Boek 2 - Aan die Boerevolk van Suid-Afrika, gekluister in nood
VOLKSLEIDING-REEKS

Hoofstuk 10

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27.

 

Die Heiland spreek op 6 Des 2007 om 07:32

“EK verseker julle van MY liefde elke dag en wil julle ook daarmee te kenne gee dat julle MY ook moet liefhê. Wees MY getrou in alle opsigte en luister wanneer EK julle roep. Laat Mammon haar eie gang gaan en dink aan MY. Kom vra My wat julle te doen staan en doen dan dit wat EK julle sê. Moenie julle hoop op `n dooie materialistiese god sit nie en vertrou op MY om vir julle die weg oop te baan.

Baie van julle wat nou hier lees, het My al baie lief, maar is ook nog te besig met julle aardse goed. Mammon sal altyd probeer om julle van My weg te hou en sy sal julle gedagtes sodanig besig hou, dat julle nie tyd of kans het om aan MY te dink nie. EK wil julle hele harte hê en nie halwe harte nie. Jy dien My met `n halwe hart wanneer jy jouself te besig hou met aardse dinge. Daar is werk wat gedoen moet word sodat julle kan bly leef, EK weet, maar bly getrou aan My en dink aan MY terwyl jy jou aardse gang gaan. EK sal vir julle sorg en julle sal nie broodgebrek hê nie, maak nie saak of dit so lyk nie. Julle is baie keer onder die indruk dat julle MY dien terwyl julle besig is met julle aardse dinge, maar dit is nie die geval nie. EK wil hê dat julle die hele tyd moet bid en waak teen satan se aanvalle, en hoe kan julle dit dan doen terwyl jou hart besig is met aardse goed?

Gee alles aan My oor en EK sal julle weë gelyk maak. Moenie bekommerd wees oor jou geldsake nie. EK gee wánneer en hóéveel nodig is en enige bekommernis daaroor is totaal en al onnodig. As Ek aan die Israeliete in die woestyn hulle daaglikse brood kon gee, sal EK dit seker na al die jare nog steeds kan doen? Verseker en gewis! Julle moet MY met álles vertrou en nie net met sekere dinge nie. EK is altyd julle Vader, nie net wanneer EK julle bewaar nie. EK is ook die broodwinner in jou huis. Die Versorger wat julle elke dag van alles voorsien. Wees nie bevrees wanneer die wêreld om jou druk op jou probeer uitoefen nie en vertrou op MY. Gee die wêreldse druk aan My en EK sal dit vir jou uitsorteer, sonder dat jy daaroor hoef na te dink. Dit is `n belangrike ding wat julle moet begin besef en dit is dat julle nie die aanvalle van satan sal kan weerstaan as julle gedagtes besig is met die aardse nie. Dit is dan ook waarom Ek julle aanraai om op te hou met aardse plesiere en genot. Dit hou julle so besig dat julle nie die satan en sy magte sien aankom nie en sonder enige weerstand sal hy julle dan onderkry.

Julle sal weet wanneer hy julle aangeval het. Enige neerdrukkende gevoel wat in julle harte heers is direk van hom afkomstig. Woede, vrees, enige vorm van depressie, is nie van MY afkomstig nie en dit is die teken dat dit van hom af kom. Hy sal julle afbreek tot julle geen verweer meer het nie en al julle geloof in My sal hy probeer afbreek. Dit is dan ook waarom EK julle sê om MY bo alles lief te hê, sodat hy julle nie kan oorval nie. Julle sal nie MY koninkryk kan beërwe as julle teveel aandag aan die wêreldse gee nie, omdat dit dan julle aandag heeltemal van My afneem. Gee alles in MY Hande, wil Ek julle weer sê en moet oor niks bekommerd wees nie, want EK is die Een wat maak en breek.

Amen.”


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205