Boek 4 - Jou Kruisiging
VOLKSLEIDING-REEKS

Hoofstuk 6

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7.

 

Deel 5

Die pad van die Geeste deur die skepping

Inleiding:

Elkeen van ons, as gelowige kinders van God, sal weet dat daar ontelbare engelgeeste in die hemele is. Hulle lewe in ewige gelukkige saligheid in die teenwoordigheid van ons Hemelse Vader. Talle van hulle is ook betrokke by ons hier op aarde, deurdat hulle ons vanuit die geestesfeer lei en rig.

Vanuit die Bybel leer ons ook dat daar `n groot groep engele is wat teen die Godheid gerebelleer het, onder hulle hoofengel, Lucifer. Hulle is toe deur God uit die hemele uitgewerp. Min is verder vanuit die Bybel te kry oor hierdie onderwerp, behalwe dat Jesaja 14:15 sê dat hulle in die doderyk, wat binne die aarde is, gewerp is. Dit wat egter in die doderyk in die middel van die aarde vasgehou word, is egter net die oorblywende deel van die skeppende entiteit van Lucifer, naamlik sy bose gees, wat ook somtyds Satana genoem word. Vir u wat al reeds van hierdie Volksleiding-reeks boekies gelees het, sal weet dat die gehele materiële skepping eintlik niks anders is as die gevalle gees van Lucifer wat verhard is nie, as gevolg van sy verharding en gevolglike rebellie teen God self. Alles wat materie is, is dus deel van die oergees Lucifer en huisves gevalle sieledeeltjies wat gebonde is en wat deur geleidelike opwaartse beweging bevry moet word.

Die doel van hierdie boekie is om aan die leser te toon wat in die geestelike sfere plaasgevind het, ontelbare miljarde eons van jare gelede, toe die Godheid besluit het om engelgeeste buite Homself te skep. Ook word die rebellie van Lucifer met `n derde engele onder hom aangetoon. Die maklikste manier om hierdie inligting weer te gee, is om `n vloeidiagram te gebruik ter illustrasie. Deur plekke op die diagram te nommer en sodoende die roetes aan te dui wat bespreek word, sal die leser `n makliker verduideliking kry as ellelange geskrewe gedeeltes.

Die ingeslote vloeidiagram is saamgestel uit inligting vanuit die Boek van Herinnering, die Nuwe Openbaring van ongeveer 170 jaar gelede en onlangse profesieë aan die Boerevolk. Hierdie vloeidiagram verduidelik die samestelling van die Godheid, soos vanaf die oneindige verlede tot in die oneindige toekoms vir alle geskape Geeste. Die oergeskape Geeste het twee duidelike roetes gevolg, - eerstens is dit die Geeste in die Goddelike orde wat by Vader gebly het en tweedens die Gees van Lucifer wat gerebelleer het. Elk van hierdie twee geeste-ordes het nog oneindige sub-skeppingsordes onder hulleself, en daarom is daar ook nog ontelbare geesteswesens in elke geskape Gees se ryksgebied.

Om net effens te verstaan van hoe lank die tydperke is wat ons hier mee te doen het, die volgende: Gestel u neem `n sandkorreltjie en ken `n waarde van 1 miljoen jaar daaraan toe. Gestel u pak verder die hele oppervlak van die aarde toe met sulke sandkorreltjies, styf teen mekaar gepak. Tel dan al hierdie miljoene jare bymekaar. Dan het u nog nie by die tyd uitgekom toe Lucifer gerebelleer het nie! (Inligting vanuit die Nuwe Openbaring) Hoe lank terug lê die skepping van die oergeskape geeste nie nog nie! Dit is dus duidelik dat ons as vleeslike mense, nooit werklik tyd in die geestelike dimensie sal kan begryp nie. Kom ons begin nou met die verduideliking van die pad wat geskape geeste deur die skepping geloop het en voortaan nog sal loop. Verwys asseblief van nou af na die ingeslote vloeidiagram.

