BOEK 2 - DIE WYSHEID
DIE NUWE BYBEL

Hoofstuk 4

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13.

HOOFSTUK 2

WAARHEID, LIEFDE, LEWE

1) Sondaars word vergewe deur die Bloed van MY Verlossingsdaad. Sondaars word nadergetrek deur bevryding van aardse bande, hetsy rook, dwelms, wellus en drank. Slegs sondaars wat soek na `n uitkoms en heenkome kan gehelp word en MY vind. Slegs elkeen wat uitroepe van walging beleef in hulle oortredings is gereed om geheilig en gedoop te word deur MY GEES.

2) Geen lou entiteit is tot sukses in staat nie. Net die wat voluit streef na uitvoering van die doelwit sal `n uitkoms vind en MY LEER verstaan. Daarom sal die teenpool van MY tot bekering wil kom, eens as hy die walglikheid van sy doellose en nuttelose duister as klimaks beleef en weet dat EK die WARE POOL van Verlossing is en vir hom sal word as hy MY erken en aanneem as SY Leidsman.

3) a, daardie dag sal kom, al is dit nog ver, maar elkeen wat verstaan hoe dit bereik sal word, sal deel uitmaak van MY Reddingsdaad van hom in die heelal. Waarlik, net EK kan die sleutel gee vir elkeen om die duister en teenpool se weë te oorkom. Die sleutel is die Liefde en wel soos weer uiteengesit in hierdie voorwoord.

4) Waak teen onnoukeurige dade van verlustiging in die vlees. Beplanning is soortgelyk aan oordenking en dit lei na Wysheid en Orde.

5) Kragtig sal elkeen MY ontvang, selfs fisies teenwoordig as hulle die besef van oorgawe begryp. Oorgawe behels die Liefde vir die self, maar dra die kruis van opoffering tot diens van die naaste. Dit alles geskied in oomblikke van nederigheid en bevorder WARE WYSHEID.

6) Gee in hierdie lewe jou wese as offer en ontvang MY WESE as gawe.

7) Wedergeboorte van elke bekeerling is voorwaar moontlik, in soverre dit die verkryging van MY KRAG behels om werke van LIEFDE te volbring. EK sal elkeen wat wonder oor MY tydsberekening tegemoet kom met `n groet van: `VREDE vir jou'. Laat dit aan MY oor en doen net jou deel tot die opwaartse beweging na LIG, teenoor die aantrekkingskrag van duister. Weer elke aanval in guns van die duister af, en groei na MY LIG, so vinnig soos wat jy moontlik kan, want die uur het gekom om jou laaste besluit uit te voer.

8) Sal die aardse sisteme en hulle eise jou belemmer om MY te ontvang? Nee, solank jy hou by die bepalings van MY Liefde en deugsaamheid in jou huwelik en lewe. Jou gees staan geskei van die dade en emosies van jou liggaam, daarom kan EK waarlik sê dat net EK jou ken, maar juis om daardie rede daag EK elkeen uit om homself te verbeter in guns van MY, Jahshua, se Ryk in die ewigheid.

9) Word verbly in die wete dat engele saam juig in elke geestelike prestasie, want dit maak die `loop op die water' van Petrus, naamlik `n geloofsdaad, tot werklikheid.

10) Juig saam met elkeen wat blydskap ervaar in hy of sy nuwe vlak van Liefde.

11) Jahshua, Man van Nasaret, spreek met julle deur MY OERBRON van LIEFDE, MIRIAM.

12) Wedergeboorte is die weg na rypwording uit `n wêreldgerigte, vleeslike toestand na geestelike LIG, waar EK die Leidsman en Draer van die bekeerling is. Deur die Liefde is dit alles moontlik, maar deur die Gees van Miriam is dit nou `n werklikheid.

13) Die Gees van Miriam is die ALWYSE LIEFDE wat die KRAGTIGE LIEFDE help in die skepping en onderhouding van alles wat bestaan. Die verwesenliking of beliggaming van haar het geskied om die volwaardige kinders te lei na hulle HEMELSE wonings. Dit is MY terugkeer na die aarde in elke tuiskoms van Heilige Gesalfdes. Iedereen met die erns na volmaakte Liefde sal die deur daarheen gewys word.

