Boek 5 - Die Ryk man en JaHshua
VOLKSLEIDING-REEKS

Hoofstuk 4

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6.

 

Deel 3

7 Stappe omhoog tot volheid in Jahshua

Deur JaHshua aan Nalize gedikteer op 2/4/2009

1          Toegewydheid

My geliefdes, vandag spreek Ek met julle oor toegewydheid aan My en My Woord.

As jy My Woord jou eie gemaak het, sal Vrede stand hou in jou in alle gevalle wat jy daarmee te doen kry. Die stem of Liefde in jou binneste sal die ander liefdesuitinge herken en jy sal bewus raak van die meer of mindere of gelyke vlakke van Liefde waaruit die geskrewe werke gevorm is. Liefde herken mos Liefde. Om hierdie rede wil Ek julle aanspoor om al My skrywers aan te neem nadat jy oorleg met My, die Liefde, in jou hart gepleeg het, want EK IS in elkeen en dalk net versluier in ‘n mindere of meerdere mate, maar jy sal My herken as jy in My is. Laat die groter mate van Liefde in skrywes jou aanspoor tot gehoorsaamheid, diensbaarheid en Barmhartigheid en laat die kleiner mate van Liefde jou aanspoor tot verwerkliking van Ligdraerskap. Moet egter nooit neersien op iemand nie, maar hef jou oë omhoog en sien die groter prentjie. Sien dieselfde siel se pad na bekering tot waardige mens, soos Ek hom of haar geskape het om te wees na My Beeld.

Ek is suiwer en hierdie suiwerheid is verseker in jou, sodra die lastige ontwaak en tot insigte van Lig kom. Weerhou jou van naywer en ywer net om My as erfdeel te verkry. Bly bedag daarop dat niemand jou vrede steel nie, maar vind My dan in jou soeke na Geregtigheid, Liefde en Krag – Dit is dus ook in Wysheid, Lewe en eenvoud.

Hierdie drie – Wysheid, Lewe en eenvoud is die Kern van menslike ontwikkeling en die toppunt van aardse groei. Ná hierdie groei lê daar nog baie in vooruitsig, maar EK IS Lewe en daarom ook jou Wysheid en dít is eenvoud, want beide het jy dan IN jou. Niks is uiterlik en onvanpas in enige oomblik, maar op sy plek, volgens korrekte tydsberekening afgevuur op My teiken van Liefde.

Wysheid bevind haar in die setel van die hart, dáár waar die Mens woonagtig is. Die Liefde ontsluit haar as die Liefde Lewe en daarmee sal alles tot stand kom in die Lig. Niks sal egter verbeteringe vra, daarom net in eenvoud gevorm word, soos Ek dit Wil. Só handel jy in My. Alles deur jou kan dan groei in My Lig en Lewende Water, omdat die basis van Skepping só korrekte fondasies het om gesond te ontwikkel.

Al My Liefde plaas Ek dan deur jou in die nuwe wese, hetsy Woord, gedagte, skepping of diens en só beleef jy vervulling in die samewerking met jou daad.

Laat elke uiting van jou kant dus geskoei wees op jou hart se volle liefdesvaardigheid en jy sal vreugde en vervulling van die sewe geeste daarin vind en ver wees van ‘n grief uit My. Laat My Liefde Lewe ín jou! Amein.

Nóg is die onderrig nie verby nie. Ek bemoei My met julle, omdat julle laaste oogwink-kans aangebreek het. Ek wil verseker dat julle deur My by magte is om Ons werk te doen en daarom skerp Ek julle op om julle harte meer en meer te verlig. Kom aan, die tyd stap vir julle aan! Is jy op die trappie waarop Ek uitbrei gereed? Kan jy met verwagting uitsien na die nuwe trappie wat Ek bespreek? Kan jy dít dan ook, sonder bande bestyg met die wete dat jy vry is om die leer na die hemele in jou, onder My begeleiding te bestyg?

2          Geloof in My Woord

Die volgende vlak se werk lê in die Geloof in My Woord. Sonder geloof is jou huis op sand gebou en kan enige wind jou omwaai. Sonder geloof is jou huwelik met My ‘n vergete gedagte, verwaai deur tyd. Sonder geloof is jou hart onbetrokke in jou dade, omdat jou reinheid, vrede en liefde dan geen rugsteun het nie. Jy wérk dan vir niks en het nie ‘n doelwit as bemoediging of aansporing nie. Niks is duidelik in ongeloof nie en jy verraai jou aardse bestaan deur nie geloofwaardig te handel nie.

