüs (L'Rabbas), het nie baie lank na My begin om hulle evangelies op te teken nie, maar het nog steeds ten opsigte van sommige dinge so deurmekaar geraak, dat die grootste teenstrydighede ten opsigte van verskeie baie belangrike dinge na vore moes kom.
37] Van toets was in daar in elk geval geen sprake nie; want elke Evangelis het sy spesifieke lesers en luisteraars gehad, en was min gepla oor `n ander evangelis, en die evangeliste self het ook net by dit gehou wat hulle neergeskryf het, en het onder andere `n groot vreugde daaroor gehad wat die een of die ander een (alleen) in sy evangelie gehad het.
28] So was L'Rabbas dan ook min of gladnie bekommerd oor die besnydenis van Jesus in die Tempel op die agste dag nie, en so ook nie oor die drie wyse manne uit die ooste nie, nie oor die vlug na Egipte en die wrede kindermoord deur Herodes in Betlehem nie. L'Rabbas (pseudo Matthéüs) het so `n boodskap in Tyrus en Sidon ontvang en ook op sy manier opgeteken. Maar aangesien hy self, ten minste voorheen, meer `n heiden was as Jood, was hy ook nie baie bekommerd oor die besnydenis van die Jesuskind nie, en op die manier kom een van die merkwaardigste teenstrydighede tussen die twee Evangeliste na vore, terwyl hulle in baie ander gedeeltes, behalwe vir die plek- en tydaanwysing, met mekaar harmonieer. {lk.02,21; mt.02,01-12; mt.02,13-23; mt.02,16-18}
29] Volgens Lukas bestaan daar `n volledig besnede Jesus volgens alle Joodse wette en gebruike, wat in Betlehem in `n skaapkraal gebore was en net deur die herders gegroet was, nie die besoek van die drie wyse manne uit die ooste gekry het nie, en nie nodig gehad het om Egipte toe te vlug nie, maar in stede daarvan heel gemaklik na Nasaret teruggekeer, om daar, sonder enige vervolging van die kant van Herodes af, sy twaalfde lewensjaar af te wag en wat toe met sy ouers `n reis na Jerusalem onderneem het. {lk.02,21; lk.02,07; mt.02,11; lk.02,15-17; mt.02,01-12; mt.02,13-23; lk.02,39; lk.02,41-52}
30] By Matthéüs sien ons hoe Jesus in `n ordentlike huis in die wêreld gekom het, was nie deur die herders gegroet nie, maar in stede daarvan besoek deur die drie wyse manne uit die ooste - waarvan Lukas in sy Evangelie nie eers gedroom het nie, ook nie van die vlug voor Herodes na Egipte en ook nie van die terugtog van Jesus uit Egipte na Galilea onder die koning Archelaus nie -, maar in stede daarvan het Matthéüs van die besnydenis van Jesus in die Tempel na agt dae, en van sommige ander dinge, wat daar gebeur het, niks gedroom nie, en so het julle volgens die skrif van hierdie twee Evangeliste `n besnede Jood-Christen en `n onbesnede heiden-Christen! {lk.02,07; mt.02,11; lk.02,15-17; mt.02,01-12; mt.02,13-23; mt.02,22; lk.02,12-39}
31] Na die twaalfde lewensjaar van Jesus begin die twee Evangeliste weer ooreen te stem, behalwe vir sommige minder belangrike bysake {lk.02,41-52}
32] Nou vra elkeen vir homself: Wie van die twee Evangeliste het nou by die waarheid gebly? En die antwoord daarop lui: Eintlik niemand nie! Want elkeen het net daarvan melding gemaak, waarvan hy hoor praat het. In Jerusalem het niemand dit, uit vrees vir die straf, gewaag om van die oormatige wreedheid van Herodes te praat nie; in Sidon en Tyrus egter, in die destydse Colesirië, was Herodes meer as die dood gehaat en was sy wreedhede nie verswyg nie, en so ook nie die redes wat aanleiding daartoe gegee het nie.