Die een roete, Roete [3-7], van links na regs, in reënboogkleur aangedui, is die roete wat die nie-gevalle Geeste kan volg as hulle kinders van die Hemelse Vader wil word. Let wel dat hierdie Geeste oneindig salig geskape was, maar dat hulle altyd die status van knegte sou hê in die hemelryk. Deur die menswording, dood en opstanding van ons Verlosser, JaHshua, het hulle nou die geleentheid verkry om ook menslike liggame te kom aanneem op aarde, dit wil sê, om op aarde gebore te word. Indien hulle lewensproef op aarde geslaagd was, word hulle in die Hemelse Vaderhuis opgeneem as kinders van God, wat `n saliger toestand is as die van kneg.

Die ander roete, Roete [2-4-6-7] en [2-5-7] van links na regs, in groen aangedui, is die roete wat Lucifer gevolg het nadat hy homself verhef het teen God, en deur sy hoogmoed tot `n val gekom het. Let op dat hy ook `n groot groep, een derde nie-rebelle, saamgesleep het die materie in.

Die begin:

In die oneindige verlede is en was God altyd daar, as ontoeganklike Godheid [1], gebaai in ewige goddelike Lig. Niks buiten die Godheid Self kon bestaan in hierdie fel deurdringende Lig nie. Toe het God besluit om wesens te skep buite Homself, geestelike wesens wat geskape sou word na Sy beeld en gelykenis. Kyk na die vloeidiagram links bo.

Die eerste drie Wesens wat Hy buite Homself geplaas en geskep het, het Hy genoem, LIEFDE, LIG en LEWE [2]. Vanuit hierdie drie het die hele verdere Geestelike skepping ontstaan. Neem asseblief kennis dat die materiële skepping waarin ons nou in leef en wat ons ken, toe nog lank nie bestaan het of sou bestaan nie. Alles was Gees en tydloos. Hier volg `n uittreksel uit `n onlangse profesie aan die Boerevolk:

Uit Gesprekke met die engele, Hoofstuk 6 en 7, deur JaHshua aan Marietha

Jahshua: Dit is Drie Groot Vorste wat die Wese van MY voorstel. Lig, Lewe en Liefde. Die eerste daarvan is Liefde, wat gelyk is aan die Bestaan of Ontstaan en die tweede is Lewe wat uit die Warmte van Liefde ontspring. Die derde hiervan is Lig, Hy staan vir MY Wysheid, wat die Lig is van die geskapenes. Verstaan dat hulle net die Uitbeelding van MY Wese is, want EK is nie ‘n drieledige Godheid nie. Die Wese van MY kan kom in Wysheid of net in Liefde of in Krag, maar EK IS Éen en oneindig. Die Drie is MY Heilige en Aparte Vorste wat die Liefde, Wysheid en Krag uitbeeld.

Jahshua: EK gaan jou eers vertel van die Drie; Aan die begin was daar Drie en die Sewe het uit hul voortgekom, maar die Éen, gelyk aan die Lig van God, wat EK IS, het geval. Sy naam noem julle Lucifer of Ligdraer. Maar EK het dadelik `n Vors geroep om die plek te vul van die gevallene, jy vra nou hoekom EK dadelik `n ander Vors in sy plek gestel het? Dit is om ewig uit te beeld dat MY eienskappe sal bestaan. En die Vors wat EK geroep het om in Lucifer se plek te staan, is ook die gelykenis van die Lig. Die één wat dit waardig is, kry die plek by MY, of het jy gedink dat die plek leeg moet bly? As EK die plek sou oop los, dan is daar net twee om MY Wese uit te beeld, dit wil sê, Liefde en Lewe, maar niks kan ontstaan sonder Lig nie, en dus herstel EK die simboliek.

