Boek 6 - Die Voorloper in jou
VOLKSLEIDING-REEKS

Hoofstuk 9

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10.

 

Hoofstuk 7

Die Aankondiging van die Voorloper

BD 7062 - 10 Maart 1958

(Uittreksel)..... Ek kan nou wel telkens weer die suiwer waarheid deur My Gees na die aarde toe stuur, maar Ek sal ook nou nie die mense onvry maak, deurdat Ek aan hulle die waarheid sal opdring nie. Maar solank die mense hulself vrywillig aan My ter beskikking stel en hulself as opnamehouers van My Gees omvorm, solank is dit ook steeds weer moontlik om elke bestaande dwaling reg te stel, en om iedere ondui­delike vraag op te helder en die mense `n suiwer "lig" te gee wat van My af uitgaan - die OERlig van die Ewigheid.

Maar die mense hou daarom nog steeds vas aan die misvormde leerstellings met `n taaiheid waaragter My teëstander staan, wat altyd teen die Lig van die Waarheid sal stry. En so het hyself oor die mense `n byna ondeurdringbare nag uitgesprei, omdat leuen en dwaling gelyk staan met duisternis. Maar vir My ligdraers word dit buiten­gewoon moeilik gemaak om die geestelike duisternis te deurbreek, omdat die mense al so verblind is dat hulle die ware lig nie meer kan herken nie.

Daarom sal `n magtige "lig" verskyn wat van My en My Wederkoms in die wolke sal getuig. Dit sal getuig van die oordeel en die wegneming van Myne op die dag van die oordeel. `n Stralende helder lig sal verskyn en opnuut My suiwer Woord verkondig. `n “Roepende in die wêreldwoestyn” sal te voorskyn kom en die mense uit hulle doodslaap probeer wakker skud.

Hy sal diegene te hulp kom wat van My en My werk aan die mense getuig. Hy sal die waarheid van dit bevestig wat deur die werk van My Gees aan die mensdom oorgebring word. Hy sal `n geweldige taal spreek en niemand regverdig wat die duister pad bewandel nie. En hy sal die magtiges ook nie vrees nie, maar hulle masker van hulle gesigte aftrek, hy sal hulle onder skoot plaas en hulle ware gesindheid openbaar.

Hy sal stry met die "swaard van die mond", want hy sal aangeval word deur hoog en laag omdat niemand die suiwer Waarheid wil hoor wat in ooreenstemming met die leer is wat Ek eens op die aarde gepredik het nie. Hy is dus My afgesant deur wie se mond Ek Self sal spreek - wat slegs sy laaste missie op die aarde sal vervul, naamlik om My en My Koms nog eenmaal aan te kondig soos wat dit daar geskrywe staan. (Maleagi 4: Afr. uitgewer)

Wanneer die "lig" gaan straal, sal u weet dat My Koms voor die deur is en ook die oordeel daarna. Dan sal daar ook ongewone dinge deur hom gebeur, maar dit sal dan die mense vanweë hulle vryheid van wil nie meer skade berokken nie. Hy sal maar weinig geloof vind en slegs hulle wat ontwaak het, sal hom en sy missie herken. Vir die geestelike swakkes sal hy egter `n buitengewone sterk hulp beteken, want sy woord sal vol van krag wees.

Dan het die laaste fase van die aarde ook gekom, want die roepende sal die heftigste teëstander wees van hom wat die mense tot heerser sal uitroep, waarin My teëstander homself sal beliggaam om die laaste skandelike werk teen My te onderneem. Want nou sal die geloofstryd ontbrand en Myne sal in die "lig" wat Ek self na die aarde stuur, `n groot steun hê. Hulle sal baie krag ontvang om stand te hou in die tyd van die grootste nood, wat My Koms vooraf sal gaan. Ek sal u, My getroues, nie sonder hulp laat nie, en sodat u moet sterk bly, kondig Ek vir u die "lig", die roepende aan. Ek sal aan die bedrywig­hede van My vyand `n einde maak, om dan die Waarheid na die uiteindelike oorwinning te voer. Amein.

Hoofstuk 8

Die Voorloper en die Geloofstryd

BD 8231 - 2 Augustus 1962

Myne sal die ‘roepende in die woestyn’ herken wat My verskyning sal aankondig soos wat Ek dit voorspel het, want sy "lig" sal helder straal en sy spraak sal geweldig wees. Hy sal nie bang wees in sy redevoering wat die magtiges sal aanval nie, want hy is deur My na die aarde gestuur om sy laaste missie te vervul. Om die einde van die aarde te predik en My Koms te verkondig op die dag van die oordeel.

