DIE VERBORGENHEID VAN JAHWEH
FRANCOIS FOURIE

Hoofstuk 13

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17.

Hoofstuk 13
2008.02.08
Ek vervul die met My gees wat na My toe kom en daarna verlang. Ek laat My Gees kragtig in die werk wat op My vertrou en in My glo, wat waarlik glo dat Ek in hom of haar is in My volle glorie. EK IS, sê Ek julle, EK IS in julle in My volle glorie en kan deur julle kragtig te werk gaan as julle My net sal toelaat, deur op My te vertrou en My lief te kry. Keer in jou binneste gedurigdeur en soek My daar, want Ek IS daar. Keer in jou binneste en praat met My daar en Ek sal jou hoor. Dis hoe Ek wil hê julle moet vir My bid ook. Ek het gesê dat alles wat julle in My Naam sal vra, Ek julle sal gee. Dit beteken nie dat julle alles sal kry wat onnodig is op hierdie aarde as jy net jou gebed afsluit deur te sê “In U Naam vra ons dit” nie, nee, dit beteken dat alles wat julle vra, in My orde en uit die liefde vir My en julle naaste, in ‘n vaste vertroue op My, sal kry. Ek verhoor die gebed van die regverdige, van die een wat My liefhet met sy hele hart en siel en sy verstand. Dit beteken ook om te vra deur die liefde wat jy voel vir My. So ‘n gebed kan Ek nie afwys nie en sal Ek ook nie onverhoord laat nie. Dit sal geskied as die persoon wat bid dit in My Naam (liefde) vra. Daar bestaan ook die dwaasheid onder julle dat as die Naam verkeerd uitgespreek word, die gebed nie verhoor sal word nie. Ek sê julle dat niemand die korrekte Naam van My ken as hy nie die liefde besit nie. Daar word baiekeer deur die “Israeliete” op die kerkmense neergekyk oordat hulle die naam Jesus gebruik. Dit is wel nie die korrekte Naam wat Ek gehad het op aarde nie, maar dit is die Naam wat My verheerlik in baie se harte. En so vir die “wysheid” daarvan, Jesus is nie die Antichris soos wat baie beweer nie, dit is ‘n dwaling van satan om tweedrag tussen My volk te saai. Ek laat My ken deur die liefde in die persoon se hart, ongeag of hy My ken as Jesus of Jahshua. Ek is julle genadig gewees en het julle My Naam bekend gemaak, naastenby oor hoe dit uitgespreek was daardie tyd toe Ek die aarde bewandel het, maar weet dit, dat julle niks beter is as julle broers wat My ken, wel as hulle Jesus, wat hulle van kleins af geleer is nie. Julle Vaders het ook daardie naam gebruik en Ek het hulle verhoor, was dit die Antichris wat hulle gered het? Nee, sê Ek julle, dit was Ek, die enige Abba Vader wat My kinders ken deur hulle liefde vir My en hul naaste. Ek hoor julle as julle My roep in My Naam wat Ek julle bekendgemaak het, maar Ek hoor dit slegs as dit uit liefde vir My gedoen word en nie hoogmoed nie. Dan gebruik jy My Naam ydellik, as die Naam in hoogmoed vir eie gewin gebruik word. Dit is eie gewin in die vorm van eer of beter wees as ‘n ander wat as ‘n dwaas en leek bestempel word deur die hoogmoediges as Hy nie die regte Naam ken nie. Ek wil hê dat julle My sal dien soos dit My behaag en nie julle nie. As Ek julle iets opdra om te doen, dan verlang Ek dat julle gehoorsaam sal wees. Ek is Jahshua, julle Elohim wat julle uit Egipte uitlei en My wonders aan julle bekend maak. Julle sal almal ooggetuies wees van My mag, weer soos in die woestyn. Ek lei julle weer uit en beskerm julle weer onder My wolk bedags en onder My vuur snags. Julle sal My dan eers ken, as julle een is met My, nie as julle die korrekte Naam se uitspraak ken nie. Dit sê Ek aan julle om julle te leer om nederig te wees en My lief te hê bo alles. My kinders, Ek wil vir julle nog so baie sê en julle dieper in My verborgenhede en geheime inlei, as julle maar net wil luister en My lesse leer en ter harte neem. Amen

 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205