DIE OPSTANDING
LOUISE SNYDER/CHRISTINE BADENHORST

Hoofstuk 18

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20.

Hoofstuk 18
18 feb.2008 08:20
Julle het seker al gewonder waarom mense met mekaar trou en waarom daar huwelike is wat op die rotse uitloop. Baie mense is gelukkig getroud tot die dag dat een van hulle sterwe en dan wil daardie weduwee of wewenaar nooit weer trou nie. MY kinders, daar is baie dinge op die aarde en in My ryk waarvan julle niks weet nie. EK wil dit aan julle verduidelik. Daar is engele in MY ryk wat aan MY belowe het om weer na die aarde terug te keer en dan doen hulle dit ook. Sekeres het dan ook besluit om herhaaldelike kere na die aarde te kom en sodoende die ander mense op die aarde te help, maar daar is engele wat net een keer na die aarde kom en dan weer by MY ander engele in die hemele vergader word. Die wat met MY ‘n ooreenkoms aangegaan het om herhaaldelike kere na die aarde te kom, het dan ook ‘n baie belangrike taak op aarde en wil dan nie met die wêreldling trou en een word nie. Nou, MY kinders is die volgende wat EK vir julle wil verduidelik ‘n bietjie hoog vir julle om te begryp en sal dit moeilik wees om te verstaan as jy dit nie met MY GEES lees nie. Die engel wat besluit om herhaaldelike kere na die aarde te kom, word dan in stukke of gedeeltes na die aarde gestuur. Byvoorbeeld: Die engel Michael is deur MY na die aarde gestuur in die vorm van Sehel. Daar is ‘n “stuk” van Michael in die mens Sehel. ’n Ander gedeelte is in die vorm van die mens Purista, wat ook in die tyd van Adam en Eva geleef het. Sehel en Purista was dan deel van mekaar omdat hulle deel van dieselfde engel was. Nou, nadat hulle gesterf het, is hulle siele of “stukke”, weer bymekaar gevoeg, al is hulle twee verskillende mense. EK het hulle aan mekaar gegee in die hiernamaals. Daarna is daar weer “stukke” van die engel Michael na die aarde gestuur in die vorm van Elia, en daarna Johannes die doper. Daarom sê EK dat Johannes die doper, Elia is en ook Sehel en ook die engel Michael. MY kinders, daarna is daar weer mense na die aarde gestuur wat deel is van die engel Michael onder andere Johanna Brandt, wat julle almal ken deur die profesieë wat EK deur haar aan julle gegee het. Nou in die “moderne tyd”, is die engel Michael weer teenwoordig en sal hy weer vir MY belangrike werk verrig. MY seun wat vir MY sal werk se vrou is ook deel van die engel Michael en EK het hulle met ‘n doel aan mekaar gegee. Met reg kan jy dan sê dat die vrou wat deur MY aan jou gegee is, jou ander helfte is. Daarom is party huwelike so geseënd en ander huwelike loop op die rotse. Wanneer jy jou eie huweliksmaat kies, sal jy die verkeerde helfte kies. Deur geslagtelike gemeenskap word die twee siele heeltemal een en wanneer jy die verkeerde maat het, sal die siele ‘n afkeer in mekaar ontwikkel en later sal hulle skei. Daarom waarsku EK julle ook teen wellustigheid, omdat dit die eenwording met die verkeerde maat bewerkstellig. Voordat jy met die meisie van jou drome of die man van jou drome trou, moet jy eers dubbeld seker maak of die mens waarmee jy jouself gaan verenig, die regte mens is, wat deur MY na jou gestuur is. Daarom moet MY seën eers gevra word voor die huwelik plaasvind. In die dae van MY hoëpriesters, is daar deur MY aan hulle gewys of die mense wat wil trou, wel die regte huweliksmaats vir mekaar is. Maar in vandag se tyd is die predikante so vêr van MY verwyderd, dat niemand eers