Wáár in die heelal sal jy geloof moet toepas, soos op die aarde? Dus: Een maal is jou kans beskikbaar om jou geloof te ontwikkel deur jou hemelhuis op die Rots te grondves. Hou vas en Ek kom ook vir jou. Amein.

Nêrens is meer lig te vind tussen mense as juis by die gelowige nie. Waarom? Want die gelowige se Bron van bemoediging, ‘flinkdink-aksies’ en waardesisteem is LEWEND. Dit is vol seën en rein, soos ‘n massiewe waterval. Gaan staan vir ‘n oomblik in die Lig van ‘n gelowige en jy kan byna LIEFDE verwoord. Waarom weereens? Want Ek is standhoudend en die Lig wat uit ‘n gelowige straal. Glo jy My? Het jy vertroue in My Woord dat jy deur die loop van tyd My blý raadpleeg of die standhoudendheid van My Woord?

Berei jouself voor vir verdere ontwikkeling op die Rots deur jou basis helder voor oë te hou. Is jou doelwit duidelik? Weet jy waarom en waarheen jy werk? Probeer jy dit lewend en helder hou deur jou doelwit, saam met jou geestelike groei daagliks te vernuwe in besprekings met My?

Ek wil jou verlig. Kom na My in volle geloof dat wat jy nóú hoor, weereens vordering en arbeid inhou? Ek sál jou aanhoor, antwoord, bystaan, versterk en help vorder – WIL net glo en aanhou. Amein. Jou Liefdevolle Vader, Vriend en Man.

3          Tyd

My Woord is Alles. Dit is die Oerbron, maar ook die Begin van elke nuwe Begin. Staan jy daarom vas om te vernuwe saam met elke gedagte waarmee Ek jou laat vorder? Is die werke wat spruit uit jou geloof in My Woord dus lewend? EK IS lewend en deel jou met tyd. Is jy geheilig aan My om jou tyd Goddelik te verwyl, dus in My Wil te handel? EK IS die Een wat jou help om tree vir tree tyd se Meester te word. Tyd is onderdanig aan Ons in die Gees, want dit het slegs ‘n invloed op materie. Tyd is ‘n enkelbegrip en alle Geestelike is saamgesteld. Dus het alle bestaande, verhewe bo materie-wese ‘n sê op tyd. Jou volgende opdrag híér en in die hiernamaals is dus geskoei op jou houvas op tyd. Is jy onderdanig aan tyd, is jy ‘n enkelvoudige wese, wat Liefde op beperkte horisonne of vlakke uitleef. Is jy egter verhewe bo tyd deur Eenheid met My, is jy Meester van alles wat beperkend handel in die Liefde. Amein.

4          Leeromgewings

3/4/2009

My geliefdes, die volgende vlak waarop Ons uitbrei tot vervolmaking, is die wete dat Ek voorsien: Ek dra die las van elk’ verlore seun en weet wat om op sy pad te stuur sodat hy My sal erken en vind. Jyself kan dus niks oor iemand bring, sonder My Wil nie, want dan gryp jy in en nie Ek nie. Ek voorsien in tydigheid en ontydigheid die kern van Liefde se oorsake, want alleen Ek kan heiligheid bewerk as die verlorene dit aanneem.

Ek wil dat elkeen van julle besef hoe om My werk in en oor jou waar te neem. Ek wil dat julle dus My Hand erken en herken, sodat julle nederig kan word en bly in die Liefde, soos almal met wie Ek werk. Niks is te eenvoudig of onbelangrik vir My om My mee te bemoei nie – laat dit ook só wees vir jou. Ek voorsien in leeromgewings en lesse vir elkeen om homself in My te verbeter. Ek is die skool, die onderwyser, die leerstof, die voorbeeld en die Liefde in die Proses. Amein.