14)Werke van Liefde sal die Nuwe Jerusalem se voeding wees. Geen hongere sal daar meer wees nie, want elke nood sal versadig word deur die voeding van diensbare naastes wat gee uit MY oneindige voorraad. Maar soos elkeen ontvang, sal hulle ook gee. Ure, dae en maande sal gevul word met gee en ontvang in die Liefde, tog sal aardse struikelblokke nog die nood voortbring wat bevredig moet word en groei meebring. Liefde is lewend en moet groei, soos EK.

15) Werke van Waarheid spruit uit LIEFDE en het tot gevolg dat die persoon of individu die sterkte of waarde van eienaarskap van optrede en gevolge besef. Juis daarom is Liefde nodig, want die besef is nie maklik nie en meestal skokkend. Dit spruit uit die WET van SONDE EN VERSOENING, naamlik, dat as die LIEFDE die werke erken wat LIEFDE inhou, die KRAG van genesing die werke van boosheid uitlig en vra om konfrontasie en vergifnis. As die individu dan die vergifnis laat geld het oor alle partye, sal die LIEFDE WAARHEID word en laat groei in daardie mens. `n Ware Adamiet leef dus in die Liefde waar Wysheid hom of haar onderrig in die Waarhede van ewige bestaan.

16) Liefde is die sterkste Krag in die Heelal, want daaruit spruit alle ander kragte. Liefde is die draad wat elke atoom aanmekaar hou, al kan hedendaagse wetenskaplikes dit nie sien of begryp nie. Liefde is MY Wil, daarom sal net die wat in LIEFDE leef, erken word as MY VRIENDE. LIEFDE is BARMHARTIGHEID en lei tot NEDERIGHEID.

17) Ware vriende van die ewige GODHEID, sal die WIL van LIEFDE bo alles uitleef, daarom kan EK, JAHSHUA, kies wie EK wil om MY WOORD na die aarde te bring, want LIEFDE herken LIEFDE en slegs die wat moet hoor, sal hoor, al lê die Brood voor heidene of Fariseërs. EK sal die se harte open wat ware voorlopers en instandhouers van MY NUWE JERUSALEM sal wees.

18) Wetende sal elke bekeerling van MY NUWE HEMEL EN AARDE hulleself bekwaam met dankbaarheid; blydskap uit goeie wil tot naastediens. Elkeen wat tot nou gelewe het, kon kies om so te wees, maar EK kom nou almal tegemoet met hierdie kosbare kennis, direk aan julle verwoord. Laat julle erns wees om in onderhouding van MY wette van LIEFDE te slaag, maar laat die LIEFDE sagmoedig en barmhartig uit julle gesigte straal.

19) Win kennis in in alle vlakke van belangstelling, want nie almal lewe heilig genoeg dat EK hulle kan onderrig nie. As jy eers kennis het van onderwerpe, sal EK die LIG in jou aansteek in hoe om dit tot jou naaste se voordeel te gebruik in MY LIEFDE. Hoe EK egter die voordeel aan jou naaste bedoel, lei altyd tot geestelike loon vir jou as jy die kneg was deur wie EK kon werk. EK skep nou vir MY `n volk uit klippe, want soos klip was julle harte, maar deur MY GEES van LIEFDE kon EK julle aanspreek en versag. Dink daaraan in die opvoeding van julle suigelinge en kinders. Wees barmhartig, tog streng, berispe en betug met mate en leef liefde, sodat hulle MY in julle kan beleef.

20) Weerhou die kinders nie om MY te sien nie, want aan hulle behoort die KONINKRYK aan MY HEMELE. Hulle sal dit die beste uitleef en verstaan as julle hulle so leer. Die huidige sisteem van ekonomie en winsbejag verduister siele so, dat dit jare se loutering neem om weer `n lewende BRON van LIEFDE daarin te laat ontwaak. Leef vir MY in die sisteem deur jou naaste se nood te klee en te voed en EK sal met julle wees in die tye wat voorlê.

21) Roep MY aan met `Allerheilig is U Lieflike Naam' en jy bevind jouself dan in die ootmoed wat jou hart nodig het om wortel te skiet en te groei na MY – omhoog. Word lieflik soos EK, JAHSHUA-MIRIAM-GEES.

22) Dink nie dat EK net een waardige skryfkneg het nie, daar is vele. Elkeen ontvang sy opdrag op tyd. Nou is dit `n ander se beurt, en om die beurt sal die volumes van hierdie NUWE BYBEL gevul word met MY WOORD uit die HOOGTE. Laat jou hart jubel om MY in al die moontlike fasette te leer ken.