Die val van Lucifer:

Een van hierdie drie, die LIG [2], was die oergeskape Engel van die Lig, naamlik Lucifer. Hy het homself hoër begin ag as God Self, en het homself laat aanbid deur sommige van die geskape engelgeeste onder Hom. Deur hierdie gruwelike hoogmoedsdaad van hom, het hy uit die Goddelike skeppingsorde van die Liefde beweeg en is hy uitgewerp uit die Koninkryk. Een derde van die engele [4] het hom gevolg in sy rebellie, maar twee-derdes [5] het getrou gebly aan God. Hulle moes egter ook uit die Koninkryk van die Geeste uitgewerp word, as gevolg van die feit dat hulle in hierdie ryksgebied van Lucifer geskape was en hy eintlik hulle skeppingsvader was, alhoewel hy, Lucifer, hulle slegs geskep het met die Lewe of Krag wat hy vanaf God ontvang het. Hierdie val word as volg beskryf in Jesaja 14:12-15:

12 Hoe het jy uit die Hemele geval, o Heylel (Lucifer), seun van (die dageraad)! [Hoe] lê jy teen die Aarde neergeslaan, oorweldiger van die nasies! 13 En jy het in jou hart gesê: Ek wil opklim in die Hemele, my troon verhef bo die Sterre van El en sit op die berg van samekoms in die uithoeke van die Noorde. 14 Ek wil styg bo die hoogtes van die wolke, my gelykstel met die Hoogste El! 15 Ja, in die Doderyk/Sheol sal jy neergewerp word, in die diepste plekke van die put!

Hier moet duidelik gelet word op die feit dat hierdie val oor onmeetlike tye gestrek het en dat dit nie `n eenmalige gebeurtenis was wat plaas­gevind het nie. Soos wat Lucifer homself verhef het, het hy ingeboet met Lig wat nodig was om voort te gaan met sy eie skepping. Deurdat hy Lig verloor het, het sy skeppings ook al hoe meer duister begin word, totdat God Self besluit het om sy skeppingsmagte in te trek, hom uit te werp uit die Koninkryk van die Geeste en in die materie te laat gevange neem. Die kern van Lucifer se wese, sy skeppingsgees wat al verskriklik duister en boos geword het, is in die kern van die aarde gewerp en word tans deur ander engelgeeste vasgehou. Sou hulle een millimeter skietgee, sal die hele materiële skepping verwoes word, so boos is hierdie gees! Dit is hierdie bose gees, Satana, wat voortdurend haar boosheid laat opbruis in ons aardse skepping, vandaar die wreedheid, liefdeloosheid en alles wat negatief is op aarde.

Die verhaal van Kaïn en Abel wat ons ken, vertel eintlik wat hier in die Gees met die gevalle engele gebeur het. Adam en Eva, aanvanklik in die Tuin van Eden, wat die Koninkryk van die Geeste voorstel, rebelleer soos Lucifer (Adam) en sy gees Satana (Eva) teen God en word uit die Tuin van Eden verjaag. Adam en Eva se twee kinders stel die twee groepe geeste in Lucifer se ryk voor wat hy geskep het en wel as volg: Kaïn, die moordenaar, stel eintlik die een-derde geeste voor wat gerebelleer het, terwyl Abel, die vermoorde, die onskuldige twee-derdes voorstel wat vermoor is, oftewel wat afgesny is van die ewige lewe. Beide was vooraf uit die ryk (tuin van Eden) uitgewerp saam met hul ouers, wat die val na benede voorstel van Lucifer (Adam) en sy skeppingsgees, Satana (Eva).

Hierdie twee groepe van die ryk van Lucifer, naamlik `n donkergroen afwaartse pyl wat die een-derde [4] rebelle voorstel en die dikker ligtegroen pyl wat die twee-derdes [5] voorstel wat nie gerebelleer het nie, maar wat noodgedwonge die pad van die materie moes loop. Beide groepe begin afwaarts val, die dieptes in, namate Lucifer homself meer en meer begin verhef teen God. Satana, die skeppingsgees wat Lucifer vir homself geskep het (Openbaring van Henog 11:53), word egter deur God toegelaat om verder te skep, met die hoop dat Lucifer berou sou toon en hom bekeer. Hoe verder sy egter gaan, hoe minder Lig ontvang sy en hoe meer duister, swart en besoedel word haar geskapenes. Let op dat hulle ook nog almal geeste was wat sy geskep het, want nóg het daar geen materiële skepping bestaan nie. Openbaring van Henog 11:53-54:

53 Die Duiwel is die gees van besoedeling van benede, as `n vlugteling het hy Satana (of Sotona) van die Hemele gemaak omdat sy naam Sataniël was, so het hy verskillend van die boodskappers geword, 54 maar sy geaardheid het nie sy intellek [kennis] verander wat sy begrip van Geregtigheid en oortreding betref nie.

