DIE ONTWAKING
LOUISE SNYDER/CHRISTINE BADENHORST

Hoofstuk 3

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30.

Hoofstuk 3

22 Feb.2008   07:24

Vroeg in die môre as die son nog skaars bo die horison kop uitgesteek het, sing die voëls vir MY hulle ontwakingslied. Hulle dank MY vir hulle nagrus en vir die warm nes of slaapplek wat hulle gehad het. Baie slaap net so in die oop veld en trek hulleself net terug van alles maar hulle warm veerdos hou hulle beskut teen die nag se koue. Net so beskut EK elkeen van julle wat MY liefhet teen die nag se koue en donkerte. In MY arms rus julle en terwyl julle slaap, sing EK vir julle ‘n lied. Baie van julle wat nou hier lees sal kan getuig van die wonderlike ondervinding wat jy gehad het terwyl jy geslaap het. EK praat met baie van julle terwyl julle slaap en wanner julle wakker word, hoor julle nog die stem in julle binneste weerklink. Dit is MY Stem wat julle lering gee terwyl julle rus. EK alleen weet waarom EK dit so doen en sal julle nog meer daaroor leer. Julle is nie almal gereed om lering deur MY te ontvang terwyl julle wakker is nie en daarom moet EK met julle praat terwyl julle slaap. Die les of alles wat deur MY aan julle vertel is, word dan baie diep in die hart gekerf en wanneer dit nodig is, sal alles weer vir julle helder word. Baie van julle het dan ook al so iets onthou wat deur MY aan julle gesê is. Wanneer julle dan ryp genoeg is daarvoor, sal EK kom en met julle praat terwyl jy wakker is en na mate jy na MY soek, sal EK MY aan jou openbaar. Gaan êrens alleen en kom soek na MY. Sonder jouself af en kom praat met MY en wie weet of jy dalk nie al ook ryp genoeg is om die eerste woorde van MY aan jou te hoor nie. EK praat sag, nie in ‘n hoorbare stem nie, maar sag in jou hart sodat jy weet dat die gedagtes wat daarin voorkom, elke keer wanneer jy ‘n vraag aan MY gestel het, nie jou eie kan wees nie. Vra MY ‘n vraag, bly stil in jou binneste en luister. Wanneer jy stil is, kan jy MY die beste hoor, maar wanneer jy in die stad se lawaai is, kan jy niks hoor nie. Die wat MY alreeds kan hoor en hulle oor so ingestel het om MY te kan hoor, sal selfs in die middel van ‘n besige straat MY Stem kan hoor en herken. EK sal met elke een van julle so praat en niemand sal kan sê dat dit sy eie gedagtes is nie omdat jy nie so wys kan wees nie. Ken jy al die antwoorde? Nee, nou waarom sal die antwoord wat jy ontvang dan uit jouself uit kom? Dit is EK wat jou antwoord en niemand anders nie omdat niemand jou binnekant ken soos EK nie. Nie eers die satan kan jou diepste binnekant ken en bespeur nie en daarom kan dit nie hy wees nie. Kom soek MY in die stilte van jou hart en die beste manier om dit te doen, is om êrens onder ‘n koelteboom of enige plek waar dit stil is te kom soek. EK is altyd by jou en sal jou antwoord en dan sal jou hart ook ontwaak om MY Stem te kan hoor. Die ontwaking van jou hart om MY Stem te kan hoor, sal dan ook lei tot die sien van MY aangesig in die Gees. EK sal dan ook jou gesig open sodat jy MY kan sien. Wel sal baie van MYSELF vir jou verborge bly en jy sal MY nie kan sien soos wat die engele MY kan sien nie, maar jy sal MY kan sien na mate jy ryp genoeg is daarvoor. EK sal MY aangesig verberg vir die wat MY nog nie kan aanskou nie en die wat ryp genoeg is daarvoor sal ook MY aangesig kan sien. MY kinders, EK sal MYSELF aan julle toon en wie kan met MY stry en sê dat EK dit nie sal doen nie? EK sal dit doen, net soos wat EK MY aangesig nie toegemaak het toe EK op aarde was nie. Die mense wat saam met MY gewandel het, die sondaars wat Ek vergewe het, die prostitute en die reines kon almal MY aangesig sien. Net so sal MY aangesig ook vir