Die volgende gedeelte is 180 jaar gelede deur ons Heiland gegee aan `n Duitser, Gottfried Mayerhofer, en openbaar meer vir ons aangaande die voorafgaande diktaat aan Nalize. Dit verskaf diepere insig in die oerskepping van die geeste, sowel as in die val van die ligengel, Lucifer. Aanhaling uit hoofstuk 1 van die boek, "Lewensgeheime”.
Lig, lewe en liefde
(ontvang 30 Junie 1870 deur Gottfried Mayerhofer)
Jy het hier drie woorde uitgekies. Meer korrek en omvangryker kan jy nie kies uit die hele woorderykdom van `n menslike taal nie, want die woorde hou die totale begrip in van al die geskapenes, die voortbestaan daarvan en sy bestaansduur!
Sien, alles wat deur My geskape is, was in die Lig geskape, daar was Lewe aan gegee en dit was uit Liefde nooit meer vernietig nie. Wat bestaan daar eintlik in die groot kring van die oneindigheid, wat nie sy bestaan en sy ewige voortbestaan te danke het aan hierdie drie inhoudsryke woorde nie?
Met die Lig het die Lewe begin, met die Lewe die Liefde. Die Lig verteenwoordig die skeppende Krag wat ewig iets nuuts voortbring, altyd uitstromend na alle rigtings in die oneindigheid in, leweverwekkend, die duister verjagend en vervolgens deur die Liefde, die instandhouding van die geskapenes en `n altyd nuwe skepping teweegbringend!
Met die Lig ontwikkel daar warmte; warmte kom ooreen met Lewe. Want waar daar koue heers, daar hou die Lewe op, daar het die Liefde geen aanknopingspunt meer nie; want ook Liefde is niks anders as die ontvlamde aandrif om alles volkome gelukkig en bevredigend te sien nie.
Waar die Lig dus met Sy sagte strale die verstrooide elemente aanspoor tot bytrekking en afstoting, daar ontwikkel die beweging en assimileer warmte, oftewel; waar beweging is, is daar Lewe.
Lewe wil egter bevredigend wees, wil alles in alles wees; en dit kan dit slegs word deur die Liefde.
Liefde wil die Lewe in stand hou, terwyl haat dit wil vernietig. Waar julle ookal kyk, sal julle elemente in stryd vind met hul teenpole. Lig moet stryd voer met duisternis, Lewe met dood, en Liefde met haat as teenpool. Soseer as wat die eerste alles in stand wil hou en aantrek, netso wil die ander alles afstoot en vernietig. Julle sien dus in die vereniging van die eerste drie My Godheid as ewige instandhouer van al die geskapenes, en in die laaste drie die teenpool, Satan met sy koue en vernietigingswoede.
So speel die stryd af op alle vlakke, vanaf die engel tot by die hardste en swaarste gebonde gees in die materie; steeds in stryd met mekaar, verwerf die Liefde Lewe deur middel van Lig en vernietig die duisternis met dood en haat.
Hier het julle dus in die drie woorde met hul teenstellinge die enigste instandhoudende beginsel vir al die geskapenes.
Toe Ek, as die Lig self, besluit het om ook buite My geeste te skep wat My moes liefhê, My begryp en langsamerhand aan My gelyk moes word, was die eerste impuls tot wording gegee; daarom lees julle in die boeke van Moses: "Alles was woes en leeg, en die Heer het die Lig geskep!"
Met die Lig het die werksaamheid van die elemente ontwaak en het geeste van hulself bewus begin te word, mekaar aangetrek en mekaar afgestoot. Met die Lig het die Lewe begin. En so verskyn ook die vernietiging, hoe gruwelik dit oënskynlik dikwels ookal is, met die hoër en skonere doel ten grondslag, om die allerhoogste Lig te nader, deurdat laer vorms verlaat word om hoër, nader by die algemene Lig, staande vorms aan te neem.
Sodra Lig en Lewe dus ontwaak het, sodra die geskapene hom begin te verheug oor sy bestaan, in die glans van die ewige Basislig uit die hemele, word die derde gedagte gewek wat al Sy skepsels van die sigbare en onsigbare wêreld moes verenig: Dit was die Liefde, die grondgedagte van die Lig en die Lewe, wat alles wat hulleself nou oor hul bestaan verheug het, steeds vervolmakend in stand wou hou.