Hierdie geskape geesteswesens het toe verder gegaan en nog meer besoedeling in die geestelike sfeer aangerig en God wou hierdie hele ryk vernietig, want in Sy Geregtigheid kon Hy nie hierdie rebellie toelaat nie. Hierdie gevalle skepping word skematies voorgestel deur `n afwaartse donkergroen pyl wat gaandeweg swarter word soos wat die skepping verder en verder besoedel geword het deur Satana. Die val van hierdie geesteskepping eindig by die bopunt van [6] waarna die materiële skepping sou begin, wat `n nuwe herstelfase is wat deur die Liefde van God geskep is.

Redding vir die gevallenes:

In die middel van ons vloeikaart sien ons dan hierdie grys vierkant, wat die aarde voorstel wat geskep is om alle gevalle geeste te reinig. Die skepping van die aarde strek ook oor talle miljoene jare, wat in vyf groot voorafgaande skeppingsperiodes ingedeel is, voor die skepping van Adam in Genésis (uit die Nuwe Openbaring). Die hoofdoel van hierdie vyf periodes was om die gevalle gebonde sieledeeltjies van Lucifer opwaarts te laat beweeg deur die drie materiële ryke, naamlik die minerale ryk, die planteryk en die diereryk. Eers nadat die gevalle rebelle sieledeeltjies hierdie lang pad geloop het, kon hulle weer saamgevoeg word in `n eenheid en in `n menseliggaam geplaas word. Dit was dan waarvoor die sesde periode geskape was, naamlik om hierdie saamgevoegde gesuiwerde sieledele, wat nou `n siel geword het, in `n vleeslike liggaam te plaas en te begiftig met die “asem van die lewe” (goddelike Gees) en aan hom die keuse te gee om God of Lucifer te dien. So verkry hierdie gevallenes dan ook die moontlikheid om weer in die Koninkryk van God te kom, hierdie keer, nie as dienede geeste nie, maar as gehoorsame kinders in die Vaderhuis, soos voorgestel deur punt [8]. Hierdie onderwerp sal verder as volg belig word:

Alles het gebeur deur die Liefde, wat buite God geplaas is [2], en Sy het hierdie wesens, naamlik die onskuldige twee-derdes, sowel as die rebelle, oneindig jammer gekry en Sy het ingetree by die Vader dat Hy hulle nie moes verdelg nie, maar moes laat voortbestaan met die moontlikheid om uit die besoedeling van hulle ryk te kom.

Deur God se oorgroot barmhartigheid het die materiële skepping toe ontstaan, wat in der waarheid slegs `n verharding van die gevalle geestelike skepping van Lucifer is. Omdat Lucifer sy hart verhard het, is sy hele skepping in ontelbare klein deeltjies opgebreek en verhard. Hierdie kleinste deeltjies word sieledeeltjies genoem en ons ganse heelal bestaan daaruit. Hierdie sieledeeltjies het twee fasette, naamlik `n geestelike faset wat ons nie kan sien nie, soos byvoorbeeld die eienskap van magnetisme of elektrisiteit en die materiële deel wat ons kan sien, soos atome en elektrone. Ons aarde bestaan uit drie ryksgebiede van materiële sieledeeltjies, naamlik die gesteentes, die plantewêreld en die dierewêreld. Elke korreltjie van hierdie drie materie-ryke verteenwoordig die eens gevalle geestelike in Lucifer se oorspronklike geestelike ryk waarin hy homself verhef het. In hierdie drie gebiede is daar dus oneindige lewende gees vasgevang en gekluister in materie vir oneindige lang tye.

Verwys na die skematiese diagram, bopunt van [7] en sien dat hierdie volgende fase die begin van die materiële skepping is waar die sewe oergeeste behulpsaam raak met die gevallenes en dit word voorgestel deur die reënboog wat as `n punt begin en langsamerhand breër word [6]. Deur `n unieke proses van opwaartse en vryer beweging deur hierdie drie ryke verbeter en veredel hierdie sieledeeltjies hulleself en raak hulle geskik om na miljarde en miljarde eons (`n eon is `n een met 60 nulle!) van tye weer in `n selfbewuste menslike gestalte opge­neem te word, wat ons dan die Adamitiese skepping sal noem, wat ongeveer sesduisend jaar gelede ontstaan het. Sien punt [7].