bewus is van die fout wat hulle maak deur twee verkeerde mense met mekaar te laat trou nie. EK sal die wat MY liefhet egter lei en hulle sal die regte keuse maak en EK sal hulle help, en vir hulle die regte weg aanwys. Tydens die lewe van Johannes die doper was die vrou Maria Magdalena ook teenwoordig en sou die omstandighede anders gewees het, sou sy met Johannes die doper moes trou, omdat hulle altwee van die engel Michael deel is. Na die dood, is hulle egter deur MY verenig, omdat hulle deel is van mekaar en ook deel van die ander mense wat deel is van die engel Michael. Wat dan nou ook gebeur, is dat daar verskillende mense vandag leef en wat deel was van byvoorbeeld Aäron. Nadat Aäron te sterwe gekom het, is hy ook verdeel in ‘n paar “stukke” en het op verskillende tye na die aarde gekom om weer MY woord aan ander te bring. MY kinders, EK doen dit nie uit MY eie uit en dwing hulle daartoe nie. Nee, dit is hulle eie keuse en MY kneg Aäron wou graag op dieselfde tyd op die aarde wees. Daar is vandag drie persone wat deel is van MY kneg Aäron en hulle sal mekaar dan ook leer ken en mekaar ontmoet. MY kinders, hulle is ook almal deel van ‘n ander engel en daarom sê EK dat julle julle broers moet liefhê, omdat julle nie weet wie deel is van dieselfde engel as jy nie. Nou moet EK ook bysê dat almal nie uit die engele uit is nie, omdat baie mense uit die skepping uitkom. Wel is hulle ook uit die engele, maar nie uit die engel wat direk van MY hemele afkomstig is nie. Die wat uit die skepping uitkom, is deel van die gevalle engele en dan deel van die “verlore seun” wat tuiskom. MY kinders, dit is nie te sê dat die mense wat uit MY aartsengele uitkom en deel is van hulle, MY gunstelinge onder die mens is nie. Daar is nie iemand soos gunstelinge tussen MY kinders nie. EK het almal ewe lief, of jy nou deel is van die engel Michael, en of jy nou deel is van ‘n gevalle engel wat uit die skeppingsdeeltjies uitkom. EK het almal ewe lief, omdat almal deel is van MY GEES en EK wil elke “greintjie” van MY GEES weer terug hê. Niemand is meer spesiaal as die ander een nie. Wees daarvan verseker dat MY liefde, vir elke mens is, nie net die regverdiges is geregtig op MY liefde nie. Selfs die sondaars sal deur MY met liefde omvou word wanneer daardie sondige mens weer na MY keer. My engele jubel wanneer iemand weer tuiskom, al is hy nog op die aarde in ‘n menseliggaam, omdat hy/sy ook deel is van MY engelskare wat almal broeders is. Julle almal is broeders, omdat MY GEES die basis is van al die lewe, en MY GEES in julle, moet net ontwikkel word tot volle geloof en liefde in MY. Wanneer MY GEES in jou nog nie ontwikkel is nie, is jy nog sondig, maar nie minder die broer van iemand wat alreeds geestelik ontwikkel is nie. Geestelike ontwikkeling maak van julle net nadere broers wat mekaar alreeds ken en die broer wat nog nie ontwikkel is nie, is net verder van julle af, maar nog steeds julle broer. MY kinders, poog om die mense wat nie MY GEES in hulle alreeds ontwikkel het nie, te bearbei sodat hulle ook kan tuiskom en vryheid en liefde van MY geniet. EK sal julle almal nog nader inlig van hierdie onthulling wat EK aan julle gemaak het, maar op ‘n latere stadium, wanneer julle meer ontwikkel is. Julle moet egter nou eers aan hierdie stukkie brood kou en herkou, voordat EK julle weer verder hiervan vertel. Dit is MY woord aan julle vir vandag.
Amen.

 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205