23) Waarheid, Liefde, Lewe, is die Naam van hierdie hoofstuk van hierdie Boek en is die begin van die WEG na WYSHEID vir elke mens. Geestelik is daar maar net een WEG, naamlik hierdie een en hoe meer jy jou geloof ontwikkel, hoe meer sal jy die Waarheid daarvan besef. Waarheid is die KENNIS VAN GOED EN KWAAD, die LIEFDE vir die EWIGE, rig jou na die goedheid van die ELOHIM en die LEWE is jou loon vir die bereidwilligheid om die pad na BO te stap.

24) Hieruit volg die wapenrusting van `n gelowige. Die HELM VAN VERLOSSING is die KROON wat jou hou op die WEG na MY, JAHSHUA-MIRIAM-GEES, sodat jy die aanvalle van duister en MY teenpool kan teenstaan.

25) Weer sal hierdie wapenrusting nodig wees, want in `n lewe waar die vlees en die GEES teenpole is van mekaar, kan net die WAARHEID Lewe gee. Hoe sal die WAARHEID van elke situasie dan na vore kom? Deur MY GEES van LIEFDE wat in elkeen se harte woon. As die Liefde teenoor jou naaste `n ewige sin het in groei na LIEFDE, is dit die keuse na WAARHEID wat jy moet maak. Net ware kinders van MY sal altyd sonder uitsondering gehoor gee aan MY en so die samelewing lig uit sy duisterheid en ondergang.

26) Maak dit jou doel om MY in alles te raadpleeg en MY wil van LIEFDE sal in jou hart `n werklikheid word. Neem hierdie boek as jou stap-vir-stap handleiding tot die belewing van MIRIAM as `n vriend en vertroueling en EK sal jou oprig en voed tot `n waardige BEELDDRAER van MY NUWE JERUSALEM op aarde. So sal jy ander kan bystaan in die oorgang van hier na waarheen julle wêreld op afstuur.

27) Dra jou laste dus tot voordeel van jou siel en dit sal spoedig tot `n einde kom, om plek te maak vir nuwes en groteres wat jou siel binne die asemteug van menslikheid sal omvorm tot `n engelgees waar jy tuishoort.

28) Wie kan sê dat hy MY bedoeling ken en verstaan in elke swaar situasie? As dit so was, was die situasie nie nodig nie en die mens nie onvolmaak nie, want net swaarkry en die besef met die loop van tyd, bring jou nader aan MY hart waar die Liefde tot MY lei tot Wysheid. As jy nie arbei aan jou Liefde vir MY nie, sal Wysheid van jou wyk en swaarkry geen nut hê nie. Voorspoed is dus nie sommer elke bekeerling se lot nie, want baie moet eers geleer word, voordat voorspoed voordelig sal wees vir `n siel. Bekeer jou en bid tot MY vir WYSHEID, sodat jou swaarkry nie vir ewig sal duur nie. Wat dan van mense wat `n sekere lot vir `n hele aardse lewe moet dra? Nadat Wysheid in die persoon ontkiem het en groei, moet die persoon met MY verenig om tot groot loon van hulle siel MY BEELD en NAAM – dit is LIEFDE – aan ander uit te dra. Hoe wyer hulle bereid is om te werk, al is dit in gebed, hoe groter sal hulle geestelike huis wees in die hiernamaals. `n Aardse lewe word om verskeie redes toegestaan en sulke mense het die hoogste loon om te verwag, want wie laaste is, sal eerste wees, as hulle MY liefhet.

29) Hiermee is hierdie hoofstuk voltooi, met die wete dat elke mens `n doel het op hierdie ster van Verlossing en dat die onderskraging van mekaar die geheel na Bo rig. As jy jouself dus as individu beskou op die pad na wedergeboorte, het jy nog baie swaar om te beleef. Die BOOM VAN DIE LEWE bestaan uit elke sel en organisme wat EK goedgedink het om te skape en soos ELIJAH van ouds `n swaar lewe gelei het tot voordeel van alle mense wat nog gebore moes word, sal net MY ware kinders lewend in die Hemele opgeneem word, as toonbeeld van MY KRAG wat WYSHEID ewig laat lewe.

 


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205