Boek 1 - Die Weg aan JaHshua se Volk
VOLKSLEIDING-REEKS

Hoofstuk 7

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13.

 

Hoofstuk 6

Opvoeding

24/4/2009

Hiermee dan die skrywe oor die ydelheid van My Volk. Elkeen sal hierna in sy hart moet ondersoek doen om te sien of hy meegedoen het aan wat My Volk se ondergang bewerk.

Ydelheid is deel van ‘n opvoeding. Kinders, veral julle wat hier lees, het grootgeword sonder die strenge tugtiging van ouers, wat nie hoogmoed en ydelheid in kinders kon verduur nie. Dit het egter die norm geword om sulke optrede rondom jou waar te neem en daarom het ouers verslap in hulle optrede en waarnemings. Die Satan (in vleeslike houvas) se grootste mag is te sien waar hoogmoed en ydelheid hoogty vier. Dit is daar waar kinders die sê het in situasies, buite die orde van gehoorsaamheid, eer en respek. Wanneer ‘n kind, deur die Woord van Liefde in sy/haar hart of deur die geopende geloofsoog wel deurgee wat hy ervaar, staan dit die kind vry om sy ouers te help om dit ook raak te sien en te glo soos ‘n kind, as die kind die nodige geloofsbeginsels gebruik het om met sy ouers of meerderes te kommunikeer.

‘n Kind se grootste bron van dwaasheid is by die oorlaat aan sy eie genade. As ‘n kind ‘n oppasser het wat hom tugtig en aanspreek op die regte tyd, sal die kind die liefde leer toepas op ‘n vroeë stadium. Die kind is nie in staat daartoe om tussen goed en kwaad te onderskei, sonder leiding van sy meerderes in ‘n geloofsrigting nie. As hy/sy dan die Woord begin waarneem in sy binneste deur die gewete wat aktief raak, is hy net so gereed vir verdere onderrig in die Wet, soos enige volwassene. Die kind moet dus eerstens onder leiding van Liefde, My in omstandighede leer erken en sodra hy dit aanvaar en glo, moet hy gelei word om na sy gewete te luister. Daarna kan die kind in die Wet onderrig word en staan die groot gebod van eer teenoor die ouers en meerderes voorop. Tweedens moet die kind die Woord aangaande wees en weduwees in ag leer neem, deur uit te reik na sy naaste in nood. Lei die kind om nie net na behoeftiges se nood, bo sy eie, om te sien nie, maar wel na almal rondom hom se belange te kyk en te sorg dat hy laaste versorg word met net die nodigste. Só leer die kind om ydelheid af te lê, deur Liefde vir sy naaste. Derdens moet die kind die begrip van My sorg bo andere besef, naamlik dat dit nie sy aardse vader en moeder is wat die gawes van versorging voorsien nie, maar sy Skepper en Verlosser alleen, deur dié wat oor hom aangestel is.

Wanneer die kind leer dat hy vriende mag hê en ook die regte speletjies wat eer aan My en respek vir die Skepping verseker, sal hy mag hoor hoe Ek ook sy Vriend is en oral saam met hom dinge doen. Hy moet dan leer hoe Ek na sy veiligheid omsien en hom nooit alleen laat nie. Hy moet altyd vry voel om My aan te roep of met My te gesels, selfs as hy onseker is oor dinge, want Ek sal ook die vrae aan hom verduidelik in ‘n begripsvlak wat hy sal verstaan.

Hierdie is die grondslag vir ‘n opvoeding waar ydelheid die nekslag toegedien word in die vroegste stadiums. Alle wette is geskoei op hierdie beginsels en die kind moet deur en deur besef dat hy nooit in die geheim is nie. Ek is oral en alomteenwoordig, selfs in die stilste en donkerste oomblikke.

Vrees is nie die beginsel vir gehoorsaamheid nie, maar wedersydse respek wel. Die ouer en kind moet hierdie in ag neem en daar sal liefde uit die opvoeding spruit, sodat ouers en kinders reeds op aarde die hemelse Liefde deelagtig raak. Amein.


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205