Boek 4 - Jou Kruisiging
VOLKSLEIDING-REEKS

Hoofstuk 2

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7.

 

Deel 1

Die Orde van die Woord in die Mens

Die Boerevolk van Suid-Afrika is `n volk wat hulleself onderskei het van baie pioniersvolke in die wêreld, naamlik dat hulle godvresende mense was wat hul Bybels as kosbaarste besitting beskou het. God was deurentyd erken in hulle daaglikse bestaan. Maar helaas, dit was die volk van die vorige eeu. Die moderne Boerevolk het egter baie afgewyk van hierdie oorspronklike eienskappe en vandag is die grootste deel van ons volk verwêrelds en is God slegs iets en iemand wat in nood en dood gesoek word. Die volk gaan egter nou hulle grootste nood binne, met die oorname van die nuwe militante kommunisties oorheersde regering.

Die enigste uitkoms vir ons as volk, is te vinde in juis dit wat die moderne Boerevolk verwerp het, naamlik God self. Hy is altyd getrou en sou die volk hulle weer na Hom wend, sal Hy ons verlos. Dit is Sy ewige Verbond met ons. Dit is egter nie genoeg dat die mens God net sou ken deur nou naarstig hulle Bybels te lees nie, - nee, die Woord/JaHshua moet lewend in elkeen van ons opstaan, alvorens Hy na ons gebede sal luister. Dit beteken dat elke gelowige `n ernstige poging sal moet aanwend om God daadwerklik in liefde te dien. Alle ander afgode sal weggewerp moet word, naasteliefde teenoor hulpbehoe­wende volksgenote sal lewend moet word in die volk. Dan sal God ons weer aansien en ons uitred uit hierdie penarie waarin ons sondige lewenswyse ons laat beland het. Lees hierdie boekie dan ook met hierdie boodskap in gedagte.

Vanweë die gebrek aan goeie Bybelonderrig vanaf kansels, is dit egter nodig om `n stukkie Bybelgeskiedenis vooraf vir u deur te gee, wat u in staat sal stel om hierdie belangrike Woord, deur JaHshua Self gespreek, in die regte perspektief te verstaan. Hierdie geskiedenis sal hoofsaaklik gaan oor die groot liefde wat ons Hemelse Vader deur die eeue heen aan Sy volk betoon het.

In die huidige Christen-geloof binne die Boerevolk is daar twee algemene denkrigtings. Die een groep verkondig die Nuwe Testa­ment, en verwerp grotendeels alles in die Ou Testament, veral die wetboeke van Moses, as dat dit verby is en geïgnoreer kan word. Die ander groep daarenteen, verwerp weer grotendeels die Nuwe Testament, veral die geestelike daarvan en hou by die onderhouding van die Wet alleen. Daar sal egter gepoog word om aan u te toon dat alles wat in die Bybel geskryf is, perfek en logies inmekaar pas, vanaf die heel begin en dat niks werklik net eenkant toe gesit en genegeer kan word nie. Ons begin dus heel voor.

God se Woord aan Adam en Eva

Met die skepping van Adam en Eva in die paradys, het God geen wet aan hulle gegee soos aan Moses nie, maar slegs vir hulle gesê: “Julle mag nie!” Hierdie versoek het verwys na die boom van kennis van goed en kwaad, of soos die oorspronklike Hebreeus sê, die boom van kennis van suiwer en besoedel, waarvan hulle geen vrugte van mag geëet het nie. Hierdie versoek het behels dat hulle geensins van die bose kennis moes bekom en daarvolgens handel nie, want hulle was nog nie geestelik sterk genoeg om dit te weerstaan nie. Hulle moes eers `n proeftydperk ondergaan waar die Godheid hulle vir `n tyd alleen gelaat het.

Die geskiedenis sê vir ons dat hulle toe wel die versoek van God verontagsaam het en dat hoogmoed en ongehoorsaamheid die rede daarvoor was, dieselfde sonde wat Lucifer ook lank gelede in die Koninkryk van God gepleeg het. Deur selfverheffing (hoogmoed) het Eva haar man se gesag oor haar negeer en geëet van die satansvrug, Adam het God se gesag negeer en het ook daarvan geëet. So het die hele nageslag van die mens dus `n wortel van boosheid ontvang, wat vandag nog steeds teenwoordig is in elke mens op aarde. Dit noem ons die sondeval.

Die nageslag van Adam het daarna geleef volgens goddelike riglyne, wat van tyd tot tyd deur God Self, of deur Sy profete aan hulle oorgedra is. Daar was nooit `n werklike Wet met strawwe vir oordeel gegee nie, maar slegs versoeke om binne die goddelike liefdesorde te leef. Die straf wat ervaar was, was die gevolge van die mens se sonde, soos met die sondvloed. Hierdie orde van “jy mag nie”, het voortgegaan tot by Jakob, die stamvader van Israel. Daarna is die Israelvolk in ballingskap na Egipte en het hulle na 430 jaar heeltemal afvallig geraak van hierdie goddelike riglyne.

