Die Brief van Paulus aan die gemeente in Laodicea
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 3

Spring: 1, 2, 3, 4.

Hoofstuk 2

1. Laat daarom u gewete deur niemand of niks meer beswaar nie, nóg deur `n nie-geroepe biskop en priester (d.w.s. deur God), nóg deur `n feesdag, nóg deur die ou sabbat en nuwemaan,

2. nóg deur `n tempel, nóg deur `n plegtige offerande en versierde klere en ewemin deur spys en drank!

3. Wees matig met eet en drink, want dit is goed vir gees, siel en liggaam en is aangenaam vir die Heer;

4. maar indien iemand spreek, leer en eis: 'Hierdie en die spys mag nie geëet word nie, omdat dit volgens Moses onrein is!' -

5. dan sê ek daarenteen: Moses en die profete is in Christus vervul en bevry; maar vir ons het die Heer geen spyse verbied nie, terwyl Hy Self met sondaars en tollenaars geëet en gedrink het

6. en uitgeroep het: 'Wat jy eet verontreinig u nie; maar wat uit u hart kom, soos bose taal, bose begeertes, gierigheid, jaloersheid, doodslag, toorn, vreet- en swelgpartye, hoerery, egbreuk en sodanige, dit is wat die mens steeds verontreinig!'

7. Aangesien ons egter van Hom Self, die enige Heer van alle heerlikheid, so `n evangelie het, hoe groot dwase sou ons dan moet wees indien ons onsself opnuut vrywillig onder die ou harde juk sou begewe?

8. Wat beteken dit nou nog, wat vir Moses gegeld het as `n voorafskadu van dit wat voor ons oë gebeur het, vir ons, wat immers met Christus en in Christus tot één liggaam geword het?

9. Ek vra en besweer u selfs: Rig u nie na iemand wat uit eiemagtige keuse rondloop in alle nederigheid en algehele vergeesteliking soos van die engele in die hemel, waarvan hy egter nooit iets gesien of gehoor het nie, en wat daarom slegs maar opgeblase is in sy vleeslike gesindheid,

10. en hom nie hou by die hoof, van waaruit die hele liggaam deur ledemate, gewrigte en senings daadkrag verkry, om dit wedersyds in stand te hou en saam te bind, en so tot `n verhewe wasdom kom,

11. maar hom slegs hou aan sy sinne, wat vol is van vuilheid, van eiebelang, bedrog en leuens, heerssug, gierigheid en jaloesie!

12. En so is dit ook presies met hom wat homself by u wil opwerp asof hy geroepe sou wees deur die Heer en deur my en vervolgens deur u uitgekies!

13. Maar Ek sê hier tot u almal: Hy het die gees van die duiwel in hom en verkeer onder u soos `n wolf in skaapsklere en as `n hongerige, brullende leeu, wat baie naarstig probeer om u op te vreet en in te sluk!

14. Verdryf hom daarom spoedig van sy plek en wend u weer tot Nymphas, wie se huis `n ware gemeente van Jesus Christus is!

15. Want u almal het vir die wêreld en haar verordeninge immers gesterwe met Christus; om watter rede sou u uself dan nou weer laat vang deur wêreldse statute, asof u nog in die wêreld sou lewe?!

16. Die huis van my goeie broeder Nymphas het getrou gebly in sy vryheid, soos ek dit aan hom gegee het deur Jesus Christus, die Heer van die ewigheid.

17. Nymphas het die wolf herken, soos ek hom herken het deur die gees van God, wat in my is en my steeds dryf, trek en leer insake die verskillende dinge van die enige ware Wysheid in God, net soos ook broeder Nymphas.

18. Daarom vermaan ek u dan ook met alle krag in `n ware ywer vir Christus die Heer, dat u na Nymphas gaan en weer met sy huis één gemeente word

19. en nie luister na hom wat met `n huigelagtige, vroom gesig sê: 'Raak dit nie aan nie, eet dit nie, neem dit nie ter hand en doen dit of dat nie!' - welke dinge steeds onder die hande afgebreek word en op sigself niks anders is as menslike leerstellinge nie;

20. maar luister na wat ek u sê uit Christus se Gees, wat in my is, sodat u weer vry mag wees en sal word tot waaragtige mede-erfgename van Jesus Christus in die Ryk van God wat in u leef!