So word die suiwerste engele, as gepersonifieerde Liefde, met die grootste lig toegerus en ter wille van die mees intensiewe lewe uitgestuur om alle ander lewende wesens vanuit die volheid van hul eie ek `n deel te gee van die genadestof, wat hulle in so `n mate ter beskikking gekry het.
Daardeur versterk, verlig en verwarm, verenig die ander wesens hulleself, erken hul hoë doel, en jubelend en strydend strewe hulle nou daarna. Vol vreugde verbreek die laer gees sy beperkende skil wat hom belemmer om voorwaarts te skry; hy vernietig sy eie bestaan om tot `n hoër een te kom, waar hy meer Lig, meer Lewe en meer Liefde kan opsuig uit die enigste oerbron van alles.
Dit wat julle blindelings ‘vernietiging’ noem, is dus niks anders nie as om homself vry te maak en op `n hoër vlak te kom. Want `n gees moes die materie al sedert sy gevangeneming in `n ‘vorm’ verdra; hy wag slegs die oomblik af waarop sy boeie afval en hy, slegs deur die band van die liefde, verenig met duisende ander gelykgesindes, in die groot kring van die skeppings om `n hoër plek te kan inneem.
Dit is die Liefde, die alles besielende Warmte wat uit die Oerlig stroom, wat die gees aanspoor om sy lot self te voltooi en so trapsgewys terug te keer na die Oerbron van die Lig, vanwaar hy uitgegaan het.
So gaan dit met alle engelgeeste. Julle voorgangers noem die een, hoewel nou gevalle engel, immers ook ‘Lucifer’, of ligdraer.
Ja, hy was `n draer van Lig deur alle wye ruimtes van My skepping. Maar omdat hy bewus was van sy onmeetlike genade van My en hom toegerus gesien het met `n mag soos geen ander nie, verander hy, deur die Lig en die Warmte deur `n te groot heftigheid in die teenoorgestelde van die Liefde te ontwikkel, in haat, juis teen Die Een wat hom met soveel mag beklee het. En nou nog is hy, die gevalle engelvors, My felste teenstander, wat nog slegs `n kort tydjie vry kan bly, maar duidelik sal moet kies of hy My eerste drie groot woorde van die skepping wil aanneem, of wil bly by die teenpole!
Om middeweë te kies en die handige ontwyking van My aandrang om na My terug te keer, sal hom nie lank meer geluk nie; hy sal hom spoedig kategories moet uitspreek of hy hom wil wend na die ewige Lewe van Lig en Liefde, of na die ewige dood van duisternis en koue.
En ook julle mense, by wie Ek deur middel van My genadelig `n vonk van die Goddelike Lewe in julle siel ontsteek het, bedink tog wat julle eintlik in die hart dra! Julle dra Goddelike Lig en Lewe van Liefde van julle Vader in julle bors!
Hy gee julle hierdie drievuldigheid as onderpand van julle oorsprong, julle begin en julle einddoel; versmaad nie so ligsinnig die goddelike geskenke, wat julle, bewustelik en wel, as genadegeskenk vóór het op miljoene ander skepsels nie. Begryp goed die goddelike Lig, met Liefde geskenk en ingeasem, wat julle siele en geesteslewe bepaal; dink aan die Gewer, wat julle as kinders eenmaal met Sy bloed onder die bitterste lyding gekoop het en julle weer wil maak tot dit wat julle in die groot kring van geskape wesens moes wees. Vergeet nie: Dit is Sy Liefde wat julle tot die ewige Lewe sou wil lei, deurdat Hy by julle die lig van kennis en goddelike bewussyn aangesteek het.
Streef na die volmaaktheid soos dit vir julle, geskape wesens, moontlik is om te bereik, sodat julle, behalwe die drie geskenke wat julle reeds ontvang het, dit eenmaal in hoër potensialiteit kan laat oorgaan! Want My goddelike Lig, uit My stralend in alle wye skeppingsruimtes, het geen grense nie; en steeds nuwe lewe verwekkend wil dit al die geskapenes eenmaal liefhebbend verenig en die wat Hom sien, skaar hulle om Hom, Hy wat die hoogste Lig van Lewe en Liefde is.
