Boek 7 - Die Ryk van die Lewe
VOLKSLEIDING-REEKS

Hoofstuk 2

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6.

 

Deel 1

Liefde in My

Rooi, die kleur vir Liefde

Hierdie werk bring Ek aan My Volk met die oog op veredeling van hulle diepste wese in die Waarheid. Die vier hoeke van enige vaste vorm is die pilare waarop daar gebou gaan word en daarom moet My knegte, wat omvorm tot waardige huisbewoners in My Ryk, die vier fondasies in hulleself vind om My as pilaar daar op te rig. Verenig eerstens met My in die Liefde en vind só die Lewe in My. Amein.

 

Een met My

Deur JaHshua aan Nalize gedikteer op 9/5/09

In die Naam van die Koning, die Man van Nasaret, stuur Ek hierdie kneg met die opdrag om My Volk te salf in My Naam, Jahshua.

Ek, alleen, is die Skepper, Formeerder en Ewige Heerser en daarom ook Losser en Verlosser om My Volk tot Lewe te roep. In hierdie eenheid van Vader en Seun wil Ek trou sweer en almal aan My bind, wat vrywillig die eed van verloëning of kruisiging tot My wou aflê. Die tyd is ryp vir elkeen en almal wat My Lig in hulle dra, om die ewigheid in te stap en deel te word van ‘n groep wat sal arbei tot die Son hiér ondergaan.

Die Son sal nooit as te nimmer in die ewigheid ondergaan en daarom sal My Woord ook ewig bly staan: ‘Kom, almal wat vermoeid is en Ek sal julle rus gee.‘ Ek is die rus, die vrede, die Liefde en geluksaligheid. Vind dit in die seën oor jou, vind dit in My Naam. EK IS Een, soos julle en julle in My. Amein.

Drie-eenheid

Deur JaHshua aan Johan gedikteer 7/5/09

Die slimgeleerdes onder die Boerevolk, julle wat besig is om die volk te mislei, dink julle dat julle wys is wanneer julle die mense leer om ‘n driekoppige God te eer, so al asof die God die redding gaan bied?!

Julle praat van die Vader, die Seun en die Gees. Dit is reg. Vir wie moet daar nou gevra word vir materie, of wat ook al? Is dit vir “die Vader”? Hy is mos die Hoof! Wat gaan die Seun en die Gees dan nou sê, want hulle is ook Gode? Ek is nie ‘n drie-koppige God nie! Ek is alleen die Skepper van hemele en aarde en totaal in beheer van alles. Julle mensekinders is ook drie in een - liggaam, siel en gees.

Ons kyk na ‘n vuur: Daar is ook drie faktore, naamlik die hout, die vlamme en die rook. Dit is drie, daaruit kry jy lig, hitte en energie; dit kan gebruik word om voedsel voor te berei, ens. Hier het ons nou twee keer drie gekry van een item af, naamlik die vuur.

Hitte                           Vader                         Liefde

Lig                              Seun                          Lig

Energie                      Gees                          Lewe

Jes 44:6 So sê JaHWeH, die Koning van JisraEl en Sy Losser, JaHWeH van die skeppings-leërmag: Ek [is] die Eerste, en Ek [is] die Laaste, en buiten My is daar geen Elohim nie.

1Joh 5:7 Want daar is drie wat getuig in die hemel: die Vader, die Woord en die Heilige Gees, en hierdie drie is een;

1Joh 5:8 en daar is drie wat getuig op die aarde: die Gees en die water en die bloed, en die drie is eenstemmig.

Jes 48:17 So sê JaHWeH, jou Losser, die Aparte Een van JisraEl: Ek - JaHWeH jou Elohey, leer jou wat Reg is, lei jou op die Weg wat jy moet gaan.

Joh 1:1 IN die begin was die Woord, en die Woord was by die Elohim, en die Woord was Elohim.

Joh 10:30 Ek en die VADER is een.

Exo 3:14 En Elohim sê vir Moshè: EK IS WAT HY (EK) IS. Ook sê Hy: So moet jy die kinders van JisraEl antwoord: EK IS het my na julle gestuur.

Ek, Jahshua, met baie Liefde.

Amein.

 

Vervolgens ietwat oor die begrip van die Drie-eenheid van die Godheid wat so dikwels misverstaan word deur die mensdom. Hiermee wil ons graag die denke van die drie-persoonlikheid van die Godheid uit die weg ruim, want God sê self dat Hy Een is (Deut 6:4).

 

Die drie-eenheid in God en mens

(Aanhalings uit “Die Groot Evangelie van Johannes” - Boek 6 - Hoofstuk 230)

(JaHshua) 'Maar wat julle nou sal hoor, moet julle voorlopig vir julleself hou en nie voortydig rugbaar maak nie! Wanneer die korrekte tyd egter daarvoor aangebreek het, sal julle dit deur My Gees, wat die eintlike Heilige Gees is, wel in julle self opmerk.

[2] Die Vader, Ek as Seun en die Heilige Gees is herkenbaar van ewigheid af één en dieselfde.

[3] Die Vader in My is die Ewige Liefde en as sodanig die oergrond en die eintlike oerstof van alle dinge, wat die hele ewige oneindigheid vervul.

