NATUURGEHEIME
LOUISE SNYDER/CHRISTINE BADENHORST

Hoofstuk 1

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7.

Deel 1
Die dinosourus.
7 Jan. 2008
Jahshua het my aangesê om in die gees na HOM te kom en HY het my ‘n hartjie gegee. Dit was ‘n rooi-goudkleurige mooi bolvormige hartjie gewees. Ek het nog nooit so ‘n kleur gesien nie. Jahshua het gesê dat ek die hartjie moet oopmaak. Asof ek deur ‘n venster kyk, het ek `n tuin gesien en Jahshua het gesê dat ek daarin moet gaan. Ek het saam met HOM daar geloop en daar was die mooiste plantegroei. Klimplante het teen hoë bome opgerank en na ‘n ruk het ek ‘n bankie onder ‘n boom gesien. Dit het gelyk soos gras wat in die vorm van ‘n tuinbank gesnoei is. Jahshua het gesê dat Ons daar moet gaan sit en HY het met my oor allerhande dinge gepraat. Daar vlieg die mooiste vlinders rond in die kleure van die reënboog en daar kom sit ‘n potblou vlinder op my hand en maak sy vlerkies oop en toe. Jahshua wys my SY handpalms en ek sien die linkerkant is blou en die regterkant is rooi. HY druk SY palms op mekaar en SY handpalms word pers. HY sê vir my dat waar daar liefde(rooi) en vrede (blou) is, daar ook vriendelikheid en geduld (indigo en violet) is. Daarna is SY handpalms weer rooi en geel en HY druk dit weer opmekaar en sê dat waar daar liefde (rooi) en lydsaamheid (geel) is, daar ook vrolikheid van hart (oranje) is. Daarna doen HY dieselfde met geel en blou wat groen maak en sê dat waar daar lydsaamheid (geel) en vrede (blou) is, daar ook geloof (groen) sal wees. Terwyl Ons so sit en praat, kom daar ‘n dinosourus aangestap en gaan staan reg voor Ons asof hy ons nie eers sien nie. Die dinosourus bring op en ek sien dis net takke, blare en bene en hare van ‘n dier. Jahshua sê vir my dat die diere nie net vleis gevreet het soos wat die wetenskaplikes dink nie, maar dat die dier bome verslind het. Hy het bome met takke en al verslind, sodat daar plek gemaak kon word vir die mense om te woon. HY het aan my gesê dat elke dinosourus baie bose geeste gehad het en dat die dinosourus baie groter was as wat die bene wat vandag ontdek word, aandui. HY het ook gesê dat die geeste in die dinosourus, soos wat hulle ryper en meer rustig geword het, een vir een uitgegaan het en dat die dier dan stelselmatig kleiner geword het, totdat hy later gevrek het. HY sê dat HY hulle deur ‘n siekte uitgewis het, omdat hulle dan ook hulle werk, om die aardbodem vir die mens meer bewoonbaar te maak, voltooi het.
 