21. O broeders, bedink wat diegene u sal baat, wat die skynsel van wysheid het en `n deur homself gekose huigelagtige en skynheilige geestelikheid en nederigheid,

22. en wat sê: 'Indien u `n vrou aansien, het u reeds gesondig; indien u onrein, deur Moses verbode spyse eet, is u die hele dag onrein; en as u `n heiden aanraak en meer as drie woorde met hom spreek, dan moet u dit aan die priester in die tempel meld, sodat hy u voor God sal reinig'.

23. Maar op sigself is hy vol vuiligheid, vol gierigheid en hoerery en dryf in die geheim handel met alle heidene en stel alles in werking om nie die geheime vriendskap met hulle te bederwe nie!

24. Ek sê: Die liggaam het net soos die gees syne nodig; want dit het immers sy behoeftes en eise. Daarom moet u dit in die korrekte mate gee wat God daarvoor bestem het en u voed met dit wat verkrygbaar is; want die liggaam het sy versorging nodig soos die gees haar vryheid. Daarom, wees vry en geen slawe van die blinde dwase wêreld nie!

25. Waarop kan iemand hom wel beroem as hy met sy maag gevas het, maar sy hart volgestop het met bose gedagtes, wense en begeertes?!

26. Sou dit dan nie baie wyser wees om in die hart te vas, as met die maag nie?! Hoe kan u so dwaas wees en u laat wysmaak dat dit vir die Heer aangenamer sou wees as iemand vis in olie sou eet as die vlees van `n warmbloedige dier en sy vet in plaas van olie?!

27. Ek sê vir u: Eet met mate te alle tye wat vir u smaak en wat goed is vir u gesondheid. Drink wyn met water, soos ek ook doen wanneer ek dit kan kry, en maak geen gewetensaak daarvan nie; dan sal u ook in die opsig goed handel!

28. Want die Heer het geen vreugde in die vas van die maag nie, maar wel aan die van die hart; as u dag en nag in die hart vas, sal u in gees en waarheid vas!

29. Maar soos wat U wil vas, volgens die huigelagtige leer van hom wat doen asof hy nog maar met een voet op die aarde staan en met die ander al in die hemel, so vas ook alle heidene, wat op hul feesdae die fynste lekkernye eet en meer daarop gesteld is as op `n gewone dag, waarop hulle hul daaglikse kos kry.

30. Maar omdat u nou met Christus opgestaan het, wat maak u uself dan bedruk oor dit wat op die aarde is en waarom trag u om aan die wêreldlike statute te voldoen, wat tog mensewerk is?!

31. Soek wat bo is, waar Christus aan die regterkant van die Vader sit, - dit pas u beter as alle waardelose dwaasheid van die wêreld!

32. As u in die gees opgewek is en opgestaan het met Christus, dan is u immers van bo en nie van benede nie; dus soek dan ook wat bo is, maar nie wat benede op die aarde is nie!

33. Want u het vir die wêreld gesterwe en u lewe is met Christus verborge in God.

34. Wanneer Christus, wat nou u lewe is, Homself egter sal openbaar, dan sal u ook met Hom in heerlikheid verskyn!

35. Dood daarom opnuut u wêreld, wat in baie gedaantes op aarde is, soos die lede van u liggaam, waarmee u bedrewe is en opnuut weer hoerery, onsuiwerheid, skandelike hartstog, bose luste, hebsug, jaloesie en gierigheid wil bedryf; uit die alles bestaan egter steeds die ware afgodery van die heidene.

36. En vermy in die besonder die leuen, want dit is die naaste afstammeling van die Satan! Lê die ou mens af en trek die nuwe in Christus aan, wat dan vernuwe sal word tot kennis van Hom wat hom geskape het, en wel na Sy ewebeeld!


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205