Hoofstuk 3.
18 Desember 2007 om 02h30
Daarom dan, net soos dit deur een misdaad vir alle mense tot veroordeling gekom het, so ook is dit deur een vryspraak vir alle mense tot regverdigmaking van die lewe. Hier kan geen twyfel bestaan dat hier van alle mense, hetsy van veroordeling of van vryspraak, sprake is nie. Omdat die Skrif dit elders duidelik sê dat nie alle mense gered sal word nie, is die oplossing dat daar ten minste vir elkeen ‘n kans is om gered te word. Hoe sal julle ontvlug as julle so ‘n groot saligheid verontagsaam?
Tog stel die Skrif dit so in 1 Petrus 2:8 dat julle wat julle teen die steen stamp, dit doen omdat julle aan die Woord ongehoorsaam is. Die Skrif voeg daaraan toe: “Waarvoor julle ook bestem is.” En dit is waar. Maar dan weer waar omdat Ek enig en onveranderlik is en bly. So is dit dan ook bestem dat julle wat nie glo nie, julle teen die steen sal stamp. Die uitnodiging kom egter tot julle almal. Hoe kan Ek die persoon uitnooi wat Ek bepaal het om verlore te wees en wat Ek gemaak het om die uitnodiging te weier, en dan nog daaraan toevoeg dat so iemand verlore is omdat hy die uitnodiging geweier het? Dit is mos om aan My bedrog en skynheiligheid toe te skrywe, al wil julle met so ‘n standpunt dit ontken. Die logiese konsekwensie van so ‘n standpunt bly ‘n beskuldiging teen My – asof dit My skuld is. Nee, weg met sulke duiwelse verdraaiing van die Skrif!
Die waarheid is dat daar vir albei kante Skrifgetuienis is; die absolute vrymag van My, sowel as die verantwoordelikheid van julle. Wie die een kant ten koste van die ander beklemtoon, verval in ‘n dwaling – nie een is reg nie.
As iemand sou sê: Dit hang van My af of ‘n mens gered sal word, dan is hy reg. As iemand egter sou sê: Dit hang van die mens af of hy gered sal word, dan is hy ook reg. Maar beide is alleen reg as die een die waarheid wat die ander het, nie misken nie, en mits hulle nie daarmee bedoel dat Ek en die mens gesamentlik vir die redding van die mens verantwoordelik is nie. Dit sal ‘n miskenning van beide die absolute vrymag van My en die verantwoordelikheid van die mens beteken. Die absolute vrymag van My en die verantwoordelikheid van die mens ontmoet in die ewigheid. As hiermee egter bedoel word die Ewige Raad van My, dan voel julle die gedagte is op die regte spoor, want juis dan kom julle by die inhoud of uitdrukking van die liefde van My, naamlik Ek self.
Die uitverkiesing kom dus met die onvoorwaardelike eis: “Maar beklee julle met My.” Dit roep tot geloof en bekering. Die uitnodiging van die Evangelie, dit wil sê die prediking van geloof en bekering is die wyse waarop die uitverkiesende genade van My tot die gevalle mens kom. Vandaar dan ook dat Petrus skrywe: “Daarom, broeders, moet julle jul des te meer beywer om julle roeping en verkiesing vas te maak; want as julle dit doen, sal julle nooit struikel nie. Want so sal ryklik aan julle verleen word die ingang in die ewige koninkryk van julle Vader en Saligmaker. Hy wat dus nie geloof en bekering preek nie, preek nie uitverkiesing nie. Hy wat die hoorder nie oproep om tot ‘n daadwerklike geloofbeslissing te kom, en My as Verlosser aan te neem nie, verstaan die uitverkiesing nie. Geloof en bekering is die noodwendige uitvloeisel van hierdie heerlike goddelike waarheid; die wyse waarop die Raad van My in die mens ‘n heerlike werklikheid word.
Wie die weg tot saligheid aan die hoorder verduidelik. Hy verklaar die Skrifte, en bring die blye boodskap dat Ek julle uitverkies het. Daarom moet julle, julle met My beklee. Die uitverkiesing roep die mens tot ‘n definitiewe beslissing: Neem My aan! Om hierdie rede het niemand wat nog nie tot bekering gekom het nie, die reg om hom op die uitverkiesende genade van My te beroep asof dit reeds sy eiendom is nie, maar vir jou redding staan hierdie hemelse waarheid nooit los van die volgende nie; julle moet julle ook met My versoen. Ek roep, maar julle moet antwoord; Ek gee, maar julle moet neem.
Amen.