Boek 2 - Aan die Boerevolk van Suid-Afrika, gekluister in nood
VOLKSLEIDING-REEKS

Hoofstuk 12

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27.

 

Die Heiland spreek op 11 Des. 2007 om 07: 19

“Dit is die groot teken wat julle moet verwag, wat julle sal aandui dat MY koms om die draai is. `n Man sal vir MY opstaan, wat My voorloper sal wees. Hy sal opstaan en in MY Naam begin getuig. Hy sal nie deur iemand stilgemaak kan word nie en nie eers die dood of dreigemente met die dood sal hom die swye kan oplê nie. Hy sal MY voorbrand wees en sal MY wederkoms luid aan almal verkondig. Niks sal hom keer as hy eers begin het nie.

Op hierdie oomblik is hy nog stil, maar MY GEES sal oor hom vaardig word en hy sal in `n ander mens “verander”. Die wat hom nou al ken, sal nie kan sê dat dit dieselfde persoon is nie en sal verbaas staan en toekyk hoedat hy MY Woord aan almal uitdra. EK het julle so lief, MY kinders en stuur daarom aan julle almal `n teken sodat julle seker kan wees dat MY koms voor die deur is.

Baie van julle dink dat MY koms ten minste nog 100 jaar op hom sal laat wag, maar EK sê julle dat julle die pot ver mis sit. Julle almal wat nog hier lees en MY Woord met smaak (liefde) eet, sal MY koms aanskou. Baie van julle sal wel in die groot geloofstryd omkom, maar die geloofstryd gaan MY koms met `n paar jaar vooruit. Net `n paar jaar sal julle moet uithou onder die Antichris en sal julle moet ly vir MY. EK het julle egter MY ondersteuning belowe en sal julle met MY liefde deur alles dra. Julle sal self stom van verbasing staan wanneer julle sien uit watter gevare EK julle gaan red. Die van julle wat wel vir MY en julle naastes gaan sterf, sal ook deur MY gedra word, sodat die dood vir julle geen dreiging inhou nie. EK sal julle sodanig van krag voorsien dat julle sal voortgaan tot op die heel einde van julle lewens.

EK sal met MY engele kom en julle (die wat gaan sterf) by die hand vat en uit die aardse liggaam uit dra. Geen pyn sal daar wees nie en die omstanders wat dit dan waarneem sal dan `n ommekeer maak na MY en die Antichris dan soos `n warm patat los. Julle sterwe sal hulle tot ander insigte bring, omdat EK dan ook sekere mense, wat julle dood aanskou, se geestesoë op daardie oomblik sal oopmaak, sodat hulle julle heengaan saam met MY sal waarneem. Dit sal hulle heeltemal onkant vang en met volle oorgawe sal hulle MY dan begin aanroep om ook deur MY gered te word.

Verstaan julle nou waarom EK sê dat julle lyding ander sal red? Vertrou net heeltemal op MY sodat julle nie wankel en val nie. Gee al julle vrese in MY Hande oor en dink nie meer daaraan nie, omdat dit julle niks baat nie. EK alleen kan red, beskerm, bewaar, behoed en alle hartseer tot niet maak.

Amen.”


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205