So `n saamgestelde siel word dan deur die bemiddeling van ander dienende engele in die geestesryk geneem en in die baarmoeder van `n aardse vrou geplaas tydens verwekking. Hierdie klein siel ontwikkel dan in die baarmoeder as `n volwaardige mens met `n eie denke en vrye wil. Ook word die “asem van die lewe” in die mens ingeblaas en die mens kan homself ontwikkel tot `n gehoorsame kind van God, of hy kan weer rebelleer en `n kind van Lucifer word. Die grootste gawe wat elkeen nou het, is die vrye wil. Nou bestaan die mens dus uit drie dele, naamlik die liggaam of vlees, die siel of saamgestelde sieledeeltjies en die oergees van God, dus `n ware beeld en gelykenis van die Godheid. Hierdie roete sal gevolg word deur elke rebellegees van hierdie ryk.

Barmhartigheid vir die nie-gevallenes:

Elke ander gees van die twee-derdes wat nie gerebelleer het nie, se lot is anders en wel as volg: Hierdie geesteswesens lewe nou as vleeslike of geestelike wesens op die talle ontelbare planete, sonne en sterre in ons heelal. Elke ster, planeet of son wat in die sterrehemel sigbaar is, is `n bewoonbare aarde met wesens daarop (Nuwe Openbaring). Hulle het `n mate van saligheid waar hulle tans lewe, maar kan slegs beperk groei in saligheid. Hulle ken God slegs as die Groot Gees en nie as `n liefdevolle Vader nie, alhoewel hulle almal bewus is dat die vlak van volwaardige kindskap wel bereik kan word, maar dan moet hy vrywillig aarde toe kom vir `n lewens­proeftydperk. Die aarde as planeet van verlossing, is deur God Self uitgekies, waar Hy die groot verlossingsplan vir Sy geeste sal uitvoer. Die gees van Satan, naamlik Satana, is ook in die middel van die aarde gewerp, waar die doderyk met sy duiwels en demone ook is, sodat die mens ook sal moet leer staan teen die felle aanslag van die bose, want slegs hier op aarde kan elke gees die hoogste saligheid verkry, naamlik kindskap in die Hemelse Vaderhuis.

Vir elk van hierdie nie-rebelle geeste is daar egter geleentheid om self te kies of hy wel aarde toe wil kom, om die proeftyd van die vlees te wil deurgaan al dan nie. Hy gaan dus op sy planeet `n ooreenkoms aan met die Godheid en dan word hy vrywillig as siel, met geen geheue van sy vorige lewe, in so `n menslike baarmoeder geplaas om op aarde verder as mens te lewe en te kies vir JaHWeH of vir Satan. Slaag hy hierdie lewenstoets, gaan hy oor in die salige ryke van die Hemelse Vader en word hy `n kind van die Vader. Hierdie pad word voorgestel in ons vloeikaart as die groen pyle van die twee-derdes wat links inbuig na die adamitiese skepping toe [5-7].

Dit bring ons dan by die skepping van Adam en sy nageslag en die verdere geskiedenis van die menslike geslag soos opgeteken in die Heilige Skrifte. Almal weet dat hierdie skeppingsperiode van ons drie duidelike afdelings het, naamlik die eerste periode vanaf Adam tot by die opstanding van JaHshua, ons Verlosser. Die tweede periode strek tot aan die begin van die Duisendjarige Vrederyk en die derde periode is die Duisendjarige Vrederyk. Hierdie drie duidelike verlossingsperiodes word in ons vloeikaart aangedui. Alle gestorwe geeste van mense moes in die eerste periode in die doderyk gevange gehou word, totdat ons Messias opgestaan het uit die dode in die tweede periode en die gereddenes saamgeneem het na die Koninkryk van die Vader in die hemele. Na die opstanding van JaHshua kon elke geredde gestorwene nou direk na die Vaderhuis gaan.

