DIE VERBORGENHEID VAN JAHWEH
FRANCOIS FOURIE

Hoofstuk 5

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17.

 
Hoofstuk 5
2008.02.05
Die verborgenheid van Jahweh is vir die wat hom vrees, en Sy verbond om hulle dit bekend te maak. So het My Psalmskrywer gesê en dit was eintlik My gees wat dit deur hom gesê het. Ek sê julle dat dit die waarheid is, as julle die “vrees” verstaan waarvan Ek hier gepraat het. Die vrees vir My kan vergelyk word met die vrees wat ‘n kind vir sy aardse pa het. Hy vrees sy pa nie omdat hy bang is vir hom nie, maar hy het eerder respek vir sy pa wat gepaardgaan met liefde. Die vrees is vir die straf, maar as die liefde teenwoordig is, gaan dit meer oor respek uit liefde uit en wil die kind nie sy pa teleurstel nie. Sy pa is vir hom die verweer en skuiling as iets hom bedreig laat voel. Dit is sy pa waarheen hy vlug, want hy weet by sy pa is baie meer krag as wat hy besit en sy teenstander ook. So wil Ek julle leer My kinders, om My bo alles lief te hê en na My, jul Vader, te kom as daar fout is iewers. Ek sal die reg verskaf. Ek is alleen die regverdige regter wat nooit een bo die ander wil bevoordeel nie. Ek het My kinders almal baie lief en dit maak my Vaderhart ongelukkig as Ek moet sien hoe My kinders mekaar haat en voor die regbank van die wêreld wil sleep om die ander een meer uit te melk as wat hy hom eintlik verskuldig is. Ek het die voorbeeld gestel om nederig te wees en gesê dat julle julle vyande moet liefhê en vergewe. Ek het die skuld vir almal van julle gedra in My oorgrote liefde vir julle. Dien mekaar ook nou so soos Ek verlang. Nou, die vrees vir My kan eintlik vervang word met die woord liefde. Liefde wat gepaardgaan met respek en eerbied. My belofte aan julle wat My liefhet, is dat Ek die verborgenhede aan julle bekend sal maak, as julle My liefhet en eer. Ek het baie dinge aan julle bekendgemaak wat verborge was tot nou toe deur My skryfknegte, maar Ek wil julle self daar inlei deur julle dit in julle harte bekend te maak. As julle daarna verlang, sal Ek kom en dit aan julle duidelik maak. Dit hang van elkeen self af of hy My gaan krag gee in homself deur op My te vertrou, of My krag magteloos sal maak in hom, deur op sy eie krag staat te maak. Ek sal hom nie dwing nie en los hom dat hy sy eie weg gaan in sy slimheid en eie wysheid. Hy sal wel spyt wees daaroor na alles en Ek sal hom steeds genadig wees, maar dan het hy klaar baie verbeur en verloor, die loon wat Ek hom sou gee, as hy maar net na My wou luister. My seuns, leer nou van My, want In die tyd wat kom, sal julle moet veg, maar julle eie krag wat julle nou het, sal nutteloos wees. Ek sal julle die krag gee wat julle nodig sal hê om vir My en julle volk te stry as julle noual na My sal kom en een word met My. Dit is ‘n verborgenheid wat Ek julle wou bekend maak en die meeste van julle weet dit al, omdat julle My liefhet, maar Ek sê weer aan julle dat julle julle liefde moet vermeerder deur die werke van die liefde te doen en sodoende een raak met My, julle Aller Vader. Neem My lewend in jou op, dit wil sê, glo in My, hê My lief en eer My in alles en Ek sal die verborgenhede IN julle bekendmaak, want Ek is mos in julle nê? In My volle glorie ook, dit hang af hoeveel jy op My vertrou en My liefhet. Dit wil Ek julle weer op die hart druk, My kinders, want die tyd is min, ja, glo My, die tyd is min. So spreek Ek, julle Vader, weer tot julle vandag. Luister daarna. Amen.

 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205