DIE VERBORGENHEID VAN JAHWEH
FRANCOIS FOURIE

Hoofstuk 14

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17.

Hoofstuk 14
8 Februarie 2008
My kinders, soos baie van julle al agterkom, is dinge besig om vinnig te gebeur. Alles vang spoed en elke dag sien julle net meer en meer hoe die dinge om julle gebeur. Dit, My kinders, is die tekens van die eindtyd wat julle sien en Myne glo en besef dit ook. Julle sal binnekort My kneg sien wat Ek uitstuur voor My om van My te getuig en My weg te berei. Ek stuur hom en dis nie sy eie besluit waarheen hy wil gaan en wat hy wil sê nie. Dit is My wil, omdat My wil sy wil is en sy wil Myne is. Ons sal een wees in siel en gees en Ek sal aan hom alles bekend maak. Hy sal deur almal kan sien en kyk wat in die diepte aangaan van die mense wat voor hom staan. Hy sal My diensbaar wees soos dit My behaag en glo My, Hy kom na jou ook, na elkeen wat van goeie wil is. Julle sal hom sien en aardsgesproke sal hy niks beter lyk as ‘n gewone mens nie, maar die wat die lig in hulleself het, sal ook die lig in daardie persoon herken en hom volg, My volg, want wie na hom luister en hom volg, volg My. Ek het baie knegte wat Ek sal uitstuur en baie van hulle was al onder julle as gewone mense met gewoontes van gewone mense ook, maar in der waarheid is dit gesante van My wat My werk doen soos Ek hulle dit opdra. Hulle bring ‘n boodskap direk van My na julle en as julle nie oppas nie, kan julle dalk gruwelik teen My sondig, deur teen hulle te sondig. Ek stuur hulle en wie hulle vloek, vloek My, wie hulle slaan, slaan My en hulle sal dan ook bitter spyt wees daaroor, maar die skade wat hul aangerig het, sal dan klaar daar wees en nie maklik ongedaan gemaak kan word nie. Die skade is nie soseer gemaak in My kneg wat te na gekom word nie, maar in die siel van die een wat sy hand teen so ‘n kneg van My lig. Dit sal dan as ‘n duisternis ervaar word of ‘n donker kol op die siel wat baie moeilik uitgewas kan word. Dit is dan ook die sonde teen die Heilige Gees wat Ek gesê het nie vergewe kan word nie. Dit is egter verkeerd vertaal en weergegee in die Skrif, dit moet eintlik lui:”Wie die gees bedroef wat tot hom spreek, sal nie vergewe word deur homself nie want sy siel het die vlek oor homself gebring en homself dus geoordeel”. So ‘n siel ervaar dan die hel wat hy oor homself gebring het en dit is nie Ek wat uit woede daardie siel in die hel stort nie. Daarom, My kinders wat nog verdwaal is, wil Ek julle aanraai om te luister en nie ‘n oordeel te vel oor die wat dalk in My Naam kan kom en voor jou staan om van My te getuig of die woorde wat Ek hom opdra om vir jou te gee nie. Dit is al wat Ek wil sê hieroor. Ek wil julle net waarsku om versigtig te wees as dit gaan oor My knegte wat Ek stuur. Ek is wel ‘n genadige Vader, maar hoe hardkoppiger julle gaan wees, hoe harder sal Ek met julle moet werk. Leer nou die les van My en weet dat dit waar en gewis is. Amen.

 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205