Nou in die tyd waarin ons lewe, aan die einde van die tweede periode (sesduisend jaar vanaf Adam) word dit moontlik om deel te word van `n nuwe orde wat in die derde periode, die Duisendjarige Vrederyk, heerskappy sal voer oor die totale materiële skepping in die heelal. Hierdie orde word genoem die Melgisédek-orde en word in werking gestel wanneer die Meester in die huwelik tree met Sy volk. Sonder om nou in te veel detail in te gaan hieroor, moet u slegs kennis neem dat u nou ook `n verhoogde saligheid kan kry, alreeds hier op aarde, deur uself volkome oor te gee aan ons Verlosser en Saligmaker, JaHshua. Die doel van hierdie Volksleiding-reeks boekies is dan juis om u na hierdie salige toestand te lei, waar u as Sy waardige bruid ook dit sal ontvang wat Adam eens gehad het, naamlik die volle Liefde, Lig en Lewe in uself.

Nou vervolgens na die vloeikaart, links bo, en wel na die Geestesorde van Sewe onderkant die orde van die Liefde, Lig en Lewe [3].

Die sewe oergeeste van God:

Hierdie sewe geeste word voorgestel deur die sewe kleure van wit Lig, asook deur die sewe kleure van die reënboog. Diagram punt [3]. Die kleure is Rooi, Oranje, Geel, Groen, Blou, Indigo en Violet. Hierdie kleure verteenwoordig ook sewe eienskappe van die Godheid naamlik:

Die sewe eienskappe is:

1.             Rooi vir Liefde,

2.             Oranje vir Vrolikheid van hart,

3.             Geel vir Lydsaamheid en Deursettingsvermoë,

4.             Groen vir Geloof,

5.             Blou vir Vrede,

6.             Indigo vir Vriendelikheid en

7.             Violet vir Geduld.

 

 

 

Die sewe Geeste is as volg:

1.             Liefde,

2.             Wysheid,

3.             werksame Wil,

4.             Orde van God,

5.             Erns,

6.             Geduld en

7.             Barmhartigheid.

 

Elkeen van hierdie sewe engelgeeste het `n naam en ons vind dit in die Boek van Herinnering in Henog 20:

1 HIERDIE is die name van die Boodskappers/Engele van die Kragte wat waghou.

2 UriEl, een van die Boodskappers van Apartheid, naamlik die Boodskapper van donderslae en van aardbewings, [wat aangestel is oor die wêreld en oor Tartarus]. [Openbaring 10; 2 Ezra 10:28]

3 RafaEl, een van die Boodskappers van Apartheid wat aangestel is oor die gees van die adamiet.

4 RaguEl, een van die Boodskappers van Apartheid wat wraak neem op die wêreld en die ligte.

5 MikaEl, een van die Boodskappers van Apartheid, naamlik, hy wat aangestel is oor die beste deel van die nasie en wat oor die chaos en die nasies heers. [DaniEl 12:1]

6 SarakâEl, een van die Boodskappers van Apartheid wat aangestel is oor die geeste van die adamiete wat ander geeste laat oortree.

7 GabriEl, een van die Boodskappers van Apartheid, wat aangestel is oor die Paradys en die Nagashim/slange en die Gérubs. [Lukas 1:19]

8 RemiEl, een van die Boodskappers van Apartheid wat JaHWeH aangestel het oor hulle wat in opstand kom.

Elkeen van hierdie Boodskappers of Engelgeeste is oneindige groot wesens, elkeen met Sy eie ryksgebied waarin miljarde geskapenes woon. Elkeen bevat wel al sewe eienskappe van die sewe geeste, maar sal oorwegend sy eie kleur of eienskap uitdra. Hulle is egter almal salige dienende knegte en is altyd diensbaar en werksaam in die hele skepping, en ook in die gevalle skepping help hulle om die dinge weer te herstel. Die enigste manier waarop hulle die Godheid ken, is ook as Groot Gees en nie as liefdevolle Vader nie. Hulle ervaar wel Sy Liefde, want hulle is nog almal werksaam in die Liefde, maar die verhouding is nog altyd die van kneg teenoor sy Meester.

