DIE OPSTANDING
LOUISE SNYDER/CHRISTINE BADENHORST

Hoofstuk 10

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20.

Hoofstuk 10
13 Feb.2008 07:29
Alles wat julle ter wille van MY opgee, sal aan julle terug gegee word. EK het MY liggaam aan julle opgeoffer en na MY opstanding het EK MY liggaam in perfekte kondisie terug gekry. MY liggaam was totaal en al verheerlik en EK kon alles doen met MY liggaam wat ‘n normale mens kan doen en nog baie meer. EK was heeltemal GEES en tog het EK soos die vlees gelyk wanneer Ek wou. EK kon verdwyn en verskyn waar en hoe EK wou en EK was Almagtig in MY liggaamlike verskyning. Net so sal julle ook wees wanneer julle Een met MY is en julle sal alles kan volbring wat julle vir MY moet doen, terwyl julle die hele tyd die hemele geopen voor julle sal sien. EK sal julle almal wat wil, na die eenwording met MY lei en daar is tans ‘n hele paar van julle wat uiters naby is. EK sal julle almal genadig wees en julle julle foute uitwys, sodat julle werk daarvan kan maak en sodoende die Eenwording met MY vinniger kan bereik. EK sal julle help, omdat EK weet dat julle dit baie graag wil hê en uit die diepte van julle harte begeer. Die mens wat dit net wil bereik vir die voordele daarvan, sal egter eers tot besinning moet kom, omdat dit die verkeerde rede is en daarom nog dui op ‘n baie onryp siel en nie werd om Een met MY te wees nie. Sorg dat die regte rede die aansporing is vir jou om Een met MY te word. EK sal jou daarmee help en voor jy weet, is jy Een met MY. Kom na MY en EK sal jou wys en EK sal jou geestesoog sodoende open, sodat jy kan sien wat daarin verskuil lê. EK sal jou jou eie foute uitwys en die opregte van hart sal bly wees daaroor, omdat hy weet dat EK hom ‘n voorsprong gee. Die wat kwaad word as sy foute uitgewys word, is nog te onryp en dan ook baie dom, omdat hy dan nie sy eie foute wil sien om daaraan te werk nie. Die voleinding sal dan vir hom baie vêr wees omdat hy nie die regte dinge sal doen en homself sal verloën nie. Dit bring dan die uitstel van die Eenwording met MY tot gevolg en hy het dan net homself te blameer as hy MY nie vind en Een met MY word nie. Daarom moet julle nie omgekrap raak wanneer EK vir julle julle foute uitwys nie, omdat jy dan duidelik kan weet waar jou foute lê en ‘n daadwerklike poging kan aanwend om dit reg te stel. EK sal julle nooit verneder vir MY eie plesier nie en niks is seerder vir MY, as julle Vader, om te sien hoe ‘n kind van MY ly nie, maar EK weet ook wat die gevolge van daardie lyding vir julle meebring en “knyp dan oë toe” en bring die lyding oor MY kind. EK weet dat EK julle nooit sal verlaat en julle sal oorlaat aan die kwaaiste lyding sonder om te help nie, maar julle weet dit nie en daarom pyn julle harte. Die pyn in julle harte, maak dan MY Vaderhart baie seer. Dit is soos wanneer ’n ouer sy kind vir die eerste keer skool toe stuur en die kind staan en huil by die skoolgebou se hek. Jy, as ouer weet dat dit moet geskied en stort self ‘n traan daaroor, maar jy laat hom maar huil, omdat jy weet dat dit vir hom die beste is. Dit is ook so met MY en EK huil saam met julle wanneer julle huil, maar sal dit nooit aan julle wys nie, omdat EK julle Vader is en julle eerder wil vertroos. EK sál elke een wat vertroos wil word, vertroos en EK sal julle help om so gou as moontlik van daardie doring in julle vlees verlos te word, sodat julle heeltemal rein en skoon voor MY kan kom staan en EK en jy Een kan word. Die Eenwording met MY is dan ook wat MY dissipels met hulle harte begeer het, en hulle het dit ook van MY ontvang toe EK MY GEES oor hulle uitgegiet het. Hulle het voorwaar vir MY gesterf, maar dit was uit vrye keuse en niemand kon hulle doodmaak sonder dat hulle nie hulle toestemming daarvoor gegee het nie. Toe MY Petrus deur die priesters vermoor is, het hulle hom om die bos probeer lei deur aan hom te sê dat hy saam met hulle moes gaan om ‘n siek kind te genees, maar hy het deur hulle gesien en het geweet wat hulle beplan. Hy het homself egter laat welgeval en saam met hulle gegaan en is deur hulle in ‘n bos om die lewe gebring terwyl hy MY geloof het vir die geleentheid om uit sy liggaam te kon kom en vir altyd by MY vergader te kon word. Dit sal vir julle ook so wees en die wat daarna verlang om na MY te kom en die aardse liggaam af te lê, sal deur MY begenadig word en hy/sy sal die liggaam aflê op enige manier wat daarvoor vereis word en sal by MYNE vergader word. Dit sê EK aan julle met die komende geloofstryd in gedagte. Word nou Een met MY voor die stryd in julle land begin en julle sal die seëning daarvan verkry en soos die arende oor die vyand sweef.
Amen.
 

 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205