Boek 5 - Die Ryk man en JaHshua
VOLKSLEIDING-REEKS

Hoofstuk 3

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6.

 

Deel 2

Die Verbondsteken aan Noag

Deur JaHshua aan Nalize gedikteer op 3/02/2009

Noag is jy (elkeen), die regskapene wat My uit liefde, in oorgawe dien. Hy is ‘n Man van Elohim, dus van Krag, wat op uitvoering van My bevele met hartstog wag. Deursettingsvermoë sal hom na redding en behoud lei, want in geloof volg hy My blindelings, soos ‘n kind, maar nie sonder die kruisiging van homself, sy wil, tyd en lewe nie. Ek laat hom nooit alleen nie en deur sy pogings tot gehoorsaamheid heers hy met My krag en só word hy wys. Lê af elke sonde en kwelling soos Noag en die watervloed sal jou nie skaad nie.

Op Mý tyd het hy gehoor gegee aan My stem wat ander onder sy vleuels laat inkom het. Die ander het bestaan uit onderdane van My Ryk, wat gevolg het, maar My stem in hulle binneste nie gevind het nie, as gevolg van ‘n tekort aan vurige liefde vir My, hulle Maker. Nét Liefde vir My open die ore van die ingebore gees om die Gees wat alomteenwoordig is, waar te neem. Ek is Liefde. Amein.

Wanneer die paar suiwer diere, naamlik die Wysheid en Krag van elke persoon deur die Liefde ingang in die ark van versoening vind, word hulle geestelik gevoed en versorg deur die geestelike leier wat Ek oor hulle aanstel, omdat die tekort aan liefde hulle nog nie toelaat om direk onder My gesag te lewe nie. Hierin lê die sieleleer opgesluit.

Wanneer die beskutte bestaan in die gees vir hulle ‘n lewenswyse word, sal die vloed toegelaat word om oor hulle te spoel en so hulle laaste eienskappe af te rond, waaruit volmaakte liefde vloei. Die tyd sal deur My, hulle Maker bepaal word en geeneen sal sonder sorg gelaat word of bo sy kragte beproef word nie.

Die vloedtydperk is ‘n suiwering vir die gees, van die invloede van die omringende wêreld, waaronder vleeslike gemak en heerssug ontneem word deur vernedering. As daar in hierdie staat oorgegaan word na nederige liefde teenoor My en die naaste sal die einde van die vloed spoedig in sig wees, waarna Ek, die Rots, die bergvesting sigbaar sal wees as nuwe basis of Bron. Die duif word uitgestuur en dit is die gees wat soekende raak na die Gees van Elohim. Dit word beantwoord deur lewende geloof as olyftakkie wat terugkeer en die wese vervul met Liefde. Die 40 dae is die woestyntyd van die Mens en die 3 dae (verwysend na die 3 voëls se vlugte, dus ook verwysend na kneg-, kind- en vrou-verwantskap teenoor Jahshua), die van opstanding.

Ek rig met hierdie wese wat kaalvoet op My, die Rots, uitklim ‘n ewige verbond op van My nabyheid en geestelike beskerming. Nooit sal Ek weer daardie wese se aarde deur water vernietig nie, want sy aarde is nou Ek, alleen. Die teken van die wese se oorgang na die wedergebore staat is dan die reënboog, wat op sy eie die sewe geeste verbeeld deur die sewe volmaakte kleure:

1.             Rooi vir Liefde,

2.             Oranje vir Vrolikheid van hart en die Gees van Barmhartigheid,

3.             Geel vir Lankmoedigheid en Uithouvermoë en die Gees van die Werksame Wil,

4.             Groen vir Geloof en die Gees van Erns,

5.             Blou vir Vrede en die Gees van Wysheid,

6.             Indigo vir Vriendelikheid, sag uitgestraal na ander en die Gees van Orde

7.             Violet vir Geduld.

Ek omvat al hierdie en nog meer, maar dit bly die beginsels vir My twee groot wette van Liefde en vergestalt die nuwe lewe van die wedergebore wese in My. Amein. EK IS ewig en bereikbaar. Amein.


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205