DIE VERBORGENHEID VAN JAHWEH
FRANCOIS FOURIE

Hoofstuk 12

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17.

Hoofstuk 12
2008.02.08
My kinders, vandag wil Ek julle leer hoe Ek te werk gaan met die opstandiges, as dit om My woord gaan. Hulle is vol hoogmoed en daarom die opstand in hulle as hulle met My woorde te doen kry wat hulle leer om nederig te wees. Ek het die vereiste gestel om nederig en vol liefde te wees as iemand in My ryk wil ingaan, maar niemand sover is rein genoeg daarvoor nie. Die nederigheid is nog maar min, selfs onder My kinders, want dit gaan nog baie oor die “eie ek” in die meeste gevalle. Kyk maar net hoe maklik jy omgekrap kan word deur jou naaste en dan ruk jy jou maklik op en snou hom iets terug toe. Dit is alles nog eieliefde en kom voor uit hoogmoed. Want kyk, “niemand moet so met my praat nie” en “wie gee hom die reg om my so te antwoord”, “ek is dan die of daai persoon wat weet waarvan ek praat” en “Vader praat dan met my”!? Kyk, My kinders, dit is verwerplik voor My aangesig en so ‘n houding sal nooit in My koninkryk toegelaat word nie. Dit is dan ook die mense wat sê, “het ons nie in U Naam duiwels uitgedryf en siekes genees nie? Het ons nie kragtige dade onder U Naam gedoen nie?” Kyk Ek sê julle dit is nie in My naam gedoen as dit nie in nederigheid en liefde gedoen is nie. Aanvaar nou dat jou broer beter is as jy, al doen hy ook wat en bid vir hom as hy iets verkeerds doen wat jy dalk nie doen nie, want Ek sê vir julle dat as Hy hom sal bekeer, hy ‘n beter mens dalk as jy sal wees en ‘n ware voorbeeld vir ander. Daarom mag julle nie neersien op andere wat nog in hul onreinheid vasgevang is nie. Nie een van julle is rein nie en daarom maan Ek julle om nederig te word, omdat jul nie andersins My ryk sal ingaan nie. Nou wil Ek julle bekendmaak wat met diegene gebeur wat My woord verwerp, terwille van hul eie hoogmoed en eiedunk. My woorde is vir hulle hard en hulle hou nie daarvan om die waarheid te hoor waaraan hulle skuldig is nie. Hulle beoordeel My woorde volgens hulle kennis en is ook maar te bly as hulle iets kan vind wat teenstrydig klink met die Bybel. Die mense sal ‘n harde pad hê voor hulle hulleself sal verneder. Ek begin sag werk met almal, maar die wat nie luister nie, word al harder mee gewerk tot hul luister. In die tyd wat kom, gaan daar baie gewondes wees en sekeres wat noue ontkomings gaan hê. Dit sal die mense wees wat My woorde nie wou glo nie, maar tog van goeie wil was, ten spyte van hul hoogmoed en eiedunk. My kinders wat een is met My, sal dan diegene wat in die nood verkeer moet gaan help om hulle sodoende te bearbei vir hulle harte wat gered moet word van die hoogmoed. Hulle sal sien dat diegene wat hulle in hul hoogmoed gesmaad het, nou die is wat deur My bygestaan word en die krag in hulle besit wat uit My voortkom. Hulle sal baie spyt wees oor hulle veroordeling en skinderpraatjies en dan sal hul tot insig kom. Dit is alles in My liefde vir hulle ook dat hulle hierdie “straf” moes deurmaak, sodat hulle verlos kan word van hul hoogmoedsduiwel wat in hulle teenwoordig was. Daar sal wel die wees wat steeds nie wil luister nie en steeds sal neersien op My knegte, maar met hulle sal Ek dan nog harder werk. Op die ou end sal niks meer eieliefde in My volk teenwoordig wees nie en die wat te hard is om mee gewerk te word, wat hom nie wil verneder nie, sal weggeneem word onder My volk en sal ‘n droewige pad in die hiernamaals hê om te gaan. Steeds gee Ek nie moed op met sulke siele nie en die plek waarin hulle sal wees, sal dien tot die reiniging van hulle siele. My kinders sal steeds werksaam wees in die hiernamaals onder daardie siele en kosbare arbeid verrig, maar daardie siele, al kom hulle ook reg, het die kindskap in My ryk heeltemal verbeur. Hulle sal tog salig wees as hulle maar net wil, maar in ‘n ander ryk. Dis hoekom dit so belangrik is om nie jou tyd op aarde te verspeel nie, maar om gehoor te gee aan My stem wat julle roep en leer wat heilsaam is vir julle siele. Ek roep julle in My Vaderliefde in hierdie tyd, verhard julle harte nie, en luister na My stem, want Ek gaan nie meer vir lank so sag praat soos nou nie, nee in die tyd wat kom, sal julle ‘n ander sy van My sien wat julle sien as die sagmoedige beïnvloedbare Jesus van jul vormgeloof. Luister nou na My, My kinders, want Ek roep julle sag, luister. Amen.
 
(Ek het hier vir Vader gesê dat Ek nie verstaan nie, want Hy is mos sagmoedig? Waarop Hy My antwoord “Ja, My seun, maar as jou pa jou pak gee, lyk hy vir jou sagmoedig?”)

 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205