Vader dikteer:
MY kinders, julle dink nou dat MY skryfkneg stapelgek geword het en dat daar snaakse dinge met haar aan die gang is, maar hierdie is ook ‘n werk van MY Hande wat net deur haar aan julle gebring word. Hierdie is die reine waarheid en julle kan elke woord hiervan glo. Dink julle dat daar nie regtig sulke diere bestaan het nie? As julle so dink, maak julle ‘n groot fout omdat dit ook in MY plan gelê het om julle hiervan in te lig, sodra die tyd ryp geword het. Wel, die tyd is nou ryp daarvoor en EK sal julle ‘n bietjie meer as MY skryfkneg hiervan vertel. Die dinosourus het geleef in die vroeë tyd saam met Adam en Eva en ook hulle direkte nageslagte. Dit was ‘n buitengewoon groot dier en hy moes die aarde meer bewoonbaar maak vir die mens. Daar het in daardie tye bome gegroei waarvan julle nie eers weet nie en omdat die bome so enorm geword het, was dit haas onmoontlik om die bome af te saag. EK het ook MY manier gehad om die mens te help en het die dinosourusse vooruit gestuur om die bome af te vreet. Hulle kon takke heel insluk en dit dan later weer opbring om dit dan weer te kou totdat die hele boom op so ‘n manier verslind is. Daar het ook later teveel van hulle rondgeloop en hulle was ‘n bedreiging vir die mense van daardie tyd en daarom het EK hulle aansienlik verminder, deurdat EK ‘n siekte onder hulle laat uitbreek het. Die dinosourusse het dan ook stelselmatig uitgevrek tot daar net ‘n baie klein hoeveelheid oorgebly het. Die dinosourusse was dan ook die liggame vir ‘n hele klomp geeste wat nog baie onryp was en soos wat die geeste in hulle ryper geword het, het die geeste dan ook een vir een uit hulle uitgegaan en in ander skeppingsfases ingegaan. Daardeur het die dier in grootte gekwyn en die bene wat vandag deur die soekers gevind word, is dan ook baie kleiner as die oorspronklike dinosourusse van daardie tyd. Baie dinosourusse was wydverspreid oor die aarde, maar net in Afrika word hulle nog aangetref, waar hulle diep in die bosse van Afrika wegkruip. Die inboorlingnasies wat nog daar bly, weet dan ook van hulle en probeer hulle doodmaak, maar EK beskerm hulle, omdat daar nog baie bose geeste in die diere teenwoordig is wat nog nie uit moet kom nie. Geen mens kan verstaan wat met daardie diere besig is om te gebeur nie, omdat almal van julle nog ‘n bietjie te onryp is daarvoor en daarom sal EK nou hier afsluit met die volgende gedagte. MY kinders, julle weet nou al van die pad van die gevalle engele deur die skepping en die leer van die sieledeeltjies en daarom moet julle hierdie van die dinosourusse glo. EK sê dit nie net vir julle omdat dit ‘n interessante nuusbrokkie is nie, maar omdat julle ook moet weet dat daar aan die begin sulke diere was wat miljoene stukkies van siele gehad het en wat ook die doel gehad het om hulle te laat ryp word. Daarom het EK die dinosourus verskillend gemaak van al die ander diere, omdat hulle baie groot opnamehouers vir bose deeltjies moes wees. Ook moes hulle die mense help om die aardbodem geskik te maak, sodat daar plek kon wees vir meer mense. Sekere groot roofdiere is ook deur die dinosourusse gevang en opgevreet, omdat die bedreiging van groot roofdiere groot was in daardie tyd. Dit was dan waarom die Sabeltandtier ook uitgesterf het,- omdat hulle deur die dinosourusse gevang en opgevreet is.
Amen
Waar die waterval sy oorsprong het
Nadat ons die dinosourus bekyk het, sê Jahshua aan my dat ons weer moes stap en HY wys my ‘n pragtige waterval. HY sê dat HY my die oorsprong van die waterval sal wys. Hy vat my tot by ‘n groot meer en tot op die bodem van die meer. Op die bodem is ‘n gat tussen rotse versteek en HY vat my tot daarbinne in die gat onder die aarde. Ek sien ‘n ondergrondse dam en in die een hoek van die dam, onder die water is nog ‘n gat. Daar word water in die dam ingeforseer deur hoë druk. Jahshua vat my deur die gat tot nog dieper die aarde in. Daar staan ek saam met Jahshua in die maag van die aarde en dit beweeg en raas daarbinne. Jahshua wys my tonnels wat vanuit die maag loop en baie kronkels maak tot in die ondergrondse dam waar die water in die hoek instroom. Die drukking vanuit die aarde is sterk genoeg sodat die dam die heeltyd van onder af gevul word met water. Jahshua sê die ondergrondse dam is die “bloedvat” van die aarde en onder die bogrondse meer is baie “bloedvate”. Hy wys my dat daar nog sulke damme langs die ander een is en dat hulle geskei is deur baie dik wande. Die dik wande dien as versterking sodat die meer nie in die aarde insink nie. Vanuit die aarde se “bloedvate” gaan die water dan tot in die meer deur diep gate op die bodem van die meer.
Vandaar ken ons dan die pad tot by die waterval.
 