almal wat ryp genoeg is sigbaar wees. Dink nie dat EK MYSELF in al MY glorie aan iemand in ‘n liggaam sal wys nie want daar is niemand wat dit kan hanteer nie. Selfs die engele kan MY nie in MY volle glorie aanskou nie. Maar wanneer die dag aanbreek wanneer EK in die vlees na julle sal kom, sal almal MY weer sien soos wat EK op aarde was. Dit sal vir die wat MY al lank verwag die grootste dag van vreugde wees. Wel sal daar onder die wat EK gered het in die stryd, die wees wat bang sal wees om MY van aangesig tot aangesig te sien omdat hulle nie MY openbarings wou aanvaar nie, maar EK sal hulle gerus stel en hulle sal nie eers weet dat dit EK is wat hier voor hulle staan nie. Die wat MY liefgehad het van die begin af, sal nie kan wag daarvoor nie en sal na MY kom soek terwyl EK daar tussen julle kom rondloop. MY kinders, sorg dat julle MY elke dag liewer kry sodat julle MY dadelik en oombliklik herken. EK sal na elkeen kom en elkeen sal deur MY vasgehou word, omdat EK elkeen liefhet. MY kinders, die onder julle wat gewond gaan word tydens hierdie stryd, sal dan spyt wees omdat hulle nie MY woord wou lees nie. Die wat egter MY woorde dadelik herken het as MY Stem, sal nie gewond word in die groot stryd nie. EK moet elke mens op die manier bewerk wat vir MY die beste is. Elke mens is verskillend en dan is daar ook die wat ‘n bietjie baie van sy innerlike kennis dink terwyl hy eintlik niks weet nie. Dit is hulle wat MY ook soek, maar dink dat niemand hulle iets beters kan leer nie, wat dan deur MY op so manier weer “terug aarde toe” gebring gaan word. As jy MY woord eet en nie hoogmoedig is nie, sal jy saam met jou broeders en susters die stryd kan ingaan en nie gewond word nie, omdat jy dan deel van MY leër sal vorm. MY leër sal dan die ander wat so hoogmoedig was en hulle eie kennis baie hoog op prys gestel het, gaan haal en hulle ook hierheen bring. Hier word nou nie gepraat van die mense wat saam met die vyand wil gaan nie. EK praat van die wat na MY soek, maar nie wil hoor wanneer EK hulle wil roep en MY openbarings lees nie. EK weet waarom EK hierdie ding vandag aan julle openbaar maak. MY innerlike Stem sal weerklink in die wat daarna soek, maar die wat dit verwerp, sal dan huilend na MY kom, wanneer hy nie saam met die ander kan hoor wat EK julle beveel nie en soos die vyfde wiel aan die wa sal hy dan die stryd misloop omdat HY nie geskik sal wees vir die geveg nie. Daar is nog van julle wat MY nog nie kan hoor nie, maar wat dit begeer en julle sal dit ook kry maar die wat dit verwerp sal bitter spyt wees daaroor omdat hulle ook begeer om saam te veg, maar dit nie sal kan doen nie. MY leër sal net bestaan uit die wat MY nie verwerp nie en deur MY innerlike Stem te verwerp, verwerp jy MY omdat EK tog in elkeen van julle woon. EK sal na elkeen kom wat MY soek, maar dit beteken nie dat EK nie binne-in jou is nie, dit beteken net dat EK MYSELF aan jou sal openbaar. EK leef binne jou en daarom kan EK binne jou praat. Waarom moet jy MY van buite af hoor, terwyl EK binne jou is? EK sal nie so iets doen nie, en selfs die mense wat van buite af ‘n donderslag gehoor het terwyl EK met MY kneg Paulus op die pad gepraat het, het dit van binne af gehoor en nie van buite af nie. Dit het vir hulle so geklink omdat hulle nog nie bekend was met die innerlike stem nie. Hoe sou EK dan met Paulus gespreek het? Ook met die innerlike stem. Die innerlike Stem sal elkeen wat wil, kan hoor, maar jy moet alles kom bely by MY wat jy verkeerd gedoen het en Ek sal jou geestelike ore en selfs jou oë oopmaak wanneer jy dit graag wil hê. Dit sal vir elkeen wees volgens sy wil.

Amen


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205