[4] Ek as Seun, is die Lig en die Wysheid, wat voortkom uit die Vuur van die Ewige Liefde. Die kragtige Lig is die ewige, volmaaktste selfbewussyn en die helderste selfkennis van God en die ewige Woord in God, waardeur alles wat bestaan, gemaak is.

[5] Omdat dit alles meer eg gemaak moet word, is die magtige Wil van God nodig, en dit is dan die Heilige Gees in God, waardeur die werke en wesens hulle volledige bestaan kry. Die Heilige Gees is die groot uitgesproke woord 'EK IS!' - en dan is dit daar, wat die Liefde en die Wysheid in God ingesluit het.

[6] En kyk, dit alles bevind Hulleself nou in My: Die Liefde, die Wysheid en alle Mag! En daarom is daar maar één God, en dit is Ek, en Ek het maar net hier `n liggaam aangeneem om My aan julle mense van hierdie aarde, wat Ek volkome na My ewebeeld geskape het, uit die oersubstansie van My Liefde, in julle indiwidualiteit van naderby te kan openbaar, - soos wat dit juis nou die geval is.

[7] Dat julle egter ook die drie-eenheid in julle het, en wat heeltemal met My ooreenkom, sal julle dadelik so duidelik moontlik uitgelê word.

[8] Kyk, elke mens het liefde in hom en as gevolg van die liefde ook `n wil; want die liefde op sigself is `n begeerte en verlange, en in die begeerte en verlange lê nou juis die wil. Dit is ook eie aan alle plante en diere, en in `n sekere opsig ook aan die ander materie.

[9] Selfs die ruuste en mees onopgevoede mens het liefde en `n wil. Maar wat doen hy daarmee? Hy is maar net uit op die bevrediging van sy laagste en stoflikste behoeftes, wat homself instinkmatig uit sy growwe liefde in sy wil vertaal, waarvan sy verstand niks anders as `n flou vermoede opvang nie. Kyk maar net of die dade van sulke mense, nie baie slegter is as die van diere nie, by wie die liefde en die verlange deur `n beïnvloeding van bo gelei word!

[10] Maar baie anders staan dit met die liefde en haar wil by die mense van wie die verstand `n helder lig geword het; dit skyn dan deur die liefde en haar wil, en daardeur deur die hele mens. Dan eers sorg die liefde vir die suiwer middele, sy orden die lig of die wysheid, en sy aktiveer die wil. As die mens egter, as ewebeeld van God, ook die moontlikheid in hom het, bestaan hy dan uit drie mense of is hy slegs één mens?' ......

JaHshua as Seun

(Aanhalings uit “Die Groot Evangelie van Johannes” - Boek 8 - Hoofstuk 27)

(JaHshua:) "As die Seun sedert ewigheid daar was, hoe kon Hy dan verwek word? En wanneer die Heilige Gees ook sedert ewigheid daar was, hoe kon Hy dan van die Vader en die Seun uitgegaan het en Sy oorsprong daarin hê? Wanneer die deur julle aangevoegde drie goddelike persone, waarvan die latere mense maklik drie gode sou kon maak, volgens julle alle drie ewig, dit wil sê sonder begin is, dan kon die één dus nie aan die ander die begin van sy bestaan gegee het

nie!

[2] Ek is, soos wat Ek ook nou by julle is as `n mens in die vlees, die Seun en is nooit deur iemand anders as alleen deur Myself verwek nie en is derhalwe My hoogs eie Vader van ewigheid. Waar sou die Vader anders kan wees as in die Seun, en waar die Seun anders as in die Vader, dus slegs één God en Vader in één persoon?

[3] Die liggaam van My is daarom die verheerlikte gestalte van die Vader ten behoewe van die mense en engele, sodat Ek `n begryplike en sigbare God vir hulle kan wees, en julle kan My nou sien, na My luister en met My praat en daarby tog in die lewe bly! Want voorheen was dit so dat niemand God kon sien en in die lewe kon bly nie. Ek is nou in alle opsigte God. In My is die Vader, en die Krag wat, ooreenkomstig My Liefde, Wysheid en almagtige Wil, van My uitgaan en die ewig eindelose ruimte allerweë vervul en ook oral werksaam is, is die Heilige Gees.

[4] Soos julle My nou ook as Godmens by julle sien, is Ek met My hele oersentraalwese beslis volkome en onverdeeld in julle midde, hier in hierdie eetsaal op die Olyfberg, en bevind My dus as hoogs ware God en Mens tegelyk nêrens anders nie, nie op hierdie aarde en nog minder op `n ander (planeet); maar deur die krag wat van My uitgaan, wat die Heilige Gees is, vervul Ek tog alle hemele en die aardsmateriële en eindelose ruimte met My werksaamheid. Ek sien alles daarin, van die grootste tot die kleinste, ken alles, weet alles, bepaal alles en skep, lei en regeer alles ......

Doen My Wil en jy sal Lewe

Deur JaHshua aan Nalize gedikteer op 13/5/09

Vreedsaam in Rus, is elkeen wat handel in My Orde. Vreugdevol en verheug in die Waarheid wat daagliks vir hulle oopvou. Uit Barmhartigheid spruit Liefde en begrip, deemoed en geduld, dus uit die keuse en wil om na My Beeld en leer te handel, spruit die volkomenheid van Heiligmaking. Doen My Wil en jy sal Lewe.

Amein.


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205