DIE OPSTANDING
LOUISE SNYDER/CHRISTINE BADENHORST

Hoofstuk 6

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20.

Hoofstuk 6
11 Feb.2008 07:38
Jahshua sê dat ek nie verder moet tik nie en roep my om in die gees na HOM te kom. HY staan voor my en ek sien HY gee my ‘n lammetjie met ‘n rooi lint en ‘n klok om sy nekkie. Op die klok staan geskryf: EK is die Enigste Lam. Net MY bloed kan verlos”. Dan speel ek met die lammetjie en vryf hom en hy begin later te spring en speel net soos ‘n gewone lammetjie. Hy kyk na my en blêr en dan begin hy te hardloop tot op ‘n plek en blêr dan weer en dit lyk of hy my roep, want hy hardloop dan weer verder net wanneer ek naby hom kom. Jahshua sê vir my dat ek hom moet volg, want hy wil my iets wys. Hy hardloop teen ‘n berg op en gaan staan op ‘n berglys. Ek gaan ook daar na hom toe en hy gaan nog hoër, gaan staan dan stil en wag tot ek by hom is. So lei hy my tot op die hoogste piek en ek sien dat die piek baie smal is. Direk agter my en die lammetjie is dit weer afdraande en baie sneeu. Die voorkant egter is ‘n baie mooi uitsig en die son skyn daar. Dis baie hoog. Die lammetjie draai dan om en hardloop teen die sneeu gedeelte af en ek volg hom weer. So vêr as wat hy hardloop, smelt die sneeu en skyn die son daar terwyl dit nog sneeu voor hom is. Daar is ‘n rivier en die lammetjie hardloop oor die rivier wat skielik ‘n soliede hout word vir my om oor te hardloop. HY hardloop teen ‘n ander berg op tot by ‘n hut wat mooi verskuil daar tussen die bosse sit. Skielik is ons in die hut en ek sit op ‘n lekker gemakstoel voor ‘n vuurherd met ‘n kombers om my bene en ‘n stomende koppie drinkgoed in my hande. Ek sien dat Jahshua ook in die hut is en ek is baie bly daaroor. HY is die hele tyd teenwoordig. EK sit saam met Jahshua op ‘n stoel voor die vuur en buite is dit onweer en koud, maar binne in die hut is dit lekker knus. (Dit laat my dink aan ‘n Psalm waar daar staan: HY steek my weg in SY hut in die dag van onheil.” En :”HY is my bergvesting”)
 
Jahshua dikteer:
EK is die Lam, die Enigste wat verlos en net MY bloed het mense uit die hel verlos, sal hulle nog verlos en wil hulle nog verlos. EK is die weg, die waarheid en die lewe. Wie MY volg, volg die lewe en sal dan ook na veiligheid gelei word, oor berge en deur dale, oor riviere en mere en deur sneeu tot in die beskerming van MY Vaderarms, waar jy veilig en knus teen MY bors sal rus. EK het gesterwe en EK het weer opgestaan en dit beteken dat jy heeltemal veilig by MY is, want net EK kan die dood oorwin en die hel tot niet maak. Glo net en vertrou net, want EK sal julle nooit op verkeerde weë lei nie. Soos wat EK MY kneg gelei het tot op MY berg en haar gelei het deur dale en oor die rivier, so sal EK elke een lei tot elke liewe mens veilig by MY in MY hut verkeer, waar Ons Een sal wees. EK belowe die Eenheid aan elkeen van julle, as julle van goeie wil is en MY wil volg. Glo MY, dit is die waarheid. Daar is baie dinge op aarde wat julle verstande besig hou, maar julle moet julle verstande kruisig en net na MY kom, wat elke mens se grootste verwagtinge sal oortref. EK het julle almal lief en die Lam wat geslag is, is ook vir julle geslag en SY bloed is genoeg om die hele mensdom te red van hulle oorgrote sondes teen MY. EK sal niemand agterlaat nie en as iemand huiwer, sal EK stilstaan om hom te oortuig om MY te volg. EK roep julle weer na MY toe, en as julle MY gevolg het, sal julle MY dan heeltemal kan sien soos wat EK is. Net soos wat sy eers ‘n lammetjie gesien het en later vir MY. Julle moet net vashou aan MY beloftes en hou aan om MY te volg, al lyk die weg vir julle steil en onbegaanbaar. EK sal julle oor elke hindernis neem en julle sal almal in MY hut aankom en Een met MY word. Daar in die hut wat EK vir elkeen berei het, sal niks kan inkom nie en MY teenwoordigheid sal die hele tyd daar wees. EK is in elke mens teenwoordig wat MY daar wil hê en MY daar soek en so sal julle dan ook die waarheid van hierdie stuk besef, hoe meer julle julle aan MY oorgee. EK sal julle die weg aanwys.
Amen.

 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205