Jahshua dikteer:
Geen lewende mens het dit nog ooit aanskou nie en die enigste manier om dit aan iemand te kan toon is deur die gees. Daarom spoor ek julle almal aan om in die Gees na MY te kom, sodat EK julle almal die werking daarvan kan leer. Dit het MY skryfkneg te beurt geval, omdat sy MY altyd in die skepping om haar gesoek het. Soek MY daar en julle sal MY ook daar vind, nadat julle MY eers in julle harte gevind het. EK is orals en sal julle tot op die maan kan vat as julle ‘n begeerte daartoe gehad het. Ja, My kindertjies, die pad van die waterval kom al van baie vêr en diep onder die aarde uit. Geen mens kon nog ooit so diep die aardbodem ingaan nie en sal sekerlik omkom sonder suurstof en die kwaai drukking daar onder. Die aarde is ‘n lewende organisme net soos julle en die diere om julle. Julle het altyd gedink dat die aarde ‘n dooie ding is waarop julle leef en dit is die grootste fout wat julle nog ooit gemaak het. Kyk om julle rond. Dink julle dat ‘n dooie ding al hierdie lewe op haar bodem sou kon onderhou? Dit is MY Hand, ja, maar net omdat dit MY hand is wat julle onderhou, beteken dit dan dat julle ook dood is? Nee. Julle lewe en net so ook julle aarde. Die aarde het presies dieselfde lewensfunksies as julle. Sy haal asem, eet en verrig ook ander liggaamsfunksies. MY kinders, net omdat julle dit nog nooit geweet het nie, maak dit nie onwaar nie. Die aardkors is baie diep en binne die aarde is daar baie ander organe ook. So is die aardkors, soos wat julle dit noem, net die buitenste huid of vel van die aarde. Onder die huid is baie are of tonnels wat lewensappe deur die aarde versprei en dit is dan ook die “bloedvatstelsel” van die aarde. Dan moet daar natuurlik ook ‘n hart wees om die “bloed” deur die verskillende dele te pomp, nie waar nie? Ja daar is ‘n hart en die hart klop aanhoudend net soos julle harte. Wel klop die hart op ‘n ander tempo as julle s’n, maar sy klop om alles van die lewende water en ander sappe te voorsien. My kinders, julle wat MY liefhet moet ook glo dat niks by MY onmoontlik is nie en sal weet dat julle aardse verstandjies so klein is, en dat julle baie min van die aardbodem en ingewande van die aarde weet en daarom nie hierdie dinge kon geweet het, sonder MY wat julle hiervan inlig nie. Dit is Ek wat julle meer hiervan wil vertel sodat julle julle eie nietigheid beter sal besef. Dink hieraan, dat niks sonder MY ooit moontlik kan wees nie en dat EK, ten spyte van die feit dat julle die aarde vernietig deur die vuil wat julle so in die aardse water inpomp, en al die ander maniere van besoedeling, die aarde nog steeds so onderhou, al moes die aarde al baie lank gelede omgekom het van die besoedeling op haar. Deur MY hand lewe sy nog en julle sal geskok wees om te weet dat die einde van die aarde nie meer ver is nie. Die aarde sal deur MY vernuwe moet word, sodat daar weer lewe moontlik kan wees op haar bodem. MY kinders, elke ding wat julle hier doen wat nie uit MY is nie, word deur die aarde as pyn ervaar. Die diep gate wat julle myne noem, word tot diep in die “vel” van die aarde ingeboor en dit verskaf aan haar ongerief en ongemak. Deur die bewerking van die aardbodem soos wat Ek aan julle voorgeskryf het, geskied daar niks wat die aarde kan skaad nie en dit beteken net dat die aarde in stand gehou word. Maar vandag is die gifstowwe wat so gebruik word om rekordoeste af te haal, ‘n baie groot nadeel en dit dien net verder om die lewensbloed van die aarde te besoedel, omdat dit baie diep in die grond sak en daar deur die aarde opgeneem word. My kinders, leef eenvoudig en rein en moenie die aarde vernietig nie. Lewe in vrede met die aardbodem wat julle tot hiertoe gedra het.
Amen.

 
 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205