Boek 2 - Aan die Boerevolk van Suid-Afrika, gekluister in nood
VOLKSLEIDING-REEKS

Hoofstuk 15

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27.

 

Die Heiland spreek op 8 Jan. 2008 om 7.28

“Kom staan in MY kring sodat EK julle kan beskerm en bewaar. Dit beteken ook dat julle julle eenkant moet hou van enige sonde, omdat net die wat sonder sonde is, in MY kring kan kom staan. Daar is niemand op aarde wat nie sonder sonde is nie en niemand is volmaak nie. Nie eers die mense wat MY woord aan julle bring, is sonder sonde nie en hulle almal besef hulle onreinheid, maar net die besef van die onreinheid in julle, is al genoeg dat EK MY genade oor julle kan uitgiet en daarom sê EK dat net die reines in MY kring kan kom staan. Kom bely jou sonde en jy sal rein wees. Al is dit net voor die groot dag wat gaan aanbreek.

MY kinders, langs MY aan die kruis op Golgota het daar ook `n gekruisigde gehang wat in sy lewe baie sondes gedoen het. Roof en moor was sy lewe en dit was vir hom ook `n doring in die vlees om iemand te sien met meer besittings as hy en daarom het hy geglo dat hy net die mense moes verlos van hulle besittings, sodat hulle darem nie meer as hy moet hê nie. Hy en sy vriend wat ook saam met MY gekruisig is, het dikwels spottenderwys na die rykdom van ander verwys as “oorbodig en net `n las” vir hulle en wat daarom deur hulle twee daarvan verlos moes word.

Aan die kruis het hulle dan ook gely, al is hulle nie so deur die kruisigers gemartel nie. Daar aan die kruis het die een roofmoordenaar dan tot die besef gekom van sy groot sonde en het gewens dat hy net weer een kans kon kry om sy lewe oor te leef en te verbeter. Hy het werklik berou gehad oor sy sondes en was diep in homself gekeer terwyl hy tog die God van die Hebreërs aangeroep het. Hy het gedink dat daar nie werklik `n God bestaan nie, omdat die tempel met hulle onreinheid voortgegaan het sonder om gestraf te word, maar het gedink aan die verlossing uit Egipte en die see wat EK vir MY kinders oopgemaak het. Daardie God het hy stil in sy binneste aangeroep en om vergewing gevra en het diep berou gehad, omdat hy tog nie heeltemal sonder liefde soos sy vriend was nie.

Sonder enige berou en met spot het die rower hier langs MY aan MY gesê om ons al drie van die kruis af te red, omdat hy wraakgedagtes in sy binnekant gekoester het en hierdie kruisigers van hom leed wou aandoen as hy daar sou afkom. Maar sy vriend het hom berispe en gesê dat hy nie moes spot nie, omdat EK geen sonde gedoen het nie, maar hulle die dood verdien het. Hy het geglo dat EK Jahshua was en dat alle mag uit MY was, omdat hy gesien het wat tydens MY kruisiging gebeur het en ook omdat hy geweet het dat die tempel die enigste God gehaat het. Die haat van die tempel jeens MY was dan ook die rede van sy oortuiging dat daar werklik `n GOD bestaan het, maar nie die god van die tempel nie. Hy het MY dan ook daar om vergifnis gevra en gevra dat EK aan hom moes dink wanneer EK in die paradys kom. Hy is dan ook net daar deur MY vergewe en is in MY Ryk opgeneem waar hy nog vandag is.

MY kinders, kom vra net om vergifnis en EK sal nie jou sondes teen jou hou nie. Selfs nie eers die grootste sonde sal teen jou gehou word nie en jy sal rein wees deur MY bloed wat ook vir jou gevloei het. Geen mens het die ewige lewe verdien deur sy dade nie, maar slegs deur MY genade alleen. Dit is iets wat julle altyd moet onthou. Moet nooit na iemand kyk en dink dat hy gered is net omdat hy na `n goeie mens lyk nie. Dit is die hart wat tel en of daardie persoon MY werklik liefhet. Die hart wat MY om vergifnis kom vra, is die hart wat EK wil hê. Kom nou en kom vra om vergifnis en moenie dink dat jou sonde te groot is nie, omdat MY bloed baie kragtig is. Niks kan bly staan as EK jou gewas het nie. Wanneer jy dink dat jou sonde te groot is, word MY bloed eintlik deur jou as onmagtig verklaar en dan doen jy nog `n sonde deur MY te verkleineer.

Dink daaraan dat die man aan die kruis `n paar uur voor hy gesterf het, sy hart aan MY gegee het, deur om vergifnis te vra en daardeur is hy gered, nie deur sy dade op aarde nie, want dit sou hom die hel gegee het. Maar deur die vergewing van sondes, kan julle almal gered word, maar dit moet uit `n berouvolle hart kom, sodat jy nie nog sonde op jou sonde laai deur geveins te wees nie. Kom nou na MY wyduitgestrekte Vaderarms en kom was jou rein in MY bloed, want net EK maak rein.

Amen.”


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205