Die wat aan My behoort, sal deur die krag van sy taal geweldig onder die indruk wees en hulle sal besef dat dit nie lank meer sal duur voordat Ek Self sal kom om hulle te red uit hulle nood nie. Van vroeg af egter, sal u mense u ook altyd weer in valse veronderstellinge verloor en meen om hom in baie mense te herken, Ek sê egter aan u; dat u nie sal hoef te vra nie, maar sal weet dat dit hy is wat Ek self vooruit stuur. Want wanneer hy sal optree, is My teëstander ook al aan die werk op so 'n wyse, dat hy homself sal beliggaam in `n maghebber wat sal optree teen elke geestelike strewe en teen die geloof. Hy sal Myne nou ook deur sy handlangers erg verdruk, sodat hulle van My afvallig sal word en hulself na hom sal wend.

U kan dan nagaan wanneer die geloofstryd sal begin en buiten­gewoon baie troos ontvang deur My Voorloper, omdat u dan ook weet dat die einde nie meer ver is nie. Want sy missie op aarde is nie van lange duur nie, en ook die Antichris sal maklik herkenbaar wees – want vir hom sal ook nie `n lang lewensduur beskore wees nie. Die Voorloper sal kom en u geloof versterk. Hy sal met so 'n geweldige redevoering van My getuig en My Koms aankondig, dat Myne krag uit sy woorde sal put en ook sal volhou tot aan die einde. Want Ek Self sal hulle bystaan in hulle node wat die geloofstryd met homself sal saambring.

Die ‘roepende in die woestyn’ sal homself nie laat teenhou nie en openlik optree teen die mense wat Myne vyandelik gesind is. Hy sal hulle handelinge as afskuwelik brandmerk en sal altyd My beskerming teenoor hulle aanvalle geniet, totdat sy uur gekom het. Hy sal sy missie weer met sy dood koop, maar dit mag u nie laat skrik as u van My is nie. Dit moet u net versterk, omdat u in die Waarheid is en alles so kan verwag, soos wat Ek dit vir u deur My Gees verkondig het.

Die tydperk wat vir u mense gestel was om u van die vormgodsdiens te bevry, loop ten einde. Maar tot die laaste dag help Ek u om tot `n korrekte geloof in My te kom, en ook die Voorloper is vir u gestuur om u geloof te versterk. Wie hom wil herken, sal hom ook herken. Wie sy woord egter afwys, is openlik `n aanhanger van My teëstander en wys My ook self af. Maar die lig uit die Hoogte wat helder straal, sal nie oor die hoof gesien word nie en sy woord sal nie te negeer wees nie. Sy lewenswandel en arbeid op aarde in die laaste tyd sal so duidelik herkenbaar wees as Goddelike werk, dat iedere mens hom kan herken en nie hoef te vra of dit hy is nie.

My teëstander sal opnuut op dieselfde manier wil werk, deurdat hy verwarring sal probeer saai en sy aanhangers beïnvloed, dat die Voorloper daar en daar te sien is. Daarom is `n noue verbinding met My nodig om korrek te kan onderskei en na waarheid te soek. En daarom vertel Ek u steeds weer dat hy eers dan sal verskyn wanneer My teëstander homself ook met die regte uiterlike vorm gereed sou gemaak het, waarin hy dan werk tot ontsetting van die gelowiges. Hy sal oor groot mag beskik en sal dit nougeset in die geloofstryd gebruik. Maar dan sal hy, wat Ek self stuur, ook optree, en hy sal die Antichris openlik aanval en hom nie vrees nie. En daaraan kan u hom herken, want ook hy beskik oor groot krag wat hy egter in My Naam sal gebruik. Hy sal ook siekes genees en wonderwerke doen en daarom sal hy heftiger bestry word deur die maghebbers wat hom teenstaan, en hulle sal ook daarin slaag dat hy `n gewelddadige dood sal sterf.

Maar die "lig" wat hy sal versprei onder Myne, sal hulle ongewoon versterk. Hulle sal My Koms vol vertroue verwag en volhard tot aan die einde, want hulle sal weet dat My Woord vervul sal word en dat alles sal gebeur soos wat Ek dit laat verkondig het in woord en geskrif. Amein.


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205