DIE OPSTANDING
LOUISE SNYDER/CHRISTINE BADENHORST

Hoofstuk 2

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20.

Hoofstuk 2
10 Feb. 2008 06:12
In die vorige hoofstuk het Ek vir julle vertel van die mense wat teenwoordig was en daarmee ook saam dat hulle almal vandag weer hier op die aardbodem is. EK sal egter aan julle so bietjie meer vertel. EK het elke mens wat daar was, so versterk met MY innerlike Gees, dat hulle almal bereid was om dood te gaan vir MY. Nou, die doodgaan vir MY is nie waaroor dit vir MY gaan nie. EK wil nie altyd hê dat mense hulle liefde vir MY moet bewys deur dood te gaan vir MY nie. EK ken elke een se hart en weet daarom wat daarbinne aan die gang is en hoe groot die liefde daarbinne vir MY is. Maar die rede dat EK van hulle gevra het om vir MY te sterf, is ook nie omdat EK vir hulle gesterf het nie, maar net om hulle broers te oortuig, dat die saak waarvoor hulle sterf, ‘n baie belangrike saak is en ook die waarheid is. As iemand ‘n saak verdedig tot die bloed loop, sal die ander party later moet glo dat dit waar is. Jy sal tog nie ‘n feëverhaal met die dood verdedig nie, sal jy? Maar die reine waarheid sal jy met die dood verdedig, as jy self die inbors het om so iets te doen. EK het egter daardie mense so versterk en hulle het dan ook vir MY gesterf en tydens die marteling van MY kinders, het baie ander mense ook tot inkeer gekom, omdat hulle nie kon glo dat mense, onsin só sou verdedig nie. Dit was dan MY plan en hulle het almal daarvan geweet voor die tyd en het ook ingestem, al kon hulle deur hulle sterwe dan net een mens red. EK het egter gesorg dat baie mense se oë oopgaan en hulle het die martelare tot in die dood gevolg, waar hulle ook so deur MY beloon is met die ewige lewe. Derduisende mense sal nou ook weer so gered word deur julle onbaatsugtige lewe en sterwe. Wanneer die Antichris sy verskyning maak, sal daar baie wees wat hom volg, omdat hulle bang is vir hulle aardse lewens en omdat hulle nie seker is van ‘n lewe hierna nie, maar deurdat julle nie ‘n duit sal omgee vir julle aardse lewens nie, sal hulle deur julle oortuig word om tot die ewige lewe oor te gaan. MY kinders, die Antichris is hier tussen julle en hy sal sy verskyning maak, net na die groot ramp wat die aarde gaan tref. EK sal julle almal se oë oopmaak en julle sal hom in die gees herken en weét dat dit hy is. Net soos wat julle sal weet dat die persoon wie EK na julle sal stuur, die boodskapper en voorloper is, so sal julle weet wie die Antichris is. EK sal MY GEES vaardig oor julle maak, sodat julle die dinge van die gees sal verstaan en sodoende nie meer ’n vrees sal hê vir die dood en sy metgeselle nie. Dit is so dat die Antichris baie vriendelik sal wees en die mense sal help aan die begin, maar selfs wanneer hy sy goeie voetjie vir julle voorhou, sal julle hom herken en julle sal na MY haas en julleself versterk aan MY bors. Kom net na MY en EK sal julle alles leer en wys wat julle nodig het om die einde van tye heel anderkant uit te kom. Dit beteken nie dat julle nie sal sterf aan die hand van die Antichris en sy metgeselle nie, alhoewel EK baie mense sal beskerm tot die einde, om MY koms op die wolke te sien en sodoende na die nuwe aarde te gaan, maar dit beteken dat daar wel baie van julle sal wees wat vir MY saak sal sterf en dit gewillig en vol vreugde sal doen. EK sal julle egter van al die nodige krag voorsien en julle sal almal na MY kom en nie een sal verlore gaan nie. Deur julle leiding sal baie ander na MY gelei word en ook die ewige lewe ontvang. EK sal julle, wat julle lewens vir MY gegee het, uiters daarvoor beloon en julle sal nooit spyt wees dat julle dit opgegee het vir MY nie. Alles sal vir julle meer duidelik word as julle eers Een met MY is en julle sal dan niks meer te vrese hê nie. Daarom sê EK dat julle Een met MY moet word op die aarde omdat julle dan niks meer sal vrees nie en die weg vir MY met ‘n geruste gemoed kan stap en niks twyfel nie. Kom na MY!
Amen.

 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205