God se Woord aan Moses

Moses word by die brandende braambos aangestel as leier van die Israelvolk deur JaHWeH Self, die groot EK IS. Die goddelike Liefde het weereens besluit om Sy Verbondsvolk terug te bring vanuit hulle sondige lewenswyse onder die heidene, na `n goddelike orde van liefde, gelei deur JaHWeH Self. Moses, aangestelde aardse verteenwoordiger van die goddelike Liefde, ontvang die saffierstaf van die Wysheid by ReuEl Jetro (Boek van die Opregte 77:50) Moses gaan dus, geestelik geklee in die Liefde en Wysheid na Farao en deur die tien plae wat op Egipte gelê word, deur die oopkloof van die Rooisee en ander wonders in die woestyn, sien ons oorgenoeg bewyse dat Moses ook die goddelike Krag ontvang het van JaHWeH. Deur Moses was die Liefde, Wysheid en Krag dus weer in `n mens werksaam onder die volk, na 430 jaar van ballingskap.

By Sinai gaan Moses die berg op om die wette van die goddelike Liefde te ontvang. Hy kry dit en na veertig dae kom hy weer na die volk toe, wat intussen `n verderflike goue kalf gemaak en aanbid het, Verder het hulle geëet, gedrink en seksuele perverse speletjies bedryf om hierdie Egiptiese gruwel. Die volk het weer teruggeval na hul sondige, heidense, Egiptiese lewenswyse. In sy woede verwoes Moses hierdie Wet van Liefde, geskryf op kliptafels en daar vind `n groot menseslagting plaas in die laer, totdat alle verderflikheid uitgeroei is.

Weer gaan Moses die berg op, en kom nou af met die Wet van Liefde, op nuwe kliptafels geskryf, maar ook met die boek van die Verbond, waarin alle wetgewing van die volk beskryf was, asook `n straf­klousule vir die oortreding daarvan. As gevolg van die verderflikheid van die volk het Moses hierdie streng wetgewing versoek, asook die straf vir die oortreding daarvan en dit is hom toegestaan deur God, - daarom was dit ook die wet van Moses genoem en nie die wet van God nie, alhoewel dit nog steeds deur die goddelike Liefde, Wysheid en Krag in Moses gegee is. Saam met die Wet en die Verbond is daar ook `n nuwe orde ingestel vir die Israelvolk, naamlik die Levitiese orde. Hierdie Levitiese orde was `n aardse afbeelding van die hemelse Melgisédek-orde (sien Boek 2 van Volksleiding-reeks) en met die slag van diere as offers het hierdie bloed slegs die bloudruk gedra van die toekomende offer wat vir ons gebring sou word deur die Godheid Self, in die vorm van ons Verlosser, JaHshua, wat met Sy bloed vir ons `n ewige verlossing sou bring.

Met die strafklousule in die Wet van Moses en diere-offers kon niemand egter die ewige lewe deelagtig word nie, want as jy die wet sou hou, slegs omdat jy die straf vrees, soos steniging, hoe kan jy dan in die huis van die Vader kom? Offers van diere kon ook nooit verlossing bewerk nie. Liefde vir JaHWeH, en nie vrees nie, moes die norm wees vir redding. Daarom moes alle gestorwenes eers in die doderyk vertoef totdat die Messias die dood oorwin het.

Hierdie orde was egter nodig vir die volk, omdat hulle so ver van die goddelike orde afgedwaal het. Die Levitiese orde het toe baie goed gewerk en die volk het die beloofde fisiese land Kanaän beërwe, maar Moses, met sy afsterwe, die hemelse Kanaän. 

Die verdere verloop van die Wet onder Israel

Die hoëpriesters van die Levitiese orde het ook hierna die Rigters van die volk geword en die volk is regeer vanuit die Allerheiligste van die Tabernakel, waar die vlam van die goddelike Wysheid vanaf die versoendeksel van die Verbondsark gebrand het. JaHWeH Self, as goddelike Liefde het dus deur Sy Wysheid vanuit die Tabernakel die Israelvolk gerig en Sy Krag is in menige veldslae beleef deur die volk.

Maar helaas, weer was die volk ontevrede en versoek hulle `n menslike koning om oor hulle te regeer. Die versoek word hulle toegestaan, maar met `n ernstige waarskuwing van God dat hulle die gevolge sou moes dra vir die verwerping van Sy leiding. So kry die volk dus ook konings, party goed, maar meeste sleg en voer hulle  verderflike heidense praktyke in Israel in. Uiteindelik word tien van die twaalf stamme in ballingskap weggevoer na Assirië. Hier verloor hulle alle kontak met die godheid. Lateraan word die ander twee stamme ook in ballingskap weggevoer en ook word die Tabernakel en sy inhoud weggevoer. Nou het die hele Israelvolk niks meer gehad nie, - geen Tabernakel en geen koning nie. Juda keer wel terug na Jerusalem na sewentig jaar van ballingskap, maar die tempel sou nooit weer dieselfde wees nie. Ongewenste elemente het hulleself in die Levitiese orde ingewurm en ten tye van die geboorte van ons Messias, was die tempel van Herodus deurtrek met opportuniste wat die tempel misbruik het vir eie gewin. So word die Levitiese orde dan ook by God beëindig deur die moord van Sagaria by die altaar in die heilige (uit Nuwe Openbaring).