5          Verstandsaflegging

5/4/2009

Die volgende vlak wat alle verstand te bowe gaan, is die verstandsaflegging in die Liefde. Die Liefde het geskape, voltooide werke met eie wil, sodat die verstand kan parte speel met die hart. Wanneer dié twee verenig, is die pool van vereniging die beste spreker vir die skepping se toekoms. Die pool wat die verste van My staan, naamlik die verstand, is maklik hard, ongenaakbaar, geregtig-georiënteerd en wyk van die smal roete af deur selfregverdiging en self-opgelegde verantwoordelikhede. Die pool naaste aan My, naamlik die hart, spreek uit My met die wil-georiënteerde wese. As elke Woord aangehoor en ondersteun word, deur die verstand met Wysheid van Bo te betrek, dan sal die wese van die Mens, soos dit bedoel is om geskape te wees, gestalte vind in die skepping.

Ek roep julle nou om die hart tot My beskikking te laat te midde van ywer en werksdoelwitte, dat jy My kan hóór. Ek praat wel, maar jy luister nie sommer nie. Hou net aan probeer en moenie hiermee tou opgooi nie, want as jy moed opgee daarin om My stem te herken, sal jy ook wil moed opgee in verowering van die geestesliggaam wat Ek in jou wil ontbloot. Aan My is dit reeds duidelik, maar ook aan die mede-oorwinnaars sal hierdie liggaam duidelik raak as jy bly volhard. Volhard tot die einde en Ons sal oorwin. Amein.

6          Wil

‘Alles is gegraveer in My Hand.’ Die geestelike hiervan dui aan dat alles in My Liefde en Wil begin is en dat dit vasstaan tot in ewigheid. My Wil strek verby elke sondige gedagte of daad en daarom kan geen só ‘n negatiwiteit vernietiging van ‘n bestaande werk bewerk nie. Ek verlos van die bande van die negatiewe optrede, maar Ek vernietig nie. In die volkome wedergebore staat kan jy dus WIL om te verbreek, maar nie om te vernietig nie. Jy kan WIL om te verlos en te verbly, maar nie om te verdoem nie. Jy kan iets of iemand in ‘n ander ruimte instuur, maar jy kan dit nie verwens nie. Besef die mag van jou WIL en jy sal besef hoe Ek My Krag in jou vermeerder, soos wat jou WIL in Myne opgaan. Jou woorde en WIL ‘word’ Myne deur jou toewyding en oefening daarin, dit word jou nie net gegee nie. Dít is om Wysheid op te neem in My Liefde. Ek wil dat julle My vergestalt, maar daarom WIL Ek dat julle ywer om dit reg te kry. Niemand kan daarom vir die ander instaan, want jou vuur/liefde lê in jou tong. Waarheen neig jou tong, of anders gestel, waarheen openbaar jy neig jou Liefde – na My of die Bose se kant, dus vryspreking of kluistering. Amein.

7          Veredeling

Watter pad kies jy? Ek het gespreek en jou geleer van toewyding, geloof, tyd, onderrig, verstands-verbreking, WIL en nou ten laaste veredeling: Waar wil jy My vind anders as in jouself? Hoe wil jy My daar vind? As onuitputlike Krag- en LiefdesBron of as onderdanige Vriend? Wat gaan jy dan as heenkome kies wanneer jou liggaam of omstandighede jou in die steek laat? Ek wil jou nooit in die steek laat nie, daarom vra Ek dat jy fokus op jou afhanklikheid aan My. Dít is edel. Edel is die Volk deur My Hand uitverkies. Dus – edel is die volk wat deur My Liefde in bestaan geroep is en bymekaar gemaak is. Edel is die Hart wat Liefde verkies, dus: Edel is die gees wat die Gees volg en bemin. Edel is die Man wat hart aan hande bind – dus edel is die Mens in jou wat uit Liefde handel en skep. En: Edel is die Kind wat opgroei, net deur My Bloed verbind. Ook: Edel is die wedergeborene wat tot volle wasdom in die wedergeboorte kom deur My Liefde as enigste verwantskap en steun. Veredel jou deur afhanklikheid aan My en My Woord en jy sal volheid van die Gees in jou ontvang. Hou jou oë op My gerig en jy bly vry tot veredeling van jou Siel. Amein.

In hierdie sewe stappe wou Ek jou omhoog lei om tot volheid in My te keer. Amein. Ek bevry en wil julle met elke treë nader aan My trek, dus in julle rein harte in. Gló My en neem jou bed op en volg My na. Amein.


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205