Nou het God ook vir hulle die wonderlike geleentheid gegee, naamlik om ook vlees te kom aanneem op aarde en dan kan hulle ook sodoende salige kinders van die Hemelse Vader word. Hierdie pad word in ons diagram voorgestel as `n reënboogpad [3-7] met afwaartse pyle na die gevalle skepping toe, wat aandui dat so `n gees vrywillig sal moet val, dus vrywillig gaan sondig deur vlees aan te neem en die stryd teen Lucifer aan te sê om te oorwin om dan sodoende sy kindskap te verkry. So verruil hy dan sy salige knegskap wat hy as engelgees gehad het vir `n nuwe en beter salige kindskap as engelgees. So `n salige kind kan ook aanbied om meermale aarde toe te kom as sy liefde vir sy gevalle broers baie groot is. So het Elia ook gekom as Johannes die Doper en sal hy weer kom aan die einde. (Matthéüs 11:14 en Maleagi 4:6) Lees ook Jeremia 1:5 en merk op dat ook hy een van hierdie suiwer engelgeeste was wat ingestem het om aarde toe te kom.

5 Voordat Ek jou (Jeremia) in die moederskoot gevorm het, het Ek jou geken (as salige engelgees); en voordat jy uit die liggaam voortgekom het, het Ek jou geheilig; Ek het jou tot 'n profeet vir die nasies gemaak (dit was jou ooreenkoms met MY). [Onderstreepte invoegings deur skrywer gemaak ter verduideliking]

So word Daniël 12:13 ook duideliker vir ons, want ook hy is `n geroepe engelgees gewees wat weer aan die einde van tye werk sal verrig op aarde as vleeslike mens.

En jy, gaan heen na die einde; en jy sal rus en weer opstaan tot jou bestemming (dit was jou ooreenkoms met MY). aan die einde van die dae.

So sien u dus dat al drie die groepe engelgeeste, die gevalle rebelle wat Lucifer gevolg het, die gevalle nie-rebelle wat in Lucifer se ryksgebied was en die salige geeste vanuit die Sewe-geestesryk gelyke kans het op die verkryging van kindskap in die Vaderhuis. Elkeen moet egter die volle sewe geeste se eienskappe in homself ontplooi om sodoende die wedloop na die Vaderhuis te voltooi. Tot by die opstanding van ons Verlosser, JaHshua, moes alle gestorwe geeste in die doderyk vertoef het (uitgesluit `n paar, byvoorbeeld Henog en Elia), maar met JaHshua se oorwinning oor die dood of vlees (Satan) is die deur tot die Vaderhuis geopen. Sien die roete wat eindig by [8].

Verder is hierdie sewe Geeste gedurig as sewe reënboogkleure en vuurfakkels teenwoordig by ons Vader soos in Openbaring 4:2, 3 en 5 beskrywe.

2 En dadelik was ek in die Gees, en kyk, daar staan 'n troon in die hemel en Een sit op die troon. 3 En Hy wat daarop sit, het in sy voorkoms gelyk soos die steen jaspis en sardius; en rondom die troon was 'n reënboog wat in sy voorkoms gelyk het soos 'n smarag. 5 En daar het weerligte en donderslae en stemme uit die troon uitgegaan, en sewe vuurfakkels wat die sewe Geeste van God is, het voor die troon gebrand;

Ook sal u sien dat daar `n kandelaar was in die Heilige deel van die Tabernakel, wat `n afbeelding van hierdie sewe geeste was. Die Heilige stel elke mens se siel voor, waarin hierdie sewe geeste gedurig moet brand, indien jy `n vrugvolle lewe vir JaHshua wil lei.

Die Bruid neem die plek in van Lucifer:

`n Bykomende wonderlike vlak van saligheid wat vir ons bygevoeg is, is die verkryging van Bruidskap, oftewel die Melgisédek-orde van Vrede (blou) [9] waarvan JaHshua die Hoëpriester en Koning is. Diegene wat op aarde hulle kindskap verkry het, kan ook reeds op aarde, nou aan die eindtyd, hulle Bruidskap verkry, deur in die vlees wedergebore te word soos in Openbaring 7 en 14 beskryf. Dan word jy een met jou Man, JaHshua, oftewel JaHshua staan op in jou vlees. Jou siel en jou gees word dus een binne jou, die hemelse huwelik.