33] Met dieselfde maatstaf sou julle by `n noukeurige deurlees van die twee Evangelies nog op sommige ander beduidende teenstrydighede en ongelykhede afkom, maar wat nog steeds tot `n sekere mate uitgestryk en gekorrigeer kon word soos die Joods besnede en heidens onbesnede Jesus. 
34] Daarom moet, juis in hierdie tyd, die oue en meer nog, die nuwe onsin wat met My in teenstryd is, volledig uit die Evangelies uitgewis word, en selfs Ek daarmee saam, sodat die enigste en blywend ware Evangelie van Johannes in sy volle lig kan tree.
35] Want elkeen sal dit maklik verstaan en begryp, dat Ek onder die gesigspunt van hierdie vier Evangelies soos dit nou bestaan, en so ook sommige briewe van Paulus en die ander Apostels - op die lange duur nie meer kan bestaan nie, omdat elke teenstrydigheid daarin vir My voor die geleerdes van die wêreld Self tot `n teenstrydigheid maak - net soos by die huidige Christensektes, waarvan elke sekte ook sy eie Christus het, wat hom die vryheid veroorloof om elke ander Christus van `n ander sekte kruis en dwars te verdoem.
36] Wie dit nie wil glo nie, moet tog net kyk na die katolieke oorloop vereistes, byvoorbeeld wanneer `n Protestant na die Katolieke Kerk wil oorgaan. Lees dit, en jy sal jou van wedersydse Christus verdoeming kan oortuig, want in die laasgenoemde moet die oorloper sy nog Protestantse ouers, sy geboorte met alles en elkeen en ook al sy Protestantse geloofsdinge tot in die diepste afgrond van die hel verdoem; dan eers word hy in die gemeenskap van die gelowiges van Rome onder allerlei seremonies opgeneem. En so is dit meestal tussen die hoofsektes; hoe moet daar eendag een herder en een trop tot stand kom, waar die sekte-Christusse selfs erger vir mekaar kwaad is as die mees verskeurende en wildste diere van die woude?
36] Daarom, dit alles moet weg, en daarvoor het Ek alreeds die werkers in My wingerd gewerf, en hulle werk ywerig en fluks (as kritici van die Evangelies ens.) en daar sal binnekort nog baie na hulle toe kom, wat nog meer ywerig, fluks en doeltreffend sal werk, sodat Ek dan in waarheid na die mense toe kan kom, as ware Christus en God van Ewigheid, en nie soos nou nie waar Ek volgens die goedkeuring van elke sekte heeltemal niks anders het om te doen as om voortdurend te oordeel en te verdoem nie, en net diegene in die hemel gelukkig en salig kan maak wat van hulle sektevoorsitters en plaasvervangers van God as waardig en bevoeg daartoe bevind word! - -
37] Wie byvoorbeeld in die genade van sodanige voorsitter val, oor al die uitstaande offergawes, moet hom dan - volgens hulle leerstellings - ook in My genade bevind! Julle kan nou self insien dat sulke heillose onsin, waarvolgens Ek nou reeds eenmaal as weerlig aan die firmament opgegaan het, in die vervolg, ten spyte van alle konkordate, nie meer houbaar is nie. Daarom sal ons vir die wetenskap sy speelruimte laat; want dit is nou `n doeltreffende vee-instrument om die uitskot uit die wêreld te verwyder, en gelyktydig `n kragtige reus Herkules, wat geweet het hoe om die groot stal Augias van mis te reinig, wat as `n goeie fabel van die oeroue heidense tydperk - nog in hierdie tyd goed gebruik kan word. Dit wat nou vir julle gewys en gegee is, moet julle goed oordink, en laat julle daardeur verlig; want dit is vir julle gegee deur My, die alleen ware Christus, en nie van `n pseudo-Christus, vir wie die waarheid `n verdoemende afskuwelikheid is nie. Amen. 

 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205