DIE VERBORGENHEID VAN JAHWEH
FRANCOIS FOURIE

Hoofstuk 4

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17.

HOOFSTUK 4
2008.02.05
My kinders, Ek wil julle leer, die diepte van My wese, die ondeurgrondelike en die dinge waarvan julle nie weet nie in My ryk. Julle sal nie alles kan verstaan nie, omdat dit net verstaan kan word deur ‘n siel wat een is met My, sy Vader. Ek sal dit alles aan julle bekendmaak soos julle groei en een word met My. Die tyd is baie min, My kinders, en as julle alles moet leer soos iemand wat studie doen, sal julle nie betyds wees nie. Ek is julle genadig en gee julle die dinge in wat julle moet weet. My skryfknegte kry die diktaat, maar Ek maak dit lewend in hulle, sodat hulle dit kan verstaan soos Ek dit vir hulle sê. Julle moet My lewend in julle opneem, sodat Ek julle almal daar kan inwy in wat julle moet weet vir hierdie tyd wat op hande is. Julle sal moet keuses maak en besluite neem, maar die regte besluit sal slegs vanuit My gees geneem kan word. Ek sal julle moet sê wat om te doen en hoe kan Ek met julle spreek, as julle doof is vir My stem? Hoe sal julle dàn horende word? Ek sê julle nou aan om my lewend in julle op te neem, sodat julle almal My stem sal kan hoor wanneer dit nodig is en glo dit ook, dit gaan nodig wees. Om My lewend in jou op te neem, beteken om vas te glo dat Ek in jou is, in My volle glorie en dat Ek jou kan aanspreek en ook wil aanspreek. Ek kan jou die verborgenheid bekend maak, onthou dit. Dit is My krag wat in jou is en nie jou eie nie. Moenie twyfel nie, want in die twyfelagtige hart kan Ek nie werk nie, omdat die liefde nie teenwoordig is as daar getwyfel word nie. Ek raai julle aan om dit te doen, om My lewend in julle op te neem. Glo in My, glo dat Ek jou die dinge kan bekendmaak. Kyk, Ek doen dit aan My skryfknegte en hulle twyfel steeds baie netsoos julle, maar die liefde in hulle harte tot My, hulle Vader, stel hulle in staat om verder te gaan en te glo wat Ek sê. Hulle is dan gewoonlik spyt oor hulle twyfelagtigheid en Ek hou dit ook nie teen hulle nie. Netso wil Ek met julle almal ook praat en Myself in julle openbaar. Ek praat onophoudelik met julle, maar julle ore is doof en hoor nie My sagte stem nie. Kom verby julle aardse sintuie, want die aardse is nie die realiteit nie. Vir die wêreld is dit alles, maar in My ryk is dit die dood. Ontwikkel julle sielsore en -oë en aanskou My in My volle glorie wat die aardse oog nie kan verdra nie. Open julle ore en hoor My stem. Open julle ore en verstaan My stem. Dit kan net verstaan word deur die liefde in julle harte tot My, julle Vader. Die liefde sal julle die ondeurgrondelike bekendmaak. Die liefde trek julle nader aan My en so leer julle My ken. Die liefde is die intelligensie van die bewoner van My ryk en sal hom inwy in die eindeloosheid en hy sal dit begryp. Ek is liefde en niemand kan My ken sonder die liefde nie, want slegs liefde herken liefde. Ek is ook almagtig en verskriklik vir die wat aan die verkeerde kant van My kom, maar dit is steeds net liefde. Dit is reiniging, die vuur wat van My uitgaan. Julle mense is baie keer geneig om die liefde af te maak as soetsappige bykomende dinge, waarvan die belangrikheid nie so groot is, as dit om My woorde gaan nie. My woord sien julle slegs as die Bybel en julle verlekker julle daarin om te sien hoe verwoestend Ek kan wees. Maar Ek sê vir julle dat julle My nie ken nie. Julle wil My sien as die tiran wat julle vyande vernietig en julle op ‘n troon plaas. Jou vyand, in jou volk, haat jy sonder om te twyfel waar sy siel heen gaan volgens jou mening. Het Ek nie duidelik gesê dat julle julle vyande moet liefhê nie? Dink jy dat Ek hom nie liefhet nie? Dit is jou vyand in jou volk. Ek sê aan julle dat julle ver van die waarheid af leefn as jy nie die liefde bo alles stel nie. Stel My bo alles, stel die liefde bo alles en bekom dit in julle harte, dan sal julle leef, dan sal Ek My oor julle ontferm en dan sal jy My ryk kan ingaan en deel hê aan die boom van die lewe. Ek sal met jou wandel, hand in hand en arm in arm. Jy sal My liefhê hê en jou insig en wysheid sal oneindig wees, soos Ek dit aan julle beloof het. Maak jou liefde groot in jou, en Ek sal groot wees in jou. Neem My lewend in jou op, glo in My, vertrou in My. Ek, julle Vader sê dit, omdat Ek weet wat julle moet hoor en doen om te bly lewe in die tyd wat gaan kom. Neem My woorde ter harte en glo dit. So spreek Ek, die ewige onveranderlike alleen wyse Elohim. Amen.
 

 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205