Hierdeur kom jy nou nog een stappie nader aan die Vader. Waar jy eers Sy kind was, verenig jy nou met Hom as Sy vrou in die Gees. Alles wat Syne is, word nou ook joune. Die Bruid neem nou die plek in van die LIG [2] langs die LIEFDE in die orde wat tot niet gegaan het as gevolg van die val van Lucifer en sal voortaan naas en in JaHshua heers oor die hele Skepping, selfs oor die ryke van die 7 Geeste!

Die bruid sal nou, uit die aard van die posisie van die LIG wat Sy aangeneem het, die rol van die WYSHEID vervul. Elke engelgees wat die pad deur die skepping aan die einde (dit is nou!) suksesvol sal loop, sal in staat gestel word om in die vlees wedergebore te word. Dit is die bruidskap wat verkry word. Die wedergebore man of vrou word dan volkome verenig met JaHshua, die LIEFDE en wel in die geestelike, sowel as in die vleeslike dimensie.

So `n wedergeborene leef dan gelyktydig in beide dimensies, sonder dat die ander aardse mense daarvan bewus sal wees. Hulle sal so `n wedergeborene slegs sien as iemand wat baie talentvol is in geestelike dinge.

Die hooftaak van die Bruid aan die eindtyd sal wees om die gees van die vals Christus, die vals Melgisédek, die vals Immanuël teë te staan soos in die boeke Daniël en Openbaring beskrywe. Die twee getuies van Openbaring 11:3 is die profeet/priester Henog wat die Wysheid voorstel en Elia wat die Krag voorstel, ook genoem Johannes, die Voorloper. Saam met die Liefde, wie JaHshua in die Bruid is, moet hierdie twee getuies dus teenwoordig wees in elke lid van die eindtyd Bruid. Die KRAG stel Haar dus in staat om in LIEFDE en WYSHEID op te tree om sodoende haar taak op aarde te vervul, naamlik om die vals Christus en sy gees teë te staan.

Die verlore seun kom huistoe

Uit hierdie stuk kan dus gesien word dat daar `n volmaak uitgewerkte modelplan deur ons Hemelse Vader opgetrek is, waarvolgens `n negatiewe daad, soos die hoogmoed en gevolglike val van Lucifer, omskep word in die wonderlikste moontlikheid, naamlik om deel te word van die Vaderhuis self, om ook Ben-Elohim (Godeseun) te word en ook om saam of in JaHshua te heers oor die ganse skepping as Sy Bruid!

Hierdie hele val van die geeste word vervat in `n gelykenis wat JaHshua vir ons vertel het gedurende Sy tyd op aarde. Dit is die gelykenis van die verlore seun. Hierdie verlore seun is Lucifer, met elke gevalle gees, wat die pad deur die gevalle skepping en materie (varke oppas en peule eet) moes deurloop. Deur vlees aan te neem en hulle lewensproef suksesvol af te lê, kom hulle weer by ons Vader se huis uit. Die Vader slag dan die vetgemeste kalf vir die verlore seun, sodat hy weer in die geestesryk of Vaderhuis kan inkom.

Die ander seun wat nie sy erfdeel verkwis het nie, maar wat ongelukkig was omdat hy nooit so `n fees vir hom en sy vriende gekry het nie, is die engelgees wat nooit gerebelleer het nie, hy was altyd by sy Vader en alles behoort aan hom. Hy word ook genooi om aan te sit aan die kalfsete, of anders gestel, hy kry ook nou `n kans om vrywillig vlees aan te neem, JaHshua as sy saligmaker aan te neem en in die Vaderhuis in te kom as kind of bruid.

Ons grootste dank en liefde vir `n Vader wat soveel liefde gehad het dat Hy Sy eniggebore Seun, JaHshua, vir ons gegee het om geslag te word, sodat ons nou die ewige Vaderhuis saam met Hom kan beërwe.

Amein


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205