So, My liewe kinders, moet julle Sy woorde beskou. Hy het die oerbron van al die Lewe in hom. Dit is die diepste fondament van al die geskapenes, sonder wie daar geen wese en geen lewende skepsel bestaan nie. Waar dit ontbreek, het alle voortgang opgehou; dan is daar is dood, duisternis en ewige haat!
Sedertdien staan `n lewensengel met `n oorwinningskroon en gehul in `n kleed van Lig, as bewys dat die drievuldigheid van die goddelike eienskappe steeds sal oorwin; en wie hom daarteen versit en by die Lig die voorkeur gee aan die duisternis, by die Lewe aan die dood en by die Liefde die haat verkies, hy moet hom verberg tot in die binnenste hoeke van die aarde!
Alles dring voorwaarts, My kinders; die Liefde, die nooit bevredigende Liefde wat alles gee om alles weer terug te ontvang, die Lig wat alles verlig, sodat elke duistere hoek uit die skepping verban word en die Lewe, wat slegs beweging en wisseling van vorms en voortgang van die een vlak na die ander teweegbring! Al Drie roep julle toe: "Sonder Ons is daar geen wêreld, geen verlede en geen toekoms nie! Ons is die draers daarvan in die binneste van die hoogste Heer; ons druk Sy hele ‘Ek' uit!"
Voorwaarts dus, julle afstammelinge van die Lig! Klim omhoog, daarheen waar geen son meer ondergaan nie, waar geen dood meer die Lewe afwissel en waar geen stryd, geen toorn of haat die skone harmoniese konsert van die Liefde onderbreek nie!
Hoor die harmonieë van die engele wat, gedra deur die drie woorde, deur alle oneindighede heendring. Dit is die altyddurende lofsang van die een en enige Meester en Skepper, julle Vader, wat slegs daarin Sy hele geluk en saligheid vind, wanneer Hy sien dat die skepsels wat Hy geskape het, hulle in Hom verheug, Hom liefhet en steeds leer om meer te begryp. Die dikwels so misverstane drievuldigheid bestaan slegs in die drie magtige woorde en lê in die kleine in elke geskape wese, met die kiem om homself te kan ontwikkel tot by die hoogste potensialiteit van `n ligengel wat op die vlak van die Heer van alle hemele staan!
Kinders, besef julle groot geskenk! Wees trots daarop om My kinders te kan word; verheug julle! Daar sal wel `n tyd kom dat julle, begiftig met die geestelike gesig, deur die onmeetlike ruimtes van die ewigheid sal kan sien en deurdring, vanaf die troon van die Vader tot by die uiterste ruimte, waar slegs nog een ligstraal kan deurdring; sodat julle die grondbeginsels van My wese, verdeel in baie miljoene wesens, kan verneem in die groot harmoniese lofgesang tot Sy eer!
Streef dus daarna om die trap van verligting waardig te word; streef daarna om in die ware sin My kinders te word, en julle sal voel dat:
Ver in ruimtes en in sterre,
in die onmeetlike, wye, verre,
straal die Vader se Lewe en Lig.
Sy Liefde is nie op die groot gerig;
slegs in die kleine soek Hy grond
vir `n oneindige Geesverbond!
daar is `n Lewe van Liefde en Lig:
suiwere Godsdrang as hoogste gesig.
Diepgaande en ryk is die drie woorde;
hulle klink steeds voort in alle oorde.
Laat nie verklink, die hemelse tone,
wat hom slegs rig op die geestelik skone!
Waar Lig, Lewe, Liefde nie kan bestaan,
daar het alle vreugde van die skepping vergaan.
Maar waar hulle steeds heers, tesame, in vrede,
daar deel ook die Liefde des Vaders hom mede!
Wees daarom getroos en bou op Sy seën;
Hy gee waar dit aan elke is geleë:
`n ligstraal, liefdesvreugde en prikkel tot lewe.
Al is daar afvalliges wat teen jou strewe:
in Lig, Lewe en Liefde, bly daarin by My.
So dra jy aan God’s geestelike skeppinge by.
Slegs wie hom met die drie woorde wy
aan die hoogste Vader, as Sy kind hom verbly,
die het in die grond die Liefde as saad
en vind dus ook amen! as My kind sy haard.