Die koms van die Lewende Woord

Kort na hierdie gebeurtenis, met die geboorte van JaHshua, kom `n nuwe orde tot stand, naamlik die Melgisédek-orde van die liefde waar die liggaam van JaHshua die lewende Tabernakel onder die mense word, waar Sy hart die Allerheiligste met die Verbondsark voorstel. Die ewigdurende vlam van die Wysheid, wat eens tydens die Levitiese orde op die versoendeksel van die Verbondsark gebrand het, brand nou in haar hele goddelike volheid in die Seun van die mens Self. Hy, JaHWeH, as die ewige Liefde, die Seun JaHshua as die Wysheid, bemagtig met die goddelike Krag, is nou verenig in die Wese van JaHshua as lewende Tabernakel. Weereens kon die volk uit hulle benarde toestand gelei word, die volk in Juda, sowel as die verstrooides wat eerste in ballingskap gegaan het en wat nou die hele Asië en Europa gevul het.

Almal in die volk het op `n redder en messias gewag, almal het egter net nie geweet in watter vorm Hy sou kom nie. Feitlik alle Judeërs het `n aardse koning verwag wat die hele Juda sou bevry van Romeinse heerskappy en wat Rome uiteindelik ook sou oorwin en sou heers oor die ganse wêreld. Groot was hulle skok toe hulle die lering van die dertigjarige JaHshua verneem, naamlik dat Sy koninkryk nie van hierdie wêreld was nie, maar `n hemelse koninkryk in die harte van die mense. Die meeste wou dit nie aanvaar nie en het hulle rug op Hom en Sy lering gedraai.

Die fariseërs in die tempel het Hom veral gehaat vanweë Sy lering, waar Hy die Judese volk openlik gewys het op hulle, die fariseërs, se valsheid, geveinsdheid en bedrog. JaHshua het hulle openlik beskuldig daarvan dat hulle die genetiese nageslag van Satan was (Matthéüs 12:34). Die fariseërs se “wet van Moses” was lankal nie meer die liefdeswet van Sinai nie, maar was deurtrek van hulle eie mensgemaakte wette. Meeste van die wette kon omseil en verbreek word, indien groot bedrae omkoopgeld aan die priesters betaal was.

Nou het JaHshua die volk twee nuwe wette kom leer, naamlik die wet van liefde teenoor God en die van liefde teenoor die naaste. Maar ook het Hy gesê dat die hele Wet van Moses en die profete daaraan gehang het (Matthéüs 22:40), dit wil sê ook deel is van die eerste twee groot gebooie. Die Wet van Moses kan dus nie net summier verwerp word en die twee nuwe gebooie in die plek daarvan ingestel word nie. Paulus stel dit so in Hebreërs 8:6:

6 Maar nou het Hy 'n voortrefliker bediening verkry vir sover Hy ook Middelaar is van 'n beter Verbond wat op beter beloftes wetlik  gegrond is.

Die voortrefliker bediening is dan nou juis die toepassing van die volle wet, naamlik die twaalf gebooie van liefde, in liefde, sonder die strafklousule van die Mosaïese wet, of die offers van die Levitiese orde. Die Wysheid, JaHshua, kan en wil net vanuit die Liefde (Vader) orde skep. Hierdie Wysheid wil nie oordeel nie (Johannes 12:48), maar net liefde gee. Sien u nou die verskil tussen die Wysheid wat aan Moses, `n swak mens, gegee is, en die Wysheid wat aan die Elohimseun, JaHshua gegee is? Dit is dan ook hierdie goddelike Liefde waarin ons moet leef om die goddelike Wysheid van die Seun te kry. Dit is die oprigting van die Melgisédek-orde in onsself, dit is JaHshua wat in ons opstaan, sodat ons in die gees begin lewe. Dit is die wolkkolom wat oor ons kom, die verborgenheid van die wederkoms in ons (Matthéüs 24:30)

Die hart, setel van die innerlike gees van die mens, het ook vier kamers wat korrespondeer met die vier windrigtings, Noord, Oos, Suid en Wes. Die Verbondsark met sy vier hoeke en ringe is ook die afbeelding van die ware, naamlik die hart van die mens. Die Liefde is die Noordelike kant in die hart, die Krag die Oostelike, die Waarheid die Suidelike en die Wysheid die Westelike (uit Profesieë aan die Boerevolk). Die begrip van hierdie vier poorte in die innerlike mens sal u in staat stel om die volgende direkte woord van JaHshua aan Sy volk, die Boerevolk van Suid-Afrika, beter te begryp.

Vervolgens ietwat oor die begrip van die Drie-eenheid van die Godheid wat so dikwels misverstaan word deur die mensdom. Hiermee wil ons graag die denke van die drie-persoonlikheid van die Godheid uit die weg ruim, want God sê self dat Hy Een is (Deut 6:4).


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205